Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Openbare Geloofsbelydenis

Troue

Hoekom is dit eintlik so dat ek voor in die kerk gaan staan om my geloof te bely? Dié vraag word gereeld gevra, vanuit allerlei agtergronde. Vir die een is dit ʼn stresvolle ervaring en vir die ander is dit ʼn formele geleentheid. ʼn Derde sê: “Ek glo al lankal en die Here weet dit mos. Hoekom moet ek dan nog daar gaan staan?”

Hierdie aarseling is verstaanbaar. Die tyd waarin die geykte paadjies sonder kommentaar gevolg word, is verby. Jongmense wil weet wat hulle doen en hoekom. Daarom vra hulle uit daaroor. Hulle is heeltemal reg hierin. Dit gaan oor hul geloof, hulle belydenis en hulle moet heelhartig daarmee kan saamstem. Dus: hoekom gebeur dit voor in die kerk? Hoekom is ʼn gesprek met die kerkraad nie voldoende nie?

Dalk sou dit so ook kan gebeur, maar tog is dit vir ons mooier soos wat dit nou is. As jy dink aan wat jy met jou ja-woord doen, kan al die aarseling soos sneeu voor die son verdwyn.

Bruilof🔗

Die “ja” vir God kan jy vergelyk met die “ja” op jou troudag. Dit is die beste vergelyking denkbaar, want God vra na die liefde van ons hart. Jesus noem ons sy bruid. Wil jy aan God behoort soos wat ʼn bruid haar toevertrou aan haar bruidegom?

As daar miskien ʼn spoor van formalisme sou wees, sou dit hier verdwyn. Want dit is so persoonlik soos wat ’n mens maar kan kry. Liefde van hart tot hart. God sê “ja", wat sê jy? Het jy dit al gesê?

Glo jy dit al lankal? Maar dit kan mos nie ʼn beswaar wees nie! In die meeste verhoudings werk dit so dat die liefde groei en dat jy dit gereeld vir mekaar sê. Jy leer mekaar ken, jy kom agter dat julle na mekaar toe groei. Dit word nie ontken op die troudag nie, inteendeel! Dit word as vanselfsprekend aanvaar. Die liefde begin nie op daardie oomblik nie, maar dit word verseël, in ʼn lewenslange verbond.

So is daar ook op die dag van jou openbare geloofsbelydenis ʼn tydperk agter jou waarin jy God leer ken het. “Uitgaanstyd” is dalk nie heeltemal die regte woord hiervoor nie. Maar dit is wel ʼn beweging na die keuse van jou lewe. As jy ontdek wat genade is en hoe diep dit is, kan jy dit as ʼn besondere verbondenheid ervaar. Hierin leer jy die Here persoonlik meer en meer ken. Dan het jy al dikwels daarvoor gedank en jou liefde aan Hom verklaar voordat jy in die kerk staan. Tog dring dit alles, op een of ander manier, na ʼn sekere oomblik waarop jy jou keuse openbaar maak. ʼn Keuse, wat vasgelê word voor God en die mense. Want dit gaan oor God se trouverbond. God se “ja” in die doop was ook so dat elkeen dit kon sien en hoor. Dit is nie geheimsinnig nie, dit deurtrek die hele lewe. Soos wat ʼn huwelik bekend wil wees, so is ook jou band met God: “ons behoort bymekaar en niemand mag tussen my en God kom nie.”

Stresvol?🔗

Is dit stresvol om so voor in die kerk te staan? Ja, ’n bietjie. Tog is daar min bruidspare wat om dié rede daarvan afsien om te trou. As jy daaroor nadink is dit eintlik meer ontspannend. Jou belofte is belangrik en dit mag jy ook voel. Maar tog gryp jy jou vas aan die feit dat God jou wil dra. Hy wil jou met alles help, sodat jy nooit iets alleen hoef te doen nie. As jy dit besef, verloor jy alle spanning.

Ek ken ’n predikant wat baie senuweeagtig was toe hy vir die eerste keer moes preek, totdat iemand vir hom gesê het dat hy mooi moes luister na sy eerste sin: “Ons hulp is in die Naam van die Here…” Daar het jy dit! Solank as wat jy dink dat jy dit self moet doen, is jy senuweeagtig. As jy dink dat jou belofte volmaak moet wees, is jy so gespanne soos ’n snaar. Maar as jy jou mag toevertrou aan die God wat jou volledig ken, dan val daar ’n las van jou skouers af. Is dit nie merkwaardig dat ’n mens so vol kan wees van jou eie belofte, dat jy skaars hoor wat die ander sê nie? In die voorbereiding vir ’n troue, kan dit soms ’n openbaring wees wanneer ek dit noem. Die persoon wil sy hele hart lê in sy aanstaande troubelofte, en dit is natuurlik ook baie goed. Maar hoor hy ook wat die ander persoon sê, en wat hy daarin ontvang: lewenslange hulp, liefde en trou? En hou hy daarmee rekening? Kry dit ook ’n plek? En hoe?

Belydenis

Ons is aktiewe mense. Dit is makliker om te doen as om te ontvang. Tog is hierdie ontvang so wesenlik dat jy die ander regtig moet toelaat in jou lewe. Om te ‘doen’ kan baie oormoedig gebeur, maar om te ‘ontvang’ moet jy jouself oopstel. Jy moet dit waag om kwesbaar te wees. Slegs dan kan jy gehelp word, dan kan dinge werk. Dit werk so tussen mense.

Dit geld nog meer as jy belydenis van jou geloof aflê. Jou keuse vir God is belangrik, wat jy daarmee sê en doen. So mag jy daaroor voel. Maar dit is veral belangrik dat jy wil ontvang wat Jesus vir jou wil wees. Dus moet jy baie goed na sy belofte luister en dit in jou denke integreer. Slegs dan kan jy gehelp word, dan kan dinge werk. Vir almal wat ooit ’n trouverbond gesluit het, of dit met God of met mense is, is dit lewenslang die fokuspunt: om die ander regtig binne te laat kom, om al die deure van jou lewe oop te maak. Anders word dit baie stresvol. Dan kan jy doen wat jy wil vir die ander persoon, maar jy kan dit nie volhou nie. En dit terwyl daar soveel ontspanning kan wees in geborgenheid, aanvaarding en liefde.

Die Gemeente Handel🔗

Die gemeente wil graag getuie wees daarvan. Hulle wil om jou heen staan, hulle wil jou God se seën toesing en vir jou bid. So laat hulle jou, in die Naam van Jesus, toe aan die voorsmaak van die bruilofsmaal.

Ja, dit doen die gemeente self. Die kerkraad gee leiding hierin, hy spreek en ondersoek. Maar op hierdie manier is die gemeente self aktief. Sy is die bruid, sy wil in alles gerig wees op haar Heer en slegs in hierdie gesindheid kan jy deel wees daarvan. Daarom is die mees geskikte plek om jou geloof te bely in die erediens. Want as die gemeente bymekaar kom in God se Naam, dan handel sy in die Naam van God, met sy volmag. Die gemeente aanvaar jou, sy gee jou ’n plek aan die tafel waar Jesus die gasheer is.

As jy dit besef, wil jy hierdie manier van belydenis doen nie inruil vir ’n ander manier nie. Inteendeel, dan besef jy juis baie goed wat die gemeente eintlik is. Jy wil deel wees van hierdie gemeente, al is daar menslikerwys gesien baie wat skort by hulle. Want hier is God, hier word gehandel en gespreek in die naam van God. Hier word die sleutels van die hemelse koninkryk bedien. Dalk gebeur dit nog op ’n gebrekkige manier, maar tog sal die regte pad na God en met God hier verkondig word. Wat hier in die naam van Jesus vergewe word, dit is ook in die hemel vergewe. Wie hier in die naam van Jesus aanvaar word, is aanvaar, vir nou en vir later (Johannes 20:21-23).

Dit word natuurlik nie gesê om God in ons handelinge op te sluit nie. Dit kan ons nooit doen nie. Maar ons word wel daaraan herinner dat die almagtige God daarvoor gekies het om die gemeente in sy Naam te laat handel. Hy het aan die gemeente sy sleutels toevertrou, daarom is die erediens uniek en onvervangbaar.

In Lewe en In Sterwe🔗

Daar is nie een vergelyking wat volmaak is nie. Ook nie die een tussen die belydenis en die aardse bruilof nie. Want God se trouverbond is baie meer. Dit kom treffend na vore by die belydenisvraag:

Belowe jy om by die belydenis van hierdie leer te bly in lewe en in sterwe?

Bybel

Dit vra ons nie op die troudag nie. Daar vra ons vir trou vir die hele lewe, totdat die dood die skeiding bring. Die huwelik gaan nie verder as dit nie, dit hou daar op. Maar die trouverbond met God hou nie daar op nie! Dit is wonderlik om te sien en indrukwekkend om te bely. As jy gaan sterf, bly jy dan nog op Hom vertrou? Al is jy dalk nog jonk, al het jy heeltemal ander planne en verlangens. Wil jy dan tog nog na die Bruidegom gaan as Hy jou roep? Vertrou jy jou lewe aan Hom toe, hoe Hy jou ook lei, op die aarde of na die hemel? Ja, as jy so iets beloof is dit ’n groot ding!

Dit is die antwoord waarop Jesus wag en wat Hy telkens weer wil hoor. Laat dit die hart van jou gebed wees. Dit is die antwoord op Golgota waarop die trouverbond rus. Dit is die antwoord op jou doop waarin God vir ewig met jou gespreek het.