Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Paulus die Gemotiveerde Mens

Lees: 2 Kor 5 : 11 - 21
Teks: 2 Kor 5 : 14, 15

Waarom wil u predikant wees? Wat motiveer u om teologie te studeer en om later bedienaars van die Woord te wees? U het moontlik al op hier­die vrae vir uself antwoord gegee. Tog sal dit goed wees, ja, noodsaak­lik wees, om ons antwoorde weer te oorweeg in die helder lig van ons teks en om ons te spieël in die lewe van Paulus, hierdie grootse apostel van die heidene.

Wat Paulus nie motiveer nie🔗

Paulus was inderdaad ’n gemoti­veerde mens. Maar wat was die geheim van sy ongelooflike dryfkrag en aktiwiteit? Hy sê dit hier in ons perikoop, waar hy sy bediening verdedig teen die beswaddering en verdagmaking van die Judaïste. Hulle het Paulus soos sy eie skaduwee gevolg en oral in die jong ge­meentes die praatjies rondgestrooi dat Paulus met sy prediking die populariteit en eer van mense soek: Met ’n beroep op die skrik van die oordeelsdag wat kom, probeer Paulus hierdie mense van sy eerlike bedoelings te oortuig. Voor die lewende en alsiende God staan hy egter met sy eerlike bedoelings in die volle daglig en sy hoop dat die Korinthiërs hom ook so sal sien en erken (v. 11). Ook in Galásië het hierdie Judaïste hom gevolg en dieselfde praatjies rondgestrooi. Dáár moes Paulus ook sy apostel-amp verdedig. Hy doen dit deur ’n vreeslike vloek uit te spreek oor elkeen - al sou dit ’n engel uit die hemel wees - wat ’n ander evange­lie sou verkondig as wat hy gebring het (Gal. 1 : 8, 9). Dan vra hy aan die Galásiërs: “Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ’n dienskneg van Christus wees nie” (Gal 1 :10).

Met die volle inset van sy wese verwerp Paulus hierdie verdagmaking: dit gaan nie om die eer en die guns van mense nie! Daarvan kan God getuig, voor wie se oë hy oop en bloot staan.

Is die verwyt wat die Judaïste in Paulus se skoene skuif nie dalk die werklike rede waarom ons predi­kante wil word nie? Wil ons nie populêr by die mense wees nie, ‘lekker kêrels’ wat op die voornaam genoem word en wat familiêr bewonder en op die hande gedra word nie? Of reik ons motivering nog dieper? Soek ons die sekuriteit van ’n goeie traktement (emeritaats-versorging ingesluit) ’n ruim en gerieflike pastorie, aansien en invloed en, les bes, ’n Mercedes Benz in die motorhuis nie?

Maar ook dán sou ons, in die woor­de van Paulus, “nie diensknegte van Christus wees nie”        (Gal 1:10). Want hierdie begaafde man en ywerige Fariseër sou dit ver kon bring onder sy volksgenote. Hy sou ’n posisie van sekuriteit, mag en invloed in die Jodedom kon bereik. Maar hy gee dit alles prys vir ’n lewe van opoffering en ontbering. Hy gee alles prys ter wille van die één geweldige saak wat hom dring. Te midde van ’n lewe van ontbe­ringe gee hy nie moed op nie (4:1). Later in hierdie brief gee hy ons ’n kykie in sy swaarkry: slae, steniging, skipbreuk, honger, slape­lose nagte, gevare en sy bekommer­nis vir die gemeentes (11 : 23 e.v.).

Wat hom vroeër gemotiveer het🔗

Paulus was van jongs af ’n gemoti­veerde mens. In. Fil 3 vertel hy van die dinge wat hom vroeër ’n yweraar gemaak het: sy volk en veral sy farisese godsdiens. Dit was tog juis hý wat moord geblaas het teen die Christene (Hand 9:1). Maar op die pad na Damaskus, waar hy die Christene sou uitruik en geboeid na Jerusalem bring, het Iemand in sy lewe gekom en alles anders gemaak. Jesus Christus het in sy lewe gekom en toe het al die dinge wat hom vroeër gemotiveer het, verbleek. Dis ‘voorlaaste dinge’ wat hulle houvas op hom verloor het. Erger nog: dis drek wat hy prysgegee het om Christus as wins te verkry (Fil. 3:8). Dit geld óók sy farisese godsdiens! Ook dit, sien hy nou, was maar ’n manier waarop hy homself gesoek het.

Dis so gevaarlik om die godsdiens te gebruik om jou selfliefde uit te leef, want dit word gewoonlik so bedektelik gedoen dat omstanders nie agter jou konsensieuse bedieningswerk die verkeerde motief kan raaksien nie. Tog is dit ʼn groot gevaar wat ons almal bedreig want die sonde het juis van ons mense gemaak wat net hulleself lief het. Dis die grondslag van ons sondige lewe.

Só was Paulus ook – vóór sy bekering.

Wat hom nou motiveer🔗

Maar die liefde van Christus het in sy lewe gekom. Wat beteken hierdie genetief ‘van Christus’? Is dit die liefde wat Paulus vir Christus het? Ag, dan sou daar nie veel dryfkrag en uithouvermoë van hom uitgegaan het nie. Ook nie van ons nie.

Ons bely tog immers met elke Nagmaalsviering dat ons geloof en liefde tekort skiet en dat ons God nie dien met so ‘n ywer as wat ons verskuldig is nie. Nee, dit gaan om die liefde wat Christus vir ons het! Hierdie liefde het Paulus leer verstaan. Soos ‘n weerligstraal trek dit hom: Christus het my, die misgeboorte, die vervolger van sy gemeente, die grootste van sondaars lief! Oor hierdie liefde wat Christus laat neerdaal het tot in die vloekdood van die kruis, kan hy nie uitgepraat raak nie (Rom. 5). Dis ook die liefde waarmee die Vader, wat sy Seun vir ons oorgegee het, ons liefhet – ‘n liefde waarvan geen mag in hemel of op aarde ons sal kan skei nie (Rom. 8:33 e.v.).

Hierdie liefde van Christus vir ons het veral aan die kruis geskitter. Toe Hy daar as die ‘Een vir almal’ gesterf het, was ons ook daar, inbegrepe in sy liefde, inbegrepe in Hom as die tweede Adam. Toe het ons ook gesterwe, d.w.s. vry geraak van onsself, lósgekom van ons selfliefde. Ons liefde word deur die kruis weggebuig van onsself na Hóm wat ons eerste so uitnemend liefgehad en vir ons gesterf het én opgestaan het. So word ons van onsself bevry om die opgestane Christus te dien.

Die liefde van Christus het beslag op Paulus gelê, die drang – nie dwáng nie maar dráng – van sy lewe geword: om vir Christus diensbaar te wees. Dit was die geheim van Paulus se aktiwiteit. Is dit ook u motivering om predikant te word?