Bron: De Reformatie. 3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Ondertekeningsformulier vir Predikante

Wat moet jy doen wanneer daar in jou gedagtes ʼn mening posvat wat van die gereformeerde leer afwyk? ʼn Duidelike antwoord hierop word deur die Ondertekeningsformulier vir predikante gegee. Omdat dit nie maklik vir almal toeganklik is nie, gee ons die teks daarvan hier weer.

ONDERTEKENINGSFORMULIER VIR BEDIENAARS VAN DIE WOORD
(GKSA, Acta 1949:325-326)🔗

Ons, ondergetekende bedienaars van die goddelike Woord, wat ressorteer onder die klassis N.N. verklaar opreg en met 'n goeie gewete voor die Here met hierdie handtekening van ons, dat ons van harte gevoel en glo, dat al die artikels en stukke van die leer wat vervat is in die Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls of Vyf Artikels teen die Remonstrante wat vasgestel is op die sinode van Dordrecht 1618-19, in alles met Gods Woord ooreenkom.

Ons beloof daarom dat ons die voornoemde leer naarstig sal leer en getroulik verdedig sonder om iets teen dieselfde leer, hetsy openlik of in die geheim, direk of indirek, te leer of te skrywe.

So ook, dat ons nie alleen alle dwalinge wat teen hierdie leer stry en met name ook die wat in voornoemde sinode veroordeel is, verwerp nie, maar dat ons ook geneë is om hulle te weerlê, te weerspreek en alle pogings in die werk te stel om hulle uit die kerk te weer.

En as dit dan gebeur dat ons later enige bedenkings of ander gevoele teen hierdie leer kry, beloof ons om dit nie, hetsy openlik of in die geheim in die prediking of in geskrif, bekend te maak, te leer of te verdedig nie, maar dat ons dit eers aan die kerkraad, klassis of sinode sal openbaar om daar ondervra te word en dat ons bereid is om ons altyd gewillig aan die oordeel van die kerkraad, klassis of sinode te onderwerp op straf, as ons hierteen handel, dat ons metterdaad van ons dienste geskors sal word.

En as die kerkraad, klassis of sinode enige tyd om gewigtige redes ter wille van die eenheid en suiwerheid van die leer van ons 'n nadere verklaring van ons gevoele oor enige artikel van bogenoemde Belydenis, Kategismus of verklaring van die Dordtse sinode, eis, beloof ons ook hiermee dat ons altyd daarvoor gewillig en bereid sal wees op straf soos hierbo bepaal.

Ons behou egter die reg van appèl as ons miskien deur die uitspraak van die kerkraad, klassis of sinode meen om beswaard te wees. Gedurende die tyd van appèl sal ons ons onderwerp aan die uitspraak en die oordeel van die partikuliere sinode.

Hierdie formulier gee antwoorde op die hierbo gestelde vraag:

  • Niks leer of publiseer wat met die gereformeerde leer in stryd is nie;
  • bedenkings of afwykende menings nie openlik bekend maak nie, maar jou gevoelens in die kerklike weg aan die kerklike vergaderings vir ondersoek voor te lê.

Oorsake van afwykings🔗

Die pad wat die formulier aanwys, is duidelik.

Waarom word die weg nie altyd gevolg nie? Waarom verskyn daar artikels of boeke wat blyk teen die leer in te gaan?

Daar kan verskillende oorsake wees. Ek noem ʼn paar moontlikhede.

  1. Argeloosheid. Jy ontdek ʼn nuwe gesigspunt, maar dit het vir jou nie die status van ʼn ander leer nie, net ʼn ander aksent. Of jou standpunt beteken bloot kritiek op die formulering van die teks van die belydenis. Of jy besef eenvoudig nie dat jy teen die leer ingaan nie.
  2. Betrokkenheid. Of jy is beswaard oor ʼn bepaalde deel van die leer of van die afspraak tussen die kerke. Jy is diep oortuig dat dit nodig is dat daaroor in die kerke gesprek gevoer moet word, maar jy voorsien geen voordeel daarin dat dit op ʼn kerklike vergadering plaasvind nie, omdat gesprek daar so moeilik is én dit ʼn kwessie is wat al die kerke raak.
  3. Wetenskapsopvatting. Jy onderskei tussen wetenskapsbeoefening enersyds en prediking/onderrig andersyds. Na jou oordeel is die publikasie van die resultaat van wetenskaplike ondersoek iets anders as byvoorbeeld ʼn preek. Jy beskou ʼn wetenskaplike publikasie as ʼn uiteensetting wat jy ter diskussie aanbied, eerder as ʼn afgeronde standpunt, laat staan nog ʼn vasstaande nuwe leer.
  4. Eenselwigheid. Predikante is dikwels alleenlopers. Hierdie karaktertrek, gepaard met die ander faktore hierbo genoem (argeloosheid, betrokkenheid, wetenskapsopvatting) kan lei tot publikasies waarvan jy as predikant nie altyd die gevolge voorsien nie.

Hoe behoort dit gedoen te word?🔗

Die bovermelde faktore moet ons daartoe beweeg om welwillend te wees in ons aanvanklike oordeel oor predikante wat afwykende menings publiseer. Broeders gee mekaar immers die voordeel van die twyfel. Hieroor kan meer gesê word, maar ek wil hier benadruk dat welwillendheid iets anders is as goedkeuring of toestemming. Die faktore hierbo kan publikasies met afwykende menings miskien verklaar, maar hulle kan dit nie regverdig nie.

Die ondertekeningsformulier probeer juis die risiko’s wat hierdie faktore inhou, ondervang. Die ontwikkeling van ʼn afwykende mening word nêrens by voorbaat in ʼn negatiewe lig gestel nie. Jy het jou ewewel deur jou eie belofte vooraf laat waarsku teen argeloosheid: “En as dit dan gebeur dat ons later enige bedenkings of ander gevoele teen hierdie leer kry, beloof ons om dit nie, hetsy openlik of in die geheim in die prediking of in geskrif, bekend te maak, te leer of te verdedig nie...”.

Bedenking of ander gevoele? Wees eerlik. Jy het beloof om dit nie sommer uit te basuin nie.

Hoe dan? Maar alles terugsluk en inhou? Ook al is die onderwerp vir jou hoe belangrik? Nee. Jy het al die ruimte om dit aan die orde te stel, maar dan op die aangewese plek: op die kerklike vergaderings. Jy het beloof dat jy jou idees daar aan ondersoek sal onderwerp.

Streng wetenskaplike doeleindes?🔗

En as dit oor ʼn suiwer wetenskaplike publikasie gaan? Mag mens nie daarvoor ʼn uitsondering maak nie? Is dáár nie ʼn bietjie meer ruimte om die resultate van jou werk aan toetsing bloot te stel nie? Wat beteken die vryheid van wetenskapsbeoefening dan?

Om jou werk vir toetsing aan te bied, mag altyd. Maar dan by die regte adres. Nie net by ʼn forum van wetenskaplikes nie. Vir wetenskaplikes wat iets afwykends ontdek het geld in die kerk dieselfde adres as vir alle ander ampsdraers. Die ondertekeningsformulier skryf vir teologiese professore, wetenskaplikes by uitstek, presies dieselfde proses voor as vir al die ander ampsdraers. Wetenskapsbeoefening verleen nie ʼn aparte status van onaantasbaarheid nie. Dit sou ʼn onwerkbare onderskeid wees wat die kerk kan oopstel vir nare verbrokkeling en vir die skepping van ʼn ‘intellektuele elite’. Ons sien in kerke rondom ons hoeveel vernietiging aangerig word deur die arrogansie van, ongetwyfeld wetenskaplik begaafde, professore en doktore wat hulle allerlei vryhede ten opsigte van die skriftuurlike leer veroorloof.

Elke ampsdraer in ons kerke kan na hartelus ondersoek doen en nuwe idees ontwikkel, maar ons het saam met hulle almal, om goeie redes, beloof om nie daarin eenselwig te werk te gaan nie, maar bedenkinge of afwykende menings altyd aan ondersoek deur kerklike vergaderings te onderwerp.

Persoonlike vroomheid🔗

Wat elke predikant allereers tot nakoming moet motiveer, is persoonlike vroomheid, saam met onteenseglike nederigheid en beskeidenheid. Moet nie aanstellerig wees as nuwe leraar nie. Één is ons Meester, óns is almal broeders. Waaksaamheid oor die waarheid is aan al die heiliges sáám toevertrou.

Leer uit die woorde van Paulus:

Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!.

Paulus is bereid om ook homself te wantrou, en selfs te vervloek, as hy met ʼn afwykende evangelie sou kom.

In dieselfde trant skryf hy aan Timoteus:

As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie,  dié is verwaand... 

1 Timoteus 6:3

Paulus noem dus nog ʼn ander motief: verwaandheid, hoogmoed.

Alle rede dus vir selfondersoek deur elke voorganger wat ʼn nuwe gesigspunt ontdek en graag wil uitdra. Skik ek my nog na die gesonde leer? Of is dit hoogmoed wat my daartoe dryf om my nuwe insigte in boek of blad wêreldkundig te maak? Is dit nie dalk myself wat ek wil bekendstel nie?

Met die vraag of daar wel ruimte, ʼn klimaat van openheid is vir kerklike bespreking van afwykende menings, sal ek by ʼn latere geleentheid handel.