3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Onderlinge Toesig in die Christelike Gemeente

Ek het ʼn tyd gelede by kategese vir volwassenes oor kerkverband en kerkorde, met ʼn paar gemeentelede oor die onderwerp “take van ‘gewone gemeentelede’ in die lig van die kerkorde” gepraat. Dit het my nie regtig verbaas dat dit geblyk het dat die kerkorde vir baie gemeentelede nie daaglikse leesstof is nie. Wat wel besonders was, was dat daar met die lees van die kerkorde ʼn hele klomp verrassings opgeduik het. Een deel van die verrassings was wat die kerkorde oor die funksie van onderlinge toesig in die gemeente sê. Iets meer daaroor in hierdie artikel.

Ons lees op verskillende plekke in die Nuwe Testament dat dit die bedoeling van God is dat broeders en susters in die gemeente vir mekaar verantwoordelikheid dra. Hulle moet mekaar opbou in die geloof en saamwerk aan die opbou van die gemeente as liggaam van Christus (1 Korintiërs 12).

Gemeentelede het egter ook verantwoordelikheid dat die ander stándhou in die geloof. Ons sien dit in tekste soos 1 Korintiërs 10:23–11:1 en Kolossense 3:12-17. Wanneer iemand dreig om van die pad van die gebooie af te dwaal of agter raak in die geloof, moet die gemeente so iemand aanmoedig om na ʼn lewe met die Here terug te keer. Hierdie element van mekaar teregwys of vermaan, vind ons in tekste soos 2 Korintiërs 2:5-7; 1 Tessalonisense 5:11-15 en Hebreërs 3:12-13. Uiteindelik kan dit sover kom dat iemand uit die midde van die gemeente verwyder moet word, as hy na teregwysing volhard in ʼn sonde wat nie binne die gemeente van Christus kan bestaan nie (lees o.a. 1 Korintiërs 5:1-13 en 2 Tessalonisense 3:14, 15).

Uit al die tekste weet ons dat dit die bedoeling van God is dat broeders en susters in die gemeente onder toesig van mekaar sal wees. Omdat ons mekaar in Christus liefhet, moet ons mekaar ook aanspoor en vermaan om by Christus te bly. Ons kyk na die rol van die gemeente...

...in die broederlike vermaning (Kerkorde art. 72-74)🔗

Die plek in die kerkorde waar die onderlinge vermaning die duidelikste ter sprake is, is artikels 72-74, waar dit gaan oor die broederlike vermaning volgens die reël soos in Matteus 18 voorgeskryf. Hierdie reël is gebaseer op Matteus 18:15-17 waar die Here Jesus ʼn duidelike riglyn vir onderlinge vermaning in die gemeente gee. Die Gereformeerde kerke tree volgens die reël op. In die Roomse kerk was onderlinge teregwysing deur gemeentelede onbekend. Calvyn het egter gesê dat persoonlike vermaning, en veral die ontvang van die vermaning, die fondament van die tug is.

Dit blyk egter in die praktyk dat die onderlinge vermaning veelal by die toepassing van die beginsel, agterweë bly. En hoewel dit ook in ons kerkorde ʼn duidelike plek het, gebeur dit in ons kerklike lewe steeds dat ʼn gemeentelid met ʼn klag teen ʼn broeder of suster na die kerkraad toe kom, met die bedoeling dat hulle direk moet optree. Maar die kerkraad kan eers optree nadat so ʼn gemeentelid self onder vier oë probeer het om sy broeder te win, op die manier wat die Here Jesus voorgeskryf het.

Wanneer dit sover kom dat ʼn sonde by die kerkraad aangemeld word, moet die kerkraad eers self ondersoek instel. As daar skuld blyk, dan volg daar kerklike vermaning. En eers as daar vir ʼn lang tyd nie aan al die vermanings gehoor gegee word nie, sal die kerkraad oorgaan tot wat ‘Christelike tug’ genoem word. Hiermee word die drie trappe waardeur iemand uiteindelik van die Christelike gemeente afgesny word, bedoel. Maar nogmaals: die begin en eerste verantwoordelikheid van die Christelike tug lê by die onderlinge toesig oor mekaar in die gemeente.

... in die kerklike tug (Kerkorde art. 77)🔗

As dit daartoe gekom het dat die pad van afsnyding van die gemeente gevolg moet word, sal die kerkraad dit drie keer in die gemeente afkondig. By die eerste afkondiging word die naam van die gemeentelid nie genoem nie (met die oog daarop dat hy hom sal bekeer en weer sy plek in die gemeente inneem). By die tweede afkondiging sal die kerkraad, met advies van die klassis, sy naam bekendmaak, en by die derde afkondiging dat hy nou daadwerklik van die gemeente uitgesluit sal word, as daar nie bekering kom nie.

Wat is die doel van die driemaal afkondig in die gemeente? Ten eerste dat daar ʼn tyd van geduld moet wees; daar moet ruim geleentheid wees vir bekering en vergewing. Dit sou ook op ʼn ander manier bereik kon word – die belangrikste doel van die afkondiging in die gemeente is dat die gemeente ernstig aan die werk kom; dat die hele gemeente gemobiliseer word om die lidmaat wat dreig om verlore te gaan, te behou. Soos die Goeie Herder alles oorgehad het om die één skaap wat verlore was weer te vind, so moet die gemeente alles in die werk stel om deur gebede en gesprekke, te probeer om die gemeentelid weer by God terug te bring. Dít is die doel van die driemaal afkondig in die gemeente: dat die gemeente haar taak van onderling toesig uit liefde sal opneem.

...by heropname in die gemeente (Kerkorde art. 78)🔗

In die ou kerk het dit gereeld gebeur dat mense ná berou weer in die gemeente opgeneem wou word (veral wanneer mense in tye van vervolging hulle geloof geloën het). In ons kerklike lewe het heropname in die gemeente seldsaam geword; deels omdat dit min gebeur dat die pad tot afsnyding tot die einde toe gevolg word. Die praktyk is meesal dat mense, voordat dit sover kom, hulle aan die gemeente onttrek. Tog bestaan hierdie moontlikheid en het die gemeente hierby ʼn moeilike taak.

Wat ís die taak van die gemeente? Allereers kan hulle op grond van skuldbelydenis en tekens van berou in die naam van Jesus vryspraak gee. Én die gemeente moet bly wees! Die engele in die hemel verbly hulle oor één sondaar wat hom bekeer, en die gemeente mag daarin deel. Daarom mag daar nie ʼn koel ontvangs wees nie, maar oop harte vol liefde. Dit kom mooi na vore in ons kerkorde waar daar staan dat die heropname op die eersvolgende Sondag waarop die Heilige Nagmaal gevier word, moet plaasvind. Die bedoeling daarvan is dat opgeneemde lidmaat dadelik na heropname die fees van die Nagmaal saam met die gemeente kan vier.

...by beroeping van ampsdraers en die gee van attestasies (Kerkorde art. 82, 4, 5, 22, 24)🔗

ʼn Attestasie is ʼn getuigskrif oor die geloof en wandel, wat deur ʼn kerkraad aan ʼn gemeentelid wat verhuis, gegee word, sodat die kerkraad van die plek waarheen hy gaan, weet wie hulle ontvang en of hulle daardie lid tot die sakramente kan toelaat. Die gebruik van sulke getuienisse of aanbevelingsbriewe is so oud soos die kerk self (Handelinge 18:17; Romeine 16:1; 2 Korintiërs 3:1).

Die kerkraad kan egter nie buite die gemeente om ʼn attestasie saamgee nie. Die gemeente moet haar goedkeuring daaraan heg. Om dié rede moet aan die gemeente bekend gemaak word dat ʼn attestasie aangevra is, met die bedoeling dat die gemeente besware kan inbring. Die afkondiging is nie ʼn formaliteit nie, maar ʼn voorlegging aan die gemeente ter beoordeling of ʼn attestasie van goeie wandel gegee kan word. Ook die gee van hierdie goedkeuring is ʼn vorm van onderlinge toesig in die gemeente.

Dieselfde geld by die goedkeuring wat van die gemeente gevra word na die verkiesing van nuwe ampsdraers. Die kerkorde handel hiermee in art. 4 en 5 (predikante), art. 22 (ouderlinge) en art. 24 (diakens). Mens sou die verkiesing van ampsdraers ʼn stukkie kerkregering kon noem (vandaar dat net stemgeregtigde lidmate hieraan kan meedoen), maar die approbasie of goedkeuring wat daarop volg, is ʼn vorm van tugoefening en het te doen met die onderlinge toesig in die gemeente. Alle lidmate (ook dooplidmate en lidmate onder sensuur) het reg om besware in te bring op grond van hulle roeping om toesig te hou oor die heiligheid van die kerk.

...by doop en huwelik (Kerkorde art. 56, 57, 70)🔗

Ook by die doop speel die gemeente ʼn rol. Ter agtergrond kan ons dink aan die vroeëre doopgetuies. Hoewel Calvyn van oordeel was dat die doop ʼn saak van die ouers was en dit in die kerkorde laat opneem het dat ten minste die vader of die moeder die beloftes by die doop moet aflê, het hy ook ruimte gelaat vir getuies by die doop: gelowige lede van die kerk, wat sou toesien dat die kinders in die leer van die kerk onderrig sou word. Hulle moes die ouers aan hulle belofte herinner, maar kon ook intree by siekte of dood van die ouers. Langsamerhand het die hele gemeente in die plek van hierdie getuies gekom. Die hele gemeente is getuies van die doop en het medeverantwoordelikheid by die opgroei van die kind. In sommige gemeentes word hieraan uitdrukking gegee deur ná die vrae aan die doopouers ook die gemeente enkele vrae te laat beantwoord.

Dieselfde rol van onderlinge ondersteuning om op die pad van God te bly, vind ons ook by die huwelik. ʼn Bruidspaar beloof by die huweliksbevestiging dat hulle met mekaar na die eis van die wil van God sal lewe, en hulle kinders in die vrees van die Here sal opvoed. Die gemeente kan hulle aan die beloftes herinner en het ʼn taak van aansporing en bemoediging daarin.

Op al die maniere blyk dit hoe die soms min gelese kerkorde ons heel prakties aanspoor om binne die gemeente van Christus vir mekaar hande en voete te wees, tot versterking van mekaar se geloof, tot opbou van die gemeente en tot eer van ons God. As ons die kerkorde ook op dié manier gebruik, sou dit nie tot seën wees nie?