Bron: Die Kerkblad. 4 bladsye.

Predikante Se Lewens- en Huwelikskwaliteit Minderwaardig

Sensasionele berigte is al­tyd nuus.

Die opskrif van hierdie ar­tikel is ook opsetlik sensa­sioneel.

Feit is dat baie berigte oor predikante en hulle ge­sinslewe nie meer skok nie.

Dit is inderdaad skok­kend.

Dit is nie meer vir ons vreemd:

  • as ’n dosyn predikante in een jaar die bedie­ning laat vaar of afge­set word nie;
  • as ’n predikant en sy vrou skei nie;
  • as ’n predikant verslaaf raak aan kal­meermiddels of alkohol nie;
  • as predikantskinders tragies ontspoor nie;
  • as die charismatiese bewegings ’n predikant se huisgesin verdeel nie.

Baie meer skokkende din­ge sou oor predikante en hulle gesin gesê kan word, as dit nie so meesterlik verbloem word nie.

Ook maar mense🔗

Natuurlik kan enigiets mos ’n predikant en sy huis tref. Hulle is ook maar net mense. En alle mense is kwesbaar. Tog het onlangse studies oor die kwaliteit van mense se verhoudinge interessante feite oor predikante en predikantsvroue aan die lig gebring.

Mens kan nie predikante se sondes en foute probeer goedpraat nie. Tog het dit duidelik geword dat seke­re faktore in predikante se lewens ’n rol speel terwyl dit nie vir alle mense se verhoudings van toepas­sing is nie.

Die verwagtings wat aan predikante en hulle vroue gestel word, hou dikwels nie rekening met die feit dat hulle ook maar net mense is nie.

Navorsing🔗

In die buiteland geniet die kwaliteit van predikants­gesinne se verhoudings reeds geruime tyd aandag. In sommige groot stede word ’n predikant beroep om die predikants­gesinne van die stad pas­toraal te bedien en op die been te hou.

Twee wetenskaplikes in Kalifornië se Biola Uni­versiteit, Drr. Janelle Warner en John D. Carter, het die lewenskwaliteit van predikante en hulle vroue bestudeer.

Die volledige navorsingsresultate kan met vrug ge­lees word in Journal of Psychology and Theology (1984, Vol. 12, 2, p. 125 e.v.). Die studie het hoof­saaklik op predikante en hulle vroue se verhou­dings gelet en bestudeer drie aanduiders:

  1. Eensaamheid
  2. Huweliksaanpassing
  3. Beroepsuitbranding-sindroom (Burnout).

Bevindings🔗

  1. Soveel as 56% van die predikantsvroue het ge­rapporteer dat hulle eensaam is.

Hulle het meer blootstelling aan mense gehad as die kontrolegroep, maar tog geen naby vriendinne gehad nie, slegs formele verhoudings wat rondom die bediening sentreer. Daar was dus by hulle verminderde lewenskwaliteit as gevolg van baie blootstelling maar min interpersoonlike betrokkenheid. Hierdie eensaamheidsbelewing het weer ’n negatiewe invloed op die egpare se huwelikskwaliteit.

  1. Die vermoë tot huwe­liksaanpassing van predi­kantsegpare was ook be­duidend swakker as dié van die kontrolegroep wat nie predikantsegpare was nie, hoofsaaklik as gevolg van min tyd vir verhoudingsuitbouing. In die VSA is bevind dat egskeidings onder predikantsegpare vier keer meer is as 20 jaar gelede.
  2. Onder "beroepsuit­branding" word ’n fisiese en emosionele uitputting verstaan wat intree as gevolg van stres wat mense beleef wanneer hulle an­der mense se maatskapli­ke probleme moet hanteer. Predikante en hulle vroue het ’n hoë vlak van emosionele uitputting be­leef as die kontrolegesin­ne. Voortdurende bloot­stelling aan probleme ver­oorsaak geestelike aftake­ling.

Bydraende faktore🔗

Dit is natuurlik onmoont­lik om al die bydraende faktore wat tot bogemelde bevindings aanleiding ge­gee het, op te noem. En­kele faktore is egter uit­gesonder:

  • Die groot hoeveelheid tyd wat aan die bedie­ning afgestaan word, ten koste van die huwe­lik.
  • Die gevolglike middel­matigheid en kunsma­tigheid van die egpaar se verhoudinge.
  • Die hoë verwagtings wat aan die egpaar ge­stel word.
  • Die oormatige en on­realistiese wyse waar­op predikante betrokke raak by hulle werk en die konflik tussen ver­wagtings en werklik­heid.
  • Die rolverwarring wat veral die vroue beleef.

Bose kringloop🔗

Die studie toon dat ’n pre­dikant en sy vrou baie maklik in ’n bose kring­loop met hulle huwelik kan beland.

Hy raak intens (selfs oor-idealisties) betrokke in sy diens.

Sy ondersteun hom met al haar kragte om werklik vrou te wees. Daarby moet sy baie ander verantwoordelikhede aan­vaar, ’n té groot vrag wat emosionele uitputting ver­oorsaak en haar betrok­kenheid by haar man laat vermy.

Hulle spandeer al minder tyd met mekaar en word só geabsorbeer deur be­dieningseise dat daar nie tyd is om ander vriend­skappe te onderhou nie.

Dit loop uit op eensaam­heid wat hulle huwelik se kwaliteit benadeel; dit het weer verdere eensaamheid en totale isolasie tot gevolg.

“Mevrou Dominee”🔗

Emosionele uitbranding by predikantsvroue word toegeskryf aan té hoë rol­verwagtings en te veel verantwoordelikhede waaraan sy moet voldoen. Die dominee se vrou funk­sioneer in die rol van “as­sistent-predikant” (Mace & Mace,1980, What's hap­pening to clergy marria­ges?).

  • Die predikantsvrou se rol word onverstaanbaar.
  • Die Huweliksformulier sê vir haar wat haar rol as vrou en moeder moet wees.
  • Die Universiteit sê vir haar hoe om haar eie beroepsopleiding met waardigheid te ge­bruik.
  • Die gemeente se ver­wagtings plaas haar dikwels in die rol van organiseerder, gasvrou, spysenier en by die dikwelse afwesig­heid van haar man is sy die telefoniste, sekreta­resse en selfs voorlig­ter.

Hierdie toenemende druk­te en ’n verlies aan per­soonlike vervulling bring ’n gevoel van ontoereikendheid en dra by tot emosionele uitputting, depressie en isolasie.

Evaluasie🔗

As mens hierdie navor­singsresultate bestudeer, is dit duidelik dat die situasie in die Gereformeer­de Kerke en hulle predi­kante nie veel van die be­vindings verskil nie, veral nie in die stedelike gebiede nie.

  • Eensaamheid van pre­dikantsegpare word nie eenvoudig opgelos deur­dat meer mense by die pastorie kuier nie - dit bring juis méér blootstel­ling aan mense en minder tyd vir mekaar, persoonli­ke belangstellings en die opbou van 'n persoonlike vriendekring.
  • Die kwaliteit van enige egpaar se huwelik hang saam met die hoeveelheid tyd wat daaraan gegee word. Daar moet tyd wees vir gesprek, vir besinning, vir intimiteit en nabyheid.
  • Dat predikante en hulle vroue aan emosionele uitbranding lei, verbaas nie. Lees ’n mens oor die pastoraat of woon jy toerus­tingskursusse (wat al meer word) by, kom jy agter dat ’n predikant ’n su­perspesialis behoort te wees. Hy moet ’n prediker wees wat die gemeente kan boei en aanvuur; hy moet ’n herder wees met empatiese invoeling vir elke behoefte in die ge­meente, hy moet ’n kate­geet wees wat ook baie van die opvoedkunde weet; hy moet ’n spesialis wees in die begeleiding van siekes en sterwendes; hy moet belese en ingelig wees... Daarby word nog verwag dat hy in die gemeenskap, skool en welsynsorganisasies promi­nent moet figureer, want dit doen die beeld van sy kerk goed.

Die dominee se vrou kom nie makliker weg nie. Sy word outomaties voorsitter van die Sustershulpdiens of sy die gawes daarvoor het of nie - selfs al is daar ander dames wat die taak meer effektief kan doen.

Sy moet haar man by­staan, haar kinders groot­maak (en dikwels het sy volgens die gemeente te veel of te min), haar huishouding behartig, spyse­nier wees en weet hoe om te trakteer. Die gemeente wil ook die dominee se vrou “sien” en as sy een lidmaat besoek het, moet sy almal besoek. (Ek bewonder die predikants­vroue wat elke jaar die hele gemeente besoek - ek wonder net volgens watter bepaling van die beroepsbrief dit geskied?) Selfs aan die sogenaamde Tokkelinas (al is hulle nog nie getroud nie) word al op allerlei wyses gesugge­reer wat eintlik van hulle as “assistent-predikante” verwag sal word.

Geen wonder dat van die mees dinamiese studente op Universiteit na ’n paar jaar in die bediening ge­sien word dat hulle al hulle deursettingsvermoë ver­loor het en sat en uitgeleer is nie. Dan soek hulle (on­der grootste geheimhou­ding natuurlik) in die koe­rante na ’n ander betrekking, al is dit net om hulle huwelike te red. Wat ’n skade vir die kerk van Jesus Christus!

Besinning🔗

Ons predikante moet deeglik besin oor ons roe­ping. Ons mag nie gerief­lik wegkruip agter die verskoning dat ons uitgelewer is aan die omstandighede en eise van die gemeente nie. Dit is nie die gemeen­te en die gemeenskap al­leen wat ons as wrakke agterlaat nie. Dit is dik­wels ons eie skuld.

Dit het al gewoon geword dat ’n predikant by baie dinge betrokke raak wat met die wese van sy roe­ping niks te maak het nie.

Baie tyd en krag word ge­bruik om ’n “gewilde” dominee te wees. Later hoor mens by die lidmate van hoe ’n “lekker ou” dié dominee was, maar hulle kan niks onthou van wat hy hulle oor Jesus Christus en sy koninkryk geleer het nie.

Na ’n paar jaar is die boe­resport vergete, maar die bitter vrugte van verkeerd gebruikte tyd begin in die predikante se gesinslewe sigbaar word. Hoe meer ons predikante die gedag­te voed dat dit in die be­diening oor hulle persoon gaan - in plaas van oor die Woord van God - hoe meer sal die aansprake ook word.

Uiteindelik is dit nie net die dominee en sy gesin wat daaronder ly nie, maar ook die gemeente.

Wanneer die “gawe” dominee weggaan, val alles plat en van blywende bouwerk is niks te sien nie.

Om prioriteite reg te stel vra dikwels ’n fyn balans tussen wat gedoen en nagelaat moet word die gawe van onderskeiding. Daarvoor moet die predi­kante en al die lidmate bid.

Per slot van rekening geld die gebod van Efésiërs 5:25 vir elkeen van ons: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.”