Bron: Kerk en Woord, 2005. 3 bladsye.

Oor Ware Gereformeerde Hermeneutiek

In hierdie artikel word kontekstualise­ring van die Bybel beredeneer vanuit 'n gereformeerde hoek. Kontekstualisering het in die huidige postmoderne denk­klimaat weer onder die soeklig gekom – grootliks vanweë die besondere klem wat die paradigma plaas op die toepas­sing van die Bybelboodskap op die heden­daagse konteks.

Navorsers wat binne die raamwerk van die postmodernistiese paradigma werksaam is, word grootliks gelei deur die dekonstruksie­benadering van teks en betekenis waarvol­gens die teks op sigself betekenisloos is. Die kontekstualisering binne 'n postmodernis­tiese denkklimaat behels die skep van bete­kenis vir elke nuwe konteks. Gevolglik het 'n aantal kontekstuele teologieë of belange-teologieë die lig gesien waar die konteks van die leser bepalend is vir die betekenis wat vanuit die teks voortvloei.

Tydgerig🔗

Die gereformeerde benadering tot kon­tekstualisering aanvaar dat die Bybel, as Woord van God, nie tydgebonde is nie, maar tydgerig. Hierdie beginsel behels dat die teks wel aan eerste groep iewers gerig was, maar nie beperk is tot die konteks van daardie lesers nie; dit is ook gerig op die konteks van die lesers van alle tye.

Kontekstualisering lê dus nie daarin dat 'n nuwe betekenis uit die teks geskep moet word nie, maar wel om die skakel tussen die konteks van die eerste lesers en die konteks van die moderne lesers te vind. Die hermeneutiese proses waarbinne hier­die skakel gevind en toegepas word, staan bekend as hermeneuse.

Met tydgerig word primêr bedoel dat die Bybel in sy teboekstelling gerig was op die situasie van die eerste lesers. Terselfdertyd het God die Bybel gegee om die mense van alle tye in hulle konteks en omstan­dighede te raak.

Die eksegetiese proses waardeur die Skrifboodskap se gerigtheid op die hedendaagse konteks nagevors en beskryf word, word hermeneuse genoem. Hermeneuse is die eksegetiese proses waardeur die Skrifbood­skap geaktualiseer word.

Die uitgangspunt by hermeneuse is dat dit steeds die Woord van God moet wees wat in die konteks van die hedendaagse mens spreek. Hermeneuse is daarop gemik dat God, en God alleen, aan die woord moet wees. Hermeneuse kan daarom nie verstaan en toegepas word los van deeglike voorafgaande eksegese van die Skrif nie. Hermeneuse is immers die toepassing van die boodskap van die teks soos dit in die proses van eksegese verklaar is. Daarom is explicatio en applicatio begrippe wat sentraal in die gereformeerde eksegese en hermeneuse staan.

Skrifbeskouing🔗

Die gereformeerde benadering tot Skrif­eksegese het 'n bepaalde Skrifbeskouing ten grondslag wat kernagtig soos volg uit­eengesit kan word:

  • Die Bybel is die Woord van God en nie bloot woorde oor God nie.

  • Die Bybel is die openbaring van God aan die mens en nie menslike denke oor die openbaring van God nie.

  • Die Bybel is ten volle Woord van God en nie slegs 'n boek waarin die Woord van God op plekke voorkom nie.

  • Die Bybel is Woord van God, omdat dit God se Woord is – nie in soverre dit Woord van God is nie.

  • Die Woord is tydgerig en nie tydgebonde of tydloos nie.

God se Woord kom tot mense deur mense. In die Nuwe Testamentiese vak­gebied word uitgegaan van die standpunt dat elke skrywer van die boeke van die Nuwe Testament 'n baie duidelike intensie of bedoeling gehad het by die skryf van die boek of die brief. Hierdie hermeneutiese beginsel word alreeds by Calvyn aangetref en duideliker kan so 'n outeurs-intensie seker nie gevind word as by die skrywers van die briewe in die Nuwe Testament nie.

Tog impliseer die boeke van die Nuwe (en Ou) Testament nie menslike nadenke oor God nie. Die Gees van God as pri­mêre Outeur het met daardie selfde boeke 'n goddelike intensie gehad, naamlik die openbaring van God. Hierdie goddelike openbaring word genoem die Woord van God – waarheid wat objektief buite die mens om gegee is.

Hierdie beginsel is van kardinale belang by die verstaan van die argument in hier­die artikel. Die openbaring van God, wat objektief buite die mens om gegee is, moet dus, sover menslik moontlik, verklaar word in die eksegetiese proses. Die intensie van die menslike skrywer sowel as die Heilige Gees, het tot gevolg dat betekenis (waar­heid) in die Woord van God is, wat ver­klaar en toegepas moet word.

Daar kan (en mag) dus nie sprake wees van die toekenning van 'n eie interpretasie of opinie (of eie bedoeling) aangaande die intensie van die Heilige Gees soos wat Hy die Bybel deur mense op Skrif laat neer­pen het nie.

Hierdie laaste opmerking het betrekking op die hele proses van eksegese, wat ver­klaring en toepassing insluit.

Toepassing🔗

Ten opsigte van die toepassing van die Skrifboodskap (applicatio) is die herme­neutiese sleutel in gereformeerde eksegese die tydgerigtheid van die Woord van God. 'n Tydgebonde Woord sou impliseer dat God se Woord eenmalig gekom het binne spesifieke omstandighede en slegs bedoel vir daardie spesifieke omstandighede, son­der dat dit verderaan enige betekenis sou inhou vir lesers van latere tye.

'n Tydlose Woord van God sal weer impli­seer dat elke woord in die Bybel nie so van toepassing sou wees vir alle kontekste van alle tye. Maar omdat die Skrif tydgerig is, moet die (tydgerigte) woorde van die Bybel oor-"vertaal" word – dit wil sê aan 'n proses van hermeneuse onderwerp word ten einde die toepaslikheid daarvan vir die eietydse konteks te verstaan (let wel: verstaan en nie skep nie).

Konkretiseer🔗

Binne die reeds bespreekte raamwerk van Skrifbeskouing wil die gereformeerde Skrifverklaring dus voortdurend wys op die belangrikheid van die hermeneuse waarbinne die tydgerigte Woord van God gekonkretiseer word. Hier binne neem geloof in die Bybel as tydgerigte Woord van God 'n sentrale plek in.

Omdat dit God is wat Homself in sy Woord openbaar, gaan dit dus ook om geloof in die God van die Woord van God, soos Hy Hom in sy Woord open­baar. Die basis vir die gesag van die Bybel is immers juis daarin te vind dat God Self die Een is wat deur en vanuit die Skrif tot ons spreek. Hoe kan die mens homself dan so hoog ag dat hy 'n ander betekenis wil toeken aan die Woord van God?

Geloof in die Bybel as gesagvolle Woord van God is derhalwe 'n voorveronderstel­ling waarmee die gereformeerde Skrifver­klaarder die Bybel benader. Dit rig alle eksegetiese arbeid — gevolglik ook die hermeneuseproses.

Gereformeerde hermeneuse glo dat God se Woord ook op vandag van toepassing is. Die proses van hermeneuse wat begrond is op die Skrifbeskouing van en geloof in die Bybel as gesagvolle Woord van God, wil dus die betekenis van die Skrifboodskap toepas op die hedendaagse konteks. God wat eenmaal 'n tydgerigte woord gespreek het, spreek daardeur ook tydgerig tot die konteks van vandag.

Tydgerig🔗

'n Visie vir gereformeerde hermeneuse hou ook verband met die tydgerigte aard van die Woord van God. Soos reeds gestel is, is God se Woord geldend vir die konteks van die tyd, of dit nou 2000 jaar gelede was, of dit vandag is en of dit 2000 jaar van nou af is.

Tye verander en daarmee saam ook die konteks. Daarom poog die gereformeerde hermeneuse voortdurend om die toepas­likheid van God se Woord te verstaan en te beskryf vir mense in hulle spesifieke konteks en omstandighede. Die vertrek­punt bly egter altyd die Woord van God. Hermeneuse wil altyd die Woord van God oorbring vanaf die 'toe daar' tot die 'nou hier'.

Gevolgtrekking🔗

Die finale woord oor gereformeerde her­meneuse is sekerlik nie gespreek nie. In die hermeneuseproses word deeglik daarmee rekening gehou dat kontekste verander. In die hermeneuseproses word ook erken dat die mens nie in staat is om die objek­tiewe waarheid van God waarna die mens in sy sondige, subjektiewe bestaan streef, in 'n enkele moment te kan saamvat nie. Gereformeerde hermeneuse berus wel op die besef en die besliste belydenis: God se Woord bied 'n woord vir elke dag, of hier­die dag nou premodernisties, modernisties of postmodernisties is.

Hermeneuse het wel 'n temporele karak­ter, want elke dag is nuut, elke eeu is nuut. Daarom sal 'n visie vir gereformeerde her­meneuse met die oog op die kontekstuali­sering van die verklaarde Woord, God se Woord telkens van nuuts af tot die konteks moet bring.

Die gereformeerde ideaal is nie ons eie en eietydse woorde oor God nie. Inteen­deel, die blywende gereformeerde ideaal en visie is 'n omhelsing van God se Woord in ons tyd.