Bron: Waarheid en Dwaling. 5 bladsye.

Reageer uit geloof op die diktatuur in die onderwys

Onderwys in die greep van die staat. Dit is die stelsel wat die ANC-regering van sy voorgangers uit die verlede oorgeneem het. Die vraag kom na vore: Is die staatskool as ‘normaalskool’ reg? Mag gelowiges die stelsel van die staatskool sonder kritiek aanvaar?

Die gesag van die owerheid is beperk🔗

In Romeine 13:1-7 ontvang elke mens die opdrag om hom aan die burgerlike owerhede te onderwerp. Dié perikoop begin met God se openbaring oor ‘die magte’ (gesagdraers). Let wel: In die eerste vers staan daar nie die woord ‘mag’ nie, maar ‘magte’, gesagdraers (meervoud). Al die magte ‘wat daar is, is deur God ingestel’. Romeine 13 wat oor die gesag van die burgerlike owerhede handel, open met ʼn veel wyer perspektief. Alle gesag op aarde kom van Bo.

Dit beteken: Die Here gee verskillende bevoegdhede aan verskeie ampsdraers. Hy versprei die gesag op aarde. Buite Hom en sy Seun het geen lewende wese alle gesag nie. Elke gesag op aarde is beperkte gesag. God beklee ouers in die gesin, ouderlinge in die kerk, owerhede in die burgerlike samelewing, werkgewers in die maatskappy, elkeen met sy of haar eie gesag. God stel nie die een gesagdraer bo die ander nie. Nee, Hy plaas hulle langs mekaar. Daarom is enige heerskappy van die staat oor die kerk, van die kerk oor die staat, van die staat oor die maatskaplike gesagdraers en enige heerskappy van die kerk en van die staat oor die amp van ouer ʼn weerstand teen die gesag wat die Here ingestel het.

Geen gesagdraer het dus die reg om in die bevoegdheid van ander gesagdraers in te dring nie. ʼn Owerheid wat in normale omstandighede enigsins in die amp van die ouers inmeng, beroof hulle van die kroon waarmee die Allerhoogste hulle versier. Dit is miskenning en berowing van, asook verset teen die gesag wat die Here uitdruklik en alleen aan ouers verleen.

Elkeen wat hom revolusionêr verset teen die gesag waarmee die Here gesagdraers in gesin, kerk, nasie en maatskappy beklee, weerstaan die instelling van God; ‘en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang’.1

Hierdie dreiging rig die Here tot alle mense, ook tot owerhede wat in ander gesagdraers se posisies indring.

Die gesag van die owerheid strek ver. Hy het seggenskap oor al sy onderdane. God roep die owerheid om sy reg in die land te handhaaf, desnoods met die swaard. Onder sy gesag behoort die burgers sodanig beskerm te word dat elkeen onverhinderd sy en haar amp en beroep gewillig en getrou kan uitvoer.2

Die verstrekkende gesag van die owerheid is nietemin beperk. Sy seggenskap gaan oor die openbare lewe. Behalwe sy sorg vir wet en orde behoort die owerheid die algemene welsyn van die land en sy bevolking te bevorder. Ekonomiese, tegniese en ander prosesse moet tot eer van God in stand gehou en ontwikkel word volgens die opdrag wat God aan die mens in die paradys gegee het, die sogenaamde kultuurmandaat.3

Het die owerheid wat handhawing van reg en orde, asook die algemene welsyn van die land en sy inwoners behartig, enige taak ten opsigte van die onderwys? Indien wel, wat is die grens van sy gesag oor die onderwys?

Die owerheid het ʼn onderwystaak🔗

Om aan die kultuuropdrag te kan voldoen, is dit vir die welsyn van die land en die bevolking noodsaaklik dat jongmense die nodige kennis, insig en vaardighede opdoen. Kennis sonder meer is onvoldoende. Die bybring van insig en vaardighede rond die onderrig af. Jeug wat nie die nodige onderrig ontvang nie, kan in volwassenheid geen bydrae tot ontwikkeling lewer nie. So verval die land en die samelewing in die toekoms.

Owerhede het die taak om dié verval te voorkom. Onderrig van die jongmense is dus ʼn saak wat die toekomstige welsyn van die land direk raak. Om hierdie rede het die owerheid sekerlik ʼn taak met betrekking tot die onderwys. Die vraag is maar net: Watter taak? En waar lê die grens van sy taak?

Twee pole🔗

Met die oog op die owerheid se plig insake die onderwys is daar twee pole, twee uiterstes om te vermy. Deur kortliks aan die twee pole aandag te skenk, kry ons die taak van die owerheid in die onderwys en die grens wat die Skrif aan sy opdrag stel, duidelik voor oë.

Die owerheid onttrek hom aan die onderwys🔗

Die owerheid kan hom om verskeie redes aan die onderwys onttrek. Sommige owerhede doen dit sonder bepaalde redes. Hulle sien nie die belang van onderrig in die raamwerk van ontwikkeling in nie. Talle lande in Afrika en Asië het geen leerplig nie. Hele volke bly gevolglik straatarm.

ʼn Ander owerheid kan die burgerlike vryheid oorbeklemtoon. Hy laat die onderwys van die jeug aan die ouers oor en onttrek hom aan sy verantwoordelikheid om die algemene welsyn deur verpligte onderrig te bevorder.

Onttrekking aan die onderwys deur regerings veroorsaak chaos. Sommige ouers laat hulle kinders na hul vermoë die nodige en gewenste onderrig ontvang. Ander volstaan met minimale onderwys. ʼn Derde groep laat hulle ongeletterd opgroei.

Die resultaat? ʼn Toekomstige generasie wat onvoldoende toegerus is om voort te bou op dit wat die vorige geslag nagelaat het. Verval tree in. Die bevolking is deur nalatigheid van die owerheid om leerplig in te stel nie in staat om die nodige werksaamhede te verrig nie. So kom die onvoldoende toegeruste en die ongeletterde deel van die bevolking in stryd met die agste gebod van God se wet wat aan die mense opdra om hul werk getrou te doen.4 Die land verarm omdat mense nie met hulle Godgegewe talente woeker nie. Geen owerheid mag dit toelaat nie.

Die owerheid annekseer die onderwys🔗

Die teenpool van die owerheid se onttrekking aan die onderwys is die anneksasie van die onderwys deur die regering. Hy plaas die kinders in sy staatskool. Hy skryf die inhoud van die onderrig voor. Hierdie owerheid is nie soos dié van sy teenpool nalatig nie. Hy beywer hom vir die ontwikkeling van die jong bevolking tot die vereiste vlakke.

Hierdie anneksasie van die onderwys geskied egter ten koste van die burgerlike vryheid en roeping. Owerhede wat staatskole as ‘normale’ skole beskou, misken die amp van die ouers. God gee nie aan regerings nie, maar aan die ouers die taak van opvoeding en onderrig. Dit is ʼn deurlopende opdrag. Vader en moeder kry nie ʼn oomblik vakansie van hulle opvoedingplig nie.5

Regerings wat die onderwys annekseer, beroof die ouers gedurende die grootste deel van die hele werkweek van die deurlopende opvoedingtaak wat God aan hulle opgedra het. Ook al gee die owerheid in sy onderwysbeleid sekere bevoegdhede aan die ouers, is en bly sy anneksasie van die onderwys – hoe vroom of goddeloos bedoel – inmenging in die oueramp. So ʼn regering eien ouers se verantwoordelikheid aan hulleself toe.

Die staatskool as ‘normaalskool’ is in stryd met alles wat die Bybel oor die amp van die ouers leer. Owerhede wat ontwikkeling van dié skool bevorder, oorskry die grens van die gesag wat hulle van Bo ontvang het.

Ons staatskool sedert 1907 berus nie op enige skriftuurlike beginsel nie, maar wel op marxisties-sosialistiese uitgangspunte. Die owerheid, ‘vadertjie staat’, dring ongeoorloof in die gesag van ouers (en ander) in. Hy laat dit voorkom dat sy onderdane sy kindertjies is. In werklikheid beroof hy hulle van hulle vryheid en roeping. Onderdane word die regering se slawe. Hulle lewe (wat die onderwys betref) onder die diktatuur.

Hierdie sosialistiese onderwysstelsel wat die ANC-regering in die jaar 1994 geërf het, pas hom soos ʼn handskoen. Hy aanvaar die staatskool. Dit is die instrument wat by uitstek geskik is om sy ideologie van die reënboognasie en van sy antichristelike godsdienstewaardering in die koppe en harte van die jeug in te dril.

Die owerheid se roeping in die onderwys🔗

Die owerheid mag hom nie aan die onderwys onttrek nie. Hy mag ook nie die onderwys annekseer nie. Wat behoort die owerheid dan wel in die onderwyssektor te onderneem? ʼn Onderwysbeleid in ooreenstemming met die Skrif bring ten minste die volgende vier sake in berekening.

Leerplig🔗

Die eerste roeping van die owerheid in ʼn ontwikkelde land is om leerplig in te stel. Dit is noodsaaklik met die oog op die toekomstige welsyn van die land en sy inwoners. Elke onderdaan moet onderrig ontvang om as volwassene sy amp en beroep getrou te kan uitvoer. Dit is die eis van die agste gebod.

Ouerskole🔗

Die tweede roeping van die owerheid is om die stigting en instandhouding van skole aan die ouers oor te laat. Onderwys volgens die doopbelofte word deur die ouers onderneem. Hulle laat hul kinders onderrig. Ouerskole is derhalwe die normale skole. Sodoende eerbiedig die owerheid die oueramp en ook die burgerlike vryheid, selfs van ongelowige ouers.

Verskeie ouerskole🔗

Die owerheid se derde taak het betrekking op al sy onderdane. Hy reël wet en orde vir gelowiges en ongelowiges, vir die koring en die onkruid uit die bekende gelykenis. Waar die kerk verplig is om die onkruid, ‘die kinders van die Bose’ met die Woord te bestry en uit haar midde te verwyder, geld vir die owerheid die opdrag: ‘Laat altwee’, koring en onkruid, ‘saam groei tot die oes toe’.6

Die owerheid se amp is beperk. Hy mag nie sy krag en geweld aanwend om ʼn geloof of ideologie af te dwing nie.7

Die Here roep hom ‘om die heilige Woordbediening te beskerm’, sodat die kerk die afgodery en valse godsdiens (die onkruid) in die krag van die Heilige Gees met die Woord kan teengaan en uit haar midde wegdoen.8

Die owerheid het wel ʼn roeping ten opsigte van die onkruid. Hy verrig sy diens in die openbare lewe.9 Daar, in die openbare lewe, mag die onkruid die koring nie oorwoeker nie. Die regering het as reël nie die reg om hom met privaatsake van sy burgers te bemoei nie. Burgerlike owerhede mag nie enige groep ouers verhinder om hulle kinders volgens hulle eie lewensoortuiging op te voed en te laat onderrig nie.

Moslems, Hindoeïste, humaniste en alle ander ouergroepe wat nie teen skriftuurlike wet en orde ageer nie, behoort derhalwe net soos christene (met belydenisse wat mekaar oor en weer uitsluit), die geleentheid te ontvang om hulle kinders in hulle ‘geloof’ of lewensoortuiging te laat onderrig.

Openbare skole🔗

Die vierde roeping van die owerheid geld vir ouers wat nie skole stig of tuisonderrig aanbied nie. By nalatigheid van ouers stig die owerheid openbare skole, staatskole, ten einde die ontstaan en groei van ongeletterdheid in die land te voorkom.

Volgens die leer van die Skrif oor die verskeidenheid en die grense van die ouer-, ouderlinge- en owerheidsamp is skole wat van die ouers uitgaan, normale skole. In die Skriflig is die staatskool die uitsondering, gestig weens nalatigheid van ouers.

Skriftuurlike elemente van ’n owerheid se onderwysbeleid🔗

ʼn Owerheid se beleid vir onderwys bevat in die lig van die bostaande ten minste die volgende sewe elemente:

  • Leerplig van kinders tot ʼn vasgestelde ouderdom, byvoorbeeld tot 16 jaar (leerplig hou in: Die owerheid finansier wat hy eis).
  • Die peil of vlak wat onderwys in vasgestelde stadiums moet bereik.
  • Die akademiese vereistes waaraan onderwysers moet voldoen.
  • Eerbiediging van die oueramp en die reg van groepe in die bevolking om eie skole wat aan bogenoemde vereistes voldoen, te stig en in stand te hou.
  • Toesig oor onderwys wat van ouers uitgaan, ten einde te bepaal in hoeverre aan die hierbo genoemde vereistes van die owerheid voldoen word.
  • Stigting en instandhouding van openbare skole vir kinders wie se ouers nie die onderwys ter hand neem nie.
  • Eweredige voorsiening van finansies in ouer- en openbare skole op die voorwaarde dat hulle aan bogenoemde vereistes van die owerheid voldoen (byvoorbeeld deur toekenning van subsidie per kind).

Wat moet ons doen?🔗

Die christene in ons land moes al in 1907 teen die bestaande staatskool geprofeteer het en die regering opgeroep het om die amp van ouers te eerbiedig. Wat kan en moet hulle omtrent ʼn eeu later doen?

Solank as wat ons in die hede van genade lewe, is dit Goddank nie te laat om gehoorsaam in die kerk en die koninkryk van God op te tree nie. Wie met die bostaande saamstem, bely eerstens skuld aan die Here. Deur die staatskool te aanvaar, het ons as ouers ons amp en roeping versaak. Ons het nie ons doopbelofte in die onderwys nagekom nie. Ons het nie self ons kinders na ons vermoë laat onderrig nie. Ons het die skoolonderrig – ons taak – aan die regering toevertrou. Here, hoor. Vader, vergewe ons.

Wie glo dat onse Vader vergewe, gaan vanuit die vergewing handel en wandel. Ons vra nie wat vandag haalbaar is nie, maar steek die hande uit die moue. Ons tree sowel in die kerk as in die koninkryk van die Here op en doen wat Hy van ons vra.

Die kerke profeteer🔗

Die kerke kom in hulle kerkorde ooreen om in voorkomende gevalle voor die owerheid te getuig.10
Die onderwys van ons kinders is ʼn saak wat, by wyse van prioriteit, ons aandag moet hê. Dink aan die doopbelofte. Laat ons as kerke aan die owerheid sy roeping en die grens van sy gesag insake die onderwys voorhou. Profesie bedien die Woord in ons konkrete situasie.

Kom die doopbelofte na en sien daarop toe🔗

Die werk wat voorlê in die koninkryk van God? Dis baie. Dit kan na al die bostaande kortliks saamgevat word.

Ouers, u het by die doop van elkeen van u kinders belowe om hierdie kind in die leer van die Skrif en die kerk na u vermoë te onderrig en te laat onderrig. Kom die belofte eenvoudig na. Kinders is u kinders, in die huis en in die skool, nie die staat s’n nie.

Predikante en ouderlinge, verleen geestelike bystand aan die ouers wat die Here onder u toesig geplaas het. Ook u, kom u belofte na: Sien toe dat die ouers die skoolonderrig in die vrees van die Here laat geskied.11

Wat van wette wat ons dwing om teen Gods Woord in te gaan? Ons sal aan God meer as aan owerhede gehoorsaam wees. Daarom wys ons die staatskool as die ‘normale’ skool af. Ons, nie die staat nie, moet ons kinders onderrig en laat onderrig.

Ons handhaaf ons in gereformeerde ouerskole die skriftuurlike gebruik van die roede. Ooreenkomstig die goddelike voorskrifte in die Spreukeboek.

Ons bly bely: Daar is een weg tot die saligheid, een Naam deur Wie ons gered kan word, die Naam van Jesus Christus. Daar is een God en daarom geen positiewe waardering van ‘afgodedienste’ nie.

Ons aanvaar nie nie-christene op die raad van ʼn christelike universiteit nie, en, en ...

Ons vrees God, ook as ons die koning (die owerheid) in sy onderworpenheid aan die Koning van alle konings eer.

Endnotes🔗

  1. ^ Romeine 13:2. 
  2. ^ HK, ant. 124.
  3. ^ Genesis 1:26-28; 2:15.
  4. ^ HK, antw. 111.
  5. ^ Deuteronomium 6:7; vgl. onder meer Psalm 78:3-7 en Efesiërs 6:4.
  6. ^ Matteus 13:30, 38-43. 
  7. ^ Vgl. Sagaria 4:6.
  8. ^ NGB, art. 36.
  9. ^ Sien onder meer Psalm 2; Romeine 13:3-7. 
  10. ^ KO, art. 28. 
  11. ^ KO, art. 21.