3 bladsye.

Ontmoeting volgens die Model van die Hemel 1 Kronieke 28:1- 21 (vers 19)

kerkdiens

Is die liturgie ʼn belangrike saak? Baie mense dink dit is totaal onbelangrik. By Gereformeerdes staan tog die Woord sentraal en daarmee is die gesprek oor die liturgie klaar. Die Woord wat sentraal staan, beteken vir baie dat die preek sentraal staan. Die erediens is eintlik ʼn preek met ʼn paar versierings daar rondom. En dan is dit veral belangrik dat daardie versierings nie te veel aandag moet kry nie, vanweë die dreigende gevaar dat die mens sentraal te staan kom in die erediens. 

Hoe funksioneer die erediens in u lewe? Anders gesê: waarvoor kom u na die erediens? Kan dit wees dat u na die kerk kom asof dit ʼn “genadewinkel” is? U kom luister na die preek sodat u iets kan kry om weer die week mee te kan ingaan? Die spanning rondom die preek loop dan nogal hoog. Die preek moet dan aan besondere standaarde voldoen, anders word volgens só ʼn benadering die erediens betekenisloos as die preek self teleurgestel het. 

Dit is inderdaad só dat die Woord van die Here sentraal staan in die erediens. Eintlik moet ons dit baie beter stel. Dit gaan oor die Here wat sentraal staan, wat sy gemeente wil ontmoet deur die genadewoord van die evangelie. Die Woord funksioneer dan in veel meer as net die preek.  Die Woord word gehoor in die Skriflesing en preek. Maar ook in ons sang. In ons gebede. Die vraag is eintlik of ons wel in elke deel van ons erediens genoeg invulling daaraan gee vanuit die Woord van die Here. Daar ook geen dilemma tussen die Here wat sentraal staan in die erediens en sy gemeente wat Hy wil ontmoet nie. Vir die Here gaan dit in die erediens om die mens wat Hy wil ontmoet. In ʼn gereformeerde erediens gaan dit immers nie oor die preek nie, maar oor die ontmoeting wat daar plaasvind. Ons moet versigtig wees vir valse dilemmas.

Die Here se teenwoordigheid en krag wat deur die verbondsark in die tempel gesimboliseer is, moes deur sang aangekondig, verklaar en verkondig word! Deur die profetiese sang en musiek, het daar ʼn roep uitgegaan dat die Here sal troon op die lofsange – dat Hy sy koninklike reddingsmag sal tentoonstel. Die Leviete se sang was meer as net ʼn gebed daarvoor. Dit was ook ʼn aankondiging dat die volk moet rekening hou met die teenwoordigheid van die Here. Dáár waar sy lof in profetiese sang uitgesing word, troon die Here in sy genade-krag. Daar waar sy lof besing word, daar IS Hy. Daar waar sy Naam gedenk word, daar sal Hy wees en daar sal Hy sy seën gee.  Die trompette wat geblaas word deur die Leviete, kondig die koms en teenwoordigheid van die hemelse Koning aan. Die Woord van die Here kom aan die orde deur veel meer as net die preek. Oók deur die sang. Oók deur musiekinstrumente.

Daar is ook nog ander redes waarom mense dink dat die invulling van die erediens onbelangrik is. Die argument is dat die Here ons tog daarin volledig vry laat om self eie invulling daaraan te gee. Tevergeefs sal die Nuwe Testament deurgeblaai word op soek na gedetailleerde voorskrifte oor die erediens. Beteken dit dat die invulling van die erediens ʼn willekeurige saak is? Is dit ʼn geval van smaak? Of van kultuur en gewoontes? So is daar mense wat hulle net aangespreek voel deur wat hulle gewoond en mee bekend is. Geen behoefte aan meer of iets anders nie. Ander voel weer die liturgie moet gedurig aangepas word. Smaak, gevoel en kultuur is deel van ʼn altyd-veranderende proses. Die erediens word dan eintlik ʼn willekeurige saak. Heel subjektief. Elkeen doen wat hy goed vind in sy eie oë.

Die Woord van die Here leer ons om heel anders daaroor te dink. Die ontmoeting van die Here en sy gemeente is nie iets wat op ʼn toevallige manier invulling kry nie. Net soos die res van ons lewens in die diens aan die Here. Die manier waarop ons invulling daaraan gee is wel deeglik belangrik. Aanbidding in die tempel van die Here was geen willekeurige saak nie. Die Here gee aan Dawid ʼn voorbeeld van hoe die tempel moet lyk. Dawid maak veel daarvan dat die Here dit vir hom gegee het deur “ʼn beskrywing uit die hand van die Here” (1 Kronieke 28:19). Die Here laat niks aan toevallighede oor nie. Dawid kry van die Here ʼn model. 

tabernakel

Byna net soos wat met Moses gebeur het op die Sinaiberg toe die Here vir Moses ʼn model van die hemel laat sien het waarvolgens die tabernakel gebou moes word. Daar moet geen misverstand wees oor wat gebeur tydens die erediens nie. Die Here God, die groot Hemelkoning is op ʼn besondere manier teenwoordig met sy genade. Israel mag weet dat die Here by hulle woon. Hy kom met sy verbondsark om te “rus” in die tempel. Dit het betekenis vir die manier hoe daar met die Here geleef word, hoe met Hom omgegaan word. 

Die gevaar is altyd daar dat die goeie sig op wat gebeur tydens die lewe en die ontmoeting met die Here, verloor word. Alles kan so maklik oppervlakkig raak. Ons kan so maklik ons eie betekenis indra waarin die betekenis van die ontmoeting is. Ons erediens moet altyd ʼn geloofsaak wees en bly. Dit moet ʼn waaragtige lewende ontmoeting met die Here wees. Die noukeurigheid wat die Here van ons vra in die ontmoeting met Hom, wil vir ons ʼn troos en bemoediging wees. Dawid kon juis sy seun Salomo in die bou van die tempel bemoedig (vgl. 28:20). As hy dit doen volgens die Here se voorskrif, hoef hy nie bang of verskrik te wees nie, maar mag hy die waarborg hê dat die Here by en met hom sal wees. God sal “Immanuel” wees. God met jou! 

Maar daar is ook nog ekstra bemoediging. As Salomo die tempel sal bou volgens die Here se voorskrif sal hy ook kan reken op die volk se gereedheid om saam te werk. Dawid wys op die Leviete wat gereed gestaan het vir elke vorm van diens waartoe hulle opdrag het. Daar was ook allerhande kunstenaars. Vakmanne wat met die gawes wat hulle ontvang het, kan inspring met die bou van die tempel. Ook die owerstes en die hele volk was gereed om hulle te wy aan die bou van die huis van die Here. Dit gebeur wanneer nie Salomo se eiesinnigheid dikteer nie, maar die model wat die Here deur Dawid vir Salomo gegee het. Deur noukeurigheid in die invulling van ons erediens sit daar vir ons groot bemoediging. Die Here verbind sy seën daaraan. Hy beloof sy teenwoordigheid. Maar meer. Hy beloof die gewilligheid van sy volk om Hom te dien. Die Here self maak dan sy volk gewillig. Daar sit ʼn wonderlike krag in ʼn erediens wat invulling kry vanuit die wil van die Here. 

Oor die erediens is daar vandag op die “kerkmark” genoeg gedagtes te kry en te koop.  As ons maar opnuut kan besef dat die erediens nie iets is wat mense uitgedink het nie.  Dit is die Lewende Here wat ons wil ontmoet.  Hy wil by ons wees en met ons praat.  Maar Hy wil dat ons ook geniet van sy teenwoordigheid en dat ons met Hom sal praat.  Deur sang, gebed, deur gawes.  Die uitgangspunt vir ons erediens mag nooit ons eie aanvoelings of gedagtes wees nie.  Ons moet ons wil laat lei deur die Heilige Gees wat Christus vir ons vanuit die hemel gestuur het.  Dit wat in die hemel op die oomblik gaande is, is bepalend vir hoe ons ons erediens invul. 

Ons het geen priesterkoor meer wat voor die altaar staan om te begin sing wanneer die oggend- en aandoffers gebring word nie. Die hele gemeente, jonk en oud mag nou sing. In beurtsang met mekaar, vir mekaar en met en vir die engele rondom die troon van die Here. Ons het gekom, nie by ʼn tasbare berg nie, maar by die hemel wat vir ons opgemaak is. Die heerlikheid van die Here is nie teenwoordig by die ark wat tot rus gekom het in die tempel nie. Die heerlikheid van die Here is nou teenwoordig in en by Jesus Christus. Waar Hy is, is God met sy genade teenwoordig. Werkend, werwend, oorwinnend, triomferend. Ons het nou geen oggend- en aandoffers meer nie, maar ʼn  Middelaar in die allerheiligste wat onophoudelik vir ons intree by die Vader en sonder ophou daar met sy geofferde liggaam verskyn. Dít is bepalend vir hoe jy na die erediens kom. Dít is bepalend vir wat en hoe jy sing. Dít is bepalend vir die karakter van die instrumente wat pas in die erediens. 

sing in kerk

Dawid het vir Salomo ʼn voorbeeld gegee van die voorportaal van die tempel, die bybehorende geboue, die skatkamers, die binnevertrekke en die huis vir die versoendeksel (1 Kronieke 28:11-18). Hy het hom alles laat sien. Die goud. Die priesters wat die gereedskap moet gebruik by die altaar. Die kandelaar wat brand, die toonbrode, die reukaltaar, ens. Só kon die tempel iets laat sien van wat in die hemel gebeur. Die tempeldiens was ʼn klein stukkie van die diens wat pas by die hemelse erediens. Deur die hemelse erediens, wil die Here ons erediens hier op aarde laat bepaal.  Die hemelse styl is bepalend vir ons erediensstyl op aarde. Van daaruit verbind die Here vir ons groot sekerheid. Waar twee of meer in my Naam vergader, is Ek by hulle. As die sang van die priesters voor die allerheiligste ʼn waarborg was van die Here se genade-teenwoordigheid in die tempel, sal die sang van die engele en ouderlinge vanuit die hemelse allerheiligste nie nou vir ons ʼn waarborg wees van die Here se teenwoordigheid by ons waar ons sy lof besing nie?! Deur ons lofsang op die werk van Christus, mag ons God se genade-teenwoordigheid by ons aankondig!