Bron: Kompas, 2003. 5 bladsye.

Opvoeding met Sondebesef is Opvoeding in Genade

Anita is drie jaar oud. Terwyl sy deur die kamer loop, sien sy ʼn bord met koekies op die tafel staan. Dit lyk lekker en aanloklik en sy dink dat sy nogal lus het vir ʼn koekie. Sy dink nie verder nie, maar vat die koekie, sonder om te vra, want dit lyk lekker. Terwyl sy nog besig is om te eet, kom haar ma in die kamer in. “Wat maak jy?” vra sy vir Anita. “Het jy sommer so ʼn koekie gevat? Het jy vir mamma gevra?” Anita kan aan haar ma se stemtoon hoor dat iets verkeerd is. Maar sy sê: “Ja, my ma sê ek mag.” Haar ma antwoord egter: “Nee, ek dink nie so nie! Die koekie was nie vir jou bedoel nie, maar vir kuiermense wat oor ʼn rukkie hierheen kom! Jy mag dit nie sommer vat nie!”.

Chris, agt jaar oud, kom by die huis na ʼn skooldag. Sonder om iets te vra maak hy die yskas oop en vat ʼn lekker stuk appeltert. Hy weet hy mag dit nie eintlik doen nie, maar hy is nou lus daarvoor en sy ma is tog nie in sig nie.

Albei hierdie situasies kom in baie gesinne gereeld voor. Hoe moet jy, as ouer, nou daarop reageer? Jok jou driejarige kind regtig bewustelik as sy iets anders beweer as wat regtig gebeur het? Wat moet jy daaraan doen, of moet jy dit net ignoreer? Kan jy vir ʼn driejarige kind iets sê in die trant van: die Here wil nie hê dat jy dit doen nie, dis sonde? Wanneer begin mens sonde spesifiek sonde noem? Wanneer is jou kind gereed daarvoor? Mag jy eintlik sonde nog sonde noem? Of moet mens sulke harde opmerkings in die opvoedingsproses eerder vermy? Mag jy ʼn skuldbesef by jou kind aanpraat? Is dit nie skadelik vir ʼn kind nie? Hoe vinnig sal jy veroorsaak dat jou kind ’n skuldkompleks kry? Hierdie artikel gaan oor opvoeding met ʼn besef van sonde en skuld, as deel van gewetensvorming.

Opvoedingsdoel🔗

Gewetensvorming het ʼn baie belangrike plek in die opvoeding. Jy wil hê dat jou kind later in sy lewe sal kan onderskei tussen goed en kwaad. Dit is ʼn basiselement in die opvoeding van die lewe voor God se aangesig. Dit bepaal jou siening oor opvoeding. Jy moet jouself, as opvoeder, vra: Wat is my opvoedingsdoel? En hoekom eintlik? Wat is belangrik vir my kind? Basies kom dit dan alles op die een ding neer: Ons wil hê dat ons kind vir die Here sal lewe en vir God en sy naaste diensbaar sal wees.

Durf ons met ons Kinders oor Sonde Praat?🔗

Maar hoe voed jy jou kind nou só op? Watter ander doele moet jy vir jouself stel? Dis belangrike vrae. Dis vrae waaroor julle, as pa en ma, met mekaar moet praat en waaroor julle moet nadink. Ander vrae in die verband is: Wat verstaan jy eintlik onder diensbaar? Hoe kleur jy dié begrip op die regte manier in? Hoe werk jy aan die gewetensvorming van jou kind? My kind moet wel weet wat sonde is. Hoe kan hy anders God dien en sy genade leer ken? Maar sal dit nie depressie by jou kind veroorsaak nie? Durf ons eintlik wel met ons kinders oor sonde praat? Immers, dan maak jy jouself ook baie kwesbaar; jy is self ook nie ʼn smettelose mens nie. Hoekom wil ek dan hê dat my kind leer besef wat sonde is? Straf ons ons kind? En wat moet ons dan alles in ag neem? Wat word bedoel met die uitspraak in Spreuke 13:24 “Wie sy roede terughou, haat sy seun?” En hoe pas ’n mens dit toe? In die vervolg van die artikel gaan ons daarna kyk hoe ons kan opvoed in sondebesef in die verskillende leeftydskategorieë. Die belangrikste is egter dat mens, of jy nou twee of tagtig jaar oud is, nooit sondebesef en God se genade mag skei nie.

Sondebesef by Peuters🔗

In die eerste drie jare van jou kind se lewe, is daar nog glad nie sprake van ʼn sondebesef nie. Die kind kom slegs uit jou, as opvoeder, se houding agter dat daar sommige goed is waarvan jy nie hou nie of wat jy nie wil hê nie. Pappa kan selfs kwaad daaroor raak. Dit is nie lekker vir die kind as ouers met hom raas nie. Hy reageer dan ook in die lyn. Hy laat sekere dinge na, want hy weet jy hou nie daarvan nie. Jou kind doen sekere goed nie, slegs omdat jy dit nie wil hê nie. As jou kind dan oortree, en jy is nie by hom nie, dan is daar geen besef by hom dat dit nie mag nie. Omdat jy nie by hom is nie, bestaan die reël nie meer nie. Dan mag hy dit dus wel doen, volgens die kind se belewing.

In die praktyk beteken dit dat ’n mens wel nog steeds reëls moet opstel. En dan moet jy hulle ook onderhou en handhaaf. Maar dan wel met die besef dat as jy nie naby is nie, die kind tog wel die reël gaan oortree, en jy hom dan nie daaroor kan straf nie. Jy kan wel met die kind daaroor praat. Maar dié “daaroor praat” dien slegs as herinnering vir jou kind. “Pappa het mos gesê dat jy dit nie mag doen nie?” Meer hoef jy nie te sê nie. Jy moet die reëls as’t ware net inskerp. Op hierdie manier word die basis van die kind se gewetensvorming gelê. Jou kind leer dit deurdat daar grense gestel word. Hulle moet ook herhalend aan die grense herinner word. Om iets slegs een keer te sê is op hierdie ouderdom nog nie genoeg nie. Stadig maar seker leer die kind die grense ken. Dit vra baie geduld en veral ook begrip van die opvoeder. Met name die begrip dat die grense op hierdie stadium aan die opvoeder gebind is. Die kind het nog nie self ʼn onafhanklike besef van reg en verkeerd nie. Die opvoeder bly verantwoordelik. Aanwesigheid speel hierin ʼn groot rol. As die kind stout is terwyl jy nie naby hom is nie, besef dan dat die skuld by jou lê. Maar sê dan wel vir die kind dat dit nie reg is wat hy gedoen het nie. Noem dan ook jou eie gebrek: “Mamma moes by jou gebly het”.

Dis belangrik dat jou kind grense leer ken. Want as jy die kind sy gang laat gaan en net dinge sê soos: “Ag, die ou kleintjie weet ook nie van beter nie, en dis eintlik tog só oulik”, dan help jy die kind glad nie. Jy maak hom eerder onseker. Hy weet nie waar hy met jou staan nie. Hy groei dan met ʼn onveilige gevoel op. Dis waarskynlik glad nie wat jy wou gehad het toe jy besig was met die opvoeding nie. ʼn Kind het ʼn groot behoefte aan veiligheid en sekuriteit. Hy ervaar dit slegs as daar duidelike reëls is wat ook gehandhaaf word. Mense het soms die wankonsepsie dat mens alle reëls en regulasies presies vir die kind moet verduidelik. Dis op hierdie ouderdom nog glad nie nodig nie. Dit het min of geen nut om dit te doen. Die kind wil net duidelikheid hê: dit mag en dit nie en hoekom, dit maak nie saak nie. Iets mag nie “sommer, omdat pappa en mamma so sê!”

As die kind in sy eerste hardkoppigheidfase is, rondom die ouderdom van twee of drie jaar, vereis dít baie ekstra geduld van die opvoeder. Soms moet jy ruimte vir die kind gee. Jy kan as volwasse opvoeder vooraf presies ʼn taktiek beplan, maar die kind kan dit nog nie doen nie! Hy het nog nie ʼn strategie nie. Sy strategie is slegs om sy eie willetjie deur te druk.

In hierdie tyd moet jy veral daarop konsentreer om nie betrokke te raak in die magstryd nie. Dit is baie verleidelik om dit wel te doen! As jy “Eet jou kos op! Jy bly hier sit totdat al jou kos opgeëet is” gesê het, dan mag jy jouself daarop voorberei dat jy nogal ʼn lang sit gaan beleef, ten minste: as jy jou eie woorde glo.

Maar ook vir die hardkoppigheidsfase geld dat jy nie jou kind verantwoordelik vir sy eie dade kan stel nie. Jyself is wél verantwoordelik, naamlik vir jou manier van opvoed.

Kleuters🔗

In hierdie leeftydsfase verander daar nie so baie ten opsigte van die vorige een nie. ʼn Vierjarige kind kan jy in feite nog steeds nie verantwoordelik hou vir sy wandade nie. Die kind is nog nie uit homself gemotiveerd om jou te gehoorsaam nie. Hy gehoorsaam jou om in jou goeie boekies te bly. Kan jy dan al praat van sondebesef? Opvoeding is dan basies ʼn deurlopende oefening in gehoorsaamheid. Deur reëls vir jou kind te stel en dit dan ook te handhaaf, vorm jy ʼn gewete by die kind. Dit sal gebeur dat jy kwaad word of teleurgesteld is. Jy, as opvoeder, is ook ʼn mens wat ruimte nodig het en wat foute kan maak. Probeer voortdurend om jou kind se ouderdom en spesifieke ontwikkelingsfase in ag te neem. Hou voortdurend jou doel voor oë: jy is mos besig om die kind te oefen. Iemand wat oefen het juis bemoediging nodig. Dit kan soms ook beteken dat jy duidelik laat blyk dat iets wat die kind doen regtig verkeerd is. Byvoorbeeld as jou vyfjarige kind sy klein sussie slaan. Dan moet jy streng ingryp. Jou kind kan dan deur ʼn sogenaamde “pedagogiese pak slae” goed verstaan dat dit wat hy gedoen het nie reg is nie.

Soms hoor ’n mens ouers vir hulle kind iets soos die volgende sê: “Wat jy nou doen maak pappa hartseer. En vir die Here God ook”. Hierdie uitdrukking is veels te hard, in elk geval vir ʼn vierjarige kind. Hiermee sit jy ʼn ongelooflike swaar las op die klein kind se skouers. Dit kan dalk soms tydens die opvoeding lyk asof die kind jou wil seermaak. Maar meestal is dit regtig nie so nie. Jou kind is wel onophoudelik besig om tot op die grense te gaan en dit te verken. Glo pappa regtig wat hy sê? ʼn Kind doen dit natuurlik nie bewus nie. Dit is in hom. Opvoeding is as’t ware om grense te stel en dan jou kind se hand te vat, maar hom ook tegelykertyd ruimte en vryheid te gee. Jou kind vereis duidelike leiding. Dit gee veiligheid. Goeie leierskap het goeie selfstandigheid tot gevolg. Hiervolgens gee jy jou kind wanneer hy ouer word ook meer ruimte.

Die Jong Laerskoolkind🔗

Op hierdie stadium kry die kind al meer ʼn besef van reëls. Dit mag nie en dit mag wel. So kry die kind geleidelik meer kennis van die reëls wat die Here gegee het. Jy leer dan vir die kind om dit ook toe te pas. Jy kan die kind ook daarop wys: “Die Here hou nie daarvan as jy lieg nie.” Hulle kan op hierdie stadium ook die reëls konsekwent deurtrek. Dis swart of wit. Grys areas bestaan nie. Hulle kan nog nie relativeer nie. Dit beteken dan dat die kind stadigaan ’n besef kry van skuld voor God. Hy kan dan bang word vir die Here: “Hou die Here nie meer van my nie? Hy is seker kwaad vir my?”. Deur sulke gevalle kry ’n mens dan die perfekte geleentheid om vir die kind te vertel van die betekenis van die kruis waaraan Jesus Christus gesterf het, vir jou en jou kind. “Die Here Jesus het vir al ons sondes betaal, vir myne en joune. Hy was self ook ses, sewe, agt, nege jaar oud gewees. Hy weet dus hoe dit voel om so oud soos jy te wees. Maar Hy het nooit sondes gedoen nie. Daarom kan jy vir hom vergewing vra vir jou sondes. Hy verstaan jou en Hy vergewe dit ook. Hy het dit Self belowe”. Jy kan dit in hierdie stadium nie genoeg vir jou kind sê nie. Gebruik dus die geleenthede wat jy kry. Jy kan dit ook aan die hand van Bybelverhale doen. Jy kan daardeur God se grootheid, liefde en vergewing vir die kind wys. ʼn Paar Bybelverhale wat vergewing baie duidelik wys: Moses het altyd baie gou kwaad geword. Tog het die Here hom gebruik om leier van die volk te word. Dawid was “’n man na God se hart”. Maar hy vat wel ʼn ander man se vrou en laat die man vermoor. Maar tog wou die Here hom daarvoor vergewe toe hy sy sonde en skuld aan Hom erken het. Langs die Here Jesus het ʼn moordenaar aan die kruis gehang. Eers het hy nog vir die Here Jesus gespot. Maar later het hy nog tot geloof gekom. En Jesus het gesê: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”. Op hierdie ouderdom is die kontak met God meestal net op die gevoel gebaseer. Die kind kan vol oorgawe psalms sing, en so ontroerend mooi natuurlik met God in sy eie gebed praat. Laat dan ook jou eie gevoel saampraat. Dis hoekom dit ook belangrik is om nie te saaklik oor sonde en vergewing te praat nie. Sorg dat jou kind kan sien dat God regtig kwaad is oor al die sonde, maar dat Hy dit ook graag wil vergewe. Maar het jyself eintlik nog soms trane in jou oë oor al jou sondes? Is jy nog soms verwonderd oor al God se genade? As hierdie fasette sigbaar is in jou gesprek met jou kind, sal hy ook leer wat sonde en genade in jou lewe beteken.

Die Ouer Laerskoolkind🔗

Kinders van tien jaar en ouer wil graag weet hoe dinge werk. Jy kan gedurig vir hulle informasie gee, want hulle is altyd op soek daarna. Hoe werk dit en hoe werk dat? Dit geld ook vir die reëls wat jy vir die kinders wil leer. Wat vra God van ons en wat wil Hy nie hê nie en hoekom eintlik? Byvoorbeeld: Hoekom wil God nie hê dat ons steel nie?

Die kinders kan nog nie abstrak dink nie. Dus as jy verduidelik moet jy duidelike konkrete voorbeelde gebruik. In hierdie verband iets soos die volgende: Die Here weet presies wat Hy vir elke persoon gee. Dit is genoeg vir die persoon. As iemand dit dan steel, dan meng hy in met God se plan. Hy eer God nie. Hy sê eintlik: U het dit nie reg verdeel nie, dis oneerlik. En daarmee beledig hy God.

Kinders hou daarvan om stiptelik by die reëls te bly. As jy dan die reël oortree, sien hulle jou dadelik as ʼn enorme sondaar. Byvoorbeeld: As die buurman nie gelowig is nie, sal die kinders sommer reguit in sy gesig sê: “Jy gaan nie hemel toe nie”. As jy jou kind straf omdat jy oortuig is hy het iets verkeerd gedoen, en die kind self dink dat hy nie verkeerd was nie, dan is dit soms moeilik vir die kind om dit te aanvaar. Op hierdie stadium het die sondebesef al aansienlik ver ontwikkel. Dit vereis dan ook taktvolle Bybelse gesprekke. As jy byvoorbeeld praat oor sonde en skuld, maak dan seker dat jy ook telkens God se liefde en genade noem.

Die kind het ook op hierdie ouderdom ʼn groot behoefte aan bemoediging. Jy kan by jouself opmerk dat jy aanhoudend besig is om die kind te wys op alles wat hy verkeerd doen. Daardeur kan ʼn negatiewe, verkeerde beeld van God by die kind ontstaan. God is iemand wat net altyd na jou foute kyk. Hy skryf al jou sondes op en vergeet dit nooit nie, en later by die finale oordeel, dan gaan jy dit hoor! As die kind se beeld van God só lyk, beteken dit dat jy dan juis baie oor God se genade met hom moet praat en dat jy self ook hierdie genade en liefde in jou eie dade moet wys. Vir kinders (en onsself ook!) is dit nodig, vir die beeldvorming van God, dat komplimente ongeveer eweredig afgewissel word met opmerkings oor hoe iets dalk beter gedoen kan word. Gaan kyk hoeveel komplimente jy per dag vir jou kind gee, teenoor die hoeveelheid negatiewe opmerkings.

ʼn Kind van twaalf jaar oud kan ook soms net sommer paniekerig raak. In die middel van die nag kan hy langs jou bed staan: “Ek kan nie slaap nie, want ek is so bang. Ek is te sondig vir God. Ek dink ek gaan hel toe!”. Dan mag jy langs jou kind staan, letterlik en figuurlik, jou arm op sy skouers sit en hom troos: “Dit is so dat ons sondig is, pappa en mamma ook. Daar is net een oplossing: die Here Jesus. As ons Hom nie geken het nie…”

Die diepte van die genade is vir ons almal moeilik om te verstaan. Diep in ons hart wil ons dit eintlik nie aanvaar nie. Al vandat ons twee jaar oud is roep ons: “Ek wil self!” en ons hou nie daarvan om afhanklik te wees nie. As jy vir ʼn gemiddelde graad 6 leerder vra: “Hoe kan jy in die hemel kom?”, sal die deursnee kind antwoord “Deur God se gebooie te onderhou”. Dan kan die vraag ontstaan of ons wel genoeg aandag gee aan die genade van God, in plaas daarvan om altyd te fokus op die moet-aspek.

Puberteit🔗

Die puberteit is die tyd van baie onsekerheid en twyfel in die lewe van ʼn jongmens. Dit is ook so met betrekking tot God se genade en vergewingsgesindheid. Wat mag, en wat nie? Jou kind wil homself word. Tot nou toe het jy, as opvoeder, leiding geneem. ʼn Kind moet deur al die lewensvrae kruip, om dit sy eie te maak. Iets is nie meer so omdat jy so sê nie. Dit kan soms baie sorge by jou oplewer. Soms is jy, as ouer, ʼn bietjie wanhopig. Hoe kan dit ooit op die ou end goed gaan?

Watter rol speel die opvoeder in hierdie periode? Die rol het nie minder belangrik geword nie. Hulle het jou nog baie nodig, want hulle wil hulself aan jou meet. Hulle toets jou mening uit, en verset hulle dan geweldig daarteen. Hulle noem jou “outyds. “Julle stam uit ʼn vorige era.” “Julle verstaan niks nie!”

Maar as jy dan jou kind ʼn uur later hoor praat met sy vriende, dan verdedig hy jou mening vol oorgawe. In hierdie periode ontwikkel jou kind ook liggaamlik. Die seksuele bewussyn groei. Dan kom selfbevrediging oftewel masturbasie in beeld. Dit kan in die puberteit lei tot enorme skuldbesef. Hulle voel asof hulle faal teenoor God. Ek wou nie, en tog het dit weer gebeur. Dit vereis aandag van die opvoeder. Maar ook ʼn standpuntbepaling. Wat is jou opinie oor selfbevrediging? Wat sê die Bybel daaroor? In elk geval moet jy as opvoeder die eindelose genade van God daarteenoor stel. Hoe baie keer het jyself nie ook in hierdie gat geval nie, en hoeveel sondig jy nie teen dieselfde gebod nie? Genade is ʼn belangrike sleutelwoord in die opvoedingsgesprek met jou tiener.

Namate die kind ouer word, vereis hy ook al hoe meer ruimte in sy lewe. ʼn Kind van ongeveer vyftien jaar oud is al so ontwikkel dat hy sy eie mening kan vorm. Hy kan sodanig afstand neem van iemand anders se mening, dat hy dan self daaruit sy eie konklusie kan trek. Dieselfde geld ook vir sy houding teenoor God se reëls. Jou kind sien al hoe meer die verband tussen die gebooie raak. Andersyds bly hy nog steeds ʼn behoefte hou aan jou voorbeeld. Veral die voorbeeld van jou as sondaar wat slegs deur die genade van God gered kan word. Dit is dan juis so mooi: Die een sondaar voed die ander sondaar op. Hulle leer mekaar: net deur genade word jy salig! Kinders leer dit eers op hierdie ouderdom ervaar. Daar kan ook ʼn enorme geloofsentoesiasme ontstaan. Jy sien hulle dan byvoorbeeld “mal gaan” in ʼn gospelkoor. Of hulle sit alles in vir ʼn bietjie liefdadigheidswerk. Hulle kan hewig diskusseer oor reg en onreg in die wêreld. Dit is pragtig om sulke goed by jou kind te sien!

Ten Slotte🔗

Opvoed met sondebesef is ʼn belangrike onderdeel van die opvoeding. Dit vereis eerlikheid van die opvoeders. Dit beteken: Laat jouself elke keer weer aan die voet van die kruis vul met die liefde van Christus. Opvoeding met sondebesef vereis nie populêre “cool” ouers nie, maar ʼn pa en ’n ma wat bereid is om op hul knieë te gaan, en dan nie net vir die idee nie. Want dit sien kinders dadelik. Dit moet wees omdat jy nie anders kan as om op jou knieë neer te buig vir God nie. Dít proe kinders. As jou kind deur die Gees van God die gevoel van genade gesmaak het, dan is julle saam ryk. Die gelykenis uit Mattheüs 18:21-35 wys hoe dit werk. ʼn Man met ʼn onbetaalbare skuld gaan alles wat hy het, verloor. Maar dan blyk die genade van die skuldeiser: Hy word vrygespreek! Ongelooflik. Die groot skuld is weg. As jy as opvoeder dít besef, dan mag dit die res van jou lewe bepaal.

Hoe kan jy dan die sondebesef weglaat uit die opvoeding? Jou kind sal nie weet wat genade is nie. Want dit is opvoeding met sondebesef feitlik: opvoeding in genade!