Bron: Kompas. 7 bladsye.

Psalm 2 - Is profesie oor Christus in die Ou Testament altyd Direk Messiaans?

Met besondere aandag vir Psalm 2

By die lees van die Ou Testament is die vraag wat hierbo gevra word, baie belangrik.

Hierdie vraag speel ook ’n rol by die beoordeling van die nuwe psalmberyming, met name die Messiaanse psalms.

Messiaanse Psalms🔗

Ons broers en susters in die Ou Testament het geweet dat die Verlosser gaan kom. Hulle het daarna uitgesien. Die HERE het sy koms reeds vanaf Genesis 3:15 aangekondig. Die HERE het ook steeds weer oor Hom laat profeteer. Daar is steeds meer van Hom vertel sodat die volk Hom kon herken as Hy sou kom.

Die dele van die Ou Testament waarin oor Christus self geprofeteer word, noem ons Messiaanse profesieë. Die HERE het ook in die psalms oor Christus laat profeteer. Een van die psalms waarin dit gebeur is Psalm 2. ’n Duidelike bewys in die Bybel daarvoor is wat Paulus in Handelinge 13 in die sinagoge van Antiochië sê:

En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. (32,33)

Nogtans sê baie teoloë vandag dat Psalm 2 oorspronklik niks met Christus te make gehad het nie.

Dit sou hier gaan oor ’n lied wat by die troonsbestyging van ’n koning gebruik is. Die volk sou dit gesing het by die inhuldiging van die nuwe koning. Sekere sê selfs dat dit ’n lied was wat jaarliks op ’n bepaalde dag gebruik is om die HERE se troonsbestyging te vier. Die uitlêers wat dit sê, beroep hulle op sekere gebruike by ander volke in die ou Nabye Ooste. Volgens mense wat so dink, is die latere gebruik van hierdie Psalm wat dit op Christus betrek nie gegrond op die oorspronklike betekenis nie. Om in Psalm 2 Christus te wil sien, sê hulle, is ’n herinterpretasie van die psalm.

’n Duidelike voorbeeld daarvan vind ons in die Bybel in Praktyk:

Ons kan egter nie te gou die Ou Testament vanuit die Nuwe verklaar nie, maar moet dit in sy eie reg lees. Die koningspsalm handel immers in die eerste plek oor Israelitiese konings en Psalm 22 beskryf die lyding van ’n onbekende enkeling. Die koningspsalms is eintlik “politieke” psalms waarin Israel se geloof in God baie direk aan die militêre sukses en aan die voortbestaan van die Dawidsdinastie gekoppel is. Veral in die psalms waar Dawid se rol in die erediens so sterk in die opskrifte daarvan beklemtoon word, is godsdiens en eietydse politiek onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die “gesalfde” (dit is wat messias letterlik beteken) koning wys net in Daniel 9:25 na ’n toekomstige koning.

Die idee van ’n messias was dus ’n nuwe gedagte in die tyd van die Nuwe Testament. Die Christelike messiasverwagting het heeltemal ’n ander oorsprong as die militêr-politieke, nasionale, Joodse verwagting. Dit hou verband met die profete van die Ou Testament wat ’n koning van vrede (Jesaja 9 en 11) verwag het, wat op ’n donkie ry (Sagaria 9:9). Later het die koning van vrede nog ’n eienskap bygekry: hy sou vrede en versoening bring deur sy plaasvervangende lyding (vgl. Jesaja 53). Psalm 22 het hierdie gedagte versterk. Na die geboorte, lewe en lyding van Jesus het die Christene in Hom hierdie gesalfde (Messias-) koning herken. Ons moet daarom nie in hierdie psalms dadelik ’n voorspelling van Christus sien nie, maar weet dat dit ’n latere interpretasie is van die eerste Christene waarin ons vandag natuurlik mag deel.Bladsy 756

Hoe moet ons daaroor dink? En kan ons ook as ons dit afwys nog sê dat hierdie psalm ook betrekking het op ’n koning van Israel wat voor Christus geleef het? Hierdie vrae is nie net akademiese vrae nie, maar baie belangrik vir die verstaan van die profesie in die Ou Testament.

Ek wil hierdie vrae nou beantwoord vanuit die uitleg van wat ons een van die Messiaanse psalms noem, naamlik Psalm 2.

Praat Psalm 2 van Christus?🔗

Die vraag of hierdie psalm oor Christus profeteer is nie moeilik om te beantwoord nie. Wie die Heilige Gees erken as die Skrywer van die Bybel en daarom die eenheid van God se Woord bely, kan nie anders as om te sê dat hier van Christus gepraat word nie. Die Gees self wys op verskillende plekke in die Nuwe Testament dat Hy hier van Christus geprofeteer het, dat hierdie psalm in Christus in vervulling gaan. Baie duidelik lees ons dit in: Handelinge 4:25; 13:33; Hebreërs 1:5; 5:5; Openbaring 2:26; 19:15.

Beteken dit nou dat hierdie psalm net van Christus praat? Dit is baie verleidelik om dit te sê teenoor hulle wat beweer dat Psalm 2 eintlik glad nie van Christus praat nie. As ons dit beweer, doen ons self ook aan God se openbaring te kort. Hoe moet ons profesieë en ook psalms wat profeties praat, lees?

Die Heilige Gees gee vir ons ’n duidelike voorbeeld hoe ons dit moet doen: Petrus het op die Pinksterdag Psalm 16 gebruik om te bewys dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het en dat sy liggaam in die graf nie begin verteer het nie. Petrus wys daarop dat Dawid Psalm 16 geskryf het en dat hierdie psalm ook oor Dawid self gaan. Nogtans is daar sekere gedeeltes in hierdie psalm wat in Dawid se lewe nie in vervulling kon gegaan het nie. Dit is o.a. die gedeelte van die psalm waar Dawid sê:

Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by U aangesig. Handelinge 2:27,28

Petrus maak duidelik dat hierdie gedeelte nie in Dawid sy volle vervulling gevind het nie. Dawid het naamlik gesterf en sy liggaam het verteer en “die weë van die lewe” het by hom nog nie beteken dat hy uit die dood opgestaan het nie. Daar is dus gedeeltes wat op Dawid betrekking het en in hom gedeeltelik hulle vervulling vind, maar die volle vervulling is in Christus.

So leer die Heilige Gees ons om die profesie te lees. Dit gaan nie altyd daaroor dat ons moet sê: óf Christus óf ’n ander nie. Die profesie kan ook ’n gedeeltelike vervulling hê in iemand wat voor Christus geleef het, terwyl die volle vervulling in Jesus Christus kom. Laat ons met hierdie aanwysing van die Gees nou ook Psalm 2 lees.

Vers 1-3🔗

Ons lees in Psalm 2 nie wie hierdie psalm geskryf het nie. Nogtans weet ons dat dit Dawid was, want ons lees in Handelinge 4 waar die gemeente in Jerusalem hierdie psalm gebruik: “wat deur die mond van U kneg Dawid gesê het:” vs. 25.

Dawid skryf hierdie psalm in omstandighede waar hy as koning moeites ondervind en sy koningskap deur vyande van buite bedreig word. Volke en nasies het hulle verbind om Israel aan te val. Dit gaan hier regtig om ’n konkrete situasie. Ons lees in vers 6 dat hierdie vors, koning oor Sion is. Dit gaan hier oor die konkrete gesalfde wat in daardie tyd God se gesalfde koning op aarde was. Ons lees van Dawid ook dat hy deur Samuel in God se naam tot koning oor sy volk gesalf is. 1 Samuel 16.

Ons kan nie met sekerheid sê na watter situasie Dawid in ons psalm verwys nie. ’n Moontlikheid is dat ons hier moet dink aan wat ons in 2 Samuel 10 en 1 Kronieke 19 lees.

Dit is waar koning Hanun van Ammon die leiding neem om saam met soldate van ander konings en volke teen Dawid te stry. Dan ontstaan vir Dawid se leër ’n baie moeilike situasie. Volke en konings woel en gaan te kere om teen God se volk, teen die kerk te veg. Daar is baie aktiwiteit en daar word baie tyd en dinkkrag gebruik om teen God se volk te kan stry. Die Heilige Gees maak in ons teks duidelik dat die stryd teen God se volk nie een of ander gewone oorlog is nie. Dit is nie ’n oorlog soos wat dit in daardie tyd dikwels tussen volke en konings plaasgevind het nie. Wanneer volke saamsweer om teen God se volk en teen Dawid op te trek, is dit ’n stryd teen die HERE self!

Ons moet onthou dat hierdie gedagte in daardie tyd glad nie vreemd was nie. Ook nie by die heidense volke nie. Die volke het gode vereer en elke volk of land het sy eie hoofgod gehad. Dit was vir die gevoel van die mense die god van die land. As die vyand kom, dan stry die vyand met sý gode teen jou god. As die vyand oorwin, het die gode van die vyand jou god oorwin.

Wanneer magte teen God se volk opstaan, is hulle besig om die HERE en sy Koninkryk aan te val. Dit is dan nie net een of ander gedagte nie, maar die werklikheid! Dan is hulle in diens van die duiwel besig. Die werklikheid is dan dat die koninkryk van die duiwel die HERE se Koninkryk probeer vernietig.

Dawid se posisie is dat ’n magtige koalisie teenoor hom gereed staan om hom te verslaan. Ons lees in vers 2 dat “die konings van die aarde gereed staan”. Hulle staan klaar om te veg omdat hulle nie aan die HERE en sy gesalfde onderworpe wil wees nie. Hulle wil hulle eie ding doen en nie volgens die HERE se wil lewe nie. Die sonde, die opstand teen die HERE woel en werk in hulle lewe. Hulle wil daarom die mag wat die HERE se gesalfde oor hulle het van hulle skouers gooi. Hulle wil vry wees om die duiwel en die verlangens van hulle eie sondige hart te volg. Die sameswering is teen die HERE en sy gesalfde koning gerig. Dawid skryf dit in ’n konkrete situasie waarin volke wat op een of ander manier onder sy gesag staan, nie meer aan God se gesalfde koning onderdanig wil wees nie. Juis deurdat die Gees ons nie vertel watter spesiale situasie dit was nie, wys die Gees dat dit wat ons hier lees, in en vir die hele geskiedenis betekenis het.

Dwarsdeur die geskiedenis is en word God se volk deur verskillende magte aangeval. Telkens sien ons dan gebeur wat ons in die eerste drie verse van Psalm 2 lees. Dit is ook daarom dat die gemeente van Jerusalem hierdie psalm gebruik as hulle daar so sterk bedreig word. Die duiwel gebruik al sy krag om deur die volke die begin van die Nuwe-Testamentiese kerk te vernietig.

Hy doen alles om te voorkom dat die evangelie ook buite Jerusalem verkondig sal word en kerke sal ontstaan. Die gemeente word van alle kante bedreig. As hulle dan in hulle gebed Psalm 2:1,2 aangehaal het, sê hulle:

Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het. Handelinge 4:27

Hier sien ons ook hoe die vervulling van hierdie psalm verder gegaan het. Dit het in Dawid se lewe net ’n gedeeltelike vervulling gevind. Dit vind sy volle vervulling in die Seun van Dawid Jesus Christus. Hy is die Gesalfde.

Teen hom sal nog baie meer konings en volke opstaan as wat met Dawid gebeur het. Christus is die Koning van die kerk. Die haat teen Christus openbaar hom steeds weer in die geskiedenis. Hoe span mense steeds weer saam om óf met geweld óf deur verleiding God se volk te vernietig. Hoe is volke in ons tyd besig om die sogenaamde Christelike juk af te gooi. Hoe roem mense in die vryheid wat hulle weer gekry het noudat hulle nie meer aan die norm van God se Woord gebind is nie. Wanneer volke vir ’n grondwet kies waarin die gehoorsaamheid aan die HERE en sy wet nie meer die hoogste norm is nie, gebeur wat ons in ons psalm lees. Dan is volke en magtiges besig om te sê: “Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp”.

Die bande is die mag wat die HERE en Christus as die Gesalfde oor hulle uitoefen. ’n Mens sien hoe oor die hele wêreld volke en magtiges so teen die HERE en sy Gesalfde optree. Ons sien dit ook gebeur as mense nie meer God se norme in kerk en samelewing wil uitdra nie. Dit is te skerp vir ons tyd, sê mense dan. As ons mense by die kerk wil hou, moet ons nie so sterk praat en dink nie. Dit is ook ’n manier, hoe vroom dit ook al klink, om voor die post-moderne gees te buig en die “toue” van God en die Gesalfde te wil afwerp.

Vers 4-6🔗

Die HERE is die enigste God. Dit beteken dat Hy alles weet en hoor. Dit bly nie vir Hom verborge as magtiges ’n aksie teen sy koninkryk uitdink nie. Hy sien hoe mense baie tyd daaraan bestee om planne teen sy volk te maak. Mense dink dat hulle baie invloedryk en sterk is. Nogtans maak dit op die HERE geen indruk nie. Dit kan Hom nie bang maak nie. Ons lees in vers 4 die HERE se reaksie op die magsontplooiing van die volke, van duiwelse magte:

Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle.

Mense dink dat hulle magtig is. In werklikheid kan hulle egter niks doen wat teen God se plan is nie. Die gemeente in Jerusalem bely dit ook toe hulle van alle kante bedreig word. In hulle gebed noem hulle almal wat saamwerk om Christus se gemeente te vernietig, wat saamwerk teen die Gesalfde Jesus Christus, en dan bely hulle in Handelinge 4:28: “om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.”

Die HERE lag vir die magtiges wat Hom en sy Gesalfde teenstaan. Ons sien dit ook as die Here Jesus gevange geneem word. Toe die soldate Hom gevange wil neem, wys Hy dat hulle dit net kan doen as Hy dit toelaat. Hy toon dat Hy die Gesalfde Koning is. Jesus vra vir die soldate wie hulle soek om gevange te neem. Hulle antwoord: Jesus die Nasarener. Jesus sê: Dit is Ek. En dan lees ons in Johannes 18: “Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.” (vs. 6) Die soldate, en in hulle die wat teen Christus planne maak, moet weet dat Hy die magtige Koning is en nie hulle nie. Die magte, die konings wat teen die HERE en sy Gesalfde saam-span, moet weet dat die HERE hulle “in sy toorn sal aanspreek”. Hy sal hulle “in sy grimmigheid verskrik”. Hoe doen die HERE dit?

As ons eers aan Dawid terugdink wat hierdie Psalm in sekere omstandighede geskryf het, is dit duidelik dat die HERE sy grimmigheid en toorn gewys het deur aan Dawid steeds weer die oorwinning te gee. Die teenstanders het groot neerlae gely en moes erken dat die HERE en sy gesalfde koning onoorwinlik is. Die koning wat deur die HERE gesalf is om te regeer en ook oor Sion te regeer, sal en kan nie deur God se vyande oorwin word nie. Dan gaan dit natuurlik om die koning wat ook regtig as God se gesalfde in gehoorsaamheid aan die HERE regeer. Die liefde en gehoorsaamheid aan die HERE word ook duidelik in die manier waarop hy oor Sion regeer. Sion is die plek waar in Dawid se tyd die HERE se tent gestaan, en waar Salomo die tempel laat bou het. Die koning wat as gesalfde van die HERE leef, beskerm God se heiligdom, bevorder die aanbidding deur die volk op Sion en is self daarin ’n voorbeeld vir die volk. Die koning wat so vanuit die aanbidding en liefde vir die HERE leef en regeer mag sekerlik weet dat selfs die magtigste vyande sy koningskap en God se volk nie kan bedreig nie. Die koning is veilig omdat die HERE hom as die Almagtige beskerm. Dit is naamlik die HERE wat teenoor die volke en nasies wat optrek sê: “Ek tog het my koning gesalf oor Sion, my heilige berg.”

Nou moet ons ook verder as Dawid en al die ander konings uit Dawid se huis, kyk. Christus wat die Seun van Dawid is, het gekom. Hy is die besondere Gesalfde van die HERE. Hy is die Messias. Hy het na die hemel opgevaar om daar aan God se regterhand oor die hele wêreld te regeer. Om op ’n besondere manier ook die Koning van die kerk te wees. Hy is die Verlosser en Koning van Sion, van God se kerk. Die HERE sê van Hom vir die hele wêreld: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion. Daarom is die kerk onverwoesbaar. Dit gee moed in die wêreld van vandag. Dit is ook juis die rede dat die gemeente van Jerusalem in die situasie van bedreiging bid: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek.” (Handeling 4:29) Die HERE laat sy gemeente voel dat Hy hulle gehoor het deur die huis waar hulle saam is te laat skud. Die gevolg daarvan is: “en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die Woord van God met vrymoedigheid gespreek.” (vs. 31)

Vers 7-9🔗

Dan kom ons nou by vers 7. Dit is nie die Here wat in vers 7-12 praat nie, maar die Gesalfde koning. Kyk maar na die eerste deel van vers 7:

Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is My Seun, vandag het Ek self U gegenereer.

Die Gesalfde vertel nou wat die HERE vir Hom gesê het. Die koning vertel van die HERE se besluit. Die HERE sê in sy besluit dat hierdie koning sy seun is. Beteken dit nou dat ons hier dadelik aan Christus moet dink en dit geen enkele betrekking op Dawid gehad het nie? As ons dit sou doen, doen ons weer te kort aan die HERE se eie Woord.

Dit is nie vreemd dat die HERE Dawid hier op ’n besondere manier sy seun noem nie. Dit wys op die besondere verhouding wat die HERE met Dawid het en met sy gelowige nakomelinge wat sal regeer. Die HERE verwys ook daarna as Dawid ’n tempel vir Hom wil bou. Dawid mag dit nie doen nie. Sy seun sal hom opvolg en moet die tempel bou. Die profeet Natan moet hierdie boodskap aan Dawid oorbring en dan moet hy ook van Dawid se opvolger sê: “Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders.” (1 Samuel 7:14)

In Psalm 89 lees ons die volgende oor Dawid:

En Ek sal Dawid se hand lê op die see en sy regterhand op die riviere. Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil! Ja, Ek sal hom ’n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.Psalm 89:26-28

Die HERE noem sy volk sy kinders, nogtans staan Dawid en ook sy opvolgers, as hulle in liefde en gehoorsaamheid aan die HERE regeer, in ’n spesiale verhouding met God. Die spesiale verhouding het op ’n spesifieke oomblik in die geskiedenis begin. Hierop wys die woorde: “vandag het Ek self U gegenereer”. Dit is nie Dawid wat homself koning gemaak het nie. Nee, die HERE het hom daarvoor bestem en het dit op ’n sekere oomblik in die geskiedenis vir die mense gewys. Hy het daarvoor gesorg dat Dawid op ’n sekere dag voor die oë van sy familie gesalf is, dat Dawid op ’n sekere oomblik voor die oë van die volk amptelik koning geword het. Die HERE het hom as koning verwek en aangestel. Dit is die HERE se werk. Dawid word God se gesalfde koningseun genoem. Dit is egter op ’n totaal ander manier as waarop die volke rondom hulle koning as godeseun gesien en aanbid het. God se volk het Dawid nie vergoddelik nie en dus nie aanbid nie. Die volke rondom Israel het met hulle konings afgodediens gepleeg.

Tog is ons nog nie klaar met vers 7 nie. Ons sien in Dawid se lewe ’n gedeeltelike vervulling van hierdie woord, maar nog nie die volle een nie. Die volle vervulling van hierdie woorde lê in Christus. Ons sien dit baie goed raak as hierdie vers in die Nuwe Testament aangehaal word. Dit gebeur in Handelinge 13 en Hebreërs 5. Toe Paulus in die sinagoge van Antiochië preek, sê hy o.a.:

En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.Handelinge 13: 32,33

en: Niemand neem die waardigheid (om hoëpriester te wees, RV) vir homself nie, maar hy wat deur God geroep word, net soos Aäron. So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hy het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is My Seun, vandag het Ek U gegenereer.(Hebreërs 5:4,5)

Niemand is op hierdie manier die Seun van God soos Jesus Christus nie. Dawid was nie die ewige en natuurlike Seun van God nie. By hom het dit op ’n besondere verhouding met die HERE gewys. By Christus gaan dit dieper en verder. Dawid profeteer hier in Psalm 2 oor Christus wat van ewigheid God se Seun is. Dit het die HERE op sekere oomblikke in die geskiedenis op ’n baie besondere manier vir die wêreld gewys. Dink maar aan Christus se opstanding uit die dood. Dit is die dag waarop die HERE op ’n besondere manier wys dat Jesus Christus sy Seun is. Die ewige gebore Seun van God word op dié dag met krag as die eniggebore Seun van God aangewys. Paulus wys daarop met die volgende woorde in Romeine 1, waar hy van die evangelie skryf:

wat God tevore beloof het deur sy profete in die Heilige Skrifte, aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here. Romeine 1:2-4

Hoe heerlik profeteer Dawid in hierdie Psalm al van sy groot Seun wat Dawid se Here en Verlosser is. Hoe ryk is hierdie profesie. Hy waarvan die Here sê dat dit sy seun is, kry die belofte van wêreldheerskappy: “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.”

As ons aan Dawid se lewe dink, sien ons dat hy deur die HERE op ’n besondere manier in sy koningskap geseën is. Hy was in die omgewing ’n magtige koning. Dawid se mag strek hom selfs buite die grense van Israel uit en meerdere volke is aan hom onderwerp. Dawid het ’n magtige koning geword. Tog is dit nie so dat hy oor die hele wêreld heers nie. Hier sien ons weer so ’n element in Psalm 2 waar die volledige vervulling bo Dawid se lewe uitstyg. Dawid profeteer hier van Christus wat die wêreldheerskappy as loon vir sy werk as die Verlosser ontvang. Nadat die Here Jesus op aarde vir die gelowiges vergifnis verdien het en opgestaan het, sê Hy net voor sy hemelvaart: “Aan my is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Matteus 28:19) Die Gees skryf deur Paulus van Christus: “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee.” (Efesiërs 1:22)

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. Filippense 2:9-11

Dit is Christus, God se Seun, wat die wêreldheerskappy ontvang het. Hy regeer die geskiedenis nou so dat eendag elke teenstand teen God en Hom van hierdie wêreld sal verdwyn. Hy regeer so dat mense dan uit elke volk en nasie saam die lof op God en die Lam sal sing en die aarde skoongemaak is van elke sonde en herinnering daaraan. Dit is die sekere oorwinning wat die Gees in Psalm 2 laat profeteer. Elkeen en elke mag en volk wat nou nog teen die HERE en sy Gesalfde opstaan sal verpletter en uitgeroei word. Van daardie mag wat in diens van die duiwel, van die sonde staan sal eendag niks meer oorbly nie.

Die wat vandag in diens van Koning Christus leef, die wat vandag steeds weer sy ore oophou om na die Verlosser en Koning te luister en vir Hom te leef, mag weet dat hy saam met Christus mag regeer. Ons lees dit in die brief wat Christus aan die gemeente van Thiatire laat skryf. Die wat tot aan die einde van sy lewe aan Christus en die evangelie vashou, kry in Openbaring 2:26,27 hierdie belofte:

En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek van my Vader ontang het.

Ons kan hier sien dat elke mens wat in die geloof sterf, by die regering en oorwinning op God-vyandige magte ingeskakel word en ’n oorwinnaar is.

Gevolgtrekking🔗

Die Messiaanse verstaan van die Ou Testament beteken nie dat alles altyd direk op Christus wys nie. Daar is gedeeltes wat direk en gedeeltes wat indirek op Christus wys. Indirek beteken dan dat die volle vervulling nog nie in ’n ander bereik is nie. Dit beteken vir ’n Psalmberyming dat dit die beste sal wees om by Psalm 2 ’n hoofletter te gebruik. Dit is ons taak om die Nuwe Testamentiese gemeente die volheid van die betekenis van hierdie Psalm te laat sing. Die volheid is in Christus.