2 bladsye.

Rasag in die Hospitaal, Kliniek of Laboratorium?

Doodmaak ondanks die reg van God, het die normale patroon in die gesondheidsorg geword. Dit beteken ’n duidelike wegbeweeg van die normale patroon van die Here.

Die sesde gebod is baie konkreet: Jy mag nie doodslaan nie. Die Here beskerm die lewe wat Hy gemaak het. Hy verbind die hele mensdom aan hierdie gebod. Elke individu word aangespreek. Die lewe van die naaste mag nie wederregtelik geneem word nie. Dit is wat die oorspronklike Hebreeuse woord ‘doodmaak’, wat in die sesde gebod gebruik word, beteken. Die woord rasag word nooit gebruik as daar van doodmaak in ’n oorlog gepraat word nie en ook nie as dit gaan om doodmaak wat deur die wet van die Here vereis word nie. Die woord rasag sou ons beter met wederregtelik doodmaak kon vertaal.

Dieselfde woord rasag word in Númeri 35:20-25 gebruik en verder uitgewerk: ‘En as hy hom uit haat stamp of met opset na hom gooi, sodat hy sterwe, of hom uit vyandskap met sy hand slaan, sodat hy sterwe, dan moet hy wat geslaan het, sekerlik gedood word; hy is ’n moordenaar. Maar as hy hom onvoorsiens, sonder vyandskap, stamp of enigiets sonder opset na hom gooi; of as hy enige klip waardeur iemand kan sterwe – as hy, sonder om dit te sien, dit op hom laat val, sodat hy sterwe, terwyl hy geen vyand van hom was en sy onheil nie gesoek het nie, dan moet die vergadering tussen hom wat doodgeslaan het, en die bloedwreker oordeel volgens hierdie voorskrifte. En die vergadering moet hom wat ’n doodslag begaan het, red uit die hand van die bloedwreker.’

Daar is dus in die wetgewing van die Here ’n verskil tussen doodmaak met duidelike bewuste voorbedagte raad of per ongeluk of sonder daarvan bewus te wees.

Die vraag is of die sesde gebod ook relevant is in die geneeskunde? Is daar sprake van wederregtelik doodmaak in die alledaagse mediese handelinge in ’n hospitaal, kliniek en laboratorium? Soms gebeur dit dat ’n pasiënt sterf as gevolg van die behandeling van die medici, sonder dat dit die bedoeling of oogmerk van die behandeling was. Ons weet dat sekere medikasie newe-effekte het wat gebruik word om sekere simptome te bestry. Hierdie newe-effekte kan die dood moontlik verhaas.

Sou aktiewe eutanasie, embrio doding deur middel van eksperimentele navorsing soos in vitro fertilisasie en sekere geboortebeperkende tegnieke waar die embrio gedood word, gelykstaan aan wederregtelik doodmaak?

Dit is duidelik dat die Here in sy Woord wederregtelik doodmaak verbind aan bewus wees en ingelig wees dat die daad die dood tot gevolg sal hê. Die vraag is dus eenvoudig die volgende: Is medici bewus en ingelig oor die feit dat ’n mediese handeling daadwerklik die dood van die pasiënt tot gevolg sal hê? Want dit is presies wat die sesde gebod verbied. Nie doodslag in die algemeen nie, maar bewuste, teen die beterwete in, teen die duidelike regtelike kennis dat hier sprake is van Godgegewe lewe.

Die antwoord op hierdie vraag word gevind in God se Woord en sy openbaring in die skepping. In die Bybel lees ons heel in die begin dat God die mens na sy beeld geskape het. Hy verbind aan hierdie lewe sy wet. Hierdie lewe mag nie wederregtelik geneem word nie. Die menslike lewe het reg van bestaan teenoor die medemens. Die in sonde gevalle mens word deur God se wet beskerm teen verontregting. God se reg eis dat die lewe nie geneem mag word as dit nie strook met sy reg nie. Sy reg is dat hy mense die lewe gee teenoor mekaar. Daarom eis hy die reg op: Jy mag nie wederregtelik doodmaak nie.

Die onttrekking van behandeling van terminaal siek pasiënte wat die sterwe versnel, kan dus nie as wederregtelik doodmaak gesien word nie.

Hoe weet ons egter dat daar sprake is van Godgegewe lewe? Is dit nie onmoontlik om aan te toon dat daar al by ’n embrio of ontwikkelende lewe in die baarmoeder reeds sprake is van Godgegewe lewe nie? En speel die kwaliteit van lewe nie ook ’n rol nie?

Die getuienis uit God se skepping gee hierop ’n oorweldigende antwoord. Met behulp van elektronmikroskopie en noukeurige anatomiese studies is dit duidelik dat die embrio reeds al die genetiese materiaal en al die biologiese eienskappe van lewe besit. Geen bioloog sou kon ontken as daar in alle eerlikheid na die resultate van hierdie ondersoeke gekyk word, dat daar nie sprake is van lewe nie. Hierdie inligting is verder nie onbekend en slegs toeganklik tot ’n paar ingewyde selbioloë nie. Nee, die inligting is vrylik beskikbaar vir enigiemand om te lees en te verifieer. Die Here wat die Skepper is van alle lewe, is ook die Skepper van die menslike embrio. Sy reg eis dat ook hierdie lewe, die lewe van siek terminale pasiënte asook die lewe met ’n gebrek, teenoor die medemens gehandhaaf sal word. Jy mag nie wederregtelik hierdie lewe neem nie, terwyl al die getuienis daar is dat dit God se lewe is.

Om hierdie lewe dus al in die baarmoeder met behulp van meganiese instrumentasie of farmakologiese middels dood te maak, kom neer op ingeligte, bewuste en met voorbedagte rade doodmaak. Die Skrif praat van wederregtelik met die hand slaan. Ons sou dit in vandag se terme kon verstaan as wederregtelik slaan met die abortiewe pil, ‘morning after pil’, instrumentasie wat inplanting van die embrio in die baarmoeder verhoed, weggooi van embrio’s in die laboratorium of farmakologiese middels wat die terminaal siek pasiënt se lewe wegneem.

Het die moderne mens met sy gevoel van ontwikkeling enigsins verder beweeg as Kain en sy selfgenoegsame vraag: ‘Is ek my broer se wagter?’ (Genésis 4:8)?