Bron: Kompas, 2004. 3 bladsye.

Paul Kruger as Staatsman

’n Herdenking van Paul Kruger se sterfjaar moet beslis aan die vraag wat sy beginsels vir die staatkunde was en hoe hy dit in die praktyk probeer implementeer het, aandag gee. ’n Tydskrifartikel soos hierdie is egter baie beperk en gevolglik kan slegs enkele aspekte van die onderwerp genoem word. Gelukkig is daar baie literatuur oor hierdie onderwerp, dus die geïnteresseerde leser kan sy nuuskierigheid maklik bevredig. In hierdie artikel word die twee belangrikste beginsels van Kruger uitgelig.

Die Christelike Beginsel🔗

“Die godsdiens is die fondament van die staat” is een van die grondstellings van Kruger. Herhaaldelik het hy daarvan blyk gegee dat met name die geskiedenis van die Voortrekkers en die Boererepublieke onder die sigbare leiding van God plaasgevind het. Hy het daarin ’n sterk ooreenkoms met die geskiedenis van Israel opgemerk. Tot watter praktiese standpunte het hierdie uitgangspunt by Kruger gelei?

Vir hom persoonlik het dit beteken dat die staatspresident hom voorgeneem het om almal op God se mag te wys en sy seëninge wat die volk ondervind, te roem. Vir die verhouding tot die kerk het hy ’n absolute skeiding voorgestaan: geen finansiële ondersteuning van die staat aan die kerk nie, geen predikante as huwelikskommissarisse of skoolinspekteurs nie, maar wel ’n duidelike erkenning van die plig van die staat om die kerk te beskerm en die volle vryheid te garandeer om sy taak te verrig. Die belastingplig van die inwoners mog nie sodanig wees dat dit die werksaamhede van die kerk sou belemmer nie, selfs was die enigste perd van ’n ouderling van kommandering vrygestel, want as jy die kerk verlam, verlam jy die staat.

Die Christelike beginsel het ook direkte gevolge vir die onderwys gehad. Dit was Kruger se oortuiging dat die algemene of laer onderwys in die hande van die kerklike gemeentes onder toesig van die kerkraad moes wees. Die staat sou ook die koste van die kerk/gemeente se skole dra. Uiteraard moes die staat vereistes van kwaliteit en inrigting van die skole vasstel, maar die vereistes mog nie sodanig wees dat dit die skoolstigting deur gemeentes sou belemmer nie. Staatsonderwys was vir hom die eerste stap op die pad om die Bybel uit die skool te weer. Die staat sou egter wel in die opleiding vir staatsamptenare en ander vakrigtings voorsien.

Dit is baie belangwekkend om te sien hoe Kruger sy beginsel ten opsigte van die Sondagsrus uitgewerk het. Self het Kruger die Sondae rustig deurgebring en hy sou graag gesien het dat ander mense dit ook sou doen. Hy het egter dikwels met die Volksraad oor die vraag hoe die Sondagsrus afgedwing moes word, gebots. Hy het op die standpunt gestaan dat niemand die vryheid het om die vryheid van ’n ander te beperk nie. Dit het beteken dat die staat wel reëls moes stel vir die Sondagsrus, maar dat hulle daarin nie verder moes gaan as wat nodig was nie. Kruger het geredeneer dat die sabbatsrus van die Ou Testament vandag as Sondagsrus vir die kerk geld. Dit is bedoel vir die kerk en dat mense die kerk nie moet steur nie. Wat elkeen doen, word aan sy gewete oorgelaat, maar die gelowiges mog nie in hul godsdiens gesteur word nie.

Kruger het verklaar dat as die boer sy graan en diere op Sondae mag versorg, dan mag die mynbaas water uit die myn pomp en die transportryer tot goeie weiding en water trek. Dit het gegaan om dit wat God gegee het te bewaar sodat dit Maandag weer gebruik kon word.

Hy sou persoonlik graag gesien het dat iets aan die trein- en poskoetsdienste op Sondae gedoen kon word, maar dit was prakties onmoontlik en ingrepe sou wanorde tot gevolg gehad het. Waar die verontagsaming van absolute Sondagsrus die vryheid en rus van kerkdienste nie in gedrang gebring het nie, het hy dus ’n baie praktiese, selfs pragmatiese standpunt ingeneem.

Ook in ander opsigte was Kruger baie meer progressief as wat dikwels aanvaar word. Hy het persoonlik nooit drank gebruik nie en het ook op kommando streng teen drankmisbruik opgetree. Maar toe die Volksraad wou besluit dat ’n fabrikant van sterk drank sy fabriek moes sluit, het Kruger daarteen kragtig opgetree. Hy het daarop gewys dat die Volksraad eers toestemming tot die bou van die fabriek gegee het, om die profyt op die investering vir die eienaars nou te verhinder sou nie minder as diefstal wees nie, wat net so goed sonde is as drankmisbruik.

Kruger se nugter standpunt oor sy eie godsdienstige oortuiging kom ook duidelik uit in die feit dat hy uitstekend met ongelowiges soos Leyds, sy regterhand, en bv. Vrymesselaars en Jode oor die weg gekom het en met hulle kon saamwerk. Dit het nie weggeneem dat hy ook teenoor hulle waar dit van pas was ’n getuiende houding ingeneem het.

’n Nuwe ZAR🔗

Gedurende die staatspresidentskap van Kruger het die Zuid-Afrikaansche Republiek van ’n homogene Boererepubliek verander in ’n staat waarin waarskynlik meer Uitlanders as ou inwoners gewoon het. Engels is net so veel gehoor as Hollands, gelowiges met hul tradisies begin oorskadu word deur ’n dreigende meerderheid van mense wat – hoewel hulle hulself dalk nog Christene genoem het – ’n baie vryer en onbybelse lewensvisie en -styl aangehang het.

Kruger moes as staatspresident daarmee rekening hou en dit het die uitleg en nalewing van sy Christelike beginsel wel deeglik beïnvloed en gevorm. Dit is opvallend dat hy hierin nie as ’n verstarde konserwatief opgetree het nie, maar dat hy na die werklike wese van sy eie beginsel bly soek het en tewens ook die burgerlike regte en vryhede van andersdenkendes volledig wou respekteer. Hy het nie sonder meer die mag van sy amp misbruik om sy eie visie aan ander mense op te lê nie, in die besonder nie aan hulle wat uit ’n ander tradisie gestam het nie. Hierdie veranderende samelewing in die ZAR het ook baie invloed gehad op Kruger se tweede staatkundige uitgangspunt.

Die Republikeinse Beginsel🔗

“Die volk is koning van hierdie onafhanklike republiek en het die soewereine mag in sy hande.” Ja, hierdie suiwer volksoewereine uitspraak is van Paul Kruger. En dit was nie net teorie nie, hy het dit volkome na die letter en die gees nageleef.

In sy opvatting was alle mag in die volk – of die publiek soos hy dikwels gesê het – gesetel. Die volk kies verteenwoordigers en regeerders wat sy wil moet uitvoer. Nie die Volksraad is soewerein nie, en nog minder die president of sy uitvoerende gesag, slegs die volk. Wanneer die regering of ’n volksraadlid ’n wet voorgestel het, moes die konsep gepubliseer word en het die volk drie maande geleentheid gekry om deur middel van memories sy wense bekend te maak.

Die volk kon op dieselfde manier self ook wetsvoorstelle indien. Wanneer dit gedoen is, moes dit direk behandel word, want dit was van die volk self afkomstig.

Die volksraadlede moes in so noue kontak met hulle kiesers staan dat hulle na waarheid die stem van die volk kon vertolk. Dit was nie van belang wat die verteenwoordiger in sy eie wysheid gedink het goed en reg is nie. Daar is talle voorbeelde dat Kruger self voorstander van sekere wette was, maar dat hy hom fel daarteen verset het wanneer geblyk het dat die volk dit verwerp het. Dit was bv. die geval toe voorgestel is om ’n soort minister van finansies aan te stel en in ’n ander geval om ’n departement van landbou te stig. Kruger het die sake ondersteun, maar van mening verander toe daar baie besware van die volk ingekom het.

Dit is duidelik dat hierdie opvatting baie stremmend op die ontwikkeling van die land kan werk. Dit was dan ook die plig van die volksraadlede om hulle kiesers te oortuig van die wysheid van die voorstelle. Dat Kruger soveel betekenis aan die mening van die volk geheg het, hang saam met sy oortuiging dat God self deur middel daarvan regeer. So het Kruger dit gestel: “Die egte republikeinse beginsel is dat die volk die koningstem het en hierdie vrye stem is God se stem.” Hoewel daar oppervlakkig gesien in Kruger se staatsopvatting ’n groot stuk Franse rewolusiegees skuil, gee hy self ’n ander begronding vir sy opvattings. Dit neem natuurlik nie weg dat die sterk Patriotiese beweging van die Oos-Kaap se mense in die laat agtiende eeu, duidelik spore nagelaat het. Die gesag van die volk het sover gegaan dat die Volksraad, op gesag van memories van die volk, van die een dag op die ander wette kon verander. Jarelank was daar geen grondwet waarin fundamentele regte en pligte vasgelê was nie en vir ’n konstitusionele hof wat die wette van die land kon kritiseer of selfs onwettig kon verklaar was daar uiteraard heeltemal geen sprake nie. Selfs internasionale afsprake kon op die tog kom staan.

In ’n traktaat met die Vrystaat het die ZAR belowe om geen spoorlyn aan te lê wat die lyn oor Bloemfontein kon benadeel nie. Toe die volk begin vra om ’n spoorlyn na Krugersdorp (met ’n moontlike verbinding na Kimberley), het Kruger gewaarsku dat dit in stryd was met die afspraak met die Vrystaat en dat as die volk sy wens deurvoer, hulle die gevolge daarvan sou moet dra; in plaas daarvan om te stel dat die wens onwettig was. Die volk was self wet en kon dus eintlik nie onwettig wees nie.

Dit is baie interessant om te sien hoe Kruger se formulerings verander soos die bevolking van die ZAR meer gemengd word. In 1880 was daar in feite nog net die ou Trekkers en hulle nasate as inwoners. En hulle kon – ondanks allerlei meningsverskille – as ’n totaliteit gesien en hanteer word. Dit het baie vinnig verander toe die Uitlanders na die ontdekking van goud die land begin binnestroom. Dit het ook onder die volk self tot groot meningsverskil aanleiding gegee: hoe moes die nuwe situasie hanteer word? Kruger begin nou praat dat die Koningstem verteenwoordig word deur die meerderheid van die volk! En later, toe daar as toegewing twee soorte stemreg en twee volksrade ingestel is, praat hy van die meerderheid van die burgers wat volle stemreg het! Sy republikeinse beginsel het dus duidelik slegs betrekking gehad op dié deel van die bevolking wat die ou Trekkers en hulle nasate insluit.

Die Anglo-Boereoorlog🔗

Dieselfde twee bostaande beginsels het ook Kruger se houding ten opsigte van die Anglo-Boereoorlog sterk beïnvloed. Die Britse imperialiste was vasbeslote om – so moontlik onder die skyn van reg – ’n anneksasie van die ZAR te bewerk. Die stemregvraagstuk was die speerpunt van hulle aanspraak. Daar was ’n moontlikheid om burgerskap en stemreg van die ZAR te verwerf. Die pad was egter lank en moeilik. En die Volksraad onder aanvoering van Kruger was baie onwillig om die pad eenvoudiger en vinniger te maak. Vir die Krugerparty was stemreg die uitoefening van die soewereiniteit, wat baie meer is as wat ander lande daaronder verstaan het. Slegs as ’n mens hierdie republikeinse beginsel van Kruger in aanmerking neem, kan verstaan word dat ’n oormatige uitbreiding van die stemreg buite die kring van die ou burgers, die ondergang van die staat sou beteken. Selfs as sou die meerderheid van die nuwe burgers vir Kruger as president stem, dit sou geen verskil gemaak het nie. Die burgerskap het baie meer ingehou as stemreg, dit was die setel van die soewereiniteit en dit was vir Kruger ononderhandelbaar die reg van die ou burgers en hul kinders.

Die gevolg van Kruger se houding was inderdaad dat die oorlog uitgebreek het. Dit wil egter nie sê dat hy dit deur ’n toegeefliker houding kon voorkom het nie. Uiteindelik was dit die doel van Brittanje om inderdaad die soewereiniteit oor die ZAR te verwerf, op watter manier ook al. Maar dan blyk dat die oorlog enorme offers in lewe en goed vra, dat geen hulp van buite – waarop stellig gehoop is – kom nie, dat die volk gevaar loop om inderdaad vernietig te word. Waarom het Kruger hom selfs toe vanuit sy ballingskap teen vredesluiting bly verset? Die antwoord op die vraag hang stellig saam met Kruger se eerste staatsbeginsel. In hierdie Christelike beginsel was vir hom persoonlik ’n baie sterk ooreenkoms tussen die Afrikanervolk en die volk Israel in die Ou Testament. Dit was vir Kruger verraad teen God en ’n miskenning van Sy mag, ’n gebrek aan vertroue en geloof, wanneer die beproewings en die strawwende hand van God tot oorgawe sou lei. Veeleer moes die volk hom buk onder die hand van God en hom bekeer en Hom dien, dan sou Hy stellig weer seën en uitredding gee.

Die verskil tussen wat Kruger op grond van sy beginsels nagestreef en verwag het en dit wat werklik gebeur het, het die laaste lewe van sy eensame ballingskap ongetwyfeld baie swaar gemaak.