Bron: Die Kerkblad, 2007. 3 bladsye.

Omgewingsbesoedeling: Die sluipende monster

besoedeling

Daar bestaan weinig meningsverskil oor die feit dat ons land – en die wêreld – tans met talle groot vraagstukke te doen het. Sommige daarvan is duidelik sigbaar en aantoonbaar, ander gaan onder die oppervlak van waarneming skuil en is gevolglik nie so opsienbarend van aard as die ander nie.

Een van hierdie verskuilde vraagstukke is die ekologiese vraagstuk, in algemene terme gewoonlik as omgewingsbesoedeling beskryf. Dat ons land – en die wêreld – op ’n ontsaglike manier besoedel en bevuil word, is nie vir almal ewe sigbaar nie, maar tog ’n saak wat navorsers baie bekommerd maak. Kenners wys daarop dat indien mense nie van hulle grypsug, selfsug en genotsug genees en bevry word nie, ons in Suid-Afrika – en die wêreld – op ’n omgewingskatastrofe afstuur wat ongekend in die wêreldgeskiedenis sal wees.

Ek het die afgelope twee jaar (2005-2006) ’n aantal koerantknipsels versamel en die onderstaande prent daaruit saamgestel. Wat die wêreld in die algemeen betref, lyk die prent soos volg:

  • “Op 9 November 2006 het die mens begin om in die aarde se ‘ekologiese kapitaal’ te delf (in te vreet)";
  • “teen 2050 sal die mensdom twee planete nodig hê om aan sy behoeftes te voldoen indien sy huidige verbruikerspatrone voortduur”;
  • “wetenskaplikes sê aardverhitting het ’n toenemende uitwerking op die Arktiese streek met gletsers wat krimp, watertemperature wat styg en sagter ysgrond”;
  • “die gat in die osoonlaag bo Antartika is vanjaar (2006) die grootste tot nóg toe” (die osoonlaag, 10-50 km bo die aarde, beskerm die aarde teen skadelike ultravioletstrale);
  • “die yslaag in die Arktiese sirkel is besig om te smelt en die wêreld moet hom regmaak vir ’n styging van 7 meter in die seevlak”;
  • “teen 2050 sal die Arktiese See sonder ys wees en meer as ’n miljoen spesies wêreldwyd uitgewis”;
  • “byna 80% van die wêreld se inheemse woude (ons suurstof-fabrieke) is al vernietig”;
  • “verwoestyning bedreig die lewens van byna een miljard mense in 100 lande”;
  • “in 500 jaar het mense 844 spesies uitgewis en die biodiversiteit gaan steeds agteruit”;
  • “binne minder as 50 jaar kan die oseane sonder vis wees”;
  • “72% van die wêreld se voëlspesies kan binne dekades uitgewis word as klimaatsverandering nie vinnig gestuit word nie”;
  • “Kilimandjaro het die afgelope 100 jaar 80% van sy sneeuhoed verloor – en dit mag teen 2020 heeltemal weg wees”;
  • “Afrika het die Eerste Wêreld se e-rommelhoop geword (ou rekenaars, selfone, TV-stelle ens.)”.

rommelhoop computers🔗

Wat Suid-Afrika in die besonder betref:🔗

  • “Suid-Afrika is een van die wêreld se tien grootste besoedelaars”;
  • “Suid-Afrika genereer jaarliks 560 miljoen ton afval – so groot soos ’n rugbyveld wat 3,25 km die lug in strek”;
  • “elke middelklas Suid-Afrikaner genereer jaarliks 480 kg afval per persoon”;
  • “Suid-Afrika se water kan teen 2025 opdroog indien die land hierdie kosbare hulpbron nie reg bestuur nie”;
  • “Suid-Afrika verloor jaarliks 300-400 miljoen ton bo-grond weens water- en winderosie”;
  • “die meeste van die riviere van Suid-Afrika is (vanweë besoedeling) in groot moeilikheid”;
  • “byna al die riviere het verander in rioolslote”;
  • “toeriste na die Wêreldbeker-sokkertoernooi moet gewaarsku word dat die meeste van die land se riviere (en damme) vol rioolbesoedeling en nywerheidsafval is”;
  • “ ’n groot ramp bedreig die Oos-Rand waar groot hoeveelhede dodelike gifstowwe onbewaak in ’n verlate verwerkingsaanleg vir toksiese mediese afval naby Germiston lê en verrot”;
  • “die munisipaliteite van Johannesburg, Durban en Kaapstad bestee jaarliks R2,5 miljard aan afvalverwydering”.

Wat die probleem nog groter maak, is dat van die supermoondhede in die wêreld hulle samewerking weier om wêreldbesoedeling te bestry: die VSA (en Australië) weier byvoorbeeld om die Kioto-verdrag te onderteken – ’n verdrag wat deur 34 ander lande aanvaar is en op grond waarvan die vrylating van kweekhuisgasse en aardverhitting beperk word.

Die prentjie wat hierbo afgeteken is, lyk nie goed nie. Daarby word Christene nog daarvan beskuldig dat hulle werksetiek daartoe bygedra het dat die aarde lyk soos hy lyk. Hulle werkwoede het die aarde (byna) verwoes.

In die Gereformeerde teologie word daar dikwels veel gewag gemaak van wat genoem word die “kultuurmandaat” van die mens, naamlik om die aarde te bewerk en daaroor te heers (Gen 1:28). Hierdie mandaat van die mens mag egter nooit losgemaak word van die laaste “groot opdrag” van Christus aan sy kerk om die evangelie aan alle mense te verkondig nie (Matt 28:19). Die kultuurmandaat van Génesis moet dus ten nouste verbind word aan die koms van – en diens aan – die koninkryk van God in hierdie wêreld. God belowe ’n nuwe wêreld en Hy roep sy kinders op om in daardie rigting te leef en te werk.

asblik te vol

So besien gaan dit nie net oor die “bewerk” van die aarde nie, maar ook oor die “oppas” van die aarde (Gen 2:15), tans meer as ooit tevore. Ons moet die energiebronne van die aarde oppas, want dit is nie onbeperk nie; ons moet die varswaterbronne van die aarde oppas, want dit kan uitgeput word; ons moet die bome en bosse op aarde oppas, want daarsonder het ons geen suurstof nie; ons moet die atmosfeer bo ons oppas, want daarsonder gaan die son alles op aarde verskroei; ons moet ons dierelewe – van die grootste tot die kleinste – oppas, want elke dier vorm ’n skakel in die groot ekologiese proses; ons moet ons mooi natuurskoon oppas, want daarsonder word die aarde ’n lelike plek om te woon, te werk en te ontspan; ons moet ons land skoon hou, want geen regdenkende mens sal ’n besoedelde land aan die nageslag wil oorlaat nie.

Meer as ooit tevore sal Christene hulle ware rentmeesterskap van die aarde, van Afrika en van Suid-Afrika moet bewys deur omgewing-sensitiewe optrede en deur die besoedeling van lug, water en die natuur teen te gaan. Ontwikkeling en bewaring sal ’n volhoubare balans moet vind en alle onge­breidelde ontwikkeling sal skerp afgewys moet word.

Christene mag nie die natuur vergoddelik nie, maar hulle mag dit ook nie uitbuit, verniel en selfs vernietig nie; hulle moet dit met groot verantwoordelikheid gebruik in diens van die koms van die koninkryk van God.