Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Ouderling as Evangelis

Daar is al gesê dat Calvyn die pous skaakmat gesit het met die (her)ontdekking en funksionering van die ouderling-amp. Dit was ook een van die redes vir die ruggraat wat die gereformeerde kerk ontwikkel het - sterk ouderlinge. Die ouderling beloof by sy ampsaanvaarding om nougeset oor onder meer die leer in die kerk te waak. Die vraag ontstaan egter of die huidige bediening van die ouderling-amp in gereformeerde kerke nie te veel oorleun na net instandhouding van die bestaande kerk nie. Hoeveel klem lê die gemiddelde gereformeerde ouderling op die uitbreiding van die evangelie en die getalle-uitbreiding van die plaaslike kerk?

Wat van die Heiden?🔗

In die bevestigingsformulier vir ouderlinge lees ons by punt 4: "U moet ook die afvalliges en heidene tot bekering en geloof in Jesus Christus roep, want so vergader Christus sy kerk". By die afvalliges kom die meeste ouderlinge, al is dit deur 'n kommissie saam met die predikant, nog uit. Maar dit lyk nie aldag of die heidene tot geloof in Christus geroep word nie. In elk geval nie as integrale deel van die ouderling se ampswerk nie.

Hoeveel kerkrade is daar wat tydens kerkraadsvergaderings die ouderlinge laat verslag doen oor hulle planmatige, sistemiese aanpak van evangelisasie onder die heidene? Ons laat hier die moeilike en soms onnodige onderskeid tussen sending en evangelisasie buite bespreking en aanvaar net eers dat iemand in die kerk die werk van 'n evangelis moet doen.

Aparte Gawe🔗

Paulus bemoedig sy jong leerling Timoteus: "doen die werk van 'n evangelis"1. In Efesiërs kom die gawe van evangelis-wees voor in onderskeiding van ander gawes soos apostels, profete en herder en leraars2.

Die vraag ontstaan nou: Maak gereformeerde kerke genoeg van die aparte gawe van evangelis-wees? Indien 'n konsulent die vraag aan 'n kerkraad sou stel of dié kerkraad en gemeente wel verantwoordelik is vir evangelisasie, sou min, indien enige, lidmate beweer dat evangelisasie nie die kerk se werk is nie. Vra jy egter of die lidmate met 'n evangelisasie-gawe in die gemeente herken word en hoe hulle gawes aangewend moet word, is die antwoorde nie so duidelik nie. Die vraag word dalk nie eers verstaan nie.

Die punt is eenvoudig dit: almal erken dat evangelisasie gedoen moet word. Daar sal selfs 'n kommissie daarvoor wees, moontlik kursusse aangebied en bygewoon word - sonder om te vra of almal in die gemeente werklik die evangelis-gawe het of moet hê.

Natuurlik moet elke lidmaat as profeet en priester-koning van sy Here getuig, maar dit beteken nie dat almal die gawe van evangelis het, wat spesifiek tot die heiden die goeie boodskap bring nie. Die woord "evangelis" dra onder meer die konnotasie van iemand wat die evangelie van Christus vir die eerste keer vir iemand aankondig3.

Dalk word in party plaaslike kerke nie aan die evangelis-gawe sy onderskeie, afgebakende plek en funksionering gegee nie. Dit lei daartoe dat:

  • die evangelis-gawe half verdoeseld by die leer-ouderling-amp ingevoeg word,

  • of dat die dominee op 'n tref en trap manier 'n heiden tussen al sy ander verpligtinge evangeliseer,

  • of dat die evangelis-werk by die regeer-ouderling se bevestigingsformulier ingeskryf staan, maar dooie letters bly, aangesien die regeer-ouderling óf nie die gawe van evangelisasie het nie óf onwillig is om dit te gebruik, óf onkundig is oor die aanwending van die gawe.

Getallegroei Bly Uit🔗

Bogenoemde is moontlik slegs die oortjies van die seekoei oor waarom die gereformeerde kerke - al is dit nou bietjie te veralgemeend gestel - nie juis uitblink in getallegroei nie. Kerke is deurgaans meer ingestel om die gehalte van die geloof van die lidmate wat reeds glo, te verdiep. Tog kan geloofsgroei en getallegroei nie teen mekaar afgespeel word nie. Die leer- en regeer-ouderlinge doen onskatbare waardevolle werk in die gereformeerde kerke om die geloofskwaliteit te verbeter. Maar dit is maar net een kant van die munt. Die kole in die vuur moet nie net warm geblaas word nie. Daar moet nuwe kole aangesteek word. Dit gebeur tans nie genoeg by ons nie - nie op 'n georganiseerde planmatige wyse nie.

Selfondersoek🔗

Dit lyk profytlik om die volgende vrae te stel:

  • As die gawe van evangelis-wees4'n aparte, onderskeie gawe is, hoe moet die aanwending daarvan in die plaaslike gemeente lyk.

  • Is dit so dat elke regeer-ouderling noodwendig die evangelis-gawe as voorvereiste moet hê om as ouderling te dien? As dit so is, waarom word ouderlinge dan bevestig wat nog nie bewys van aanwending van daardie gawe gelewer het nie? Of waarom word die ouderling dan toegelaat om net na instandhouding en nie ook na uitbreiding van die kerk te streef nie?

  • As dit aan die ander kant sou blyk dat elke ouderling nie noodwendig die evangelis-gawe hoef te hê nie, beteken dit logies dat daar in die gemeente dinge in plek gebring sal moet word vir die aanwending van daardie gawe. Sou dit moontlik wees om 'n ouderling aan te stel met die uitsluitlike opdrag om as evangelis op te tree en net met heidene te werk en dan daaroor aan die kerkraad verslag te doen? Dit sou beteken dat die wykstelsel in die kerk aangepas word, en dat die evangelis-gawes onder toesig van die kerkraad 'n vaste funksionering kry.

Slotsom🔗

Oor al hierdie sake kort nog deeglike eksegese. Hoe dit ook al sy, twee sake staan vas:

  • Een: Die gawe van evangelis-wees is net soos enige ander gawe afkomstig van die Heilige Gees van Christus en is 'n geskenk aan die kerk. Jesus Christus vergader onder meer met inskakeling van hierdie gawe sy kerk. As daar gehoorsaam met dié gawe omgegaan word, groei die kerk. As dit onverskillig in onbruik gelaat word, word die vergaderwerk van Christus vertraag en selfs teengestaan.

  • Twee: Dit wil voorkom of die evangelis-gawe nie aangewend word soos dit behoort nie. God beskerm en ver-meer-der sy kerk. By sinodes praat ons hoekom ons ver-min-der. Hoekom handhaaf ons dieselfde grootte? Die "groei"-statistiek in ons kerke noop ons om weer na die evangelis-gawe te gaan soek.

Hiervoor is dringende gebed nodig. Want dit sou growwe ondankbaarheid wees, indien dit blyk dat ons een van die Heilige Gees se gawes onderskat of begrawe het.

Endnotes🔗

  1. ^ 2 Tim 4:5.
  2. ^  Ef 4:11.
  3. ^ Vgl. Louw en Nida. Greek-English Lexicon 1, p.542.
  4. ^ Hand 21:8; Ef. 4:11, 2 Tim 4:5.