2 bladsye.

Onwettige Gesagshieragie maak die Kerk Onwettig

skaakstukke

Deur die geskiedenis is daar telkens dankbaar erken dat die gereformeerde sinode van Dordtrecht (1618-1619) die bedoeling van die Groot Reformasie suiwer verstaan het. ’n Mens sou die Dordtse sinode met reg ’n hoogtepunt kon noem. Hier het die stryd teen die Remonstrante tot ’n klimaks gekom. Hier het die ware Bybelse leer getriomfeer oor die dwaling en leuen. Hier is die Dordtse Leerreëls gebore, wat vandag nog ’n fundamentele belydenisskrif is vir almal wat van harte aan die Skrif getrou wil bly. Maar, die Dordtse Sinode het ook weer opnuut ’n Kerkorde gaan formuleer. Kort, bondig en Skriftuurlik. Die noodsaak van Skriftuurlikheid het die deurslag gegee. Deur die eeue het gereformeerdes hierdie Dordtse Kerkorde erken en gebruik. Telkens in die geskiedenis, wanneer die Here reformasie in kerke gee, word daar weer teruggekeer na hierdie Dordtse Kerkorde. Dit is byna asof, wanneer reformerende kerke weer radikaal na die Bybel terugkeer, die Skriftuurlikheid van die Dordtse Kerkorde ook weer ontdek word en omhels word.

Ook in ons huidige konteks het die Dordtse Kerkorde steeds veel te sê. Ook vandag spreek die Dordtse Kerkorde aktueel en wil die kerk teruglei na die Skrif. Om net een voorbeeld te noem. Wanneer ’n gereformeerde kerk deformeer, word hy ’n onwettige kerk. Die kerk bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29 dat daar iets is soos ’n “ware” en “valse” kerk. ’n Mens sou goedskiks kon praat van “wettige” en “onwettige” kerk. ’n Eens “wettige” kerk kan “onwettig” word vanweë verskillende faktore. So bely ons dit op voetspoor van die Bybel. Wanneer die kentekens van ’n onwettige kerk na vore kom, is daadwerklike kerkreformasie nodig om die kerk tot sy wettige gestalte te herstel. Dit is wat in essensie met die uitdrukking “semper reformanda” bedoel word. “Voortgaande reformasie” het niks te make met oppervlakkige “vernuwing” soos dit vandag gesien word nie. Dit gaan baie dieper as dit. Dit gaan om die wesenlike HERSTEL van die kerk wat onwettig geraak het.

Een van die kentekens van ’n onwettige kerk is, volgens Artikel 29 NGB, dat hy aan homself en sy besluite meer mág toeskryf as aan die Woord en dat hy meer op mense vertrou as op Christus. Die artikel sê dat hierdie tendens “maklik uitkenbaar” is. Dit is dus maklik om dit in die praktyk raak te sien.

Hier het ons te make met wat genoem kan word ’n “gesagshiërargie” in die kerk wat Christus se regering verdring. Juis dit maak (onder andere) die kerk vals of onwettig. Die plaaslike kerk is immers die volledige kerk van Christus. Hier regeer Christus deur Sy Woord. Wanneer daar egter ’n hiërargie van gesag vorm wat oor die plaaslike kerk wil heers, kom Christus se regering in gedrang. Dan skuif die mens in die plek van Christus. So gebeur dit wanneer die Ring/Klassis en Sinodes as “hoër” vergaderings gesien word. Dan word dit ’n onbybelse hiërargie waar die plaaslike kerkraad onder aan die leer staan en die Algemene Sinode bo aan met die “moderator” heel bo aan as “kerkbaas”. Dan word sinodale besluite op plaaslike kerke afgeforseer sonder dat plaaslike kerke sulke besluite aan die Woord kon toets en kondoneer. Dan vorm daar ’n top “kerklike bestuur” (soos die “Algemene Sinodale Kommissie” in die NG Kerk se geval) wat bemagtig word (deur wie?) om besluite te kan neem en allerlei uitsprake namens die kerk te maak sonder dat plaaslike kerkrade hulle daartoe gemagtig het. So asof die kerk van Christus ’n sekulêre maatskappy is met direksie en al. Dan is die “moderator” ’n soort “kerkbaas” wat met groot gesag uitsprake kan maak, asof die plaaslike kerkrade se uitsprake nie ewe veel gewig dra nie. Dan skryf “die moderator” in die amptelike kerkblaaie in ’n aparte kolom wat net vir hom gereserveer is. Maar, en dit is die kritieke vraag, wat het dan van Christus se regering deur Sy Woord geword … in die plaaslike gemeente!?

hirargie

Dit is hierteen wat die Dordtse Kerkorde die kerk van Christus wou beskerm met byvoorbeeld artikel 35 waar bepaal word dat die voorsitter/praeses van ’n kerkvergadering se taak ophou sodra die vergadering verby is. In die oorspronklike staan daar van die voorsitter dat “zijn ampt uytgaen wanneer de t’samen-komste scheydet.” Dit is duidelik dat die Dordtse Kerkorde so kragtig daarteen wou waak dat ’n hiërargie, van watter aard ook al, in die kerk vorm dat hy die geringste wortels van alle moontlike hiërargie afsny. So gebeur dit in artikel 35. Na afloop van die verdaging van ’n Sinode mag daar geen persoon bly wat namens die Sinode kan optree of die plaaslike kerke mag verteenwoordig en voorgee dat “die kerk sê” nie. So iets soos ’n permanente “moderator” of “moderamen” of “A.S.K.” is in direkte stryd met die duidelike intensie van die Dordtse Kerkorde. Geen mens het die reg om oor die plaaslike kerke te heers of namens hulle uitsprake te maak nie. Geen predikant of groep het meer bevoegdheid as ander sodat hulle verklarings en uitsprake van meer gewig sou wees as die van ander nie. Die verklarings van ’n “moderator” dra dieselfde gewig as die van ’n plaaslike kerkraad. Die hiërargiese heerskappy deur “meerdere vergaderings” of deur ’n klein groepie of deur ’n permanente “bestuur” mag nie plaasvind nie. Dit is ’n kenteken van ’n onwettige kerk, want Christus se heerskappy word sodoende deur die mens se heerskappy verdring. Dit bely die kerk klinkklaar in NGB Art 29.

Uit dit alles word dit maar net weer duidelik hoe belangrik die korrekte kerkbegrip is. Sou ’n mens so ver kon gaan om te sê dat alle deformasie te wyte is aan ’n onbybelse kerkbegrip en dat reformasie ten diepste kerkreformasie is? Dit impliseer ’n terugkeer na die Bybelse kerkbegrip wat so helder deur die reformatore onderskei is en wat ons vandag weer broodnodig het.