Bron: Kerk en Woord, 1994. 2 bladsye.

Ons bid vir die Nodige vir Ons Vader se Diens

Gee ons vandag ons daaglikse brood

Matthéüs 6:11

brood

Die vierde bede van die Ons Vader gaan oor ons materiële behoeftes. Ons bid vir brood, vir kos en klere, vir ons woonplek. Dit raak ook die hele vraagstuk van rykdom en armoede. En dan is ons mos voluit besig met die dinge wat vandag die groot twispunt in die politiek uitmaak, dinge soos ’n herverdeling van rykdom, die kwessie van nasionalisering van die land se rykdomme, soos swaarder belastings vir die rykes sodat die armes ook kan eet. Dit gaan oor werk en werkloosheid, oor ons inkomste, oor ons beleggings en ons bates, of ook oor die nood daarvan dat ons dalk gesekwestreer moet word.

Die Kommunisme en Marxisme en Sosialisme sê: Alles wat in die verlede verkeerd geloop het, moet reggestel word. Elke arbeider het reg op die vrugte van sy arbeid. Dis een van die basiese “men­seregte”. Die armes en verdruktes het nie gedeel in die rykdomme van hierdie land nie. Hulle moes bevry word. Die politieke en gemeenskapstrukture moes omver gegooi word sodat almal ’n reg­verdige deel van die koek kan geniet.

Die wat hulle daaglikse brood met afhanklikheid en dankbaarheid by die enigste God van hemel en aarde soek, is ’n verdwynende minderheid. Dog hier kom die geweldige verskil na vore tussen die ware Christene en die Marxiste en Kommuniste.

Seker, die Christen ontken nie dat mense uitgebuit is en dat sekeres hulle ten koste van ander verryk het nie. Maar hy trap nie in die strik van materialisme nie. Hy bely: Vader, met ons sondes en onge­hoorsaamheid het ons alles verbeur. Ons het hoegenaamd geen regte waarop ons aanspraak mag maak nie. Vanweë ons voorvader Adam se ontrou, moes U ons die boom van die lewe ontsê. Maar ons loof en prys U, Vader, want U het ons die Tweede Adam gegee. U eie Seun het vir ons die lewe kom terugwin.

Sy kruisdood is die enigste rede dat ons lewe en oorvloed kan hê.

Daarom is die brood wat ons eet, nie ’n basiese mensereg omdat ons arbeid daaragter sit nie. Nee, dit is genadebrood en ons arbeid is ’n genadegawe, van die talle gawes van U genadeverbond. So versorg U ons dat ons as verbondskinders vir U kan leef. Ons is so diep afhanklik van U, o, genadige God!

“Gee” … is nie die brute eis van die vryheidsvegter uit die loop van sy geweer nie, ook nie die eis van die vakbond wat dit met ’n staking vir hoër lone afdwing of beding nie, maar die leë hande van die afhanklike kind. Dit is die belydenis: Vader, in u genade het U vir ons weer ’n pad gebaan na u skatkamers, na U eie Vaderhart. En soos ’n kindjie aan tafel sy bordjie vol kinderlike vertroue na sy pa of ma uithou, so kom ons dankbaar dat ons aan God behoort en vra: Ons Vader, gee …

kind eet

Natuurlik, die Here span ons werk en ons liggaamskragte in die hele proses van die voorsiening in ons behoeftes in. Dit is as’t ware die ompad waarlangs Hy gee. Maar Hy kan dit ook anders gee. In die woestyn het God dit feitlik op ’n onmiddellike wyse aan sy ou verbondsvolk gegee: Water uit die rots en manna en kwartels om die laer. En hulle skoene het nie afgedra geraak nie. Kyk, daarmee wou God sy volk nederig maak.

Hulle moes alleen tot Hom opsien, van Hom alles wat goed is verwag, of hulle daagliks op Hom sou vertrou en nie op die manna self nie. Hulle moes bewys dat hulle glo: Môre sal Jahwe weer voorsien. Daarom hoef mens nie vandag vir twee dae op te tel nie. Wie nie vir sy daaglikse manna op God vertrou het nie, maar ’n groter kwota as ’n dag s’n vergader het, moes ’n duur les leer: dit was gou vol wurms.

Wat ons vir liggaam en siel nodig het, is nie ’n saak van ons eie inspanning nie. Veral moet ons ook leer sien dat ons lewe en ons toekoms nie afhang van alles wat ons wegsit of opgaar of belê nie. “Daagliks” beteken: Gee ons die brood vir die aanstaande dag. Onthou, die Joodse dag het ses uur die aand begin en die volgende aand ses uur geëindig. Dus net genoeg brood vir die komende dag, vir die volgende etmaal van 24 uur. Want môreaand ses uur sal die Here weer daar wees. Daarom het ons genoeg aan één dag se rantsoen. Niks meer nie. Niks minder nie.

Ons vra ons Vader in sy troue sorg net vir ons daaglikse brood.

Hier moet ons goed luister na ons Here Jesus. Ons is die bedorwe produkte van ’n welvaartsbedeling. Ons het gewoond geraak aan die duurste en die beste. Ons het onsself en ons kinders talle luukshede veroorloof. Vir maande vooruit was ons kaste gevul met voorrade. Vir jare vooruit het ons ons beleggings gemaak en ons assuransies uitgeneem. Maar het ons kinders nie intussen gewoond geraak om rojaal, selfs in gevalle ook verkwistend te lewe nie? Sou sommige van ons jongmense dit nie dalk as ’n reg begin beskou om nog vóór hulle opleiding ’n oorsese reis te moet maak nie?

Hierdie bede staan ook in verband met die eerste drie bedes. Wie sy brood van God verwag, verwag dit om die Naam van sy Vader te heilig en voor die heerskappy van Sy Vader te buig en die wil van sy Vader te doen.

Daarom kan en moet daar ook juis by die kinders van God deur hulle geloof ’n dure pligsbesef wees. Geen luiheid, geen lyf-wegstekery nie, maar ons werk wat goed is, sodat ons ook iets vir die armes kan uitdeel. Wie hom skik onder Vader se sorg, span hom met al sy kragte ook in vir Vader se saak. Nie eiebelang nie, maar Vader s’n en die broeders s’n tel dan.

tiener

Dan onderhou ons graag die Woordbediening en die teologiese skole, maar ook die gereformeerde skole.

Kinders, dan is ons nie net vyfuur soggens op om koerante af te lewer omdat ons ’n bromfiets vir onsself wil koop nie. Nee, dan is ons ook soms vyfuur al aan die gang om voor te berei vir die Bybelstudievereniging.

Die vierde bede is die bede van kinders van hul hemelse Vader. Maar dis ook die bede van knegte van die Allerhoogste wat hulle liggame stel tot ’n lewende, heilige, en Godwelgevallige offer.