Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Onderskei die Goeie Wil van God

Is daar vir elke aspek van ons lewe ‘n duidelike bybelse gebod wat ons moet volg?  ‘n Vraag wat dikwels in dieselfde asem gevra word is of daar sekere aspekte van ons lewens is waarin ons “vry” is as ons geen gebod daarvoor of daarteen kan vind nie.  Of ons kan wonder of daar werklik in elke situasie net een regte en goeie opsie is om te kies wat duidelik deur ‘n gebod aangedui moet word.  Dit alles lei ons om  die vraag te  vra of dit enigsins reg is om  altyd of selfs in die eerste plek te vra na ‘n “gebod” van God om sy wil te ken en mekaar op aan te spreek .

Die Werk van die Here🔗

Ek dink dat dit glad nie belangrik of noodsaaklik is om te kan sê dat daar vir elke aspek van ons lewe ‘n gebod van God is nie.  Bepalend vir ons lewe is nie in die eerste plek die wet van die Here nie, maar die werk van die Here.  Op een of ander manier leef ons hopeloos te sterk met die gedagte dat daar tussen wie die Here is en wat Hy doen, en ons gehoorsaamheid aan Hom altyd ‘n gebod ingeskuif moet word.  My kritiese vraag is: “Is dit reg om te dink dat ons gewetens net gebind is aan die Here wanneer Hy vir ons ‘n regstreekse gebod gegee het?”

Is wie God is en wat Hy in sy volmaakte skeppings- en verlossingswerk gedoen het nie genoeg om by ons verwondering en gehoorsaamheid te bewerk nie?  Voel ons onsself los van die Here totdat Hy ons met ‘n gebod aanspreek?  In so ‘n geval sou dit kon beteken dat ons ook nie hoef te glo nie, totdat ons ‘n regstreekse opdrag van die Here kry om te glo nie.  Dit alles word ‘n skematisering van ons lewens wat totaal kunsmatig en uiters onnatuurlik is.

Tussen die karakter van God en ons gehoorsaamheid hoef nie eers ‘n gebod ingeskuif te word voordat ons aanspreekbaar is nie.  Wie God is en wat Hy doen en gedoen het, is meer as genoeg om ons in beweging te bring!  Daar is werklik geen noodsaaklikheid van ‘n bemiddeling van ‘n gebod tussen die wonder van die evangelie en ons (aan)gepaste lewensreaksie nie.  Geen gebod is iets wat los van of selfs bo wie God is, staan nie.  Die gebod gee ons niks nuut nie, maar is ‘n aandagtrekker vir wie God is en wat Hy gedoen het.

Dit is nooit asof ons nog nie aanspreekbaar is totdat daar ‘n gebod sy opwagting maak nie.  Ons word nie tot gehoorsaamheid in beweging gebring deur die hefboom van die gebod nie.  Die gebod is ‘n ligwerper op wie God is en wil daarmee ons in beweging bring.  Miskien lê hier die rede vir ons dikwels trae gehoorsaamheid aan die Here.  Ons gehoorsaamheid behoort die karakter van blymoedige aanbidding te hê.  Aanbidding in gehoorsaamheid van ‘n genadige en liefdevolle en majestieuse God.  Maar solank as wat ons ons verkyk en vaskyk in ‘n gebod sonder om die liefdevolle en grote Here self raak te sien nie, word ons reaksie dié van ‘n slaaf en word die wet ‘n slawedrywer. 

Wees Heilig, want Ek is Heilig 🔗

Nadat Petrus geskryf het: “Geseënd is die God en Vader van ons Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode”, het hy klaar alles geskryf wat nodig is om vervolgens te skryf: “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel geword het by die openbaring van Jesus Christus” (vgl 1 Pet. 1 : 3, 13). 

Petrus wil skryf oor hoe die gelowiges hulle lewens moet inrig.  Vir hom is dit genoeg om te verwys na wat God gedoen het in Jesus Christus.  Vir die gemeente moet dit genoeg wees om te weet dat Hy wat ons geroep het heilig is.  Dit is omdat Hy heilig is, dat ons lewens ‘n heilige karakter sal hê.  God se heiligheid is hier nie sy “sondeloosheid” nie, maar sy onverklaarbare karakter wat by ons aanbidding en verwondering wakker maak wanneer ons gelowige aandag het vir wat Hy gedoen het om vir ons ‘n nuwe lewe saam met Hom te gee. 

Vir Petrus is daar een groot motief vir ons om heilig te wees:  Want God is heilig.  Dit is omdat ons God as Vader kan aanroep dat ons lewe totaal nuut ingerig gaan word.  Omdat ons weet dat ons lewens nie deur verganklike dinge soos goud en silwer gekoop is nie, maar deur die kosbare bloed van Jesus Christus, sal ons geen “ydele lewenswandel” meer hê nie. 

Geen Gebod?🔗

Probeer die uwe hiermee beweer dat daar geen plek is vir ‘n gebod van God in ons gehoorsaamheid aan die Here nie?  Dit sou absurd wees en spreek van blindheid vir die manier hoe die Skrif self met ons praat.

Ons kan onmiddelik dink aan die wetgewing van die Here by die berg Sinai en die konkrete gebooie en opdragte van Christus en sy apostels.  Ek probeer slegs duidelike aandag vra vir die manier hoe ons eie Heidelbergse Kategismus die gebod aan die orde stel. 

Die gebod kom aan die orde as ‘n manier om aandag te vra vir die God wat sy volk uit Egipteland uit die slawehuis bevry het.  Die motivering vir die gebod lê in die werk van die Here.  Bepalend vir ons lewe is daarom nie die wet in die eerste plek nie, maar die werk van die Here.  Die wet(te) wat losgemaak word van die werk van die Here, word onverstaanbaar en bewerk selfs ‘n stuk hoogmoed en ‘n lewe los van die Here.  Wat kan erger wees as ‘n “wetsgehoorsame” lewe los van die geregtigheid van God? Was dit nie juis Paulus se groot smart oor die volk Israel dat hulle besig was met die “wet” in alle ywer, terwyl hulle die geregtigheid van God verwerp het nie? (Rom. 10).

Die wet wil ons terugneem na dit wat ons werklik bind.  Ons word gebind aan die werk van God.  Die wet wil slegs maar voorbeelde wees van die respons wat hierdie werk van God by ons behoort wakkeer te maak. Net soos wat ons nie glo sonder geloofsvoorbeelde nie, is ons ook nie gehoorsaam, sonder voorbeelde van gehoorsaamheid nie.  Deur bepaalde voorbeelde te gee van maniere hoe God se werk in ons lewe wil ingryp, word ons hele lewe gebring onder die gees van aanbidding en gehoorsaamheid.  Die wet(te) van die Here wil met geen eie gesag na ons kom, anders as die gesag van die werk(e) van die Here wat ‘n eie gesag het en aanspraak op ons hele lewe wil kom maak nie.  Die wet(te) wil nie ‘n appél en gesag oor ons lewe uitoefen, wat nie reeds deur die werke van die Here uitgeoefen word nie.  Die werklikheid van God se genadewerk het genoeg gesag om daarmee beslag op ons lewens te lê tot in die kleinste detail.

Kerklike Praktyk🔗

Ek wil probeer om verder te illustreer hoe die “gebod” van die Here dikwels by ons funksioneer. Wanneer kerklike tug of vermaning ter sprake kom, is dikwels die eerste vraag: “Watter gebod het die persoon oortree?”  Indien die optrede nie duidelik aanwysbaar onder een van die gebooie val nie, word daar gewonder of ons mekaar enigsins mag aanspreek en vermaan.  Dit is asof daar ‘n sekere deel van ons lewe bestaan waaroor die Here geen seggenskap het nie, want dit word nie “gedek” deur ‘n gebod nie. 

Die gevolg van hierdie denkpatroon is dat iemand maklik ‘n lewe los van die Here kan leef, die genade van die Here kan minag en tog ‘n sogenaamde “onberispelike” lewe lei.  Op die oog af geen oortreding van ‘n gebod nie, maar tog ‘n lewe waarin die geloof en geloofsvreugde oënskynlik heeltemal afwesig is.  Die oorgawe van my hele lewe ontbreek dan te dikwels. 

Die karakter van ons Christelike lewe mag nooit verval tot of vereng word tot lewe uit ‘n reeks gebooie nie.  Ons hele lewe moet ‘n heilige lewe wees.  ‘n Lewe in Christus deur die krag van die Gees.  Dan kan daar in ons lewe geen swart, wit of grys gebiede wees nie.  Dan is ons hele lewe onder beheer van Koning Jesus.  Ons lewens sal dan ‘n lewe wees wat getuig van die vrug van die Gees.  Geen kleurlose lewens wat alles presies dieselfde sal laat lyk nie, maar die kleurvolheid van die werk van die Gees in elkeen se lewe sal skitter in geloof, liefde, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, geduld…. 

Gehoorsaamheid word dan nie meer gesien as ‘n spanning tussen wet en evangelie nie, maar ‘n bevrydende oorgawe van my hele lewe aan die Here.  Ons sal mekaar dan ook in niks wil “vry laat” nie, maar in alles aan Christus gebind.