9 bladsye.

Praktykmaking van Christelik Onderwys

Inleiding🔗

Praktykmaking van Christelike onderwys in opvoeding en onderrig van verbondskinders volgens die Woord van God en ons Belydenisskrifte genoodsaak allereers ’n antwoord op die vraag: wat is Christelike wetenskap? aangesien leerstof wat op skool in die klaskamer onderrig word, word deur die wetenskap gevorm en daaruit afgelei.

Wat is Christelike Wetenskap?🔗

Wetenskap en die kennis, waaruit wetenskap gevorm word, word op skool en universiteit dikwels in die geloof dat wetenskap ‘neutraal’ is, aangebied, d.w.s. God bestaan nie as wetenskap gevorm, beoefen en onderrig word nie. Vir ’n Christen is vorming, beoefening en onderrig van wetenskap ’n deelname aan waarheid. Waarheid vereis in die geval van ’n Christen-wetenskaplike en  -onderwyser, ’n oopheid vir wat die openbaring van God in Sy Woord voorwetenskaplik in die beoefening en onderrig van die wetenskap te sê het. Erkenning dat die werklikheid veel meer omvat as die rasionele (verstandelike) inhoude van die wetenskappe, maak ’n nuwe benadering tot uitbouing van Christelike wetenskap en Christelike onderwys moontlik. Christelike wetenskap en Christelike onderwys het daarom ook ’n dinamiek, wat die ‘neutrale’ wetenskap en onderwys nie het nie.

In Psalm 8 bely die psalmis dat die mens byna goddelik gemaak is, dat alle dinge onder sy voete gestel is en dat hy oor die werke van God mag heers, m.a.w. dat hy daaruit mag haal wat daar ingesit is, ook wetenskaplik, maar alles tot eer van die Skepper.

In Génesis 2:15 kry Adam die opdrag om die tuin van Eeden te bewerk en op te pas (te versorg), en voortvloeiend hieruit verkry alle mense die opdrag om die hele aarde te bewerk en op te pas (Gen. 3:23). ‘Bewerk’ beteken om van die moontlikhede, wat die skepping bied, te verwerklik en te benut, alles tot eer van die Skepper. Dit gebeur deur te werk in gehoorsaamheid aan God. ‘Op te pas’ hou in dat die mens enige kwaad, die sonde, van die aarde moet afweer (weg hou). Daardeur het ons die Godgegewe taak om byvoorbeeld gesondheid, geestelik sowel as fisies by mense, en fisies by dier en plant te bevorder.

Die bevordering van gesondheid by dier en plant moet eerstens gemotiveer word om te sorg vir gesonde plante en diere en tweedens om gesonde plante en diere as voeding vir mens en dier te verseker. Die motief om te oes bestaan naas die Godgegewe taak om te beskerm en te versorg. Oes en nogeens oes lei tot roofbou, terwyl beskerm en versorg ’n gesonde grondslag vir die landbou is. In landbou is die regte etiese motief om te oes, te beskerm en te versorg. In die algemeen is die opdrag aan die mens om aandag te skenk aan die enorme rykdom aan plante en diere in die natuur en die verdere verryking daarvan. Ons moet steeds probeer om dit wat ons in die plante- en dierewêreld deur menslike aktiwiteite en deur natuurrampe verloor het, weer te herstel.

Die mens is na die beeld van God geskape met die opdrag om die skepping van God te versorg (Gen. 2:15) en daaroor te heers (Genesis 1:28). Hierdie opdrag het nie deur die sondeval verval nie, maar die kwaad het deel van die mens en sy beheersing van die natuur geword. Daarom sal volkome vryheid aan die mens uitloop op wanorde en God sal nie Sy doel met Sy skepping kan verwesenlik nie. God het aan die wêreld deur Sy wette ’n ruim mate van onafhanklikheid gegee, en Hy bly alles onderhou en bestuur tot die voleinding volgens Sy Raadsplan. Hy het ook die belofte van ’n ewige lewe gegee (o.a. Joh. 3:15-17), vir dié wat in Hom glo.

Die vorming van Christelike wetenskap is ’n onderdeel van die Bybelse opdrag om die natuur te beheers en te versorg. Vir ons beheersing en versorging van die natuur is ons verantwoording aan Hom verskuldig. Met natuur bedoel ons sowel die lewenslose (stoflike) natuur as plant, dier en mens, daarmee saam dan ook samelewingsverbande en samelewingstrukture by diere en mense, asook saamgroeistrukture by plante.

’n Christelike wetenskaplike sal alles wat hierbo genoem is, deel van sy wapenrusting maak. Die kennis, waarmee ’n Christelike wetenskaplike werk, is gegrond in dieselfde aardse werklikhede as vir die ander wetenskappe, maar die Christelike wetenskaplike verstaan kennis in die lig van God se Openbaring in die Bybel, soos uiteengesit in die Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 2. Die Christelike wetenskaplike sal daarom nie die hedendaagse dualistiese (tweeledige) werklikheidsbeskouing aanvaar nie, waarvolgens God se heerskappy tot die hemel, die siel van die mens en die hiernamaals beperk is, terwyl die res van die werklikheid (die sintuiglik-waarneembare, geestelike vermoëns en die liggaam van die mens) tot die wetenskappe behoort. Die mens word daardeur op ’n meganiese wyse opgebreek sodat geloof en verstandelike kennis (kennis verkry deur denke en waarneming) geskei word. Die lewe bestaan dan uit kompartemente, waarvan geloof een is. Vir die Christelike wetenskaplike is so ’n skeiding onaanvaarbaar.

’n Neerslag van bogenoemde tweeledige werklikheidsbeskouing is positiwisme. Dit is die geloof dat alle kennis van die werklikheid deur slegs dit wat waarneembaar (sigbaar) is volgens die doelstellings en metodes van die wetenskappe geopenbaar word. Die Christelike wetenskaplike sal, daarenteen, die krag en beperkinge van wetenskaplike metodes evalueer in die lig daarvan dat alle wetenskappe van ’n lewens- en wêreldbeskouing, ’n wêreldbeeld, wat buite die empiriese werklikheid lê, uitgaan, ook die natuurwetenskappe. Verder, deur sy sondige aard verhef die mens graag sy wêreldbeeld as ’n reël vir almal en propageer dit in populêre werke. Voorbeelde hiervan is modernisme en evolusionisme. Vandag is dit postmodernisme en selfs na-postmodernisme.

Eise wat aan Christelike Opvoeding Gestel Moet Word🔗

Onderwys en opvoeding kan nie neutraal aangebied word nie. Wat God vir ons in die Bybel sê wie die mens is en wat sy plek en taak in die wêreld is, is van beslissende betekenis vir Christelike opvoeding. Hiervolgens moet ons aanvaar:

  • Die mens is geskape deur God, uit Wie, deur Wie en tot Wie alle dinge is.

  • God het die wêreld met groot wysheid geskape, met ’n geweldige rykdom aan skepsele (plante, diere en mense) waaroor hul Maker Hom kan verheug en waartoe Hy die reg het dat Hy aanbid en geloof word. Die mens, wat Hy met groot gawes na liggaam, siel en gees toegerus het, is die kroon van God se skeppingswerk. Die mens is na God se beeld geskape, as Sy verteenwoordiger in die aardse werklikhede, om die aarde te vul en te onderwerp en oor die ander skepsele (plante en diere) te heers.

  • Die mense is veelvormig, d.w.s. elke mens word geroep tot ’n taak, wat in besonder vir hom bestem is en word toegerus met nodige gawes tot voltooiing van sy roeping. Daarvoor kry elke individu sy eie vermoëns en eienskappe om sy taak uit te voer met verantwoordelikheid teenoor God.

  • Die mens leef in verskillende verbintenisse: tot God, tot sy medemens en tot die dinge in die wêreld om hom heen, alles wat weer onderling met mekaar verweef is. Selfbeheersing, deur biddend na God te luister en volgens sy gebooie te leef, kenmerk die gelowige mens se verhouding tot God, sy omgang met sy medemens en met die wêreld om hom heen en in die sien en beleef van homself.

  • Die gevolge van die sondeval van die mens het die hele skepping, waarin die mens die hoogste posisie verkry het, beïnvloed. Die mens ervaar die mag van die sonde en die gevolge daarvan nog daagliks. God het egter deur Sy Liefde nie die mens en die wêreld, Sy skepping, losgelaat nie. Hy het Sy Seun, Jesus Christus gestuur om versoening van ons sonde deur Sy lyding aan die kruis en opstanding uit die dood te doen. Die gelowige, wat Jesus Christus as sy verlosser aanvaar, groei deur die werking van die Heilige Gees daagliks al hoe nader tot God.

  • Kultuur is die kleed van die mens, die gesin, die volk en mensheid. Die opvoeder moet die kind lei op die pad van volkeregeskiedenis. Hy staan voor die verantwoordelikheid om te kies vir die pad van volkereverskeidenheid of vir die pad van Internasionalisme. Dit is die keuse tussen volkskultuur of Babelkultuur, die Internasionale. Die keuse van ’n Christen opvoeder is vir eersgenoemde.

  • In Sy herskeppingswerk deur Jesus Christus beperk God Hom nie slegs tot die redding van die mens uit die wêreld van sonde nie, maar die herskepping het kosmiese betekenis; die hele wêreld met alle skepsele word daarin betrek. Ook die ongelowige mense, wat weier om hulle met God te laat versoen, is desondanks ook ingeskakel in die uitvoering van God se Raadsplan. God laat die ongelowige mense nie los nie (deur Sy algemene genade): Hy gee hulle nog daagliks baie goeie dinge en Hy hou die volle deurwerking van die sonde op verskillende wyses teë.

  • Die Christen word geroep tot ’n lewe en werk in ’n sondige wêreld en samelewing. Hy sal hom nie afsonder van die samelewing nie, maar wel daaraan deelneem. Hy kan egter nooit sonder meer vrede maak met bestaande omstandighede nie. Bestaande omstandighede bepaal nie die aanvaarde norm vir ’n Christen nie, maar slegs die gesaghebbende Woord van die Bybel is rigtinggewend vir sy denke en optrede.

Algemene Perspektiewe🔗

  • Die kind moet geleer word om God se versorging in sy lewe te leer ken. Alle mense het die vermoë om teoreties te dink, om begrippe te vorm, om verskillende voorwerpe te onderskei en om probleme op te los.

  • Kennis kan nie ‘neutraal’ wees nie. Dit is op ervaring en op aannames (veronderstellings), soos bepaal deur ’n lewens- en wêreldbeskouing, gegrond.

  • Feitekennis moet onderrig word, want leerlinge moet opgelei word vir en ingelei word in die wêreld waarin ons leef. In ons onderrig moet ons egter ook ’n waardebepaling van die feitekennis deurgee. Hierby kom ter sprake die verhouding van hierdie wêreld tot die Skepper.

  • Feitekennis moet verbind word aan die sin en betekenis van die bestaan van mens en wêreld. Feite het hulle plek in ’n raamwerk, wat bepaal hoe ons die feite sien, hoe ons hulle waarde bepaal en wat ons met die feitekennis doen. Hierdie kennis moet ook meewerk in verbreding van insig in God se openbaring in die natuur en in hulle lewe, en hoe dit van wesentlike betekenis is vir hulleself en vir andere met betrekking tot elkeen se lewenstaak.

  • Christelike lewens- en wêreldbeskouing moet daarom in elke vak die grondslag wees en moet deur God se Openbaring in Sy Woord gedra word. Onderwysers moet gevolglik die Christelike lewens- en wêreldbeskouing hulle eie maak om die aanbieding van hulle vakke hierop te kan grond. Daardeur kan hulle elke kind help en begelei om met die kennis uit, deur en tot God te lewe en te wil lewe.

  • God het aan die mens die vermoë gegee om die natuur te bewerk, en te verander, sodat die mens sy kultuuropdrag kan uitvoer. Die mens maak (skep) uit erts en grondstowwe implemente en chemiese stowwe, verbeter diererasse en ontwikkel kultivars, om enkele te noem. Die mens het ’n sterk skeppende vermoë en is ook hierin na die gelykenis van God geskape, met die verskil dat God uit eie krag kan skep, terwyl die mens slegs uit die materiaal van die geskape wêreld kan skep, onder die seënende hand van God.

  • Die mens kan die natuur nie deurgrond nie. God het alles in die wêreld gemaak en die mens geskape om Hom beter te leer ken deur Sy Skepping te ondersoek.

Aardrykskunde🔗

Wat Aardrykskunde Nie Moet Wees Nie:🔗

  • Aardrykskunde moet nie natuurgerig wees nie, asof die mens in diens van die natuur is. Dit kom neer op ’n vergoddeliking van die natuur. Hierby sluit die vooruitgangsideologie van evolusionisme aan.

  • Die natuur is nie mensgerig nie, asof die natuur daar is vir gebruik deur die mens soos hy wil nie. Hierby sluit die humanistiese vergoddeliking van die mens aan.

Bybelgefundeerde Aanbieding van Aardrykskunde:🔗

Leerlinge moet gelei word om die moontlikhede wat God in die natuur geskep het, te ontdek. Die moontlikhede van benutting en bewaring word gerig deur die kultuuropdrag aan die mens, om die natuur te beheers (Gen.1:28), dit te bewerk en te versorg (Gen. 2:15).

Wondere van God in Sy skepping moet uitgelig word, bv. die waterkringloop (vars water deur verdamping uit die soutwater van die see, reën, terugvloei na die see), met God as die lewegewer deur die vorming van wolke waar dit nodig is. Die besondere eienskappe van water, wat lewe moontlik maak en waarvan daar ontsaglike voorrade op aarde is, dat mere en damme nie van onder af toevries nie, maar van bo af, omdat water ’n maksimum digtheid by 40°C, sodat lewe in water moontlik is.

Leerlinge moet bewus gemaak word dat ons planeet, die aarde, ’n unieke planeet is, ’n wonder, ’n seldsaamheid in die ontsaglike sterrehemel. Vandag word dit allerweë erken dat so ’n planeet, wat die tuiste van lewe is soos ons dit ken, nie toevallig volgens die wette van die natuur kon ontstaan het nie. Hierdie voorwerp wat om die son wentel, vervaardig sy eie suurstof, die suurstof wat ons inasem, haal sy eie stikstof uit die atmosfeer en sit dit in die grond, en het ’n unieke weerstelsel, waarvan ons maar min verstaan.

Die atmosfeer, wat die aarde omring, is ook uitsonderlik. Ruimtevaarders het spesiale ruimtepakke nodig om in die buitenste ruimte aan die lewe te bly. Maar geen ruimtepakke is op aarde nodig nie. Ons atmosfeer beskerm ons van die lewensgevaarlike ruimte daar buite en bevat net die regte samestelling van gasse om lewe op aarde moontlik te maak. Sonder suurstof sal mense en diere binne minute doodgaan, maar suiwer suurstof is giftig as dit te lank ingeasem word. As daar te veel suurstof in die atmosfeer was, sou brandbare stowwe hoogs ontvlambaar word. Daarom dat suurstof met stikstof verdun moes word. Die klein persentasie koolsuurgas in die atmosfeer is noodsaaklik vir plante, maar te veel koolsuurgas sal weer nadelig vir mense en diere wees.

Grond weer het eienskappe wat noodsaaklik vir plantegroei is. Plante omskep chemiese elemente in die grond in vorme, wat deur die liggame van mense en diere opgeneem kan word. Miljoene klein lewende organismes in die grond help hiermee. Wat uit bogenoemde en ander uitsonderlikhede afgelei kan word, is dat die aarde inderdaad deur die Skepper as ’n tuiste vir die mens voorberei is.

Wiskunde🔗

Wiskunde is ’n menslike aktiwiteit, ’n wetenskap wat betrekking het op twee besondere aspekte van die skepping, die getal (rekene, algebra) en die ruimte (meetkunde).

Die getal is deel van die skepping van God. Dit het nie deur ’n evolusionistiese proses by oermense ontstaan nie; m.a.w. die getal is nie deur mense op ’n evolusionistiese wyse gevorm deurdat dit nodig was vir hulle bestaan op aarde nie.

Die ruimte, waarin ons leef en waarin die heelal is, is deur God geskep. Dit volg uit Génesis 1:1: “in die begin het God hemel en aarde geskep”. Materie beslaan ruimte en daar is ruimte (afstand) tussen dinge.

Ons moet vanaf die vroeë vormingsjare in die onderrig van wiskunde dit voortdurend beklemtoon, dat wiskunde ’n menslike oopdekking is van die eienskappe en aard van getalle en van ruimte, wat God saam met en alles wat in die hemel en aarde bestaan, geskep het.

Die werklike leefwêreld van die mens is egter baie meer kompleks as wiskundige modelle, waarmee die werklikheid beskryf kan word. Orals waar wiskunde gebruik word, abstraheer (onttrek) ons slegs daardie aspekte van die werklikheid, wat deur meting in getalle uitgedruk kan word. Hierdie getalle word deur wiskundige simbole voorgestel en in wiskundige vergelykings, waardeur die versyferbare werklikheid dan in terme van wiskundige simbolisme en wiskundige logika beskryf word.

God is nie tot ons aardse drie-dimensionele ruimte gebind nie en kan daarom alomteenwoordig wees. Ons kan nie God se “ruimte” of Sy handelinge meet of wiskundig beskryf nie. God se teenwoordigheid, beheer en bestuur van die wêreld lê op die geloofsvlak, in daardie deel van die werklikheid van die mens se bestaan wat nie sintuiglik waargeneem of deur eksperimente vasgestel kan word nie.

Skeinat🔗

Die basiese fisika en chemie het meesterlike strukture en uitnemende skoonheid in die skepping van God deur waarneming en met behulp van laboratoriumeksperimente onder beheerde toestande blootgelê. Hierdeur word die mens oorweldig deur die orde in en skoonheid van die skeppinge van die Groot Kunstenaar.

Fisiese en chemiese wette wat ons uit laboratoriumeksperimente aflei, voorsien nie naastenby ’n voldoende en volledige verklaring van dit wat in die heelal gebeur nie. Die groot oseaan van kennis strek nog onontdek voor ons uit.

Chemie is belangrik veral vir die voorsiening van die primêre lewensbehoeftes van die mens, soos voedsel, kleding, huishouding en gesondheidsorg. Die voedselproduksie, bv., het sterk toegeneem deur die gebruik van kunsmis in die landbou. Ook die bereiding en toepassing van chemiese bestrydingsmiddels bevorder voedselproduksie. Daar bestaan egter ernstige besware teen chemiese bestrydingsmiddels, wat giftig is vir mens en dier.

Fisika is belangrik om die kragte (soos elektriese krag, swaartekrag en verweringskragte), wat in die natuur werksaam, te verstaan, om hierdie kragte te gebruik om die aarde te bewerk en te versorg en vir menslike lewensbehoeftes.

Die verbasend mooi wiskundige strukture wat die mens op grond van die logika ontwikkel, gebruik fisika en chemie om eksperimentele waarnemings en lewenswerklikhede in terme van modelle (of metafore) te beskryf. In hierdie eksakte wetenskappe is wiskunde die (abstrakte) taal vir die beskrywing van eksperimentele waarnemings en metings, gebruikmakende van modelle (bv. die atoommodel vir materie of die golfmodel vir lig). Dit alles is moontlik omdat die mens wat na die beeld van God geskape is, ’n rasionele denke het wat deel is van die rasionaliteit waarmee God die wêreld geskape het.

Ouderdomme van geologiese formasies (van miljoene tot miljarde jare) word deur fisiese metodes bepaal, wat van ’n wêreldbeeld (filosofie) uitgaan, wat buite die eksperimentele werklikheid lê. As voorbeeld dien die aanname dat prosesse van verandering (bv. van radioaktiewe verval, of geologiese formasies) tot in die verre verlede teen dieselfde tempo of op dieselfde wyse verloop het soos ons dit vandag waarneem. Hierdie aannames berus nie op waarneming nie en kan nie bewys of gekontroleer word nie. Ons was nie in die verre verlede daar om waar te neem wat werklik gebeur het nie.

Biologiese Wetenskappe🔗

Leerlinge moet leer om die ryke verskeidenheid in plante en diere raak te sien, maar ook die duidelike ooreenkomstes, wat getuig van een en dieselfde Skepper.

Leerlinge moet geleer word van die liefde en sorg waarmee God alles gemaak het, bv. die voedselketting, wat getuig van die wonder van God se sorg vir die voortbestaan van lewe.

God se skeppingswerk kom in Génesis 1 na vore as ’n majestieuse bemagtiging van funksionele orde en struktuur met inherente skoonheid. Die skepping is ’n kunswerk by uitnemendheid. Hiervan getuig byvoorbeeld die planterykdom en dierlike samelewings vanaf die kleinste lewende dinge, die eensellige organismes, wat met hulle inherente ordeninge en strukture by hulle natuurlike omgewings funksioneel aangepas is, nie evolusionisties nie, maar skeppingsmatig.

In Génesis 2:9a vind ons die woorde: “Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit”. God se skepping was daarom nie alleen funksioneel (“lekker om van te eet”) nie, maar ook esteties genotvol (“mooi om na te kyk”). Sowel funksionaliteit van alle skepsele as skoonheid moet deel wees van onderrig in die biologie. 

In Gen.1:30 gee God “aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere, waarin ’n lewende siel is” (1953-vertaling) die groen plante as voedsel. In Gen.1:29 word al die plante wat saad gee en boomvrugte aan die mens as voedsel gegee.

Plante vorm die verbindingskakel tussen materie en lewe van mense en diere. Plante sorg dat anorganiese stowwe uit die aarde met behulp van sonenergie omgesit word tot organiese stowwe. Niks anders in die ganse skepping as plante kan hierdie belangrike omsettingsproses laat plaasvind nie, waardeur plante die nodige voedsel aan diere en mense uit die aarde voorsien.

Terwyl die mens die skone (die estetiese) in kleure in die natuur en in kunswerke kan waardeer, reageer diere instinktief op kleur en reuk.

Mense het talle aangebore leervermoëns, en word nie met kennis gebore nie. Hierteenoor word diere en insekte met vooraf-geprogrammeerde instinkte gebore of uitgebroei, met beperkte leervermoëns.

Die mens se brein het ’n verstommende kapasiteit met veelvuldige funksies, teenoor diere en insekte, waarvan die breine net groot genoeg is vir instinktiewe programmering. Dink bv. aan ’n persoon wat klavier speel. Die wysie in sy brein word met al tien vingers op verskillende klawers saam en opeenvolgend gespeel, elkeen op die regte oomblik en met die regte aanslag.

Die Darwinistiese evolusie is meganisties gegrond. Daarvolgens moet alle lewensprosesse deur fisies-chemiese prosesse beheer word. Waar daar geen verklaring vir ’n bepaalde proses gegee kan word nie, word aanvaar dat die wetenskaplike kennis op die bepaalde tydstip nog tekort skiet.

Sekere kenmerke van lewende organismes kan nie deur fisiese en chemiese beginsels verklaar word nie. Die vitalisme leer dat daar een of ander “lewenskrag” moet bestaan wat hierdie kenmerke moontlik maak. Hierdie “lewenskrag” word as 'n inherente mistieke krag gesien, wat òf onder die beheer van “moeder natuur” òf van die New Age Ghaia is.

Die Neo-Darwinistiese evolusie is op die meganistiese standpunt gegrond en gebruik die vitalistiese standpunt op tipiese New Age-wyse met ’n sodanige formulering dat Christen, Mohammedaan, Boeddhis en almal gelukkig daarmee is.

Kunste en die Estetiese🔗

God het die mens so gemaak dat hy ’n aanvoeling het vir die skone, die estetiese, en dat hy die vermoëns het om die skone in kunswerke te kan waardeer en om kuns te beoefen.

Deur al sy skeppende aktiwiteite vorm die mens kultuur. Alles wat die mens aanraak, word kultuur: As hy wol aanraak, word dit klere; as hy fisiese klanke aanraak, word dit taal en musiek; orals waar hy die natuur aanraak, word dit kultuur. In kultuur is altyd ’n estetiese aspek, die skone, die mooie aanwesig.

God het nie spesiale wette vir die kunste gegee nie, ook nie vir enige ander kulturele aspek nie. Hy het aan die mens die vryheid en die opdrag tot die vorming van kultuur gegee. Juis omdat die mens die vryheid het, is verantwoording aan God verskuldig. Daarom dat kuns en kultuurskeppinge aan norme moet voldoen, en dat die lelike nie ontmaskerend uitgebeeld mag word nie.

Die grondliggende norme van die kunste is nie verskillend van die norme vir die lewe nie, aangesien kuns ’n deel van die menslike lewe is, ’n lewensaspek is. Dit moet as menslike pogings beoordeel word.

Estetiese opvoeding moet inherent deel wees van die onderrig in elke skoolvak deur die leerlinge bewus te maak vir die skone in die natuur en in die kunste, met God se openbaring in Sy Woord as die enigste bron wat aan ons ʼn begrip gee van die verbintenis van die mens met sy omgewing en leefwêreld.

Die sigbare mooiheid en skoonheid van God se skepping moet leer ken word as ’n faset van die algemene openbaring van God.

Leerlinge moet geïnspireer word deur ’n skeppende belewing in handwerk en in die gebruik van gereedskap.

Leerlinge moet Bybelse norme leer ken in beoordeling van literêre werke, musiek, televisie, films, opvoerings, beeldende en skilderkunste en ander kunste. Calvyn het die sigbare mooiheid en skoonheid van die skepping gesien as ’n weerkaatsing van God se heerlikheid. Kuns word dan God se gawe aan die mens om hom/haar te help om mooiheid en skoonheid te erken as ʼn faset van die algemene openbaring van God.

Die Taal en Woordkunste🔗

In die skepping het God aan die mens die taal gegee om tot kennis van Hom te kom, om tot Hom te spreek (te bid), om Hom te dien en te eer; ook om as kommunikasiemiddel te gebruik in sy verbintenis tot sy medemens, tot die wêreld om hom heen en tot homself.

Die mens word nie gebore met bemagtiging van ’n taal nie, maar leer sy taal in sy eie besondere kultuur en samelewing. Daarenteen word diere gebore met spesie-bepaalde instinkte, wat ook hulle kenmerkende geluide bepaal.

Onderrig in tale moet gerig wees op taalbeheersing en aanleer van effektiewe kommunikasie aangesien die woordkuns, in elke uiting en vorm daarvan, deel is van die hele menslike bestaan en van die estetiese lewensaspek.

In die letterkunde, hoe subtiel ook al, is daar waarhede en waardes ingebou, lewensbeskoulike waardes. Waardes rus op beginsels. Dié beginsels kom voort uit ’n mens se lewens- en wêreldbeskouing, jou Godsbeskouing.

God wys die mens in die Bybel op die funksie van die taal en op die manier waarop die mens die taal behoort te gebruik. Dit bepaal die norme vir beoordeling van literêre werke.

Letterkunde getuig van die gawes, wat God aan mense gegee het om iets van Sy skepping en ons lewenswerklikhede uit te beeld en by ons te laat lewe.

Geskiedenisonderwys en Lewensbeskouing🔗

In Christelike geskiedenisonderwys moet duidelik na vore kom dat die geskiedenis in die teken van die voltooiing van God se heilsplan staan. Geskiedenis is nie ’n selfstandige (outonome) proses, waarvan die voortgang deur kousaal-historiese faktore en immanente wetmatighede bepaal word nie. Dit mag lyk of die historiese werklikhede deur ekonomiese, sosiale, sielkundige, tegniese, politieke en ander prosesse bepaal word, maar die proses staan onder die regering van God. Geskiedenis lei nie homself nie, maar dit is ’n kontingente proses, ’n nie-herhalende opvolging van eenmalige gebeurtenisse, gebeurtenisse wat nou plaasvind.

Geskiedenis kan nie los van kultuureie en volkseie aangebied word nie, maar moet as ’n samehangende en sinvolle geheel diensbaar en inspirerend in ’n samelewing kan inwerk.

Leerlinge moet ’n historiese bewussyn ontwikkel, om te kan verstaan waarheen die mens op pad is en wat die huidige stand in die geskiedenis is. ’n Historiese bewussyn word gekenmerk deur ’n besef dat elke tydvak deur ’n bepaalde lewensvisie gekenmerk word.

Geskiedenisonderwys beoog om leerlinge voor te berei op ’n lewe, waarin hulle, uitgaande van God se liefdesgebod, antwoord moet kan gee ten opsigte van alle lewensvrae.

Volgens God se skeppingsopdrag bou die mens, maar deur die sonde breek die mens af en verwoes.

Deur sy sondige natuur tree die mens selfverheffend en selfvernietigend op, maar deur selfbeheersing is hy ’n beelddraer van God. Ons moet let op God se handelinge in die geskiedenis; hoe Hy nasies en volke daargestel het vanaf Génesis, ook die Afrikanervolk; hoe die mens in selfgerigtheid en selfgelding probeer leef en watter invloed dit op die verloop van gebeure gehad het. Kinders moet geleer word om gebeure te beoordeel in die lig dat daar dinge is wat moet, wat behoort en wat mag en wat nie mag nie.

Deur die historiese feite te ken en te aanvaar dat God die geskiedenis tot ’n voleinding laat verloop volgens Sy Raadsplan, is dit moontlik om die sin van die geskiedenis te sien in die redding van die mens deur Jesus Christus. Hierdeur verkry die feite van die wêreldgeskiedenis ʼn nuwe betekenis.

Sosiale Wetenskappe🔗

Hier moet gelet word op dinge soos werklikheidsbeskouings, mensbeskouings, beskouings van gesag, vryheid, norme en beginsels.

Kinders moet geleer word om al die euwels in ons daaglikse lewens en in die samelewing te kan beoordeel.

Die taak van die owerheid moet behandel word. Die owerheid kry sy gesag van God en moet daarom orde en gesag handhaaf. Die owerheid moet kwaad en kriminaliteit beveg om die verwoestende gevolge van die sonde teen te werk.

Owerhede mag nie buite sy magte optree nie deur bv. ouers se verantwoordelikheid ten opsigte van skoolonderrig te ontken of selfs teen te werk.

Leerlinge moet geleer word om ’n gedissiplineerde lewenstyl, wat die sleutel tot sukses op alle lewensterreine is, aan te kweek. Deur selfbeheersing, deur biddend na God te luister en volgens sy gebooie te leef, kenmerk die gelowige mens se verhouding tot God, sy omgang met sy medemens en met die wêreld om hom heen.

Die regte houding vir sukses in die werkplek moet behandel word in aansluiting by roepingsbesef en vaardighede. Dit sluit in o.a. goeie taalvaardighede, positiewe werkgewoontes, die vermoë om probleme op te los, samewerking, volharding, eerlikheid, selfvertroue, om ander in aanmerking te neem en ’n begeerte om te dien.

Onderwysers/esse moet met deskundigheid en oortuiging die norme, die lewens- en wêreldbeskoulike en die etiese waaraan Christelike opvoeding en onderwys en die Christelike beroepslewe, samelewingsverbande en vryetydbesteding moet voldoen, in skoolleerplanne en in die klaskamer implementeer.

Tegniese Vakke🔗

Tegniek is ’n wyse waarop die mens die natuur met menslike gereedskap vorm, byvoorbeeld met ’n saag en ’n draaibank word voorwerpe uit materiale soos hout gemaak.

Tegniek word bepaal deur:

  • materiale, wat gebruik word

  • energie wat gebruik word, byvoorbeeld spierkrag of elektrisiteit

  • vervaardigingsmetode: met die hand, met handgereedskap of met kragmasjiene

  • samelewingsomgewing: enkel persoon, familie, kleingroep- of grootgroep, waar allerlei mense in die tegniese prosesse nodig is, soos bestuurders en werkers met ’n verskeidenheid van deskundighede die produk: eenmalig, iets besonders, of ’n massaproduk, die universele wat die aardbol omspan (byvoorbeeld Coca Cola), met die vraag: moet kultuur by tegnologie aanpas of tegnologie by kultuur?

Tegniek is ’n verlengstuk van die mens se eie liggaam. Dit is ’n onbewustelike projeksie na buite van die mens se vermoëns en vaardighede, van die funksionele van die menslike liggaam.

Byvoorbeeld die telefoon, wat ’n skyn-teenwoordigheid van die spreker aan die ander kant van die lyn skep - asof die spreker by jou staan; die horlosie wat ons lewe reël; ’n motorkar wat ons toelaat om baie vinniger te beweeg as wat ons liggaam in staat is.

Ons dink vandag mensvormend oor gereedskap. Hierdie enkele voorbeelde toon dat nie slegs menslike funksies oorgedra word na die gereedskap: die telefoon, die motor, die horlosie nie, maar ook die menslike denke en leefwyse.

Mens en sy gereedskap, tegniek en verantwoordelikheid, is uiters belangrike onderwerpe vandag, want tegniek kan nie outonoom wees nie. Tegniek is slegs gereedskap. Die outonome mens gebruik egter die tegniek om homself tot ’n god te verhef.

Daar is ’n neiging by mense om hul gereedskap te vertrou. Dit is vandag veral waar vir die rekenaar. Die rekenaar is ’n stuk gereedskap wat inligting verwerk. Ons praat van informasietegnologie (informatika). Dit sny deur alle vakwetenskappe heen en beïnvloed alle vakwetenskappe. Dit is daarom belangrik dat ons die moontlikhede en grense van die rekenaar ken en verstaan.

Etiek is die wetenskap van verantwoorde handeling van die mens in die wêreld (in kultuur- en wetenskapsbeoefening, en deur die tegniek). Verantwoorde handeling is ’n genormeerde doen. Verantwoorde of genormeerde handeling word getoets aan norme. Beginsels lê aan die grondslag van norme. Beginsels is vas; dit geld vir alle tye. Jy behoort links te ry op die paaie. Dit is ’n norm vir verkeer. Verkeer moet veilig wees. Dit is ’n beginsel. In Christelike etiek moet menslike handeling in die breedste sin voldoen aan alle norme, wat bepaal word deur God se Wil vir die lewe, in die estetiese en in alle ander lewensaspekte. Verantwoordelikheidsetiek is Christelike etiek, wat uitgaan van die mens as beelddraer van God, die mens wat uit, deur en tot God leef en bestaan.