Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Panorama vanaf die Kruin

Wanneer mens bo-op 'n bergkruin gaan staan, kan jy ver en wyd en diep sien.

In die Openbaringsgeskiedenis is die begrip: Koninkryk van God ook so 'n bergkruin. Die belydenis dat God seggenskap oor alles en almal het, lig jou op uit die dale van eensaamheid en die vlaktes van verveling na die bergkruin vanwaar die pano­rama van die wêreldgeskiedenis voor die gelowige se verwon­derende oog ontvou.

Dat God regeer, staan so sentraal in die Ou Testament dat aan Sion, die verkondiger van die goeie boodskap gesê word in Jesaja 40:9: "Klim op 'n hoë berg!" En wat is dan die boodskap? " 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde."

En die koningspsalms besing sy roem: "Die HERE is Koning!" (Psalm 97:1).

In die Nuwe Testament staan die Koninkryk van God sentraal in die prediking van Johannes die Doper (Matthéüs 3:2), van Jesus (Lukas 4:43; Handelinge 1:3) en van die apostels (Romeine 8:31-33; 11:33-36).

Seker, daar is ook ander bergspitse in die Skrif, soos die Ver­bondsgedagte. Maar dit staan nie teenoor die begrip van die Koninkryk van God nie en beklemtoon juis veral die een kant van die koninkryk naamlik die voorregte en verpligtinge van die koninkryksburger.

In die begrip: Koninkryk van God kan ons ten minste vier lyne of motiewe ontdek.

Die Heerskappymotief🔗

God as Skepper is ook die Onderhouer, die Regeerder, die Ver­losser, die Voleinder. Daarom is die Bybel meer as 'n verlos­singsboek. Dit wil 'n totale perspektief aan ons gee naamlik dat God tot alle dinge in verhouding staan.

Hy gee sy verordeninge en sy wette aan al sy skepsele en aan die mens gee Hy sy wet van geregtigheid en liefde as grond­norm. Dit is die grondwet van die koninkryk. Alle mense is onderdane van die Koning, maar die gelowiges is burgers wat hier­die heerskappy erken, bely en wil beleef.

Die Strydmotief🔗

God se ryk word deur die Antimag van die Satan oral en altyd aangeveg. Geen oomblik is daar wapenstilstand in hierdie stryd nie. Alle mense en alle menslike verbande is daardeur aangetas. Die vyand beywer hom juis daarvoor dat die mens en sy verbande nie hul bestemming bereik of hul roeping vervul nie. Die woord vir sonde 'hamartein' beteken juis dat iemand nie sy bestemming bereik nie. Daarom loop daar 'n gebroke lyn deur die kerk, deur die Christelike huwelik en gesin. 'n Gebroke lyn, want hoewel God se heerskappy erken en bely word, bly daar die gedurige stryd teen die kwaad.

Die Oorwinningsmotief🔗

Dit hang saam met die eerste koms van Christus, sy stryd en oorwinning aan die kruis en in die graf van Josef.

Maar dit bring mee dat daar verskillende bedelinge van die Koninkryk onderskei kan word.

In Christus het die Koninkryk reeds gekom en tog nie volledig nie.

Ons leef in die tyd tussen die 'reeds' en die 'nog nie'. Met sy tweede koms vind die voleinding van sy oorwinning plaas.

In hierdie 'tussentyd' vertoon die koninkryk 'n gemengde karakter: die koring is nog nie van die kaf geskei nie. Die stryd tussen lig en duisternis woed nog in groot felheid voort.

Die Roepingsmotief🔗

Die implikasies van die verlossing en oorwinning in Christus moet nou deurgetrek word na alle terreine waarop die gelowige beweeg.

Ons mag die Koninkryk nie met die kerk as instituut vereensel­wig nie. Dan neig ons daarna om die dinge wat buite die kerk lê, as 'sekulêr' te sien, so asof God nie ook daaroor seggenskap het nie.

Maar daar is verder die roeping om die wet van die Koninkryk konkreet gestalte te gee in elke verband. Die gehoorsaamheidsgestalte van hierdie wet verskil in die huisgesin, die huwelik, die universiteit, die staat ens.

Die gelowiges wat burgers is van die Koninkryk sal hulle daar­voor beywer dat die koers en rigting en gees die heerskappy van God in daardie verband sal erken en bely.

Dink ons genoeg daaraan as ons in 'n komitee of raad of bestuur sitting neem? Ons is daar nie ter wille van ons eer of onsself nie, maar om 'n bydrae te lewer dat die gees en rigting van die organisasie of instelling geregtigheid en liefde sal betrag.

Ons verdere roeping is egter ook om nie so op te gaan in al ons lewensbedrywighede dat ons perspektief verloor nie. Paulus skryf in 1 Korintiërs 7:29-31 dat die "gedaante van die wêreld verbygaan" en tot dié skema of gedaante hoort ook ons lewe in die verskillende lewensverbande. Daar moet ook 'n innerlike reserwe wees. So kom ons lewe in die verskillende verbande of instellinge onder die lig van die groot Roeping tot die Konin­kryk te staan. En dan word ons lewe wyd geskakeerd in verskil­lende roepinge. Ons beroep, ons huwelik, ons politiek, ons betrokkenheid by sport, by ons gesin, by ons volk — dit word almal geleenthede om ons gehoorsaamheid aan die groot Roeping gestalte te gee.

Gebrek aan besieling en bewoënheid, aan betrokkenheid, pessimisme en depressie — kan dit nie herlei word daarnatoe dat ons nog nie op die bergspits van die Koninkryk van God gaan staan het nie? Wie eenmaal geboei is deur die magtige panorama vanuit hierdie kruin, rol net die moue op en werk so dat elke werk in Sy diens is.