2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Openbaring

Een van die heerlikste van God se werke is sy openbaring aan ons. Die blote feit dat Hy Homself openbaar, is iets groots en wonderlik. Hy is volkome selfgenoegsaam, Hy het geen behoefte aan enigiemand of enigiets buite Homself nie, en tog verkies Hy om Hom in al die werke van sy hande te openbaar.

Dat Hy Homself aan ons openbaar, is selfs meer wonderbaarlik. Ons is blote skepsels, die werk van sy hande, minder as stof voor Hom. Hy is die Almagtige, oneindige, ewige en onbegryplike God. Tog maak hy Homself in al sy heerlikheid aan ons bekend.

Ons besef des te meer dat sy openbaring ʼn wonderwerk is wanneer ons onthou dat Hy, volgens 1 Timoteus 6:16, die Een is wat geen mens gesien het of kan sien nie, louter Gees en vir altyd onsigbaar vir ons oë. Dat Hy, wat so groot is, met ons in menslike taal praat wat die eenvoudigste onder ons kan verstaan, is byna ongelooflik. Calvyn praat van God wat met ons as ‘t ware “babataal”1

praat, soos ouers gewoond is om met klein kindertjies te doen. Dit is die wonder van openbaring.

Deel van die wonder is dat God Hom aan sondaars, wat hul hart en verstand vir Hom gesluit het, openbaar. Hierin sien ons die verband tussen die wonder van openbaring en die wonder van genade, en besef ons dat die finale oogmerk van die openbaring die redding van God se volk is.

Dit bring ons by die feit dat daar verskillende maniere is waarop God Homself openbaar. Die Nederlandse Geloofsbelydenis, in navolging van Psalm 19, praat van twee maniere, naamlik deur die skepping en deur die Skrif, 2maar daar is ook ander wyses. God openbaar Homself in die geskiedenis, in die gewete van elke mens en, in die Ou Testament, deur drome, gesigte, engele en nog ander wyses.

Die openbaring van God in die skepping word in die Nederlandse Geloofsbelydenis beskryf as “ ʼn mooi boek”3 Net soos die werk van ʼn meesterskilder of – beeldhouer iets van die kunstenaar weerspieël, so openbaar die werke van God iets van Homself. Vir die verlore sondaar is die openbaring, ook die openbaring van God in die geskiedenis en die gewete van die mens, egter  ʼn skrikwekkende boek. Die verlore sondaar lees in daardie openbaring niks anders as gramskap en oordeel nie. Daarom verdraai hy dit en distansieer hy hom daarvan (Rom. 1:25).

Alleen in die Skrif openbaar God Hom deur Jesus Christus as die Verlosser van sy volk. Wanneer ons aan openbaring dink, dink ons daarom in die besonder aan die Skrif.

Wanneer ons God deur die Skrif ken, vind ons ook baat by God se openbaring in skepping en geskiedenis. Calvyn het die Skrif voorgestel as  ʼn bril waardeur ons ook in die skepping iets van God se liefde en genade kan lees.4Die Skrif leer ons om in die sonsopkoms en in die lelies, in sade en in berge, die getuienis te sien van die grote God van ons verlossing en van sy genade.

Kom ons leer om die “mooi boek” van die skepping te lees, maar laat ons nie die groter boek, die Woord van God in die Skrif, verwaarloos nie. Daar leer ons Hom ken wat Hom so genadiglik aan ons geopenbaar het deur sy Seun.

Endnotes🔗

  1. ^ J. Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens (1559). Vertaling H. W. Simpson, Potchefstroom CJBF 1984, 1.13.1. 
  2. ^ Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 2.
  3. ^ .Ibid. 
  4. ^ A.w., 1.14.1.