Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Persoon en Amp

Knelpunte in die Ampsbediening🔗

Dit voel party keer vir hulle wat in die kerk tot 'n amp geroep is of die ampsbediening te swaar is. Met entoesiasme het die dominee sy werk begin en watter teleurstellings moes hy nie al dadelik uit die staanspoor ondervind nie. Die ouderling het hom werklik geroepe gevoel om in die gemeente met toewyding sy ampswerk te verrig en nou voel dit of die werk vir hom te swaar is. Daar is ook diakens wat so gefrustreer is, dat hulle nie weet of hulle met daardie werk moet voortgaan nie. En dan is daar ook professore wat party dae voel: is dit wel sinvol om soos 'n sprinkaan met een afpoot myself voort te sleep tot die dag van my aftrede?

Die Amp Absorbeer die Persoon🔗

Daar is ampsdraers wat werklik die amp as 'n las belewe. Hulle bly aan, want hulle voel hulle geroepe, maar dit is regtig swaar. Wat kan die oorsaak wees? Prof. W. Van’t Spijker het in 'n rede oor die ampte in die kerk twee probleemgebiede geïdentifiseer. Dit kan wees dat die amp die persoon absorbeer. Die persoon word van sy innerlike vryheid beroof. Eintlik word die amp 'n las wat soms te swaar is om te dra. Ons kry hierdie verskynsel veral daar waar op eie persoonlikheid en op eie insigte en vermoëns vertrou word, waar in eie krag die werk gedoen word. Persoonlikheidsvorming word dan vir die uitoefening van die amp as die allerbelangrikste beskou. Waar dit misluk raak die persoon beknel. Aftrede of emeritaat word dan as 'n bevryding beskou.

Die Persoon Absorbeer die Amp🔗

Die omgekeerde kan volgens Prof. Van't Spijker ook gebeur. Veral by sterk persoonlikhede. Die amp word gesien as 'n geleentheid om jou status te verhoog. Die persoon gebruik sy amp om in kerk en/of samelewing vooruit te kom en aansien te verwerf. Dan is die amp 'n hefboom om jouself op te beur. Maar op hierdie wyse kom die amp in die verdrukking, omdat die persoon die amp gaan oorheers. Die persoon van die ampsdraer wat jou aanspreek, oefen meer krag uit as die Woord waarmee die persoon tot jou behoort te kom.

Die Gereformeerde Ampsbeskouing🔗

In die gereformeerde teologie is die amp in die kerk op vierderlei manier omskryf: eerstens is die amp daar om te dien, dit is 'n ministerium. In die tweede plek word die amp beskou as 'n plig, dit is 'n officium. Derdens neem elkeen wat 'n amp aanvaar 'n las op sy skouer, dit is 'n munus. En in die vierde plek het elke amp 'n bepaalde plek in die gemeente, 'n functio. Dit maak die amp baie gewigtig. Hoë vereistes word aan elke ampsdraer gestel.

Charisma en Amp🔗

Waar lê die troos vir hulle by wie die amp die persoon absorbeer en vir hulle by wie die persoon die amp absorbeer? Beide kan nie met vrug arbei nie en hulle sal een of ander tyd gefrustreerd raak. Die oplossing is te vinde in die Bybelse siening op die verhouding van charisma en amp. In die charisma, die gawe byvoorbeeld om te leer, om te dien, wat die Heilige Gees aan die ampsdraer gee en op grond waarvan hy deur Christus deur middel van die gemeente gekies is, lê die waarborg dat sy amp nie deur sy persoon of sy persoon nie deur die amp geabsorbeer word nie.

Die Troos vir Elke Ampsdraer🔗

Dit moet geweldig bemoedigend en troosvol vir elke ampsdraer wees dat hy deur Christus aangestel is, deur middel van die gemeente geroep is en met een van die gawes van die Gees toegerus is. By die bevestiging van die amp van bedienaar van die Woord word so duidelik uitgespel dat elke ampsdraer afhanklik is van die verligting van die Heilige Gees en die versterking deur God se hand. Vir elke ampsdraer is dit daarom van die allergrootste belang dat hy vashou aan dit waarmee die Heilige Gees hom toegerus het. Hy mag nie en behoef nie in eie krag en met behulp van sy eie persoonlike kwaliteite sy ampswerk te verrig nie. Die gesag van die amp lê nie in die persoon van die ampsdraer nie, maar dit is die gesag van die Woord waarmee hy moet kom. Uiteindelik gaan dit nie om die persoon nie. Dit is baie belangrik om daarop te let dat Paulus nie vir die gemeente te Korinte vra wie is Apollos nie, maar hy vra: "Wat is Apollos dan? Wat is Paulus?" (1 Kor. 4:5).