Bron: Die Kerkblad, 1987. 3 bladsye.

Progressief? Behoudend? … of Bybels?

'n Geleerde het onlangs geskrywe: "Die naam van ons tyd is verande­ring". Hy maak die stelling veral van toepassing op die ontwikkelde Westerse wêreld en bedoel daarmee dat daar haas geen enkele lewens­terrein is wat nie aan hewige ver­andering onderhewig is nie. Die ontwikkeling van wetenskap en tegniek, die verbetering van kom­munikasiemedia, die toename in welvaart, en die groei in interna­sionale handel en verkeer, het groot verandering teweeggebring in waardesisteme, kultuurpatrone en die belewinge van die werklikheid.

Nie meer fiksie nie🔗

Die Suid-Afrikaanse gemeenskap het die proses gedurende die afge­lope dekades ook deeglik en toenemend ervaar. Dink net aan die veranderinge wat die rekenaar teweeggebring het in beroepsuit­oefening en handel, en die TV in gedragspatrone en waardesisteme. Skielik staan ons gekonfronteer met wêreldvraagstukke wat enkele dekades gelede nog goedkoop we­tenskapfiksie was: die gevaar van kernwapens, die besoedelingsvraag­stuk, genetiese manipulasie en oorbevolking. Ook beleef ons die vrugte van die wetenskap waardeur die lewenskwaliteit verbeter het, wel­vaart verhoog is, kennis en ontwikkeling binne algemene bereik is.

Die stroompie van onvermydelike verandering deur die geskiedenis het 'n bruisende rivier geword waar­in die mens vandag spartel om alles te verwerk en in perspektief te sien. In die proses word vir elkeen 'n allesoorheersende vraag na vore gebring: "Hoe staan ek, en hoe moet ek staan teenoor die verandering?"

Twee benaderings🔗

Daar kan twee benaderings ten opsigte van verandering onderskei word: 'n progressiewe en 'n behou­dende benadering. Die progressiewe benadering is veranderingsgerig. Die mens met hierdie benadering tot die lewe is krities ten opsigte van alles wat tradisioneel, histories of oud is. Waardes en gedragspatrone moet voortdurend verander, en die mens moet hom haas om in pas te bly met die stroom van verandering. Hierdie benadering maak die mens bang dat die tyd by hom sal verbygaan, en dit laat hom stoei om sy plek in die nuwe wat kom, te behou. Sy lewe word beheer deur die vinnige ritme van laat vaar en aanvaar, van los­maak en aanpas.

Die tweede staan direk hierteenoor. Die behoudende benadering is kri­ties teenoor verandering. Hy hou vas aan dit wat bekend is. Hy vind sy sekerheid in die tradisionele. Hy skop teen die pas van verandering, en het antipatie teen en wantroue oor nuwe dinge. Sy lewe word be­heer deur die proses van vashou aan die bestaande, en kritiese onder­soeking van alle onbekende dinge wat om hom afspeel.

Die verdelende vraag🔗

Albei hierdie benaderings vind ons in al die aspekte van ons samele­wing. Politiek, kultuur, kerk, gods­diens en maatskaplike lewe gee die duidelike beeld van spanning en konflik tussen die progressiewe en die behoudende benadering tot die werklikheid van verandering. Op al hierdie terreine is die groot en ver­delende vraag: Wat moet behou word, en wat moet verwerp word? Elke gelowige moet dikwels vir homself die vraag beantwoord. En in die antwoord stuit hy teen die dieper probleem van benadering tot die proses van verandering. Hoe moet hy homself instel teenoor 'verandering' — die naam van ons tyd? Moet hy kies vir progressie of behoud?

Derde benadering🔗

Ek wil pleit vir 'n derde benadering, wat genoem kan word: die Bybelse benadering. Hierdie benadering impliseer dat die gelowige vanuit die vaste waarhede van die Bybel die proses van verandering weeg en meet. Anders gestel: Met die be­ginsels van die Bybel word ou en nuwe dinge onder die vergrootglas geplaas en krities ontleed. Dit wat die toets deurstaan, word aanvaar en beleef, maar wat die toets nie deurstaan nie, word verwerp en af­geskryf. 'n Gelowige kies dus nie vir ou dinge net omdat dit bekend en oud is nie, en ook nie vir nuwe dinge net omdat dit nuut en prikkelend is nie. Wanneer hy kies vir die oue en/of die nuwe, doen hy dit omdat dit reg is. Wanneer hy die oue af­sterf, of nuwe dinge verwerp, doen hy dit as 'n daad van bekering en gehoorsaamheid.

Die Bybel spreek🔗

Hierdie benadering spreek uit die Bybel self. Die verlede en die be­staande moet altyd ondersoek word, want dit kan ook sondig en sleg wees (Sagaria 1:4). Die nuwe is nie altyd verkeerd nie, want die Koninkryk bring nuwe dinge in die sondige wêreld (Matteus 13:44-52) — in die stroom van verandering kom ook tekens van God se koninkryk. Ou dinge is ook nie altyd verkeerd net omdat dit oud is nie — die verlede toon immers ook die spore van God met sy kinders, en daaruit moet ge­leer word (Deuteronomium 32:6). Eweneens kan vernuwing besmet wees met die roekeloosheid van die laaste dae (2 Timotheus 3:1-9). Meer voorbeelde kan aangetoon word wat aandui dat die Bybelse benadering beteken: 'n kri­tiese ondersoek van ou en nuwe dinge, om te soek na dit wat reg of verkeerd is in tradisie en vernu­wing.

Die kerkgeskiedenis spreek🔗

Die Bybelse benadering spreek ook mooi uit die kerkgeskiedenis. Die Hervormers was 'progressief' in hulle verwerping van Roomse tradisionalisme, maar hulle was be­houdend in die vashou aan die waar­hede wat in die vroeg-Christelike kerk deur die kerkvaders, o.a. Augustinus, bely is. In die agtiende en negentiende eeue is Europese kerke verketter omdat hulle gepleit het vir vernuwing in die samele­wing, veral ten opsigte van die regte van die vrou en die kind. Dieselfde kerke is as oudmodies beskou omdat hulle 'tradisionele' sedes teen die gees van materialisme wou bewaar. Hierdie 'gespletenheid' waarvan hulle beskuldig was, was nie die gevolg van innerlike spanning oor behoud en progressie nie, maar die gevolg van 'n Bybelse benadering waarin beide die oue en die nuwe dinge Bybels getoets is.

Blind vir die sonde🔗

Wie in die moderne, veranderende lewe krampagtig vashou aan die bestaande, en alles wat nuut is, wantrou, word irrelevant in sy eie rol en betekenis. Sy bydrae is nie ter sake nie — omdat hy langs die lewe staan. 'n Groter probleem is dat hy blind word vir die sondes van die verlede en dat hy, dikwels met goeie bedoelings, juis die sondes oorlewer aan die geslag van môre.

Wie egter alles wat oud is, ver­werp en gryp na die nuwe, slegs omdat dit nuut is, word eweneens irrelevant. Sy bydrae is onbetrou­baar omdat hy bou sonder fonda­mente, en dinge aanbied wat onbewese en ongetoets is. Ook hy word blind vir die sonde in die vernuwing en kan ook dikwels met goeie be­doelings, mooi erfenisse vernietig.

Albei die benaderings wek uit­eindelik groot onsekerheid en toe­komsangs, omdat dit óf lei tot die nare ervaring van 'betekenisloos-wees', óf tot die onbevredigende ervaring van 'niks blywends nalaat nie'.

Die uitdaging🔗

Die Bybelse benadering is lewensvullend. Met die toepassing van 'n Bybelse beginsel kan die Christen soms ver voor sy tyd wees en sal hy hoor dat hy progressief en ver­nuwend is. Maar met die toepassing van 'n ander Bybelse beginsel sal hy soms erg behoudend wees en sal hy hoor dat hy 'oud-modies' is. Hierdie ongekompromitteerde benadering is egter juis die uitdaging! Dit verg insig in oud en nuut, en veral in die Bybel. Dit bring die bevrediging van 'in die lewe' en 'in die wêreld' te wees; van betrokkenheid en sinvolle omgaan met probleme. Wie die oue en die nuwe vanuit die Bybel bekyk, gee uiteindelik die relevante, be­tekenisvolle antwoord. En hy het die bevrediging dat hy betrokke en onmisbaar is in die gang van gebeure.