Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Om van die Duiwel Kennis te Neem

Die duiwel is al weer in die nuus. Die keer omdat hy nie bestaan nie. Altans so beweer die paar unieke professore en predikante. Die argument oor die nie-bestaan van die duiwel is eintlik eenvoudig. Daar word beweer dat die duiwel, soos hy in die Woord beskryf word, niks meer as ’n bangmaak gedagte is nie. Daar is selfs een professor wat beweer dat sekere verskynsels, soos die duiwel, gegewe is met ons bepaalde liggame en sentrale senuweestelsels. Die spesifieke interpretasie dat dit demone is, is kultuur- en konteksbepaald. Al die verkeerdhede in die wêreld is dus nie die duiwel se skuld nie. Hy mag nie die Judasbok wees om te blameer nie. Die booshede in die wêreld is die mens se eie. Om dit te verwyder is ook die mens se eie verantwoordelikheid. Altans, so word beweer.

Kerklike Reaksies🔗

Hoe moet die kerk optree teenoor hierdie bewering dat die duiwel ’n praatjie is? Reaksies kan wissel van gelowige teregwysing, ’n skalkse glimlag van beterweterigheid, ’n beangste toeval of - en dit is die gevaarlike een - slegs ’n nuuskierige kennis neem. Ons het deesdae die gewoonte om van iets kennis te neem sonder om ’n besluit daaroor te neem. Wie het vir ons gesê die Satan bestaan? Van wie neem ons kennis aan? Onsself? God? Die bestaan van die duiwel is gekoppel aan die bestaan van God. Die erkenning van die realiteit van God se openbaring is hier op die spel.

In die goddelike waarskuwing oor die moontlikheid van die ewige dood in Genesis 2 is die bestaan van die duiwel al op die agtergrond. Eers later, as berig word oor die oorlog in die hemel (Openbaring 12:7-8; Lukas 10:18) word dit duidelik dat die sondeval eers in die hemel by die duiwel begin het en dat die sataniese vonk van opstand na die aarde oorgespring het (Genesis 3). Dit gaan hier nie soseer oor al die inligting waarvan kennis gedra moet word nie, maar oor die blote feit dat God - wat inligting oor Homself bekendmaak - die eerste was om kennis van die bestaan van Satan aan ons oor te dra.

Woord Eerste🔗

Om die bestaan van die duiwel te ontken, is niks minder as om God as ’n leuenaar uit te kryt nie. Daar loop ’n lyn in die Westerse wêreld dat ongeveer twintig jaar na die betwyfeling van die bestaan van die duiwel, die bestaan van God in die gedagtes van die mens in gedrang kom. Dit is heel logies. God het gesê die duiwel moet bestaan; as engel. Na sy opstand sê God wat daardie engel gedoen het en nog steeds met ons doen. Eers daarna het ons ook op ervaringsvlak daarmee te make gekry. Die Woord kom eerste.

’n Hermeneutiese beginsel is hier op die spel. As jy werk met die eerste hoorder, of dat die leser ’n beduidende rol in die verstaansproses moet speel, dan maak jy die ervaring tot openbaring. Voeg nou ’n skeutjie subjektivisme by (waar iemand alleen kennis neem as hy dit self bewerk het) en jy het die stelling: die duiwel bestaan nie, want ek het nog nooit ’n demoon gesien nie. So iets kan nooit teologie, kennis van en vanaf God, wees nie.

Verbode Kennis🔗

Dit het tyd geword dat die kerk teologies vir die duiwel veg. Vir sy bestaan. Nie om enigsins op ’n bewuste vlak iets met sy boosheid te doen te hê nie, maar ter wille van God se eer. God het ons geleer die Satan bestaan. Ons kennis daaroor kom uit die Heilige Skrif. Daarin verbied God ons ook om sekere kennis by die Satan of by dooies te gaan haal. Nie omdat die duiwel ’n senuweeagtige denkpatroon is nie, maar juis omdat dit moontlik is. ’n Bose moontlikheid, waarvan ons verlos moet word. As jy nie meer bely dat die Satan bestaan nie, kan jy nie meer die ‘onse Vader’ bid nie. As jy nie aan die duiwel glo nie, kan jy nie meer in God glo nie. Vir die kerk staan of val Skrifgesag by die erkenning of ontkenning van die bestaan van die duiwel.

Geen Onderskeid Meer🔗

Die bestaan van die onderskeid tussen waarheid en dwaling kom daarmee na vore. Die nuwe hermeneutiek kan geen onderskeidings verdra nie, omdat dit eenheid en verskeidenheid nie ken nie. Die post-moderne hermeneutiek kalf alle onderskeidings weg. Van God en Satan, die twee nature van Christus, hemel en hel, mens en demoon ... totdat daar net een groot niks oorbly.

Ons kan nou dink dit is dom van iemand om die bestaan van die duiwel te ontken, maar die gewilde, gewaagde sosio-historiese aanpak in ons kerke probeer om ’n antwoord op die post-moderne uitholling te bied. Dit bereik egter net die teendeel. Dit maak die huidige kerk ryp vir die god-, satan-, onderskeidlose kerklike wêreld en wêreldlike kerk van die antichris, omdat dit met die primaat van die Woord in die hermeneutiek peuter. Moenie maar net van God se onderskeiding kennis neem nie. Ook nie sinodaal nie. Neem kennis van Hom aan - in sy Woord, sy Seun wat primaat oor alles het - ook hermeneuties. God gee kennis. Dan sal die Satan nuus bly. Maar die kerk sal nie nuuskierig oor hom word nie.