Bron: Kerk en Woord, 2003. 2 bladsye.

Pompeji

U raak die berge aan en hulle rook.

Psalm 104:32

Dit was Vrydag, 13 Junie 2003. Ek staan in die straat Via dell'Abbondanza van die ou Romeinse stad Pompeji. Rondom my kyk ek vas teen die aaklige silhoeëtte van murasies, want in 79 n.C. is hierdie stad van 20 000 inwoners in een uur deur 'n uitbarsting van die vulkaan Vesuvius totaal verwoes.

Dit het op 24 Augustus 79 gebeur. Dit laat 'n mens aan die atoombom van Hiros­jima in Japan in 1945 dink. Die top van die berg is feitlik "weggeskiet" en die gloeiende as het op Pompeji, sowat 2km van die berg of neergereën en die stad onder 'n dik laag 6 meter diep begrawe. Die temperatuur van die gloeiende as was 400 grade Celsius.

Ek kyk noordwaarts en ek sien die berg waarvan die top weggeblaas is. Ek kyk na die rook wat vandag nog uit die krater opstyg. Skielik kom 'n teks in Psalm 104 in my gedagtes. Op daardie oomblik kon ek nie die presiese vers onthou nie, maar die aand op ons skip in die hawe van Napels het ek dit gekry; vers 32:

Hy (die Here) raak die berge aan en hulle rook.

O, wat 'n aangrypende daad van God as Hy midde in die lewe van mense met sy oordeel kom! 'n Sondaarmens staan stom. As ons dan iets moet sê, word daar binnensmonds geprewel: "O, Here, wat is u Woord tog ewig waar!"

Ek staan steeds in die straat Via dell'Abbondanza en my oë gly oor die ruïnes. Vir eeue lank het die argeoloë die ou stad Pompeji weer blootgelê. Uit die lawa-as is die kolossale pilare van die eertydse imposante tempels van die afgode Apollo, Venus, Isis en vir keiser Augustus weer oop – maar met die "reuk" van die dood. Hierdie gode is letterlik dood! God se gloeiende toorn het op hulle gereën.

Ook oor 25 bordele het die as van wraak geval en in 'n oomblik het die lewe tot stilstand gekom. Die bakker was nog besig om sy brode te bak; die "Take away"-koswinkel waarvan die murasie en sy toonbanke vandag nog kan gesien word, is midde in hulle transaksies oorval; die modehuise vir die dames het meteens 'n gloeiende inferno geword. Met sy vinger het God die berg Vesuvius aangeraak.

Was daar ooit Christene in die ou stad Pompeji? Ja, daar word selfs 'n huis aan­gedui waar Christene geleef het. Byna 20 jaar vantevore het Paulus op sy vierde sen­dingreis daar naby by Putuoli aangekom "waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly" (Handelinge 28:14). Putuoli (vandag Pozzu­oli) was die hawe waar Pompeji sy koring ingevoer het. Waarskynlik het die skip Castor en Pollux waarmee Paulus van Melite (Malta) gekom het, koring van Alexandrië na Italië vervoer.

Van Castor en Pollux gepraat. Dit is die name van die hoofgod Zeus (Latyn: Jupiter) se twee seuns. In Pompeji was daar ook 'n tempel vir hulle. Wie weet, die skip Castor en Pollux was miskien die eiendom van 'n koringhandelaar van Pompeji. Maar hoe wonderlik, met die koms van Paulus na Putuoli, het die Evangelie geseëvier.

Daar is nog 'n ander merkwaardige ding in die heidense stad Pompeji: Teen een van die mure in 'n straat is die name "Sodoma Gomora" voor 79 n.C. uitgekerf (graffiti van destyds). Was dit 'n Jood (daar was baie Jode) of 'n Christen wat teen die verskriklike onsedelikheid (25 bordele!) en buitensporige afgodediens gereageer het? Ons weet nie, maar die boodskap is duidelik: God gryp in! Soveel te meer in 'n "Christelike" stad as in 'n heidense stad. Ons dink aan die woord van Jesus:

En jy, Kapernaum, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestort word, want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe.Matteus 11:23

En ook Pompeji, soos Sodom, het nie bly staan nie. En ons stad waar daar steeds "krag­tige dade" van Christus plaasvind – die preke? Verstaan ons nog iets van God se oordeel oor die sondige wêreld?