Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

Psalm 16

In Psalm 16 hoor ons die gebed van ’n gelowige wat midde in die stryd van die evangelie staan in die vaste versekerdheid van die volkome oorwinning. Hierdie goeie stryd om die evangelie maak juis ons bestaan as gelowiges nuttig.

Verskillende gelowiges het verskillende geaardhede. Daar is deur die HERE so ’n wye variasie van gawes gegee. En elke gelowige is vir sy/haar besondere taak met ’n unieke stel eienskappe toegerus.

So kom verskillende Bybelse figure onwillekeurig in ons gedagtenis op.

Dawid, die geïnspireerde Psalmdigter, ook Moses, Josua, Elia of Elisa …, ’n hele galery soos die Hebreër-briefskrywer hulle in hoofstuk 11 voorhou. Maar ook prominente figure uit die kerkgeskiedenis: kerkvader Augustinus, Reformatore, die robuuste Luther, die verfynde Calvyn, die vuurvreter Farel... Maar van hulle almal leer ons dat dit vir ons nie alleen net om ons eie saligheid as sodanig gaan nie, maar ook om in offerbereidheid ons lewens toe te wy aan die oorwinningstryd van ons verlosserkoning Jesus Christus, en om sy Naam te verheerlik.

So is hierdie Psalm dus ook ’n tipiese strydpsalm, ’n lied van oorwinning uit die goeie stryd.

Verskeie uitdrukkings in die Psalm bevestig dit.

Vers 1: “Bewaar my, o God, want by U skuil ek.”

Die omstandighede van Dawid is sodanig dat hy by God pleit om hom te bewaar. Bewaring is tog slegs nodig omdat daar bedreiging is. Sy omstandighede is so dat hy bely dat hy by die HERE skuil. ’n Mens skuil tog alleen iewers wanneer jou lewe bedreig word.

Vers 5: “Dawid bely dat die HERE sy lot onderhou.”

David besef dat die uitkomste van sy lewe nie deur homself nie, en ook nie deur ander mense nie, en beslis nie deur die vyandelike bose bepaal word nie. Sy lewenslot word deur die HERE onderhou.

Vers 7: “Dawid loof die HERE wat hom raad gegee het.”

Dit is omdat Dawid deur sy lewensgange in bepaalde knooppunte en moeilike kruispaaie gekom het waarby hy dringend raad en wysheid nodig gehad het. Raad wat hy van die HERE ontvang het, en wat hy noukeurig nagekom het, en dit het tot oplossing van die moeilike omstandighede gelei.

Vers 8: “Dawid vermeld dat die HERE aan sy regterhand is; daarom sal hy nie wankel nie.”

Dit sê Dawid omdat hy weet dat hy uit homself nie een oomblik sal staande bly teen al die aanslae van die bose nie. Sterkte om te kan voortgaan ondanks eie swakhede en gebreke kom van God af. En sy sterk hand, sy regterhand dikwels die hand wat die swaard en die spies moet hanteer - daar is die HERE self sy krag.

Vers 9: “Dawid vermeld met blydskap dat sy vlees in veiligheid sal woon by die teenwoordigheid van die HERE.”

Dit is omdat sy veiligheid deur die bose magte bedreig word dat hy so sê, en veral in vers 10 kom die dieptepunt van die bedoeling van die Bose na vore. Die Bose wil dat sy siel aan die doderyk oorgegee sal wees, maar die Bose se plan sal nie slaag nie.

So is hierdie Psalm baie duidelik die gebed van ’n gelowige onder aanvegtinge van en in die stryd teen ons doodsvyande: Die aanslag van die Satan, die verleiding of bedreiginge van die wêreld, die swakheid van ons sondige natuur, maar ook ’n gebed in die seker wete van die blye uitkoms.

Geen wonder nie dat hierdie ’n Psalm is wat deur die kerkgeskiedenis, in die mond van die apostels, en ook by die gelowiges wat die reformasiestryd deur die eeue aktief meegemaak het, besonder geliefd was.

In hierdie sin is dit dus die gebed van die strydende kerk hier op aarde, die gebed waarin ons die vertroosting soek, waarin ons ook die antwoord vind en blydskap het daarmee, dat die kerk in haar triomfe alleen kan bestaan waar die HERE self aanwesig is, waar Hy self die leiding gee, en waar Hy self ons beskerm en die oorwinning gee.

Hierdie Psalm is een van die helder bewyse dat die gelowiges van die Ou Testament ’n geloofsverwagting van lewe na die dood en van die opstanding van die liggaam nageleef het.

Met hierdie agtergrondbeskouïng wil ek u graag bring by die slotvers, die konklusie

Vers 11:

U sal my die pad van die lewe bekend maak;
versadiging van vreugde is voor u aangesig,
lieflikhede in u regterhand, vir ewig.
Daar vind ons drie kragtige sinne.”

U sal my die pad van die lewe bekend maak🔗

Hier is ons midde in ’n lewe waar­van ons bely dat dit tog niks anders as ’n gestadige dood is nie. En dit alles omdat ons dit op onsself gehaal het.

Ongehoorsaam aan die Woord van God het ons ons in die ellende en die vervloeking gedompel. Daarby het God ook vyandskap gestel tussen sy kin­ders en die van die Bose. Lewe op hier­die vervloekte aarde onder die aanveg­tinge van die Bose is ’n stryd om oor­lewing.

Dan beleef ons die akute hunkering, ons diepste gemis, wat ons weer wil terughê, die lewe. Lewensvervulling. Lewensgenieting. Lewensblydskap.

Want toe ons uit die paradystuin ver­dryf is, is ons ook van die aangesig van die HERE af weggedryf.

Maar die HERE het ons ellendetoe­stand omgekeer. Hy het dit ook self gedoen. Die mens kan nie uit homself weer die pad van die lewe vind nie. Die mens uit homself is onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad, tensy God dit vir ons omkeer. En so is hierdie belydenis van Psalm 16 ’n bely­denis van die evangelie van die Here Jesus.

Hy is vir ons die weg en die waarheid en die lewe. Dit is Hy wat vir ons die nuwe en lewende weg na die allerhei­ligste ingewy het. Dit is in Hom dat die Vader Homself by ons kom bekend­maak het. In Hom het ons die ewebeeld en die afdruksel van die wese van die Vader kom vind. Die pad van die lewe, wat ons vind binne die persoon van die Here Jesus Christus.

Die Jode, die Fariseërs en die Skrif­geleerdes het die Skrifte van die Ou Testament, die Bybel, bestudeer omdat hulle daarin die saligheid kon vind, en dit is hierdie geskrewe Woord wat heen­wys en verkondig van Jesus, die Vleesge­worde Woord. Deur die getroue betrag­ting van die Woord van die HERE kom ons onder die leiding van die HERE.

Ons kom by Jesus Christus, en deur in Jesus te glo, kan ons die ewige lewe hê. Die Hebreër-briefskrywer stel dit kragtig:

Hebr 1:1: Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.

En van hierdie verskyning van die Seun getuig en verkondig Johannes in sy evangelie Hfst 1:4: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense”.

So het die HERE dus nie alleen vir Dawid nie, maar vir ons almal die pad van die lewe bekend gemaak.

Die gewetensvraag is egter watter pad is dan die pad wat ons bewandel? Nie te sê dat ons die pad noodwendig altyd so fluks bewandel nie. Ook nie te sê dat ons nie soms op die pad struikel en val nie.

Maar op watter pad is ons wanneer al hierdie dinge met ons gebeur? Is ons op die breë weg van goddeloosheid wat na die verderf lei, of is ons op die smalle weg wat deur die nou poort na die lewe lei?

En met hierdie worstelvrae word ons elke dag gekonfronteer, ook as ons in die dal van doodskaduwee binnegaan. Dan is die biddende gelowige so met die HERE besig, want die HERE is nog heel tyd met die biddende gelowige besig. En wat doen die HERE? Hy wys ons voortdurend die pad van die lewe sodat ons daarop kan wandel.

Want daarby bring die tweede sin van vers 11 ons uit, waarheen loop die pad van die lewe?

Vers 11 sê wat ons vind as ons daarop loop:

Versadiging van vreugde is voor u aangesig.🔗

Die pad van die lewe bring ons uit by die aangesig van die HERE. Weer terug na daar waar ons eertyds uitgedrywe is. Uit na die buitenste duisternis, weg van die vriendelike aangesig van die HERE af. Maar op die nuwe en lewende weg wat Jesus vir ons ingewy het, mag ons weer die seënende toesegging van die priesters hoor: Die HERE sal sy aangesig oor u laat skyn, die HERE sal sy aangesig oor u verhef. Ook dit het betekenis vir die soekende siel.

Betekenis vir die mens wat soek na sin en betekenis.

Betekenis veral vir die mens wat verlang, ja wat smag na lewensin, lewensvreugde.

Aan hoeveel dinge kan ons nie ook dink waaraan ons hier op aarde lewensvreugde en lewensin ervaar nie... Is dit goeie gesondheid? Is dit ’n suksesvolle loopbaan? Is dit dalk die voorreg om alles en nog wat van God se skepping te mag aanskou? Is dit dalk om ’n vervulde huwelik en ’n geseënde gesinslewe te mag ondervind? Is dit dalk veel rykdom en aansien? Ons kan maar die lysie langer en langer maak.

Die prediker het dit nogal reggekry om die aardse genietinge en lewensvreugde tot op die uiterste te beskrywe. En hy het ook ingesien dat die HERE self elke mens se deeltjie aan hierdie lewe sorgvuldig afgeweeg het.

Maar waar vind dan tog die mens wat so intens honger daarna, eindelik lewensvreugde?

Die antwoord hierop ken alleen dié persoon wat strydende deelneem: wandel en struikel en kruip en hardloop, val en opstaan, voortstrompel en weer wandel, maar op die pad van die lewe wat in en deur ons Here Jesus Christus aan ons bekend gemaak is. So een ontdek versadiging van lewensvreugde deur te wees voor God se aangesig.

En waarin loop hierdie lewensvreugde finaal uit?🔗

Dit vertel die derde sinsdeel van vers 11 ons. Dit loop vir ons uit op die belewing van lieflikhede, genietinge en plesierbelewinge uit sy regterhand vir ewig.

Kyk, dit is vir ons dikwels so hartseer om die weë van verskillende mense op hierdie aarde te aanskou.

Ons gaan hier by die kerkwerf uit in die besige strate van Pretoria waar mense woelend beweeg. Ons kom in winkels en sien hoedat mense koop en verkoop. Ons kom in ontspanningsplekke en sien hoe die mense sug na die oorgegewe belewing van loutere genot. Ons koop tydskrifte en sien hoedat die uiterlike skoonheid van die jonkheid aanbid word asof dit nooit sal ophou nie.

Alles uiteindelik in die woorde van die prediker - ’n gejaag na wind.

En waar ons mekaar so graag ook nog ’n volle kwota van aardse genietinge wil gun, is dit juis dikwels so hartseer wanneer ons sien hoedat die HERE dikwels die draadjies kortknip.

Sommiges word net geskend, ander word gestrem, nog ander eindig hierdie lewe met onvervulde verlange, onbeantwoorde versmagtings, sommige in die fleur van hulle lewe, ander na ’n lange stormagtige lewe.

En terwyl die een se lewensdrome verwesentlik word, maar die ander s’n nie, is dit die HERE wat bepaal hoedat die stryd vir elkeen uitgelê is, ook op watter wyse Hy die stryd vir elkeen tot ’n einde bring.

Maar wat is dan die sin van ons bestaan?

Watter deel sal vir die gelowige die beste deel wees om te kies as hy maar kon?

Watter lewenswens gaan ons van die HERE afsmeek om dit te skenk?

Hoe wil ons graag die meetsnoere van ons erfenis vir ons afgemeet sien?

Die HERE maak dit vir ons baie eenvoudig. Hy laat ons gekompliseerde bestaan met al sy intriges en momente tot een strewe afrond... Die pad van die lewe, liefde vir die pad van die lewe, lewensvervulling voor sy aangesig, tevredenheid, berusting. Ja na honger en dors gee Hy versadiging van vreugde wanneer ons verskyn voor sy aangesig, wanneer ons na hierdie aardse stryd opgeneem word in sy heerlikheid, dan vind ons hoogste vreugde, genietinge by Hom, uit sy regterhand – en die tydsduur is nie beperk tot ’n tydelike nagwaak, of ’n fees in kortstondigheid nie, maar genietinge, lewensvervulling uit sy regterhand vir altyd ... vir ewig.

En waar ons lewe hier in die worsteling so ’n gejaag na versadiging is, moet dit eerste ’n honger en dors na die geregtigheid wees.

Mag ons dan vind dat ons, as ons op hierdie pad van die lewe wandel wat die Here ons deur sy Woord en Gees, deur sy geliefde Seun, vir ons ingewy het na sy heiligdom, dat ons in die vreugde van die HERE mag binnegaan.

Wat ’n vreugde dan dat die stryd van hierdie lewe mag oorgaan in vervulling. Dat die strydende kerk mag oorgaan na die oorwinnende kerk. Dat die stryd op aarde mag oorgaan in verlustiging. Dat die honger van nou mag oorgaan in versadiging van geregtigheid, die arbeid mag oorgaan in die genieting van die Sabbatsrus van die ewige lewe. Die lewe wat in sy volheid voor ons mag oopgaan.