4 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Om Bybels te Dink oor Bekommernis

bekommerde vrou

Sally is die hele dag lank bekommerd oor die kinders by die skool. Dit lyk asof Jed nooit van sy finansiële probleme kan vergeet nie. Linda is bang dat sy nooit sal trou nie. Sarah vrees vir die pyne wat met die ouderdom kom. Fred is heeltyd bekommerd oor wat die mense rondom hom van hom dink. Benji is bekommerd dat hy dalk nie die span gaan haal nie. Mary is altyd bekommerd oor haar gewig. Cindy het baie slaaplose nagte deurgebring oor sy bekommerd is oor haar verhouding met Brad. As ʼn senior student is Jared paniekerig oor wat gaan gebeur as sy studies voltooi is. Jacqueline erken dat sy ʼn fobie vir kieme het. Ben vermy groot skares, maar hy wil nie hê dat ander dit moet weet nie. Sharon is bang dat God haar nie lief het nie, maar sy praat nie eintlik daaroor nie. Ron is bekommerd dat hy sy werk kan verloor en weet hy bestee te veel tyd aan die probleem, maar kan nie sy gedagtes keer nie. Dina is so bekommerd oor haar volwasse kinders dat sy bang is sy sal hulle wegdryf met haar baie oproepe. Pete het goed gedoen op kweekskool, maar sy preke gaan altyd gepaard met angstigheid. Greta is meer bekommerd oor wat haar klasmaats van haar dink as oor haar punte. Josh is elke keer bekommerd as aan hom gesê word dat sy baas hom wil sien.

Bekommernis – dit is regtig oraloor. Moontlik is dit die een ervaring wat ons almal gemeenskaplik het. Kyk na die mense hierbo. Hulle het twee dinge in gemeen. Hulle is almal belydende gelowiges, en hulle almal sukkel met bekommernis. Wat van jou? Hoe dikwels is een of ander bekommernis gereeld deel van jou gedagtes-lewe?  Watter invloed het bekommernis op wat jy doen of nie doen nie. Hoe meng bekommernis in met die geloof wat na aan jou is? Is dit moontlik dat bekommernis ʼn groter invloed op jou lewe het as wat jy dink?

Moontlik is bekommernis een van die besoedelde geheime van die kerk. Dit maak ons dalk bedees, passief, en twyfelagtig terwyl ons teologie vir ons sê dat ons al die redes het om dapper, aktief en vol vertroue te wees. Dit is moontlik dat baie van ons leef met ʼn groot gaping tussen die teologiese vertroue wat ons op Sondae vier, en die straatvlak vrees, bekommernis en angstigheid wat ons die res van die week ervaar? Hoekom is so baie van ons so baie bekommerd? Hoekom ervaar ons nie die rus wat die evangelie veronderstel is om aan ons te gee nie? Hoekom het ons slaaplose nagte, omgekrapte mae, en dae wat ons prikkelbaar is? Hoekom kom bekommernis so dikwels by ons deur in?

Bekommernis en die gevalle wêreld🔗

Miskien is die antwoord op die vrae wat ek gevra het: “Paul, ek is bekommerd oor ek in ʼn gevalle wêreld lewe!” Dit is so dat die wêreld waarin ons leef net eenvoudig nie werk soos die Skepper dit bedoel het nie. Daarom lewe ons in ʼn wêreld waarin bedrog, gevaar en teleurstelling die werklikheid is. Die Bybel is baie eerlik in sy tekening van hoe gebroke die wêreld werklik is. Daar is dinge in hierdie wêreld waarvoor ons bevrees moet wees. Daar is dinge wat jou aandag benodig en jou bekommerd maak. Daar is dinge waaraan mens moet werk om dit te vermy en jou geliefdes daarteen te beskerm. Jy moet versigtig en waaksaam lewe. Om te lewe met die realistiese verwagtings wat ʼn bybelse begrip van die gebrokenheid van ons wêreld ons gee, is ʼn verantwoordelike, goddelike ding om te doen. Jy moet nie naïef wees nie. Aan hierdie kant van die hemel moet jy altyd onthou dat die shalom (vrede en ongeskondenheid) wat die Skepper geskep het, verbreek is. Elke dag sal die gebrokenheid van jou wêreld op een of ander manier ʼn indruk op jou maak. Dit sal so wees totdat jy oorgaan na die ander kant toe.

droë grond

Maar daar moet ʼn belangrike onderskeid gemaak word tussen ʼn kyk op die lewe deur die eerlike lens van die Skrif of om te lewe in subtiele en nie-so-subtiele bekommernis. In die Bybel word ons gekonfronteer met die werklikheid dat in omstandighede waar God se volk van die moeilikste werklikhede van lewe in ʼn gevalle wêreld beleef het, hulle ook merkwaardige sielerus ervaar het. Laat ek een kragtige voorbeeld uitlig.

Psalm 3 is ʼn oggendpsalm en Psalm 4 ʼn aandpsalm, geskryf toe Dawid vir sy lewe gevlug het van dié af wat sy troon wou oorneem. Jy ken die verhaal. Dit was Dawid se seun Absalom wat sy troon wou oorneem. Hy het reeds die guns van die volk van Israel gewen en wou nou sy vader se koninkryk hê. Dawid het geweet waaroor dit gaan. Hierdie was ʼn monargie: as ʼn seun sy vader se troon permanent wil oorneem, moet die vader sterf. Dus vlug Dawid vir sy lewe met ʼn klein groepie getroue volgelinge, en kruip in ʼn grot weg. Daar is waarskynlik nie ʼn meer hartverskeurende verhaal in die Skrif nie: sonde wat ʼn gesin uitmekaarskeur, sonde wat op oproer, en moontlik die dood, sal uitloop. In hierdie verhaal sien ons die gevalle wêreld op sy slegste. Maar te midde van alles word Dawid nie deur paniek lamgelê nie. Hy word nie deur bekommernis aangedryf nie. Hy word nie vasgevang deur “wat as” nie. Nee, Dawid is opmerklik gerus. Kyk na wat hy uit die grot skryf: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon” (Ps. 4:9). Dawid beleef die volle vrag van teleurstelling en gevaar vir lewe in ʼn gevalle wêreld, maar hy word nie ontsenu deur angstigheid nie. Sy hart is rustig en sy liggaam is in staat om te slaap, selfs te midde van ʼn situasie wat die hart van enige vader sal breek.

Dawid se verhaal en Dawid se psalm konfronteer ons met iets belangriks. En dit is wat ons sal bespreek in die res van hierdie artikel. Hier is dit: Die probleme van die lewe in hierdie gevalle wêreld mag die aanleiding wees van ons bekommernis, maar nie die oorsaak nie. Om die oorsaak te verstaan moet ons dieper grawe. Dawid se omstandighede kon die oorsaak van baie bekommernisse gewees het, tog was hy nie bang of angstig nie. Sy gerustheid wys aan ons waar hulp vir ons bekommernisse gekry kan word. Bekommernis word nie veroorsaak deur iets wat buite ons bestaan nie. Nee, bekommernis word veroorsaak deur wat binne-in ons aangaan.

Kleiner wêrelde en bekommernis🔗

Ek sal jou op ʼn bybelse toer moet neem om te verstaan waarom ons Christene geneig is om ons meer te bekommer as wat ons behoort met ons teologie van die alledaagse lewe. Ek wil begin met twee teksverse wat ongelooflike insig sal gee oor wat sonde aan ons almal doen. Hierdie teksverse begin ons verduidelik waarom bekommernis so ʼn algemene stryd is. “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het .... sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is” (2 Kor. 5:14-15, beklemtoning deur skrywer).

self gesentreerd

In die elf woorde wat ek beklemtoon het maak Paulus ʼn oorweldigende stelling oor hoedat sonde elke persoon se benadering tot die lewe fundamenteel verander. Ek moes lewe vir iets baie groter as ekself. Ek is geskep om vir God te lewe, vir Sy koninkryk en tot Sy eer. Ek is geskep om my identiteit, betekenis en doelwit, en my innerlike gevoel van welsyn, vertikaal te kry. Ek is gemaak om te doen wat ek doen, en my rus terwyl ek dit doen, van God af te kry. Maar sonde het veroorsaak dat elkeen van ons vir homself lewe, dit wil sê, dat ons lewe verklein word tot die grootte van ons lewe. Sonde veroorsaak dat ons die wydte van ons drome en betrokkenhede ingekrimp het tot ons nood, ons behoeftes en ons gevoelens. Sonde maak ons skrikwekkend self-gesentreerd, op onsself gerig en self-gemotiveerd.

Wat het dit met bekommernis te doen? Alles! As gevolg van sonde koppel ons ons innerlike vrede nie meer aan ʼn God wat die definisie van wysheid, mag, en liefde is nie, en wat nooit sal verander nie. Nee, sonder om dit te besef, begin ons horisontaal soek vir identiteit, betekenis en doelwit, en vir ons innerlike gevoel van welsyn. Ons soek na ons doelwit en innerlike rus in die gebroke en steeds-veranderende omstandighede en verhoudings van hierdie gevalle wêreld. Dinge wat nie daarvoor bedoel is om ons vrede te gee nie, en waaroor ons geen beheer het nie, word ons vervangende messias. Ons vra dat hulle vir ons moet doen wat slegs God in staat is om te doen. Jy sien, wat gebeur, is dit: belangrike dinge (soos gesin, beroep, behuising, geld, ens.) word vir ons te belangrik, want dit is waar ons ons rus soek. As dit gebeur, gee hulle nie net aan ons rus nie, maar hulle word die rede vir verdere eindelose siklusse van bekommernis, angstigheid en vrees; dinge wat werklik in die daaglikse lewe van te veel gelowiges bestaan. Jou werk is belangrik, maar dit moet nie jou identiteit skep nie; as dit jou identiteit skep word dit die oorsaak van eindelose angstigheid. Jou huwelik of vriendskappe is belangrik, maar dis nie waar jy jou innerlike vrede moet soek nie. Hier is wat die Skrif ons aanmoedig om te sê. Bekommernisse wat ons dryf of verlam, ontbloot meer van wat in ons is, as wat buite ons is. Daarmee, dink ek, sal ons volgende gedeelte (Matteus 6:19-34) kan help.

Koninkryke, rykdomme en bekommernis🔗

Matteus 6:19-34 is een van die Bybel se bekendste gedeeltes oor angstigheid en bekommernis. (Hoekom lees jy nie sommer nou dié gedeelte nie?) Wie is nie bekend nie met die woorde: “Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?” (Mat. 6:27), of “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie” (Mat. 6:31). As jy bietjie terugstaan vanaf hierdie gedeelte, sal jy dadelik sien dat dit baie meer is as net ʼn bespreking van bekommernis. Dit is in werklikheid ʼn uiteensetting van die oorlog tussen die koninkryk van God en jou eie koninkryk. Dit is presies waarom dit van bekommernis sê wat dit sê. Dit leer ons dat daar ʼn geveg om die hart is agter elke oomblik van bekommernis. Hierdie geveg gaan oor die vraag of ons harte effektief en funksioneel deur die koninkryk van God of deur jou eie koninkryk beheer sal word.

leë bord

As gevolg van sonde is ons stryd met ons eie koninkryk so deurdringend en verleidelik, dat Christus die meeste van Sy tyd bestee om die dinamiek van hierdie koninkryk uiteen te sit (Mat. 6:19-32). Dit is nie voor die eerste woord van vers 33, “Nee”, wat ons by die ommekeer van die gedeelte kom nie, en die oproep kry om te lewe vir die koninkryk van God. In wese sê Christus dat jou eie koninkryk gedryf word deur ʼn najaag van aardse skatte en begeerte-gebonde behoeftes. Jou eie koninkryk versmal die lewe tot ʼn katalogus van fisiese en ervaring-skatte en ʼn lys van persoonlike behoeftes. In hierdie koninkryk lewe ek om seker te maak dat ek kry wat ek wil hê en dat ek my behoeftes bevredig. Nou, voordat jy sê: “Nee, Paulus, ek leef nie so nie”, laat ek jou vra: hoeveel van jou bekommernisse gedurende die afgelope maand het hoegenaamd enigiets te doen gehad met die koninkryk van God?

Ek wil u aanspoor om hierdie gedeelte toe te laat om ʼn spieël te wees waarin jy kan kyk om dinge oor jouself te sien wat jy andersins nie sal sien nie. Christus gebruik hier ʼn woord wat ons baie kan help om die dinge wat ons harte vasvang, te identifiseer: skat. Dink na oor hierdie woord. Daar is min skatte in die lewe wat inherente waarde het. Die meeste skatte het toegeskryfde waarde. Dit is waarom die ou gesegde sê: “Een man se gemors is ʼn ander man se skat.” Neem byvoorbeeld ʼn twintig-randnoot: hoekom is dit twintig rand werd? Nie omdat dit twintig rand se ink of papier bevat nie. Nee, dis ʼn toegeskryfde waarde. Net so skryf jy ook waardes toe aan dinge in jou lewe. Dis onmoontlik om mens te wees en dit nie te doen nie. Jesus waarsku ons om versigtig te wees vir dit waaraan ons waarde toeskryf, want wat ons ons skat noem sal ons hart beheer, en wat ons hart beheer, beheer ook ons gedrag.

Wat is die verband hiervan met bekommernis? Die verband is opsigtelik en kragtig. Bekommernis en rus ontbloot altyd die ware skatte van jou hart. Jy sal die beste rus as dit wat jy jou skat noem veilig is, en jy sal jou die meeste bekommer as daar ʼn ernstige risiko vir jou skat is. Wat onthul jou wêreld van bekommernisse oor die ware skatte van jou hart?

Maar Jesus gebruik in hierdie gedeelte ook ʼn ander uitdagende kategorie – behoeftes. Jou lewe word altyd gevorm deur wat jy vir jouself sê wat jou behoeftes is. As behoefte beteken “noodsaaklik vir lewe”, dan word dit om iets ʼn behoefte te noem ʼn beduidende hartstoewyding. As jy oortuig is dat iets ʼn behoefte is, dan lyk dit reg om te verwag dat jy dit moet kry en dit lyk natuurlik om bekommerd te wees dat jy dit dalk nie sal kry nie. Die woord behoefte is dalk een van die slordigste woorde wat menslike wesens gebruik. Die oorgrote meerderheid van dinge wat ons behoeftes noem, is nie behoeftes nie. En Jesus sal argumenteer dat die dinge wat ware behoeftes is, genadiglik deur ons hemelse Vader voorsien sal word.

inkopies

Die behoefte-bepaling is dus op twee maniere met bekommernis gekoppel. Eerstens sal jy geneig wees om jou te bekommer as jy die wese van jou lewe aan dinge koppel wat jy nie werklik nodig het nie en nooit kan beheer nie. En tweedens sal jy geneig wees om jou te bekommer as jy ʼn werklike behoefte het, en jy vergeet van jou hemelse Vader en sy altyd-getroue verbondsliefde. Jou Vader is soewerein, wys, genadig en magtig. Hy heers oor al die dinge ter wille van Sy kerk (Ef. 1:15-23). As Hy nie Sy Seun gespaar het nie, sal Hy dan nie aan ons vrylik alles voorsien wat ons werklik nodig het nie (Rom. 8:31-32)?

Rus en oorlog🔗

Ek is diep oortuig daarvan dat werklike, durende persoonlike rus van die hart nooit gevind sal word in gemaklike omstandighede nie. Jou hart sal steeds redes vir bekommernis vind , selfs in die beste omstandighede in hierdie gevalle wêreld. Innerlike rus vir die siel en standhoudende vrede vir die hart kan slegs gevind word as Jesus en Sy koninkryk jou hoogste en diepste skatte is. As jy jou identiteit in Sy nooit-veranderlike hande plaas, as jy jou betekenis en doelwit vind in die onstuitbare werk van Sy koninkryk, en as jy jou innerlike welsyn plaas op die vaste fondament van Sy belofte om in al jou behoeftes te voorsien, dan sal jy in staat wees om te rus, selfs as die omstandighede en verhoudings rondom jou gebroke is.

Om bekommernis te oorwin is nie om te hoop dat môre beter sal wees nie. Nee, om bekommernis te oorwin gaan oor hoe om ʼn goeie soldaat te wees in hierdie dieper oorlog vir die hart. Dit gaan daaroor om teen die verleiding te veg om die vrede van jou hart te koppel aan dinge wat, vanuit hul natuur, tydelik is en dus nie gemaak is om jou standhoudende vrede te gee nie (sien Mat. 6:19). Dit is om jou siel daagliks te voed met die beloftes en versorging van jou hemelse Vader. Dit gaan daaroor om baie versigtig te wees voordat iets ʼn behoefte genoem word. Dit gaan daaroor om te lewe vir iets groter as jyself. Dit gaan daaroor om die liefde en toewyding van jou hart aan die Koning en Sy koninkryk te gee, en te veg teen die drang om ʼn koninkryk van Lilliput vir jouself te skep. Jou eie koninkryk sal nooit vir jou die rus kan gee nie, want dit het nie die vermoë om die begeertes van jou hart te vervul nie.

swaard en kroon

Dawid het dit reg gehad in die grot toe hy gesê het: “Here, U alleen laat my veilig woon” (Ps. 4:9). Dit is asof Dawid sê: “Ek vind nie my vrede in plekke, verhoudings of omstandighede nie, maar slegs in die Here. Daarom is ek net so vry van bekommernis hier in die grot as wat ek in die paleis was.” Ja Dawid het smart ervaar soos enige vader sou, en hy het nie geweet hoe sake sal verloop nie; maar in die middel van sy vrae en in die greep van sy smart was hy iemand met ʼn rustige hart, sodat hy rustig kon slaap.

Bekommernis en rus ontbloot altyd die ware skatte van ons hart, en in hierdie geveg is ons nie alleen nie, want die Koning wat ons dien is ook Immanuel (God met ons). Hy is altyd by ons en veg vir ons deur Sy genade.