3 bladsye.

Om God te ken is die lewe

‘Nie die leer nie, maar die Heer’. Hierdie stelling klink bekend uit die kerkgeskiedenis. Ons hoor ... teësin in die leer. Dit klink asof die diens van die HERE en lering twee verskillende dinge is wat maar weinig met mekaar te doen het. Daar word ’n teenstelling gesuggereer. Is dit tereg so? Hoe dien ons die HERE? Hoe gaan ons met die gereformeerde leer om? In hierdie artikel wil ons oor dié vrae handel.

Verskillende gebruike🔗

Die stelling ‘nie die leer nie, maar die Heer’ kan op verskillende maniere gebruik word. Jy kan daarmee ruimte soek vir leervryheid en vrysinnigheid. Dan sê jy dat kerklike gebondenheid aan die leer vir jou beperkend is. In die ekumeniese beweging hoor ons: ‘Die leer skei, maar die Heer verenig’. Al die belydenisse, al die meningsverskille tussen Christene lei dan weg van die kern waaroor dit in die kerk behoort te gaan: die Here dien en die naaste liefhê. Ons moet tog asseblief insien dat ons almal dieselfde God het ...

Deur mense wat die lewe in die kerk al te teoreties vind, word die uitspraak op ’n ander manier gebruik. Die preke is te dogmaties en daar is te min aandag vir groei in ’n lewende geloof. Dink maar aan al die Christene wat hieroor die kerk verlaat het. Hulle pleit nie vir leervryheid nie, maar vir ’n minder dogmatiese atmosfeer en meer nadruk op lewende omgang met die HERE.

n Teenstelling? 🔗

Is dit dan reg om ’n teenstelling tussen die Heer en die leer te veronderstel? Ek dink dat daar op hierdie vraag ’n tweeledige antwoord nodig is. In die eerste plek is die antwoord: nee. Wie die HERE dien, wil die HERE ook ken. Dit beteken dat jy onder woorde moet bring wie die HERE is. Jy neem nie genoeë met ’n paar geloofsuitsprake soos: “God is liefde” en “Ons het die opdrag tot naasteliefde” nie. Jy gaan ook in die Bybel soek wie die HERE is, wat Hy met sy skepping van plan is en wat jou plek daarin is. Wanneer jy jou teen vrae vasloop soos: “wat is die plek van God in lyding?” stimuleer dit jou tot nadere studie, en dan ís jy besig met belydenis, met die formulering van leer!

Daar moet in dié antwoord ewewel ook iets anders gesê word, want die leer kan in die praktyk verabsoluteer word. ‘As die goeie leer maar gehandhaaf word ... ‘. ‘As daar maar net nie verkeerde dinge gesê word nie ... ‘. Die gemeente hoor ‘dogmatiese’ preke, maar in die gemeente is dit ’n lewelose spul en die onderlinge verhoudinge is vol sonde. Word die leer dan nog inderdaad suiwer gehandhaaf ... ?

Nou wat is die gesonde weg vir so _ situasie? In elk geval nie dat iemand dit nou omdraai en sê: ‘Nie die leer nie, maar die Heer’. Dit is _ verkeerde teenstelling wat alles net weer laat skeefloop in die ander rigting.

Om God te ken🔗

In die praktyk kan daar ’n teenstelling tussen die diens van die Heer en die leer groei. Sê die Woord van God hoe ons hiermee moet omgaan? Ek wil dit ondersoek aan die hand van die wyse waarop in die Bybel oor ‘kennis’ en ‘God ken’ gepraat word. Hoe belangrik is kennis? Wat is die aard van kennis? Is dit hoofsaaklik verstandelik? Ons bekyk twee tekste, Hoséa 4:6 en Johannes 17:3 van nader.2 Hoséa 4:6 - “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis”. In Hoséa 4 kla die HERE die priesters aan. Hulle taak was om die volk te leer wie die HERE is (Levitikus 10:10-11; Esegiël 44:23). Die onderrig in die wet beteken nie alleen om die wet te leer nie, maar ook die grote dade van die HERE, om daarmee die HERE self te leer ken. Mens ken die lewende God uit sy dade. Uit Hoséa 2 kan ons aflei dat dit in die tyd van Hoséa heel prakties beteken het dat die priesters die volk moet leer wat die verskil tussen Jahwe en Baäl is. Die priester moes leer: weet julle dat die HERE julle gaan straf omdat julle agter Baäl aanloop? Baäl is ’n afgod. Hoe kry julle dit in jul kop om van hom reën, vrugbaarheid en welvaart te verwag? Tog sal die HERE julle terugbring en die verbond hernu.

Dit was die onderrig wat die priesters aan die volk moes gee. Die priester het dit nagelaat. Wanneer Hoséa dus skryf dat die volk weens ’n gebrek aan kennis ten gronde gaan, gaan dit nie oor feitekennis of teorie nie. Dit gaan om ’n keuse vir die HERE en die lewe met Hom deur trou, liefde en kennis (Hoséa 4:1). Die kanttekeninge by die Statevertaling sê by die woord kennis: ‘egte, ware en saligmakende kennis van God, gerig op sy Woord, tesame met geloof en liefde tot God en die naaste’.

Kennis is dus nie bedoel as enkel net verstandelike, teoretiese leer nie. Ons ontdek dit ook in Johannes 17. Jesus bid in sy hoëpriesterlike gebed vir ons: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken” (vs. 3). Ook hier gaan dit nie net oor kennis in die sin van die teoretiese kennis van ’n reeks waarhede nie. Wanneer God Hom laat ken, klink daar nie kil waarhede nie, maar lê Hy sy hand op ons, Hy verklaar aan ons sy liefde, Hy maak aanspraak op ons liefde en ons hart. Só kom die ware kennis van God tot stand; dit is ’n kennis van die hart, dit gaan gepaard met vertroue en gevoel en die lus om die gebod van God te onderhou. Dit is die kennis waarvan Jesus voor sy gevangeneming, veroordeling en kruisdood gepraat het. Om God te ken, beteken om sy liefde en sy welwillendheid na jouself te sien kom. Kennis van God doen iets met jou. In sy gebed bedoel Jesus: om God te ken, is ware lewe; die lewe wat Jesus vir ons voorgeleef het, waarin die liefde vir die HERE voorop is.

Die slotsom is dat kennis in die Bybelse sin nie op verstandelike werk en waarhede dui nie. Wanneer die Bybel praat van ken/kennis van God, gaan dit oor mét die HERE lewe, Hom liefhê en vertrou; lewende omgang met Hom wat óns liefhet. Daarin leer ons die HERE, die lewende God, ken. Sodat ons dit kan leer, het die HERE _ lewende getuienis, waarin ons sy stem hoor en sy soekende liefde ervaar, gegee.

Hierdie slotsom het ook gevolge vir die manier waarop ons met ons belydenisse omgaan. Dit is dokumente waarin die kerk haar lewende kennis van die HERE verwoord het. Geloof, ontsag, verwondering, ootmoed en verwagting klink daarin op. Dit klink ook op in die manier waarop ons daarmee omgaan.

Hoof, hart en hande🔗

Dat om God te ken meer is as iets verstandeliks, het te doen met die manier waarop die HERE ons gemaak het. Hy het ons met ’n verstand geskep, maar ook met gevoel, met ’n volledige liggaam. Hy het ons dus gemaak met hoof, hart en hande. Ons kry hierdie drieledigheid in Psalm 78:7. Die Psalm sing, onder meer, van geloofsopvoeding. Die doel van die leer van die geloofswaarhede van geslag tot geslag, word in vs. 6 en 7 só gestel: “sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar!“. Nie vergeet nie (hoof), vertroue (hart) en gebooie bewaar (hande). Geloof is ’n saak waarby die hele mens betrek word. Ons vind dit dan ook in die gereformeerde belydenis. In die Heidelbergse kategismus, Sondag 3, V&A 6 word ’n beskrywing gegee van die mens as beeld van God:

God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys”. Om God se beeld te wees, beteken nie dat ons soos God lyk nie; wel dat ons God op aarde verteenwoordig. Die Kategismus gee dit met twee woorde aan: geregtigheid en heiligheid. Geskape in ware geregtigheid beteken dat jy goed aanvoel wat God wil. Geskape in heiligheid beteken dat jy by God pas: jy is nie net op hoogte van die wil van God nie, jy is daarbenewens van harte bereid op die wil van God te doen. Deur die sondeval het daar van hierdie skitterende vermoëns in ons lewe maar min oorgebly.

Die opdrag bly egter staan. Ons moet dus op aarde, as beeld van God, sy doel met die lewe en die skepping, uitvoer. Om dit te kan doen, moet ons die HERE in waarheid ken en Hom van harte liefhê. Ons moet Hom eer in al ons doen en late. Hier hoor ons dit weer: hoof en hart en hande. Al die aspekte van ons menswees word betrek om die HERE te dien en Hom op die aarde te verteenwoordig.

Wat die Kategismus beskryf as die doel van ons lewe, vind ons in die Woord van God. Dink aan die Psalms, by uitstek die boek vol van geloofsbelewing. Ek noem een voorbeeld van ’n Psalm waar die ‘wet’ van God besing word. Onder ‘wet’ moet ons dan verstaan: sy Woord. Die Psalmdigter bedoel meer as net die wette, die voorskrifte van die Here. Dit gaan oor die Thora, die hele openbaring van God. God verkwik die siel—jy word daarmee verfris. Dit is ’n begeerlike besit in jou lewe, ’n lekkerny (Psalm 19: 8, 11) – veel meer as teoretiese kennis. Dink aan die Psalms waarin die skepping van God besing word. Daarin gaan dit oor sy almag en sy wysheid en dit loop daarop uit dat die heerlikheid van God besing word (Psalm 8; Psalm 104).

In die Nuwe Testament sien ons dieselfde: Geloof is anders as om waarhede verstandelik te verwerk. Toe Jesus vir die Emmaüsgangers die Skrifte uitgelê het, was hulle harte brandende in hulle (Lukas 24:32). Van Lídia, die purperverkoopster word geskryf dat sy na die Woord geluister het, en “die Here het haar hart geopen” (Handelinge 16:14). In Romeine 1:5 skryf Paulus dat hy apostel is om geloofsgehoorsaamheid te bewerk. Hy is nie uit op verstandelike reaksie nie, maar op gehoorsaamheid by die mense vir wie hy van Christus vertel. Hulle gaan ook hande uit die mou steek. In Efesiërs 3:12 skryf Paulus dat die Christene die HERE soek, “met vertroue deur die geloof in Christus”. Geloof gaan met vertroue gepaard.

Uiteindelik wys al hierdie gegewens terug na die gebod van Christus: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matthéüs 22:37).

Verbond🔗

Só het God ons gemaak, met soveel moontlikhede dat mens jou daaroor verwonder. Terselfdertyd is hierdie moontlikhede in die Woord van God ’n opdrag. God het ons na sy beeld geskep om werklik vir Hom te lewe. Hy laat ons kies. Dit is nie ’n vrye keuse nie. Ons opdrag is ingebed in ’n verbond waarin die HERE Homself gee, en van ons eis om ons lewe aan Hom te gee. “Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!” (Psalm 103:1).

Die lewe met die HERE is allesomvattend. Dit omvat veel meer as ‘goed voel by die Here’. Dit omvat ook veel meer as om enkele teoretiese waarhede aan te neem. Deur ons sonde is ons beperk in ons diens van die HERE. Is ons te teoreties? Speel gevoel ’n té groot rol? Goeie vrae vir ’n bespreking. Ons hoef mekaar nie daarin te veroordeel en af te wys nie. Dit gaan immers daaroor dat ons deur die liefde mekaar help om die lewe vol te maak. Dan sal ons “in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat [ons] vervul kan word tot al die volheid van God” (Efesiërs 3:18).