Bron: Kompas, 2005. 4 bladsye.

Ons kan Geen Verlof neem van Ons Amp nie!

Dit is vir die ampsdraers op ʼn spesiale manier hulle roeping om God se beeld te vertoon. Om as herders te wys hoe die HERE die Herder van sy volk is. Dit is ook die agtergrond as die Heilige Gees deur Petrus laat skryf:

Hou as herders toesig op die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde.

As ons dan na Esegiël 16:60-63 kyk beteken dit dat daar by ons liefde vir die gemeente behoort te wees. Diepe liefde ook as ons sien hoe ʼn deel van die gemeente besig is om af te dwaal, as ons by ʼn deel van die gemeente so min ywer in die diens aan die HERE sien. As ons sien dat ʼn deel van die gemeente so baie tyd aan allerhande dinge van wêreld bestee en so min tyd aan die persoonlike omgang met die HERE en die saam wil groei in die lewe volgens God se Woord. Juis dan is dit so belangrik dat ons as ampsdraers wys dat ons tyd God se tyd is en dat ons daarom ons tyd juis daaraan gee om ook hierdie deel van die gemeente op te soek en weer op God se belofte aan te spreek. Ook as hulle vermaan moet word omdat hulle God se verbond met hulle lewe verbreek het. Dit is dan nie die werk van een ampsdraer, die leraar nie, maar die verantwoordelikheid van elke ampsdraer vir die deel van die gemeente wat aan hom toegewys is. Want wat doen die HERE nadat Hy sy volk daarop gewys het dat hulle deur hulle dade, deur hulle lewe sy verbond verbreek het?

Dit: Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug, en Ek sal met jou ʼn ewige verbond oprig. Dan sal jy aan jou weë dink en skaam wees … en Ek sal my verbond met jou oprig, en jy sal weet dat Ek die HERE is; sodat jy kan nadink en beskaamd staan en jou mond nie meer oopmaak vanweë jou skande nie, as Ek vir jou versoening sal bewerk oor alles wat jy gedoen het, spreek die Here HERE.

Wat wys dit nou vir ons as ampsdraers oor die manier waarop ons hulle aanspreek oor wie ons sorge, dalk groot sorge het. Ons mag hulle nie los nie, maar moet hulle juis met God se belofte aanspreek. Hulle juis daarop wys hoe groot God se liefde is dat Hy deur jou as ampsdraer nog na hom toekom en hom oproep om deur lewende geloof in die versoening deur Christus te deel. Die ampsdraer bring dan weer die belofte, al gaan dit met ernstige vermaan saam, na die ander toe. Die manier waarop ons vermaan moet dan ook altyd deur ʼn duidelike liefde wat die ander nooi, wat oor die ander waarlik bekommer is, gedra word. Die liefde van God moet so na die ander gebring word dat hy daardeur beskaamd raak as hy sy sonde, sy louheid en onverskilligheid en slordigheid raaksien. As ons vermaan, bring ons nog altyd God se belofte waarvan Christus die inhoud is na die ander toe. Somtyds kan dit voel asof mense so deur die wêreld in beslag geneem word dat jy hulle so moeilik bereik. ʼn Lewe kan so op die wêreld gerig wees al kom mense trou kerk toe. Hoe moet ons dit hanteer?

Wat Stel ons Teenoor die Toenemende Verwêreldliking?🔗

Dit wat in die wêreld gebeur beheers dikwels die lewens van broers en susters. Hulle ken die name van hul sporthelde, van mense in die vermaaklikheidsbedryf beter as wat hulle kennis van die Bybel het. Jy kan beter met hulle daaroor ʼn gesprek voer as dat jy met hulle oor hulle lewe met Christus praat. Ons moet mooi daarop let dat ook by mense wat trou in die kerk kom die proses van verwêreldliking dikwels diep in hul lewe ingegryp het. Waartoe lei daardie proses? Dit vervreem broers en susters, verbondskinders stadig maar seker van die diens aan die Here. Dit ondermyn dat hulle en ons werklik radikaal vir Christus leef in die wete dat ons sy eiendom is.

Wat is een van die belangrike sake in hierdie verband waarop ons as ampsdraers onsself en ook die gemeente steeds weer op moet wys en in moet voorgaan? Dit is ʼn lewe in godsaligheid, ʼn godvrugtige of vroom lewe. Ek noem nou verskillende woorde omdat ʼn sekere woord in die Grieks: eusebeia in ons vertaling met hierdie verskillende woorde weergegee is. Die woord eusebeia staan teenoor asebeia. Asebeia beteken goddeloosheid terwyl eusebeia wys op ʼn lewe in diepe eerbied en liefde vir God.

Hoe die lewe sonder God en die lewe in liefde vir God en sy wil teenoor mekaar staan sien ons raak as ons let op die doel waarmee Christus die wêreld ingekom het. Ons lees dit in Titus 2:11-13:

Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer om die goddeloosheid (asebeia) en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom (eusebeia) in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus.

Hoe belangrik is dit in ons teenswoordige wêreld waar mense so baie buite Christus aangebied word, waar hulle allerhande vermaak aangebied word om raak te sien dat die waarheid van die evangelie en die lewe vir en met die Here ʼn eenheid is. Ons kan hulle nie van mekaar losmaak nie. Dit is nie so dat ek kan sê dat die Bybel die waarheid is en dat ek daarom trou kerk toe kom maar eintlik is my aandag en my belangstelling in hoofsaak op die wêreld gerig nie. Die eenheid van die waarheid en die lewe in eerbied, in die vrees van die HERE sien ons op ʼn pragtige manier in 1 Timoteus 3:15,16:

Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ʼn pilaar en grondslag van die waarheid. En onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.

Ons lees in hierdie gedeelte van die waarheid. Die waarheid is die waarheid van die evangelie. Die evangelie wat die vaste inhoud van God se Woord het, moet die gemeente juis bewaar en verkondig. Die waarheid is nie een of ander leer wat buite jou lewe van elke dag en elke minuut staan nie. Wat is naamlik die inhoud van die waarheid? Die verborgenheid van die godsaligheid! Dit gaan hier dan nie om ʼn saak nie maar om ʼn Persoon wat leef. Wie is die geheim van die godsaligheid, van ʼn lewe in diepe eerbied vir die HERE? Dit is Christus! Hy is God wat mens geword het. Christen wees, lewe in antwoord op God se belofte is leef in liefde met Christus en sy volgeling wil wees. As jy sien hoe God in liefde in Christus na jou toe kom, roep dit om ʼn lewe vir Hom, in liefdevolle eerbied vir Hom. Dit lees ons ook in Petrus se tweede brief:

Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug (eusebeia) dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is … maar die dag van die Here sal kom soos ʼn dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle wees in heilige wandel en godsvrug (eusebeiea) nie? 2 Petrus 1:3,4; 3:10,11

So ’n lewe in godsvrug, in diepe eerbied vir die HERE vra om ware geloof. Dit kom nie sommerso daar nie. Dit bly ook nie sommerso in ʼn mens se lewe nie. Dit vra om oefening, dit vra oefening om waarlik in liefde vir God te leef en te bly leef. Ek noem twee gedeeltes waar die Gees baie duidelik daarop wys:

Maar verwerp onheilige en oudwyfs fabels, en oefen jou in die godsaligheid. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.1 Timoteus 4:7,8

En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.2 Petus 1:5-7

Die oefen van die godsvrug beteken dat ons regtig vaste tye elke dag neem om te bid, om Bybel te lees. Om ook oor dit wat ons gelees het na te dink en dit so te wil toe-eien dat ons ons deur God se woorde laat lei. Dat ons ons lewe regtig al hoe meer op die HERE rig en so leer sien hoe goed ʼn lewe volgens sy wil is. So baie beter as ʼn lewe volgens die skema van die wêreld. Dan behoort by die oefening in die godsaligheid ook die troue bywoon van die eredienste en die saam bid en oordink van God se Woord. Dan leer ons ook om te onderskei, om te sien wat die ware leer is en ons leer dan ook onderskei waarop dit aankom in die lewe. Dan word geld en die mooier lyk as die ander, vir ons baie minder belangrik.

Hoe nodig is dit om as ampsdraers aan so ’n godsalige lewe in die gemeente leiding te gee. Dit sal altyd nodig bly! Ons moet nie dink dat ons dit sover kan kry dat die gemeente op so ’n vlak van heiligheid gaan leef dat ons nie meer met ernstige afval, oppervlakkigheid en wêreldgesindheid in die gemeente te doen sal kry nie. Juis in die laaste dae kry ons daarmee te doen. Ons lees dit duidelik in 1 Timoteus 3:1 e.v. Ons moet bedink dat dit daar om mense in die gemeente gaan en dat die laaste dae in die Bybel nie ʼn tyd is wat nog ver weg is nie.

Van hierdie mense word naamlik in vers 5 gesê: “mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou van hierdie mense af”. Paulus vergelyk hierdie mense ook met hulle wat toe in die gemeente op ʼn sondige lewe uit is en in die gemeente ʼn verkeerde leer leer. As dit in die Bybel om die laaste dae gaan, gaan dit om die tyd vanaf die Here Jesus se hemelvaart tot aan sy wederkoms. Petrus maak op die Pinksterdag baie duidelik dat die periode van die laaste dae aangebreek het:

Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien en julle ou mense sal drome droom.Handelinge 2:16,17

In die tyd waarin ons leef, kry ons as ampsdraers te doen met mense wat ʼn gedaante, ʼn skyn van godsaligheid het. Hulle het die krag van die lewe vanuit Christus verloën. Wat beteken dit? Ons kry in die gemeente in ons tyd ook te doen met mense wat vroom praat, wat ook in die kerk aktief is maar wat nie gehoorsaam in liefde aan Christus leef nie. Wat hulle nie in alles in leer of lewe aan Christus en sy Woord wil onderwerp nie. Die krag van die godsaligheid is juis dat jy in alles aan Christus gehoorsaam wil wees. Dat jy nie godsdienstig wil wees en dit dan net wil gebruik om jou eie verlangens te volg en te versier nie. Ons moet besef dat dit die Gees self is wat vir ons sê dat ons geen ampsdraers sal wees in ʼn gemeente wat so heilig is dat ons nie met dwaalleer en met sondige lewens en met louheid te doen kry nie. Ons kan as ampsdraer geen verlof neem nie. Ons mag nie so dink dat ons die gemeente so kan opbou dat ons eintlik nie meer nodig het om te vermaan nie. Baie duidelik lees ons dit ook in 2 Petrus 2:1-3:

Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ʼn vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.

Ons mag en moet steeds weer God se belofte, Christus voorhou en aanbied. Dit is ons werk, so moet ons herders wees. Dan kry die kudde goeie leiding, dan skei ook hulle van ons af wat nie van ons is nie. As ons so werk word ons gedra deur hierdie belofte vir die ampsdraers:

En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.1 Petrus 5:4

Laat ons ampsdraers wees wat elkeen persoonlik en saam vol liefde en sorg vir die skape is en steeds weer met die evangelie van Christus lei. Dan doen ons die werk wat die Here ons opdra en lê God se seën daaroor.