Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Oor Feeste en Feesvierings in die Bybel

Een van die kenmerke van godsdiens is dat daar fees gevier word. ln ’n sekere sin ís godsdiens feesviering (celebration). Dit geld vir alle godsdienste van alle tye - ook godsdienste wat ver van die waarheid afdwaal. Aanbidders kom bymekaar en vier fees, By die heidene is die feesvierings soms oordadig en uitbundig, en gaan dit met losbandigheid gepaard. Maar die feit is: Daar word fees gevier.

Feesvierings kan in familieverband plaasvind, soos by lewensveranderende gebeurtenisse (huwelike, geboortes, oorgange en mylpale in die lewe). So lees in die Bybel ons van ’n fees by die geleentheid wat ’n kind gespeen is (Gen 21:8), ’n verjaardag (Mark 6:21 e.v.) en verskeie kere van ’n bruilofsfees (bv. Rigt 14:10-18; Matt 22:2 e.v.; Joh 2:1 e.v.). In die gelykenis van die verlore seun(s) lees ons hoedat daar fees gevier is toe die tweede oudste seun teruggekeer het (Luk 15:22-32). ’n Hele gemeenskap kan saam fees vier. Vir ons van belang is godsdienstige gemeenskappe wat bepaalde feeste onderhou. ln Israel was daar ’n weeklikse fees (die sabbat), maandelikse feeste (“nuwemane”) en veral die belangrikste jaarlikse feeste (pasga, fees van die weke en pinkster, loofhuttefees, groot versoendag, purimfees en fees van die tempelwyding). Daar was ook feeste wat eenmalig plaasgevind het, byvoorbeeld toe die tempel in gebruik geneem is (1 Kon 8),

Die Nuwe Testament verwys dikwels na die Ou-Testamentiese feeste. Christus en sy dissipels het ten minste sommige daarvan onderhou. Na Christus se hemelvaart het die weeklikse byeenkomste op Sondae, waarty­dens die opstanding van Jesus uit die dood herdenk is, algaande belangrik geword. Die Bybel gee inligting oor meeste van die feeste waarvan ons in die Bybel lees. Sommige feeste, soos die purimfees en fees van die tempel­wyding, het in die tyd tussen die Ou en Nuwe Testament ontwikkel, en is aan ons bekend uit die geskrifte van die Jode. Kommentare en handboeke oor die Bybel som gewoonlik hierdie inligting voldoende op. Hierdie artikel beskryf daarom nie die verskillende feeste nie, Die doel is eerder om ’n paar vrae rondom ons feesvierings in die lig van die Bybelse feeste te behandel.

Mag ons feesvier?🔗

Die eerste vraag is of ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges mág feesvier. Dit lyk of daar in die Bybel sterk kritiek teen feesvierings uitgespreek word.

ln die Ou Testament hoor ons profete waarsku: “Ek het ’n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie. JulIe nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek. Hulle is vir My ’n las, Ek is moeg daarvoor” (Jes 1:13-14). Ook: “Ek gaan ’n einde maak aan al haar feesvreugde, haar huttefeeste, haar nuwemaansfeeste en haar sabbatsfeeste, al haar feeste... Staak jou feeste, Israel! Hou op om fees te vier soos die ander nasies!” (Hos 2:10; 9:1). ln die Nuwe Testament lees ons: “(Laat niemand) vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwe­ maansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die ska­duwee van wat sou kom ...” (Kol 2:16-17).

En dan is daar die bepaling in ons kerkorde (Art. 67) wat bepaal dat die onderhouding van die Christelike feesdae aan die vryheid van die kerke oorgelaat word. Ons weet dat daar Gereformeerdes is wat besware het teen die viering van enige Christelike feesdag buiten die weeklikse rusdag (Sondag).

Moet ons nie dalk sê dat die uiter­like feeste van die Ou Testament so­danig in Christus vervul is dat ons nie meer ander feeste nodig het bui­ten die weeklikse erediens (ons weeklikse aanbiddingsfees) nie? Die teendeel is eerder waar: Ons het nog soveel te meer rede om fees te vier as die heiliges van die Ou Bedeling. Dit is net dat vaste feeste, anders as in die Ou Bedeling, nie vir ons voorgeskryf word nie. Daar is groter vryheid en vrywilligheid in die Nuwe Bedeling as in die Ou Bedeling, wat ook beteken dat ons mekaar nie moet veroordeel as sekere feeste wel of nie onderhou word nie. Die bepa­ling in ons kerkorde moet in hierdie lig gesien word: Daar is geen voorskrif tot bepaalde kerklike feeste in die Nuwe Testament nie. Die Roomse Kerk en baie ander kerke (bv. Oos­ters-Ortodokse kerke) het baie vas­gestelde feesdae in die kerklike jaar - soveel dat die aandag van die evangelie en van ons daaglikse werk afgetrek word. Ons kerkorde reageer daarteen.

As die profete en apostels waar­sku teen die onderhouding van feeste, gaan dit oor die misbruik van die feeste en nie oor die feeste as soda­nig nie. As die apostel Paulus aan die Korinthiërs oor hulle samekomste skryf, wys hy allerlei uitspattighede af, maar nie die feesviering self nie. Met ’n sinspeling op die paasfees, skryf hy dan: “Laat ons dan feesvier ...” (1 Kor 5:8).

Daar mag besondere geleenthe­de wees (in die familie en in die be­staan van die kerk) wat ons daartoe dring om met oorgawe voor die Here fees te vier. Laat ons dan feesvier! Ons durf nie anders nie!

Hoe moet ons feesvier?🔗

As feeste so maklik misbruik kan word, is die tweede vraag dan: Hoe moet ons feesvier, sodat dit die Here se seën wegdra? Daar is twee prak­tyke by feeste wat vir die Here ’n gru­wel is en waarteen ons moet waak as ons feesvier:

  • Die een is dat dit ’n dooie roetine word. Ons doen dit, omdat dit ge­woonte is. ln Israel het sekere feeste ’n hele ekonomiese bedryf geword, terwyl die eintlike bedoe­ling van die fees vergeet is (vgl. die waarskuwings van profete waarna reeds verwys is, asook Joh 2:13 e.v.).
  • Die ander gruwel is wanneer ’n fees vrye teuels gee aan menslike lus en wellus. Met ander woorde: jou feesvierings bestaan hoof­saaklik uit oormatige eet en drink en partytjie hou. Israel het by Si­nai rondom die goue kalf losban­dig verkeer (Eks 32:6). Israel se bure het tempelprostitute gehad wat feesgangers moes diens by hulle feeste (hoewel hierdie los­bandigheid op grond van sekere godsdienstige oortuigings fat­soenlik voorgestel is). Die Romei­ne het lighartige en selfs losban­dige feeste soos die saturnalia en bacchanalia-feeste onderhou. ln die Middeleeue het die gebruik van ’n jaarlikse karnaval ont­staan, wat vandag nog in baie lande onderhou word as ’n “fees van die vlees”.

Wanneer ons in ons feesvierings werklik op die Here en sy groot dade fokus, sal ons nie in ’n dooie roetine verval nie en sal die fees nie rondom ons eie genieting draai nie. Feesvreugde breek nie los van God se Woord nie, maar vind daarin die bron van vreugde. ln die ware feeste van Israel was daar nie bloot uitbundigheid nie, maar was blydskap veranker in verootmoediging, aanbidding en toewyding: klein voor God, gerig op God, en oorgegee aan God.

Dit is die grense waarbinne ons met ons Christelike vryheid moet beweeg wanneer ons besluit hoe ons ’n fees tot eer van die Here gaan innig.

Wat gee sin aan feeste?🔗

Byna alle feeste vier mylpale in ’n mens, ’n gemeenskap of ’n kerk se bestaan: Ten minste drie feeste in die Ou Testament (pasga, pinkster en die loofhuttefees) was ten nouste verbind aan die ritme van saai en oes. Een van die Hebreeuse woorde wat in die Ou Testament vir feeste gebruik word (mô'çd), laat die klem spesifiek op die vasstelling van tyd val. Persoonlike feeste handel oor geboorte, volwasse-word, rype ouderdom en mylpale in jou beroepsarbeid. Feeste herinner ons aan die onverbiddelike en selfs eentonige reëlmaat van tyd. Dit herinner ons dat die lewe verbygaan. Ge­woonlik word feeste volgens jare afgetel. Feeste onderstreep ons eie verganklikheid en die tevergeefsheid van ons verganklike bestaan. Baie keer verwys ons na die feit dat dit so gou wéér Kersfees of alweer Nuwejaar is; of dat so­-en-so verlede jaar hierdie tyd nog saam met ons was en nou nie meer daar is nie. Feeste is daarom vir baie mense ’n tyd van lag-met-’n-traan en van liewer-wil-vergeet.

As feeste so onder die ban van die tyd staan, kan ons vra: Wat gee sin aan feeste? Die natuurlike mens probeer sin gee deur vas te gryp aan mites uit die verlede en deur mooi wense oor die toekoms uit te spreek:

  • Die heidene gryp by hulle feeste terug na mooi stories oor die verlede. By baie feeste word ’n goeie ou tyd opgetower, wat nie werklik bestaan het nie.
  • Verskeie mooi wense moet ons feeste sin gee. Ons wens mekaar by groot persoonlike mylpale ’n lang en gelukkige lewe toe. Die Jode sal mekaar by paasfees toewens: “Volgende jaar in Jerusalem!”

Feesvreugde word eers betekenisvol as dit anker in God se dade in die verlede en vaste beloftes oor die toekoms:

  • As ons Christelike feesdae onderhou, gaan dit oor God se reddingsdade in Jesus Christus. Wanneer ons as kerk 150-jarige fees vier, kyk ons in dankbaarheid terug na God se sorg. Hy het gesorg het dat die poorte van die doderyk sy kerk nie oorwin nie. As ons groot mylpale in die familiekring vier, gaan dit oor die feit dat die Here ons so duidelik oor so baie jare gedra het. Israel het by hulle feeste telkens vir mekaar vertel van die Here se wonderdade uit die verlede.
  • As ons saamkom, sê ons vir mekaar oor die toekoms: “Sy troue liefde duur tot in ewigheid” (Ps 118:3-5). Ons sê vir mekaar: “Vertrou op die HERE: Hy help en beskerm jou” (vgl.      Ps 115:9-11). Sekerheid oor die verlede gee ons sekerheid oor die toekoms. Ons glo immers in Jesus Christus wat gister en vandag dieselfde is en tot in ewigheid (vgl. Heb 13:8). As ons feesvier, weet ons verseker: hierdie fees is nog niks nie. “Ons sal die reddingsdag belewe - die gloriedag van God, wat kom” (vgl. vs 7 van beryming uit Efésiërs 1). Ons feeste vertel op ’n baie flou manier van die heerlike fees van die hiernamaals, die bruilofsmaal van die Lam.

By dié feesmaal sal almal wat aan Hom behoort, sekerlik aansit.

Ons vier fees as mense wat op pad is van ’n vaste verlede na ’n gewaar­borgde toekoms.