Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Potensiele Berowing van God

beroof

Die woord vermoë of potensiaal, potestas, was in die Romeinse wêreld bekend. Dit het vir hulle die volgende drie betekenisse ingehou:

  • vermoë, krag en werking;

  • bevoegdheid – in die sin van heer en meester wees, of om in iemand anders se mag te kom;

  • ’n geleentheid kry of gee, met ’n keuse of toestemming.

Hierdie woordstudie kom uit ’n kultuur en ou taal wat sy wortels geheel en al in die heidendom het. Daarom kan ’n mens nie te veel leerwaarde daaraan heg nie. Tog is die Romeine nooit klaar met ons nie, aangesien soveel van ons woorde en hulle betekenisse nog steeds op daardie heidense stam groei. Gaan ons gebruik van die woord ‘potensiaal’ nie gebuk onder hierdie ou invloed nie?

‘Vertel vir die kind van sy talente.’ ‘Lees vir hom die gelykenis daaroor.’ ‘Gee hom ’n prys vir sy talente.’ ‘Jy moet jou volle potensiaal ontwikkel.’ Dit is alles gonswoorde, gewortel in die ou Grieks-Romeinse stam. Die New-Age vruggie daarvan is om meester van jou eie potensiaal te wees – ’n potensiaal wat deur verskillende tegnieke na vore gebring moet word. Die New-Ager is sy eie god. ‘Gee aan God die eer vir jou talente.’ Dit klink aanvanklik vroom om te sê en te doen. By so ’n prysuitdeling lees die dominee ’n gepaste deel oor God as die Gewer van die gawes en die ouers word prysenswaardig. Het ons hiermee egter nie maar net ’n heidense gedagte afgewit nie? Kortliks gestel: Het ons in ons denke al met die heidense idee van potestas, as die vermoë om jou eie meester te wees, gebreek? Het ons genoeg gesê deur formeel en in ons hart te verklaar dat God die Gewer van die gawes is, of verbloem ons daardeur net die eiesinnige en verkeerde aanwending van die gawes? Selfs al hou ons geen uitdeling van pryse nie, beteken dit geensins dat God as Gewer erken word soos Hy erken wil word nie.

Wanneer God net as die Gewer erken word sonder om die heidense wortel af te sny, rig ons ons eie onderwys-goue-kalf op. Vir Israel is gesê: ‘Hier o Israel is die gode wat jou uit Egipte gelei het.’ Uit Egipte verlos tot afgodery!

Ouers en onderwysers moet hulle volle potensiaal bereik. As ouer behels dit die vyfde gebod en die verbond. As onderwyser sluit dit ook die gemeenskap van die heiliges en gawes in. Die doopbelofte, deur die ouer in die erediens afgelê, bind die onderwyser as getuie om met die kind van die ouer te werk asof dit sy eie kind is, asof dit sy eie belofte is wat hy of sy afgelê het. Hoe bereik ’n ouer en ’n onderwyser hulle volle potensiaal in ’n omgewing waar die post-moderne mens die vergoddeliking van die mens formeel en subtiel wil bewerk?

God die Gewer van die Gawes🔗

God gee die vermoë, die potestas, die potensiaal om te kan. Op die sogenaamde aangebore en later gegewe gawes word nou nie verder ingegaan nie. In beginsel lê beide in die hand van God. God gee wat Hy wil, aan wie Hy wil, solank as wat Hy wil. God diskrimineer – om daardie belade woord te gebruik. Hy gee en Hy neem. Met die erkenning dat God sekere gawes aan die ouer en die onderwyser gegee het, is nog nie alles gesê nie. Geloofsbelydenis oor die geskenke, oor vermoë om iets te kan doen, moet met die daad in effektiewe uitvoering daarvan bewys word. Potensiaal, potestas, is dus nooit iets van binne die mens nie, maar altyd iets uit God se hand. Verder, ontsaglik belangrik, is dit aan die raad, aan die wil en welbehae van God gekoppel.

Die vraag: Hoe bereik ek my potensiaal? is niks anders as die vraag: Wat wil God, deur Jesus Christus, in en deur my volgens die raad van sy wil bereik? Onmiddellik is daar dus sekere teregwysings ten opsigte van ons populêre idee oor potensiaal. Gawes kom altyd met gebruikersaanwysings. Om te kan, is om te moet. Sonder die ampte van Christus, sonder om die potensiaal van Christus te erken, is die gawes ’n kragtige vermoë in die hand van Satan om God se eer te steel – in die kerk en in die skool.

’n Aansienlike verdieping oor gawes vind in die verskillende openbaringsbedelings plaas. In die Ou Testament vind ’n mens slegs die kern hiervan. Die volgende vier aspekte, naamlik gered, geroof, gereed en gereg word hieronder bespreek om ’n handvatsel vir die bereiking van ons potensiaal te bied.

Gered🔗

As gelowiges is ons met ’n sekere doel gered: om heilig en sonder gebrek voor God te staan (Efesiërs 1:4). As enkeling en as geloofsgemeenskap moet ons in die onderwys ons eie uitverkiesing vasmaak. Die gereformeerde skool as idee en gereformeerde kerke se kansel word tans deur ’n verskriklike verskraling van die saligheid bedreig. Alle vrae, ook oor my as ouer en onderwyser se potensiaal om ’n prysuitdeling te hou, word aan die vraag gekoppel: Watter verskil maak dit aan my saligheid? Gaan ek dan nie hemel toe as ek dit of dat doen nie?

prysuitdeling

Hierdie soteriologiese verskraling in die teologie vandag, waar Christus nie meer as ons enigste Verlosser en Saligmaker erken en gedien word nie, is die doodsteek vir die gereformeerde skoolbeweging in Suid-Afrika. Met bogenoemde vrae is ons weer terug by die staatskool. Die privaatskool is dan nie meer ’n verbondskool nie, maar ’n prestige statusskool waar standaard en nie geloofstandaard tel nie. Ons is met ’n doel gered. 

Daar is ’n kuriologiese-pneumatiese doel met die uitverkiesing. In gewone taal: Die Here Jesus word juis as die HERE, ons Verlosser-Koning bely. Hy is die Een wat red en bevele uitreik. Die pneumatologie wys op die werking van die Heilige Gees in die kerk. As ouer en onderwyser moet ons die kind voorberei vir sy dienswerk in die volvoering van God se raadsplan in sy lewe. Die kind moet gebring word om die volgende vraag biddend te antwoord: Ek is gered, ek het gawes ontvang – om wat mee te doen? Wat wil die Here Jesus Christus daarmee doen? Help ’n prysuitdeling die kind om sy eie uitverkiesing beter te verstaan? Die heidene leer ons om pryse te gee vir blink gawes wat dikwels aan ekonomiese vooruitgang gekoppel is.

Geroof🔗

Gawes is duur. Volgens Efesiërs 4:8 het Christus die gawes van sy vyande teruggeroof: ‘Toe Hy opgevaar het in die hoogte het Hy die gevangenes gevange geneem en die gawes aan die mense gegee.’ Jesus Christus, die Verlosser-Koning neem die oorlogskat, die buit, van sy vyande en Hy gee dit aan die kerk. Ons moet nie skrik vir die woord ‘roof’ nie. Die Ou Testamentiese Kerk het Egipte al, in opdrag van God, beroof. Ongelukkig het hulle met die einste goudgawes ’n goue kalf, wat hulle as Jahwe aangesien het, gebou.

As ouers en onderwysers moet ons weet hoe duur ons eie gawes is. Die prys was niks minder nie as ’n lewende Jesus, dood in die hel, om daardie gawes aan die Satan se bose mag en hande te ontruk. Mag ek dan enigiets doen wat daardie gawes ooit weer in die hande of onder die invloed van die Satan se raadsplan stel? Hoe wys ’n prysuitdeling dat al die verbondskinders, alhoewel nie ewe veel nie, maar almal, op grond van die verbond aan hierdie uitdeel van die buit deel het? As onderwyser en as ouer mag ek nooit weer die potensiaal ontwikkel om die gawes wat uit God se hand gegee word in die hand van Satan te plaas nie. Gereformeerde kerke moet hieroor aangespreek word. Hoe kan gereformeerde kerke hulself as gawe aan die wêreld sien, maar op ongereformeerde staatsonderwys, en dit ook as gawe van God, aandring? Het gereformeerde kerke al ooit gedink wat die hemelvaart van Christus potensieel vir die onderwys beteken? Beroof, in die lelike sin van die woord, ons mekaar nie van gawes deur die kosprys van die gawes nie te verreken nie?

Gereed🔗

Is ek gereed om my gawes doelmatig, kuriologies-pneumaties, aan te wend? Begeer ek om, saam met ander wat gered is, die wil van God met my gawes te doen? Paulus skryf oor die begeerlikheid van die vlees as ’n lus om die bose te doen (Efesiërs 2:1-3). Is ons, as ouers en onderwysers, al los van die begeerlikheid van die vlees met betrekking tot ons potensiaal, tot ons vermoë? Begeer ons, deur die Gees, om werklik die wil van God in ons en ons kinders se lewe te volvoer? Het ons ’n geheiligde begeerte om die vermoë te ontwikkel, om die potensiaal te verkry, om God se wil, sy ewige raad, deelnemend te gehoorsaam? Dit is van uiterste belang dat potensiaal – as die woord gebruik moet word – altyd verbind is en moet wees aan die beheersing van die Heilige Gees. Wat begeer ek vir my en my kind se gawes? Is dit ’n geheiligde begeerte of ’n begeerte van die vlees? Is dit ’n hunkering aangevuur deur die Heilige Gees? Is dit ’n brandende begeerte om God, met sy eie gawes wat Hy aan my gegee het, te eer? Dan erken ek nie net dat ek dit by God gekry het nie, maar ook dat Hy die Eienaar daarvan is deurdat my gawes sy ewige raad, sy heilige wil vervul.

skoolkind🔗

Gereg🔗

Ons staan met ons potensiaal, met ons gawes as afgodsoffers, of met ons gebuite gawes as ware Godsdiens, voor die gereg van God. Kinders word dikwels gedreig met die gelykenis van dié wat het en wat nog sal kry; en dié wat nie het nie, dit wat hulle nog het, sal verloor. Gaan God se oordeel nie ook oor ons heen nie as by ’n gereformeerde geslag ouers en onderwysers wat die vermoë het om God te dien, die begeerte ontbreek om in die diep geopenbaarde geheimenisse van sy wil in te dring? Soek ons regtig wat God wil? Ons is besig om met ’n baie klein stroompie die gereformeerde onderwys te probeer bevorder. Daarom moet ons weet dat God se oordeel ook oor daardie werke heen sal gaan. Wat sal staande bly, wat ons sal volg, soos in Openbaring staan, sal nog gesien moet word. As ons net aan God sê: ‘U gee, maar ons neem oor. U gee die gawes, ons erken U daarin, maar ons wend dit nie aan soos wat Christus in sy drie ampte dit in ons verwerk nie’, dan het ook ons ’n geslag geword wat hieroor in die gereg van God nie staande sal bly nie. Dan moet ons ook maar aan die einde sê: ‘Ons het geweet U was ’n baie harde man, hier is wat U aan my gegee het: die potensiaal, dit, en net dit. Ek en my huis het toe nie meegehelp aan die koms van U koninkryk nie, terwyl ek gehoor het U sê die koninkryk is binne-in my.’

Hierdie saak sny diep. Die gereformeerde onderwys kan oor die saak van gawes, en sogenaamde beloning daarvan, die heidense wortel voortplant – dan was al die moeite inderdaad tevergeefs. Dan het ons tevergeefs vroeg en laat opgebly en brood van smarte geëet, want God het die skool dan nie gebou nie. Dan neem God ons op ons mondelikse geloofsbelydenis as Hy sê: ‘As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer?’ (Maleagi 1:6). Mag ons God beroof deur ons kinders se sogenaamde potensiaal los van en dan teen die Gesalfde, Jesus, te ontwikkel? ’n Seun eer sy Vader.

Dit is wat Jesus Christus doen en dit is wat Hy in ons wil doen, ook met ons kinders se gawes.

Het ons die potensiaal ontwikkel om God in die kerk en die skool te beroof, of erken ons Christus se vermoë, sy potensiaal, om van smetlike sondaars gehoorsame gawegebruikers te maak?

Mag ons God beroof?