Bron: Die Kerkblad, 2008. 3 bladsye.

Oor die moeilike werk van predikante vandag

studeerkamer

In sy interessante boek Van kerke en dorpe: Historiese vertellinge oor die oudste kerke en dorpe in Suid-Afrika (2005) voorsien die skrywer Jan Hoevers boeiende informasie oor kerkgeboue, gemeentes en dorpe. So vertel hy byvoorbeeld op bl. 93 dat die NG Kerk Piet Retief by geleentheid vakant geraak het en ’n predikant moes beroep. Die volgende eise is toe deur die kerkraad opgestel:

Hy moet hom nie met politiek bemoei nie.
Hy moet geen onderskeid tussen ryk en arm maak nie.
Sy deure moet oopstaan, soos nou, gasvry tot in die nag.
Daar moet ook ’n moeder in die pastorie wees.
Hy moet vasberade en onpartydig wees.
Hy moet die jeug op die hart dra.

Ons beroep mos net een wat die Evangelie verkondig.

Hierop het die voorsitter gereageer met: Broers, onthou ons beroep nie ’n engel nie! (En hy kon bygevoeg het: ook nie die engel Gabriël nie!)

Dit is seker so dat alle gemeentes na so ’n onbesproke en foutlose, engelagtige dominee verlang. Maar hulle is – helaas – nie op aarde te vind nie, soos wat daar ook nêrens ’n foutlose gemeente te vind is nie. Predikante, alle predikante, en gemeentes, alle gemeentes, is sondaars wat net van genade alleen leef – en kán leef.

Ek kan my goed voorstel dat die bediening tydens die pioniersomstandighede van ons land baie moed en deursettingsvermoë van predikante geverg het, maar ek wonder baie keer, as ek na die moderne uitdagings kyk wat dominees tans moet hanteer, of die moderne tyd nie een van die moeilikste tye ooit in die kerkgeskiedenis is nie.

Eintlik het ’n predikant net een taak: hy moet die evangelie van God se genade bedien (Hand 20:24). Sondae vanaf die kansel en in katkisasielokale, en weeksdae in die huise en op die strate en markpleine van die lewe. Dis egter nie altyd so eenvoudig nie. Hy mag hom in ’n plaaslike gemeente bevind met groot meningsverskille oor byvoorbeeld die Bybelvertaling, die vrou in die amp, die kerklied, die wyse van nagmaalsviering, of die liturgie. Sy taak is dan om die gemeente in die geloof op te bou en versoening te bring, en nie om die gemeente uitmekaar te jaag en te verstrooi nie. Hy moet nie oorhaastig kant kies, groepvorming bevorder en polarisasie verhoog nie.

dominee op preekstoel

Hy mag sterk standpunt inneem wanneer die essensie van die evangelie op die spel is, maar hy mag nooit sy dienskneggestalte verloor nie. In die gereformeerde tradisie is daar nie ruimte vir pouse nie, ook nie vir klein pousies nie. Slegs Christus is die Hoof van sy kerk, en daar moet in elke predikant se lewe en werk iets deurskyn van die dienskneggestalte van Christus. As lidmate nie meer iets van die goeie Herder, Christus, in hulle predikant as herder herken nie, kan die predikant nog so goed preek as wat hy kan, maar hy gaan uiteindelik nie meer met seën werk nie.

’n Predikant moet die gawe van onderskeiding besit om die dinge te onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:10). Hy moet nie fundamentele dinge as middelmatige sake voorstel nie, en ook nie middelmatige dinge as fundamentele sake hanteer nie.

’n Ander aspek van die predikant se bediening raak die kerkverband. In die gereformeerde tradisie lê ons ’n swaar aksent op die selfstandigheid van die plaaslike kerk; elke plaaslike kerk is ’n openbaring van die liggaam van Christus (1 Kor; Rom).

Maar plaaslike kerke (of gemeentes) is nie eilande in ’n groot oseaan en leef nie in volledige isolasie ten opsigte van buurgemeentes nie. Omdat hulle dieselfde God en Vader bely, dieselfde Jesus as Heiland en Here erken, en in die kragveld van dieselfde Gees lewe, is hulle onherroeplik aan mekaar verbonde, ondersteun hulle mekaar, dra hulle mekaar, aanvaar hulle lidmate oor en weer van mekaar, en bid hulle vir mekaar. Hulle hou ook gesamentlike kerkvergaderings in kleiner en groter verband, en besluit saam oor sake van algemene belang. Predikante word afgevaardig na klassis- en sinodevergaderings waar hulle saam met kollegas beraadslaag en besluite neem oor sake wat die welsyn van die kerkverband en die koninkryk raak.

Daar moet hier teen twee gevare gewaak word. Die een is sinodalisme, waar die sinode hom bo die gesag van Christus en sy Woord verhef; die ander is independentisme, waar elke plaaslike gemeente (en predikant) handel en besluit asof die kerkverband en sinodes eintlik irrelevant is en heeltemal geïgnoreer kan word. Die liggaam van Christus is groter as die plaaslike gemeente; die totale kerk word in die Nuwe Testament ook as liggaam van Christus uitgebeeld (Ef; Kol).

Predikante moet dus sensitief wees oor wat in (alle) ander gemeentes gebeur, hoe die liturgie daar ingerig word en wat daar besluit word. Dit is skadelik vir die kerkverband indien gemeentes te ver uitmekaar beweeg, hoewel daar sekerlik ruimte behoort te bestaan vir verantwoordelike variasie en verskeidenheid.

’n Derde saak wat die werk van predikante in die moderne tyd bemoeilik, is die komplekse vrae wat daar in die samelewing bestaan. Ons leef in ’n samelewing wat onseker is, wat geteister word deur misdaad, moord, verkragting, vigs, regstellende aksie, onbeholpe grondhervorming, verswakkende dienslewering (deur munisipaliteite, skole en hospitale) en, veral in die swart gemeenskappe, geweldige armoede en werkloosheid.

Hoe beraad ’n dominee ’n man wie se vrou wreed vermoor of verkrag is? Watter raad gee hy aan ’n bekwame en toegeruste jongmens wat vanweë regstellende aksie nie werk kan kry nie?

Wat sê hy vir iemand wat van ’n familieplaas moet versit, maar wat hom in die rompslomp van swak administrasie vasloop? Wat sê ’n swart dominee vir ’n gesin wat in uiterste armoede vasgevang is, waar daar werkloosheid heers, of waar daar geen ma of pa meer oor is nie? Watter leiding gee predikante waar vloedgolwe van geweld en misdaad die woonbuurt van hulle gemeente oorspoel?

armoede en besoedeling

Dan het ons nog nie eers na die geweldige ekologiese versteuring en omgewingsbesoedeling in ons land verwys nie. Predikante, alle predikante, hulle wat in sogenaamde wit gebiede én hulle wat in sogenaamde swart areas werk, sal baie meer oor (ja, teen!) omgewingsbesoedeling moet preek en lidmate daarvan bewus moet maak dat dit moreel verkeerd is om met rommelstrooiing voort te gaan; dat dit moreel verkeerd is indien munisipaliteite die rioolsisteme nie behoorlik onderhou nie, en daardeur spruite en riviere en water besoedel; dat dit immoreel is indien fabrieke sonder kontrolemeganismes die lug besoedel.

Uiteindelik vorm die Suid-Afrikaanse samelewing deel van die groot, globale wêreldsamelewing. As die wêreldsamelewing hoes, kry ons ’n ligte verkoue in Suid-Afrika – word dikwels gesê. Ons het dit in Oktobermaand beleef toe die Amerikaanse en Europese ekonomieë byna op hulle knieë gedwing is. Dominees moet met al hierdie dinge in hulle gebede en in hulle preke rekening hou. Hulle moet ’n wye verwysingsraamwerk aanleer. Nie om die gemeente moedeloos te maak vanweë al die oorweldigende vraagstukke nie, maar juis om lidmate te bemoedig met die evangelie van God se genade en van die koms van die koninkryk van God.

Predikante doen wonderlike werk. Maar hulle doen ook uiters moeilike werk. Juis in hierdie tyd. Lidmate moet vir hulle bid sodat, wanneer hulle preek, God hulle die woorde sal gee dat hulle die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid bekend sal maak (vgl. Ef 6:19). En hulle moet self ook baie bid – om lig, om leiding, om krag en om genade. Sonder gebed is predikantswerk nie moontlik nie.