Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Ore kry Oë terwyl Ek Luister

In die afgelope Junie-vakansie was ʼn aantal Vrye Gereformeerde onderwysers en studente van Bellville, Belhar, Bethal en Pretoria so bevoorreg om ʼn werkswinkel by te woon by Silkaatsnek, Pretoria. Danksy ʼn reuse borg van een van ons broeders uit Amerika, was dit vir ons moontlik om twee bekendes in internasionale gereformeerde onderwyskringe, mnre Apko Nap en Piet Torenvliet, uit te nooi as gassprekers. Die tema: “Storytelling” – die vaardigheid om te vertel.

Daar staan ʼn man op ʼn lae heuweltjie naby die waters van die Jordaanrivier. Oral rondom hom is die droë sanderige woestynvlakte. Is hy alleen? Nee, hy is nie, want ‘n skare mense van verskillende vlakke van die samelewing, staan rondom hom.

Dit is baie stil. Die stilte is amper vreesaanjaend. Almal wag. Hulle luister… Dan maak die man sy mond oop en praat met ʼn kragtige streng stem: “Bekeer julle! Bekeer julle!”

Sy donker oë kyk vurig na hulle. Tog kan ʼn mens in sy oë duidelik die liefde vir sy mense raaksien.

Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom!

Wie is hierdie man?

Hy is nie baie oud nie. Ongeveer dertig. ʼn Growwe mantel van kameelhare hang oor sy skouers en ʼn leer gordel bind dit om sy middel vas. ʼn Eenvoudige man in elke sin van die woord. Daar word gesê dat hy soos die armes sprinkane eet en dat hy heuning soek wat swerms wilde bye in die rotsskeure maak. Tog luister die mense na hom.

Hy is ʼn profeet, fluister sommige. Daar is ʼn nuwe profeet in ons midde. Hulle dink terug aan die ou dae waarvan hulle vertel is of wat hulle gelees het in die heilige boeke, toe God self met sy kinders gepraat het deur profete.

Hulle dink aan Elia, Jesaja, Jeremia en baie ander. Het Elia weer opgestaan? fluister hulle. Is dit weer ʼn stem uit die hemel?

O, die vreesbevange luisteraars hou die man eerbiedig dop. Is hy die Messias? fluister ander. Kan hy dalk die Messias wees wat sal kom, die Verlosser wat God belowe het aan sy mense van die begin af?

Sal hy hulle verlos van hul aartsvyande, die Romeine? Sal hy hulle weer hul vryheid teruggee?

Maar waarom kyk hy hulle dan so streng aan en waarom klap sy woorde dan soos ʼn sweep? Waarom dan die harde en dreigende woorde?

Die byl lê al teen die wortels van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, sal uitgekap en in die vuur gegooi word.

Ek doop julle wel met water tot bekering, maar Hy wat na my kom, is sterker as ek. Ek is nie eens waardig om sy skoene te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

Sy skop is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in sy skuur saambring. Maar die kaf sal Hy met onuitblusbare vuur verbrand.

Terwyl u dit gelees het, kon u die man langs die Jordaan sien staan? Het u deel geword van die skare wat eerbiedig na hom geluister het. Het sy woorde u in die hart gegryp? Het u aangespreek gevoel deur dit wat u gelees het? Indien wel, het u ore oë gekry terwyl u geluister het?

Dit was dan ook die hooftema van die afgelope gereformeerde onderwyskongres wat in Pretoria gehou is.

In die verlede was vertellings baie belangrik. Dit was die medium waardeur mense hul geskiedenis aangeleer het, waardeur geskille opgelos is en wat die mense gebruik het om sin te maak uit die alledaagse lewe. Daarna het die geskrewe woord gekom met al sy misterieuse simbole. Vir ʼn wyle het alleen die rykes en bevoorregtes toegang hiertoe gehad, maar vandag word ons toegegooi onder boeke, pamflette, memo’s, konstitusies en ontbytpaphouers. Ontelbare soorte geskrifte het verskyn. Die vermoë om te lees en te skryf het by verre die oorhand gekry en vertellings is, soos die eenvoudige jongste broer in baie sprokiesverhale, eenkant toe gestoot en as sinloos beskou.

Ook in ons opleiding as onderwysers het bogenoemde duidelik na vore gekom. Aan die vaardigheid om verhale te vertel is weinig of geen aandag gegee nie.

Tog begin daar in die afgelope tyd ʼn opflikkering kom in die belangstelling in hierdie vaardigheid. Veral in die gereformeerde onderwyskringe en opleidingsentrums oorsee word steeds meer aandag gevra vir die waarde van goeie opleiding in hierdie verband.

Maar Waaroor en Waarom word daar so ʼn Ophef hieroor gemaak?🔗

ʼn Vertelling is nie dieselfde as om ʼn verhaal hardop voor te lees, die voordra van ʼn gedeelte of die uitbeeld van een of ander drama nie. Alhoewel dit wel sekere karaktereienskappe deel. Vertellings is veel meer. Deur oogkontak, gebruik van ʼn variasie in stemtoon en gebare komponeer die verteller en sy gehoor saam hulle verhaal. Die verteller dra die prentjies wat hy in sy kop sien, oor aan sy gehoor, wat deur hul luister, fronse, verwondering in hul oë, glimlagte, vorentoe geleun en selfs slaap aan die verteller laat weet met watter tempo hy moet voortgaan, of hy moet uitbrei en of hy moet afsluit.

Elke luisteraar en verteller teken in hulle gedagte sekere prentjies wat hulle assosieer met die woorde, gebare en geluide van die verhaal.

Die ondervinding stimuleer hul denke en raak die emosies van beide die verteller en luisteraar.

Hierdeur word die vaslegging van beide die boodskap en die inhoud versterk. Opvoeding en onderrig – die uiteindelike doel van onderwys!

Hoe behoort hierdie Vaardigheid in Bybelonderrig gebruik te word?🔗

Ons doel in Bybelverhale behoort dieselfde doel te wees as God se bedoeling om dit vir ons te laat neerskryf in sy Woord. God het die verhale laat neerskryf sodat ons mag glo. Selfs in die klasse waar die kinders reeds glo, moet die verhaal gebruik word om hulle tot geloof te lei, uit te brei en te versterk. Om dit goed te doen is drie vereistes baie belangrik:

Eerstens moet ons die hele Bybel sien as God se Woord. Sy openbaring van Homself aan sy kinders. Dit beteken dat ons in die verhaal van Josef nie moet fokus op Josef as die hoofkarakter in die verhaal nie. Die fokus behoort te lê op God se openbaring tot en behoud van sy volk. So ʼn beklemtoning leer die kinders om God te vrees eerder as om op Josef te fokus as ʼn morele voorbeeld.

Tweedens openbaar God Homself as die Middelaar. Wanneer ons nie bogenoemde in gedagte hou nie, sal ons maar moeilik die geskiedenis van God se Woord kan verduidelik. Die verhaal van die verskillende individue in die Bybel moet daarom in die ware konteks geplaas word. Hulle verhale word vertel in God se Woord. Die Woord waarin Hy Christus openbaar.

Derdens is dit belangrik dat die klem in ons onderwys nie moet val op God se redding van hierdie of daardie individu nie, maar eerder op God se verhouding met sy volk as geheel. Die hoofdoel van die verhaal van Josef is nie wat God vir Josef beteken het nie, maar wat Hy beteken het vir sy volk deur Josef. ʼn Volk wat pas begin het in die tente van Jakob.

Dit beteken egter nie dat ons verhale lesings in teologie moet wees nie. Soos ons die verhaal vertel, moet dit begin lewe. Dit moet die kinders intrek en hulle betrokke maak. Nie betrokke in die avonture van individue nie, maar in die historiese ontvouing van God se openbaring oor Homself en die mens se reaksie daarop. Ons moet die kinders vertel van God se groot dade.

Met die afgelope onderwyskongres het ons weer bewus geword van ons groot taak teenoor sy verbondskinders. Ons is dankbaar teenoor ons Verbondsgod vir sy dienaars wat Hy gestuur het om ons in dié vaardigheid op te lei. Ons is ook dankbaar vir die finansiële middele wat Hy deur middel van borgskappe aan ons beskikbaar gestel het en wat ons ruim uit plaaslike en internasionale broeders en susters se hande mag ontvang.

Mag hierdie vaardigheid ons help om sy lammers beter te laat wei. Soli Deo Gloria!