Bron: Kerk en Woord, 1995. 3 bladsye.

Psalm 91 - Wie by God Woon, is Onaantasbaar

Lees Psalm 91

voel in net

Deut 32 en Ps 90 is albei liedere van Moses. Maar ook Ps 91 is hoogswaarskynlik ’n lied van Moses. Talle woorde in hierdie Psalm kom letterlik ooreen met woorde in Deut 32. Dertien van hulle. Ja, ook in Ps 91 is Moses aan die woord. En hy besing die heerlike beskerming van die Almagtige God vir dié wat by Hom woon. Dit is die tema van die hele lied. So het Israel God se trou met hulle uitredding uit Egipte ervaar.

Aan Abram het Hy belowe (Génesis 15:13-16): Na 400 jaar verlos Ek jou nasate uit Egipte se verdrukking. En dié belofte het God gehou. Kyk, daaroor sing Moses in Ps 91:3-8.

Moses sing nie van dinge wat God “sal” doen nie, maar, soos die 1983 AV tereg vertaal, van dinge wat God “gedoen het”:

  • “Want dit was HY wat jou gered het uit die net van die voëlvanger.”
  • “Hy het jou gedek met sy vlerke en onder sy vleuels het jy geskuil; sy trou was ’n skild en pantser.”

Moses beskryf wat Israel met hulle eie oë in die moerasse van die Nyl gesien het. Daar is met klapnette voëls gevang. Maar wat ’n bevryding as so ’n verwilderde voël dan uit so ’n klapnet losgekom het – iets wat byna onmoontlik was. Met dié beeld teken Moses hoe Jahwe Israel uit Farao se kloue bevry het.

En so het Hy sy volk ook gered van die verderflike pes, of soos ook vertaal kan word, “die verderflike word”. Want verderflik was die woord van Farao dat die pasgebore Israelitiese seuntjies in die Nyl verdrink moes word. So wou hy Israel uitroei.

Maar God het Sifra en Pua aan Israel gegee – twee bewoë Egiptiese vroedvroue – en hulle het Farao se planne gefnuik.

So het die Allerhoogste Israel gedek met sy vlerke, en onder Sy vleuels het jy geskuil; Sy trou was ’n skild en ’n pantser, sê Moses vir Israel.

Die beeld van die hen onder wie se vlerke die kuikens wegkruip in gevaar, is eg Bybels. So wou Jesus Jerusalem ook skuiling gee. So het Dawid by God geskuil in nood, Ps 36.

kuiken onder vleuel

Ja, God se trou aan sy belofte dat Hy sy volk in die beloofde land sou bring, het Israel vir Farao onaantasbaar gemaak. Soos ’n skild en ’n pantser het daardie belofte Farao se aanslae afgekets. Die plae waarmee God Farao en Egipte getref het – die skrik van die nag, die pyl wat bedags gevlieg het, die pes wat in die donker rondgegaan het, die siekte wat op die middag verwoes het, sou Israel dit ooit vergeet? Maar daarvoor hoef Israel nie vrees te gehad het nie, selfs al het daar duisende vlak naas hulle in elke Egiptiese huis geval. Vreeslik was die gekerm oral in Egipte, maar in die huise-met-bloedgeverf was daar vrede.

Na God se volk het dit nie aangekom nie. God het hulle PASGA gegee! Hy het hulle verbygegaan, genadiglik! Net met hulle oë het hulle die vergelding van Farao gesien. Sy verharding het duisende van sy volk getref. Ps 78:50 sê dat God hulle lewe “aan die pes oorgegee het”.

Die “pyl wat bedags vlieg” is ’n parallel vir die siekte (lett.: steek) wat op die middag verwoes. Deut 32 praat van “dodelike siekte”, iets soos ’n epidemie. Die dood van die eersgeborenes was epidemies, van volksomvang.

’n Doodsteek vir God se volk se vyande!

Kyk, as Israel Moses so hoor sing van God se wonderbaarlike beskerming, dan val hulle saam in met (vs 9a): Ja! U, Jahwe, is my TOEVLUG!

Maar onmiddellik daarop antwoord Moses dan weer in vs 9b met: Jy het die Allerhoogste jou SKUILPLEK gemaak... En DAAROM – en dan dink Moses aan Israel se woestynreis, iets wat nog voorgelê het – daarom sal geen onheil jou tref nie en geen plaag naby jou tent kom nie; want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.

Ja, omdat Israel by God skuiling gesoek het, het hulle die belofte: Hy sal hulle bewaar tot hulle veilig aankom in die land van belofte.

Bedreiging deur giftige slange (dink aan die geskiedenis van die koperslang) of roofdiere – die leeu veral, sou hulle nie hoef te vrees nie. God verseker hulle: “Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.” Israel het regtig niks te vrees gehad nie.

Hulle tentlaer sou ’n plek wees van lewe, van blydskap en vrede – veral saans om die wagvure. Hulle was in God se hoede. Totius het dié beskerming so besing: “Rondom jou ruis die engelevoet met liggewiekte treë. Hul kom die wand’laar tegemoet en lei hom op sy weë...”

Met wolkkolom bedags en vuurkolom snags en ’n leërskaar van engele sou God veilig, soos Ps 78:54 sê, “hulle bring na sy heilige grondgebied”.

Maar dan hoor ons die heel mooiste, God se eie woorde:

Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat Hy My Naam ken. Letterlik: Omdat hy My AANHANG of AANKLEEF.

Dit doen jy wanneer jy jou hele hart aan iemand gee, soos ’n vrou vir haar man, of ’n man vir sy vrou. In Deut 7:7 met daardie innige liefde het God sy volk uitverkies. En as die volk nou hulle God, hulle Man se liefde beantwoord deur Hom absoluut aan te hang, en sy Naam, sy groot dade ken, en Hom daarom altyd in die gebed aanroep, sal Hy, sy volk se Beskermer, hulle verhoor. In die nood sou Hy by hulle wees. Hy sou hulle uitred – dink aan die Amalekiete, die konings Sion, Og, die Moabiete, ens., ens. Kanaäniete van Jerigo. Ja, God het ook dié belofte gehou. Hy het die volk wat Hom aangehang het, TOT EER GEBRING! In die beloofde land was hulle ’n gemaakte volk, hul lewe gegrondves op ’n rotsvaste fondament.

roofdiere

Kan ons, die NT-kerk, Ps 91 letterlik alles so op ons toepas: Geen onheil sal ons tref, geen plaag naby ons woonplek kom nie en engele wat ons van alle rampe bewaar, nooit ’n slagoffer van slange of roofdiere nie? Nee, ons weet beter: God se horlosie het aangeskuif. Ons is nie op ’n woes­tynreis nie en ook nie in die beloofde land nie. Ons is ’n behoue aankoms belowe, maar nie ’n teëspoedvrye bestaan nie.

God se wonderlike redding in Christus is egter ons deel en ons mag glo aan die inwoning van sy Gees. Ja, veel heerliker, veel sekerder as Israel mag ons weet: Wie in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Wie in Christus by God ’n woonplek gevind het, laat Hy nooit los nie, selfs nie in diepe depressie of wanneer dokters hulpeloos staan, selfs nie in die dood nie.

Steeds mag ons seker wees van sy Almagtige beskerming, omdat Hy dit kan doen as Almagtige God, maar ook wil doen as Getroue Vader. Onder alles HOU HY ONS VAS. Selfs as ons vanweë vervol­ging soos slagskape geslag word. Twyfel nie daaraan nie: God bring sy verlostes by hulle bestemming. Hy laat sy volk sy heil SIEN!