Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Ons Dood, Ons Opstanding en die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde

God beoordeel ons werke wat ons hier op aarde slegs uit genade doen, en neem dit in die gerig wanneer ons voor die troon van God verskyn. Die doel van hierdie artikel is om vanuit die Ou en Nuwe Testament ’n oorsig te gee van die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde. Dit handel ook oor God se dade met ons wanneer ons doodgaan, opstaan en deel word van die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Ou Testament🔗

In die Ou Testament word baie keer bely dat Jahweh die oormag het oor dood en graf. Tog is die dood angs­wekkend. Die dood van die gelowiges is erg. Tot op die laaste sal Satan ons nog probeer wegkry van ons geloof. Ons moet egter onthou: die ononderbroke gemeenskap van die gelowiges met ons God en Vader duur voort, tot selfs in die aangesig van die dood (Ps 16, 17, 49, 73). Wie sal ons skei van die liefde van Christus? - staan in die Nuwe Testament (Rom 8:35).

Die opstanding van die dode kom verskeie male in die Ou Testament voor (Hos 6:1-3; Eség 37:1-14; Jes 53:12). Daar is twee boeke in die Bybel waar dit ekspli­siet voorkom: Jesaja en Daniël. Jesaja 26:14 Die wat in die dood bly: “Dooie mense herlewe nie; skimme staan nie op nie; daarom het U hulle besoek en verdelg en alle gedagtenis aan hulle laat vergaan.” Vir die lewendes in vers 19: “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is ’n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk.”

Nêrens in die Ou Testament word die tweërlei opstanding, tot die ewige lewe en tot die ewige verderf, so duidelik onder woorde gebring soos in hierdie twee tekste nie. Daniël sê aan die einde van sy boek: “... en baie sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot die groot smaadheid ...” (Dan 12:2).

Wat die nuwe hemel en die nuwe aarde betref, daar­oor profeteer Jesaja baie duidelik. Jesaja 65:17 – “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word ...”

En verder, Jesaja 66:22 – “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees.” Die volk Israel het dus, soos ons, die belofte van die nuwe hemel en die nuwe aarde gehad. Wat ’n ontsaglike troos deur al die eeue!

Nuwe Testament🔗

ln die Nuwe Testament is die troos nog groter. Daar is vele skrywers, soos Paulus, Johannes en Petrus, wat na die nuwe hemel en die nuwe aarde verwys:

  • 2 Petrus 3:14 - “Maar ons verwag volgens sy (= God) belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”
  • Openbaring 21:1 - “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan ...”
  • Openbaring 21:5 – “Kyk, Ek maak alles nuut. Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”

Hier is dit duidelik dat God nie maar ’n beperkte her­stel (bv. die mense se ewige sieleheil) by die eindoordeel sal bewerkstellig nie. Nee, ’n totale herskepping van die heelal sal plaasvind. Dit wat Hy voor die sondeval BAIE GOED geskep het, sal weer daar wees.

Wat beteken die “nuwe” hier in ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde? ln Grieks word daar twee woorde vir ons vertaling van “nuut” gebruik: neos en kaine. Neos dui op die skepping van nuwe dinge wat voorheen nie be­staan het nie. Kaine beskryf ’n ou ding wat weer nuut gemaak word. Op al die plekke waar van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gepraat word, word die begrip kainos (van kaine) gebruik.

Dit kan dus duidelik wees. God maak nie by die eindoordeel sy eie skepping tot niet en skep ’n nuwe hemel en 'n nuwe aarde nie. Nee, God sê self in Open­baring 21:5 – “Ek maak alles weer nuut” (kainos). God het in die begin alles goed geskep (Gen 1:31). Wanneer die groot Messiaanse heilstyd aanbreek, dan laat God egter ’n groot katastrofe kom. Jesus sê self (Matt 22:29) – “... die son sal verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.” Ook in 2 Petrus 3:10 stel Petrus: “... die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”

God maak egter nie sy skepping tot niet nie - wel sal dit gelouter word van al die sondes wat die mens veroorsaak het.

As ons doodgaan en daarna?🔗

Baie mense dink dat, as ’n kind van die Here sterf, sy/haar siel dan deel word van die triomferende kerk in die hemel. Dus: dat hy/sy oorge­gaan het van die strydende kerk op aarde na die triomferende kerk in die hemel.

Dit is egter nie so eenvoudig nie, want die kerk in die hemel het nog nie by die finale triomf gekom nie. Dit kan eers kom wanneer Satan totaal verslaan is en die nuwe hemel en nuwe aarde daar is, en God in ewigheid by sy kinders woon. Dié tyd sal eers aanbreek as alle kinders van God daaraan deel kan hê, dié wat nog lewe en dié wat in die Here gesterf het.

Die kerk in die hemel moet dus wag vir die kerk op aarde wanneer Christus terugkom. Dan sal die nuwe bedeling aanbreek, die tydperk ná die Nuwe Testament. Dan sal alles tot ontplooiing kom.

Wat doen die kinders van die He­re dan in die hemel nadat hulle ge­sterf het? Hulle rus van hulle stryd, sonde en moeites wat hulle hier op aarde gehad het, en wag op die groot dag wanneer Christus terugkom na die aarde en sy volle Koningskap sal aanvaar.

Die siele van die gelowiges rus of slaap nie. Hulle is op en wakker, soos Calvyn sê. Soos wat God die lewende gees in die mense geblaas het toe Hy hulle geskep het, neem Hy die siel weer terug na Hom. Hy is aktief en aanskou God in al sy mag en majesteit.

Die Anabaptiste het in Calvyn se dae gesê die siel slaap tot die weder­koms. Calvyn het egter in sy eerste boekie wat hy geskryf het, Psycho­pannychia, gesê dat dit nie waar is nie. Die siel rus van die sonde, want in die hemel is daar geen sonde nie.

Die siel is egter op en wakker in die hemel. Ons wat nog lewe, moet nog die doodsverskrikking deurgaan wat gelowiges in die hemel dus al deurge­maak het. Hulle is by Christus en gee saam met die gelowiges van alle eeue die groot eer wat God toekom (Openb 4:11). Hulle pleit ook voortdurend by God dat die finale dag waarop die kerk van die stryd verlos sal word, gou sal aanbreek en alles nuut gemaak sal word.

Kom ons probeer ’n oorsig kry🔗

Ons as Christene kan nie altyd alles so verwerk nie. Wat gebeur wanneer? Kom ons probeer ’n oorsig kry van dit wat die Here gedoen het en vir ons in die vooruitsig stel.

Die Ou Testament en al sy beloftes, en die Nuwe Testament met die beskrywing soos wat dit werklik is, het God aan ons gegee. Dit is wat God aan ons geopenbaar het.

  • Christus is gekruisig en het opgestaan uit die dode, en het Satan oorwin (Apostoliese Geloofsbelydenis).
  • Christus het na die hemel opgevaar en sit aan die regterhand van God om te pleit vir sy kerk op aarde (Heidelbergse Kategismus).
  • Die gelowiges gaan deur die dood na die hemel waar hulle siele rus van hulle sondes, moeites en stryd. Hulle eer saam met die kerk in die hemel God in al sy heerlikheid (Openb 19:6).
  • Die Here kom terug van die hemel na die aarde; dié wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan (1 Tess 4:16).
  • Die gelowiges hier op aarde gaan die Here tegemoet in die lug as Hy van die hemel afdaal (1 Tess 4:17; 2 Tess 2:1).
  • Satan word vasgemaak. Voorheen het hy hier op die aarde soos ’n brullende leeu tekere gegaan (1 Pet 5:8).
  • Christus oefen egter sy heerskappy as Koning uit.
  • Die Dag van die Here: Satan, die dood en al die dooies wat nie in Christus geglo het nie, word in die gerig gebring (Openb 16:14).
  • Die herskepping van hemel en aarde, en die Nuwe Jerusalem wat na die aarde neerdaal waar God onder sy volk sal woon (Openb 21:1-2).
  • Die gelowiges regeer met Christus tot in alle ewigheid (2 Tim 2:12).

Soms word die opmerking gemaak dat daar so min oor die hemel en die nuwe hemel en aarde in die Bybel gepraat word. Ja, dit is so. Die Woord van die Here is egter wys. As alles beskryf sou moes wees, sou ons dit nie kon verstaan het nie. Die glans, die heerlikheid, orde en inhoud is so dat dit buite die grense van ons bevattingsvermoë sou wees. Tog is die Woord van die Here duidelik. Kyk net na die tien punte hierbo genoem. DK