Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Op 'n Punt van Orde

God is ’n God van orde. So leer die Skrif ons onder andere in 1 Korintiërs 14:33. Wat beteken dit?

Volgens die woordeboeke beteken dit prakties twee dinge: eerstens dat die dinge wat God tot stand gebring het op hulle bedoelde plek is, en tweedens dat die dinge wat God tot stand gebring het hulle bedoelde funksie verrig. So het Hy die Skepping al ordende in aansyn gebring.

Die Satan is God se teëstander wat God se orde verbreek het, en die mens daartoe verlei het om ook God se orde vir die mens te verbreek. Sonde is ongehoorsaamheid aan God. Dit is om God se orde tot chaos te verander. Sonde is dat die mens sy/haar Godgegewe plek nie meer ken en inneem nie. Dit is verder dat die mens sy/haar Godgegewe funksie, taak en roeping nie meer uitleef nie. Die vrug daarvan is die dood.

Dan bring die HERE alles weer op ’n punt van orde. Dit is die boodskap van die Bybel. Dit is die lewegewende evangelie van die Here Jesus Christus wat reeds in die moederbelofte (Genesis 3:15) aangekondig word. Lewewekkend roep Hy die mens tot orde.

Hy doen dit telkens in die voortstuwing van die openbaringsgeskiedenis, die heilsgeskiedenis, die kerkgeskiedenis. Terwyl die verbreker se werk deur die eeue heen tot volle ontwikkeling moet kom, en daarby algaande chaos en dood in die kerk bewerk, moet ook die koninkryk van God deur die eeue heen tot volle erkenning en ontplooiing kom.

Ironies: die afval is meestal soos kanker fyn gestruktureer, en meesterlik planmatig. Meer ironies: die afval slaag selfs meestal uitnemend om met die kalwers van God se orde te ploeg. Begrippe soos ‘reformasie,’ ‘broederskap,’ ‘verdraagsaamheid,’ ‘Skrifmatigheid’ en wat nog, word gekaap om eie agendas meedoënloos deur te voer. Met goeie prosedures: kyk net hoe goed was die prosedures in plek gestel om Jesus gekruisig te kry. Orde – so goed dat hulle glo hulle bewys God ’n guns! Dit is ’n tema van die kerkgeskiedenis. ’n Tema met ’n verwoestende bloedspoor.

Iewers kom daar - genadiglik deur God beskik - telkens weer ’n punt van orde. Vir ons lyk dit nie altyd so ordelik nie. Die apostels sê in Jerusalem: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie”. Luther moet teen die Roomse oormag by Worms sê: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie”. Die voorsitter van die Dordtse Sinode beveel die Remonstrante: “exite!” (gaan uit). Ds. Postma verklaar te Pretoria, 11 Januarie 1859, dat hy hom volgens die Woord van God nie geregtig ag om die hulp van die Christelike Gereformeerde kerk in Nederland aan die Hervormde Kerk in die ZAR toe te sê nie en onttrek hom van die vergadering. Watter snaakse punte van orde is dit? Tog herken ons dit as wesentlike reformasie-oomblikke uit die geskiedenis.

Die kreet: ‘orde, orde!’ gaan oral op. Maar op ’n punt van orde: Wie se orde soek ons? Wys my die bronwerk van jou orde. ’n Beswaarskrif mag nie soos ’n beskrywingspunt lyk nie. ’n Beleidstuk is geen erkende stuk op tafel nie. ’n Bylaag is nie ontvanklik as ’n saak nie. En as die ‘formaat’ van die dokument nie by ons skema inpas nie, weeg ons ook nie die argumente nie. Laat ons dus net bewys kry dat die ‘formele vereistes’ nie slaag nie. Die meerderheidstem sal beslis.

En as die eer van die Here voor ons orde die vleuel moet stryk?

En as die waarheid van die Woord maar geïgnoreer word?

En as die welsyn van sy kerk voor ons onwillige ordening moet kwyn?

En as die gelowiges se gewetens deur ons ‘ordelike kerklike weg’ aan bande gelê word of somaar sonder gebondenheid aan Gods Woord in vryheid oorgelaat word?

Wie se orde is dan egte orde? In die Roomse kerk is daar ordelik ’n reël deurgevoer dat leke of ander individue of groepe nie die reg het om konsilies se besluite te bevraagteken nie. Die stelsel was so goed gestruktureer dat dit enige teenspraak effektief onderdruk het. So het die Jode ook hulle ordelike stelsel in plek gehad waarmee hulle Christus in hulle web wou vang om Hom tereg te stel sodra Hy uit hulle orde sou trap of praat. Ná Christus se hemelvaart het hulle die dissipels op dieselfde gronde vervolg: ordelik, planmatig, meedoënloos.

Tog was daar nog altyd individue en groepe sonder teenstand aan die werk (dikwels agter die skerms) om besluitnemingsprosesse te stuur. Sommige wat as volksvreemd beskou is, word amptelik verwerp: Vrymesselaars, Rotariërs - hulle mag nie, want hulle is geheim. Maar Rapportryers, FAK en Broederbond is reg want hulle is (soos die destydse Sanhedrin) volksvriendelik en “geen geheim” nie. En ja, die vrouevereniging en die bonde van JV’s is taboe, want hulle is ’n kompetisiebedreiging vir die sinodale struktuur. As die openbare pers publiseer wat ons hulle voorsê, mag hulle met oop, warm harte ons vergaderings bywoon. Maar as hulle hulle eie waarnemings publiseer, lê ons hulle aan bande. Hulle val nie binne die kategorieë van verbode of aanvaarde organisasies langs die kerklike vergaderings nie. Wie se orde is orde?

Ons aanvaar die Dordtse Kerkorde as die beste praktiese ordening van God se Skriftuurlike orde. In dié sin word dit dus met Goddelike gesag gedra.

Die beginsels van God se Woord, soos bely in die belydenis, word in artikels gepositiveer. Ja, dan moet ons kerklike handelinge ook hierdie lyn van Skrif, via Belydenis na die Kerkorde as ’n eenheid vashou. Sodra die kerkorde as ’n reëlboek op homself hanteer word, verval ons onkeerbaar in ’n organisasie van menslike tirannie wat sy eie agenda administratisties deurdruk.