Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Perspektiewe op die Midde-Ooste

Weens die komplekse aard van die probleme in die Midde-Ooste bestaan daar baie “perspektiewe”, of pogings tot verklaring. In hierdie bydrae vestig prof. Pieter Verhoef die aandag net op drie perspektiewe: die historiese, godsdienstige en teologiese benaderings.

Die historiese perspektief vra na die verloop van die geskiedenis van die twee belangrikste rolspelers in hierdie drama: Israel en die Palestyne.

Die geskiedenis van Israel soos veral in die Ou Testament weergegee, is bekend. Dit strek van die roeping van en verbond met Abraham af tot 70 nC, toe die Romeine die stad en tempel verwoes het. In hierdie hele tyd was Kanaän die belofteland van Israel. Sedert daardie tyd was Israel behoorlik in die verstrooïng, is hy stelselmatig en met geweld uit sy land geboender, en het die tragiese anti-Semitisme hulle nog verder uitmekaar laat spat. Dit was eers in die tweede helfte van die 20ste eeu en veral na die twee wêreldoorloë dat die stroompies van teruggekeerde “Jode” na Jerusalem en “hulle” land al dikker begin vloei het. In die jaar 1948 het hulle verbondenheid met die land sy staatsregtelike beslag gekry. Israel is weer met sy land verenig.

Voor ons tot ’n finale gevolgtrekking kom, moet eers gelet word op die geskiedenis van die Palestyne. Van die dae van die optrede van Mohammed af, aan die einde van die sesde eeu nC, het die noordelike en suidelike groepe Arabiere verenig, en het hulle oor die destyds bekende wêreld versprei. ’n Groot aantal van hulle het in Palestina gaan woon, en vir ongeveer 13 eeue die land as “Palestyne” beset. Een van die drie “heiligste” moskees is in Jerusalem opgerig. Vir die Palestyne was dit dus chaos en ’n ramp toe die Erets Israel in 1948 tot stand gekom het. Die Palestyne is verstrooi en het in ’n aantal oorloë heftig weerstand gebied.

Wat is die konklusie op grond van die “historiese” perspektief? Niks anders nie as dat albei partye, Israel en die Palestyne, staatsregtelik ’n wettige aanspraak op die besit van die land het. Ons hou met opset die “teologiese” perspektief vir laaste.

In ons beoordeling van alles wat in die Midde-Ooste aangaan, vergeet ons maklik dat daar ook ’n godsdienstige perspektief aanwesig is. In ’n lesenswaardige boek van Brother Andrew en  Al Janssen, Light Force, The only hope for the Middle East (2003), beskryf hulle die godsdienstige aktiwiteite van groepe Christene in albei gebiede, en veral die wyse waarop Palestynse en Israeli-Christene mekaar se hande vat. Een van die kommentators van die boek skryf: “It is imperative that Christians in the West seek understanding of the crisis in the Middle East. This amazing book explains and illustrates like no other the conflict - political and spiritual - and it’s devastating effect on human lives.”

In verskillende uitgawes van die Jerusalem Post, Christian Edition, word die aandag verder gevestig op wat Christendenominasies en uitreikgroepe veral in en om Jerusalem doen om die evangelie te versprei. Dit is nie maklik nie; die amptelike houding van die Israeli-regering is nie gunstig vir die optrede van Christene nie. Veral die afgelope paar maande is in wetgewing die besoek van Christene aan die land en stad drasties ingekort.

Ons gevolgtrekking ten opsigte van hierdie perspektief is dat ons met dankbaarheid kennis neem van wat daar op die gebied van die verspreiding van die evangelie en die geloofsversterking van mede-Christene gedoen word, en dat ons opgeroep word om die aktiwiteite te ondersteun met ons gebede en gawes.

Die eintlike en vir ons die belangrikste perspektief is die teologiese. Volgens een van my oudstudente. Francois Wessels, in Die Kerkbode van November 2001, het Israel nie net ’n historiese betekenis nie, maar veral ook ’n teologiese betekenis. “Israel is nog steeds God se uitverkore volk. God se verbondsbelofte geld vandag nog, Romeine 11:26 mag nie geestelik nie, maar moet letterlik verstaan word: die hele Israel word gered.” Alhoewel Francois nie as ’n chilias beskou kan word nie, is dit tog die tipiese standpunt van alle chiliaste, of pre-millennialiste, wêreldwyd.

Die genoemde blad vertel van duisende Christene veral uit die VSA, maar ook oor die wêreld heen, wat hulle mee­gevoel met en ondersteuning van Israel betuig. By ons het die tydskrif van die Christelike Sioniste dit onomwonde gestel dat Israel vandag nog die Bybelse reg op die hele Palestina het, met insluiting van Jerusalem.

In my boekie Wat van die Jode? (1945) gee ek ’n uitvoerige historiese oorsig van hierdie standpunt in die algemeen én by ons in Suid-Afrika, ook van ons Skrifbeskouing en metode van Skrifuitleg om dan te handel oor die toekoms van Israel volgens die Skrif.

Afgesien van my eie dierbare ouers wat albei oortuigde chiliaste was, en hulle seun ook in die leer onderrig het, was (en is) daar belangrike teoloë wat hierdie opvatting toegedaan was. Om net ’n paar te noem: ds. C.W.A. van der Lingen wat in sy boek Noordsche Volken, dit wil se volke uit die noorde, ’n kragtige pleit vir die chiliastiese voorstelling van die eindgebeure voer, en - om nie meer te noem nie - die standpunt en publikasies van die bekende ds. S.J. du Toit. In sy deeglike werk, die Onvervulde Profetiën, verklaar hy die Ou Testament as “Boek van die Koninkryk”, die basis, terwyl die Nuwe Testament as “Boek van die Kerk”, die parenthesis of “tussenskakel” vorm. In die gang van die Goddelike openbaring vorm die Ou Testament met die Jode as middelpunt die hooflyn in die openbaringsgeskiedenis, terwyl die bedeling van die kerk verbygaande is.

Ook wat die ander aspekte van die Jode se luisterryke nasionale toekoms betref, bied ds. Du Toit ’n uitvoerige uiteensetting in die gedagtegang van Europese grootmeesters, soos Bengel, Seiss, Auberlein, Guers en andere, na wie se werke hy deurgaans verwys. Ook in sy ander geskrifte, soos sy studie oor Openbaring, sy blad De Getuige, en sy preekbundel De Huiskerk, verteenwoordig hy die chiliastiese standpunt, ook wat die toekoms van die Jode (Israel) betref.

’n Interessante gesigspunt is die besondere voorliefde wat die Afrikanervolk deurgaans vir die          Ou Testament gehad het. So skryf iemand in Die Kerkbode van 1860 (bl. 356 v): “Er zijn menschen die het Oude Testament gering achten. Maar de Afrikaansche Boeren doen dit geenzins. Integendeel zij hebben somwijlen als het ware eene voorliefde voor het Oude Testament. En geen wonder, er is zooveel in het Afrikaansche leven - ik had bijkans gezegd in het Afrikaansche karakter - dat met den toestand van het Israëlitische volk overeenkomt.”

Daar is nog ander faktore in die jongste geskiedenis wat tot die bevordering van die chiliastiese opvattings bygedra het, soos die opvallende vestiging van ’n eie staat vir Israel, gesien as die vervulling van profesieë, die kragtige invloed wat deur bekende Joodse Christene, soos die twee Cachets, die Joods-Christelike sendelinge soos Reitmann, Philip Cohen, Kohl, Salzberg en ander, in ons kerklewe uitgeoefen het, en - om nie meer te noem nie - die vormende invloed van inheemse en uitheemse geskrifte, soos S.J. du Toit se De Getuige. F. Lion-Cachet se Zuid-Afrikaansche stem over Israel en voor Israel, Cohen se Messias-bode, en Johannes de Heer se Het Zoeklicht.                   ’n Belangrike faktor is die invloed wat die Duitse Piëtisme, die Nederlandse Reveil en die Engels-Amerikaanse Metodisme in Suid-Afrika uitgeoefen het om die chiliastiese opvattings te versprei.

Jammer, my dierbare ouers, dat u seun nie meer oor die chiliastiese voorstellings opgewonde kan raak nie. Die beskouing dat die Ou Testament die Boek van die Koninkryk en die Nuwe Testament die Boek van die Kerk is, en boon-op dat eersgenoemde die basis en laasgenoemde die tussenskakel is, kan openbaringshistories nie gehandhaaf word nie. Al die openbaringshistoriese lyne in die Ou Testament, soos die leer in verband met God, die verkiesing van en verbond met Israel, die Messiasverwagting, die wetgewing as koninkryksadministrasie, die tempel- en offerdiens, die toekomsverwagting - om nie meer te noem nie - loop pylreguit na hulle volle verwesenliking oor die BRUG van Christus se soenoffer aan die kruis, sy opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Baie van die dinge wat in die Ou Testament beskryf is, is alles maar net die skaduwee van wat sou kom: die werklikheid is Christus (Kol 2:16-17).

Die “werklikheid van Christus” is openbaringshistories nie ’n tussenskakel in die ketting van God se bemoeienis met Israel, die kerk en die wêreld nie, maar die kern, die hart daarvan. God se verbond met Abraham bevat drie elemente: die genade-aspek van ’n versoende gemeenskap, die beloftes van talryke nakomelinge, en ’n eie land. Eersgenoemde geld vir alle tye, tot by Christus se wederkoms; laasgenoemde twee was spesifiek van toepassing op die partikularistiese bedeling van die Ou Testament. Met Christus se koms het die kategorieë van “volk” en “land” wat Israel vroeër soos ’n muur van die ander nasies geskei het (Ef 2:14). verval, en het dit universalisties verbreed om die hele mensheid en die hele wêreld te omvat (vgl. Hand 1:8; 2:1-11).

Wat is die boodskap van die “teologiese” perspektief op die huidige probleme in die Midde-Ooste?🔗

Eerstens mág dit die gevoel van Israel teenoor die Christene versag, alhoewel die vrugte daarvan nie baie duidelik is nie. Die negatiewe uitwerking is egter baie groter. Deurdat die chiliastiese Christene simpatiek teenoor die Jode is, vervreem hulle die Christene onder die Palestyne; maar erger nog, die aandrang van die chiliastiese Christene dat Israel vandag nog die Bybelse reg op die hele Palestina het, met insluiting van Jerusalem, kan ’n stok in die wiel van die onderhandelings tussen Israel en die Palestyne steek. Albei groepe moet juis hulle godsdienstige fanatisme los, en soos gewone volwasse nasies met mekaar onderhandel. Suid-Afrika, en dit sluit staat en kerk in, moet in hierdie onderhandelings nie kant kies nie.