Bron: Die Kerkblad, 1988. 4 bladsye.

Raadpleeg die Mond van die HERE

Lees Josua 9:1-18; Teks: Josua 9:14

Die kerk van die Here word maar voortdurend van twee kante bedreig. Daar is aanvalle van buite wat deur die vyand op die kerk geloods word.

Maar daar is ook so dikwels twis en onmin van binne wat die eenheid van die kerk bedreig en die gemeenskap van die gelowiges versteur.

So was dit reeds onder Israel in die tyd van Josua. In vs.6 van ons tekshoofstuk lees ons hoedat die Gideoniete probeer het om met lis en bedrog ’n vastrapplek onder die volk van God te kry.

Die bedreiging van buite af. En in vs. 18 hoor ons hoe die hele volk mor en murmureer teen hulle leiers. ’n Hele kerk kom in opstand teen die sinode. Dis die gevaar van binne. Hoe kan ons as kerk en ook as ’n sinode hierdie twee gevare vryspring? Ons teks gee vir ons die antwoord.

Die Kerk moet nie Vergeet om die Mond van die Here te Raadpleeg nie🔗

  • Dit voorkom verkeerde besluite
  • Dit bewerk ware eenheid
  • Dit waarborg die leiding van die Heilige Gees

Josua 9 bring ons op die slagveld. Daar is ’n oorlogssituasie. Tussen die gevegshandelinge deur kom daar ’n vredesending. Mense uit ’n ver land met verflenterde klere, verslete wynsakke, gelapte skoene en ou droog en verkrummelde brood.

Hulle kom in die laerkamp by Gilgal en hulle stel aan Josua en sy manskappe hulle saak. Generaal Josua en sy offisiere luister aandagtig. Dit klink daarom indrukwekkend. Hulle het van Israel se roemryke oorwinnings gehoor en nou wil hulle ’n verbond kom sluit. Die generale staf gaan uiters sorgvuldig aan die werk. Tog blyk dit later dat hulle bedrieg is.

Verbondstaal🔗

Daar sou miskien nog ’n verskoning vir Josua en sy manskappe gewees het as dit net ’n militêre aangeleentheid was. So gaan dit mos maar in ’n oorlog.

Maar in Josua 9 is sprake van ’n kerklike situasie. Josua en sy manskappe moet die oorloë van die Here voer. En nou kom daar ’n vreemde gesantskap. Dit lyk of hulle van ver kom. Tog is die marine van Israel uiters versigtig, ja selfs agterdogtig (vs.7). Miskien woon julle tussen ons. Maar die manne praat so vroom. Hulle noem die naam van die Here en hulle praat van ’n verbond. Dis Bybeltaal.

Die Israeliete het geluister en gekyk. Hulle is nog nie heeltemal oortuig nie.

Daar word ’n kommissie van ondersoek aangestel. Die kos word ondersoek. Letterlik sê ons teksvers: hulle proe van die brood. Luister, kyk en proe, wat kan daar nog meer gedoen word? Die saak is reg. Die verbond word gesluit. Drie dae later kom hulle agter dat hulle bedrieg is. Hulle is met ’n lis gevang. Dan ontstaan daar twis in die laer, onenigheid in die kerk. Die hele volk het teen hulle leiers gemor. Die oorsaak? Hulle het die mond van die Here nie geraadpleeg nie. God is nie in die saak geken nie. Hierdie sonde van nalatigheid het tot gevolg die sonde van bedryf.

Menslike wysheid skiet in die koninkryk van God te kort. Wetenskaplike kennis alleen is in die kerk van die Here nie voldoende nie. In die kerk van die Here moet die mond van die Here geraadpleeg word. By kerklike besluitvorming is daar behalwe deeglike bespreking en ondersoek en terugrapportering ook ’n vertikale dimensie. Daar mag op die sinode uitstekende rapporte wees, indringende ondersoek deur die kommissies, diepgaande besprekings deur die afgevaardigdes, ’n voortreflike leiding van die kant van die moderamen, dit gaan verkeerd as die mond van die Here nie geraadpleeg word nie. Die mond van die Here raadpleeg voorkom verkeerde besluite.

Eie Insig🔗

Hoe kan Josua dit vergeet? Hy was tog ’n vrome Israeliet, ’n geloofsheld? Ja, maar hy het te veel op sy eie insig, sy eie kennis vertrou. Hy het goed geweet hoe om die mond van die Here te raadpleeg. Daar was wel verskil tussen Moses en Josua. Moses het die Here van aangesig tot aangesig geken (Deuteronomium 34:12). Josua kon nie so direk met die Here praat nie. Volgens Numeri 27:21 moes hy altyd die hoëpriester Eleasar raadpleeg dat dié veral met betrekking tot die oorlog vir hom die beslissing van die Here vra.

Wat ’n verskil met die meerdere, Josua, ons Here Jesus Christus. Sy hele lewe is gekenmerk deur die feit, dat Hy in alles die mond van die Here geraadpleeg het. By belangrike beslissings soos die roeping van die dissipels, het Hy eers tot sy Vader gebid. En hoe gebruik Hy nie voortdurend die Bybel, die OT nie? In sy onderwys, in sy gesprek met die Fariseërs en Skrifgeleerdes, selfs in sy konfrontasie met die duiwel.

So sien ons in die lewe van Jesus wat dit is om die mond van die Here te raadpleeg: gebed en noukeurig luister na die Bybel.

Die Here Antwoord🔗

En hoe gewillig is die Here nie om te antwoord nie? Ons moet tog daarop let waar ons die Here kan ontmoet. Die Here sê in Eksodus 25:22: ‘van die versoendeksel af sal Ek my bevele vir die Israeliete gee’. Dit is ’n aangrypende gedagte. Op grond van die versoening wil God met ons kommunikeer. Op grond van Christus se kruisoffer mag ons vrymoedig die mond van die Here raadpleeg. Daarom se Jesus in Johannes 16:23: ‘Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee’.

In die boek Handelinge kry ons duidelike, konkrete aanwysings hoe die jong kerk die mond van die Here geraadpleeg het. Die Bybel en die gebed was die twee allesbeheersende faktore wat die kerk gelei het. Die jong kerk in Handelinge was ’n biddende kerk. By die verkiesing van Mattias, by die uitsending van Paulus na die sendingveld, tydens die gevangeskap van Petrus word die mond van die Here geraadpleeg.

Behalwe die publieke gebede aan die begin en die einde van elke dag se verrigtinge en ons persoonlike gebede en die voortdurende voorbidding van die plaaslike kerke tydens hulle erediens, mag dit soms nodig wees dat die sinode besluit: nou kan ons nie verder vergader nie, ons het nie voldoende lig nie, ons moet eers die mond van die Here raadpleeg. En dan vra die voorsitter soos vroeër wel gebeur het, ’n broeder uit die vergadering om voor te gaan in gebed.

Luister Noukeurig🔗

Die mond van die Here raadpleeg beteken ook om noukeurig na God se Woord te luister. Ons moet ag gee op God se konkrete gebooie.

In Hand. 15 lees ons dat daar in die gemeente te Antiogië stryd en woordetwis was oor die vraag of gelowiges uit die heidene ook besny moet word (vs.2).

Dan kom die saak op die sinode. Ook daar op die vergadering in Jerusalem wanneer die saak bespreek word, is daar ’n groot woordewisseling (vs.7). Maar dan gebeur op die bewuste vergadering twee dinge: die aanwesiges word stil (vs. 12) en hulle kom tot ’n eenparige besluit (vs.27). Hoe kon dit gebeur? Wel, hulle het die mond van die Here geraadpleeg. Dit het die ware eenheid bewerk en tot eenparige besluitvorming gelei.

Petrus stel die saak. Paulus en Barnabas kom met hul sendingrapport en daarna staan Jakobus op en hy raadpleeg die mond van die Here. Want wat doen hy? Hy het alles wat hy gehoor het aan die Bybel getoets. Hy sê vir die vergadering: Petrus is reg, want dit staan in die Bybel, in die Ou Testament en dan kom Jakobus met ’n voorstel wat eenparig as ’n besluit van die vergadering aanvaar word. Die eenheid is herstel. Calvyn noem dit ’n voorbeeld van ’n wettige kerkvergadering waar die waarheid, die Woord van God ’n einde maak aan alle verskil.

Die Gees Lei🔗

Die mond van die Here raadpleeg, ons laat lei deur die Bybel en deur te bid, waarborg vir ons die onmisbare leiding van die Heilige Gees. Dit is die Gees van God wat tog in alle waarheid lei.

Nou is dit nie altyd moontlik om direk uit die Bybel ’n duidelike antwoord te bekom nie. Wat is nog meer nodig? Paulus skrywe in Romeine 12:2: “word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, julle denke, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” In die NT is daar ’n innige samehang tussen geestelike groei, heiligmaking en die verstaan van die wil van God.

Wanneer ons ook as ʼn sinode voortdurend in al ons verrigtinge die mond van die Here raadpleeg, ons in alles deur die Woord van God laat lei en in ons gebede naby die Here lewe en wanneer ons in diep afhanklikheid van die Here ons belangrike werk verrig, dan mag ons seker wees van die leiding van die Heilige Gees.

In ʼn hartlike eensgesindheid sal ons aan die einde van ons verrigtinge kan sê wat ons lees in die eerste en oudste sinodale brief: die Heilige Gees en ons het besluit.