Bron: Die Kerkblad. 10 bladsye.

Reformasie van die Samelewing

Ons hoor vandag baie oor die hervorming van die Suid-Afrikaanse samelewing. Wanneer 'n Christen dit hoor en homself daarvoor beywer, maak dit altyd gelowiges se harte bly.

Dit is egter altyd weer belangrik om goed te verstaan wat daar vanuit 'n Bybelse oogpunte bedoel word met die hervorming of die reformasie van die samelewing. Juis omdat alle verandering nie sommer net as hervorming, beskou kan word nie. Immers, daar vind in alle gemeenskappe veranderings plaas. Dit is mos deel van die mens se lewe dat dit dinamies veranderend is.

Gereformeerdes vra egter altyd weer watter beginsels en norme geld wanner verandering juis hervorming impliseer. Dit is nodig dat ons egter hierdie vraagstuk goed formuleer.

Eintlik is die vraag dan: hoe moet die Evangelie van Christus elke samelewing, ook ons s'n, beïnvloed?

En dan word dit duidelik dat dit hoegenaamd nie 'n nuwe vraagstuk is nie. Christus het self op 'n bepaalde wyse die samelewing van sy tyd beïnvloed. En die leer van die apostels wat onder die Jode, die Romeine en Grieke verkondig en uitgedra is, het inderdaad nie die samelewing slegs gelaat soos dit was nie. Dit is selfs interessant om daarop te let dat Paulus nog in sy briewe aandag gee aan slawe en here (dink maar aan die huistafels in Galásiërs en Kolossense) maar dat daarmee slawerny nie maar as goed beskou word nie. Een van die belangrike vrugte van die Evangelie was juis dat slawerny afgeskaf is.

So ook het die apostels aangesluit by hulle tyd oor die posisie van die vrou en tog het daarmee die ondergeskiktheid van die vrou aan die man soos dit in daardie tyd voorgekom het, nie as norm gegeld nie, maar eerder dat man en vrou na die beeld van God geskep is.

Dit word gou duidelik dat die samelewingspatrone in die tyd van die Nuwe Testament onder die kritiese invloed van die Evangelie gekom het. Die skerp standpunt van Jesus teenoor die Fariseërs se formalisme en wettisisme is aan ons goed bekend.

Goeie eksegese is daarom altyd om te wete te kom wat die Bybelskrywers vir die eerste lesers in hul omstandighede wou leer. Maar dan moet goeie hermeneuse altyd weer wees om te vra wat die Here aan ons in ons tyd wil leer, naamlik dit wat bo die historiese situasie uitgaan en wat rigtingwysers vir alle tye is.

1. Verskillende benaderinge🔗

In die loop van die bedeling ná Christus en die apostels is verskillende benaderinge gevolg waarin antwoord op die vraag na die reformasie van die samelewing gegee is.

Ons gaan drie benaderinge of modelle bespreek.

1. Die benadering van aanpassing🔗

In die eerste eeue🔗

Reeds al in die tyd van die Nuwe Testament vind ons die Judaïste of Joods-Christene wat die seremonies en gewoontes van die Jode wou behou en tog nog Christene wou wees. So wou hulle die besnydenis voortsit, die onderhouding van Joodse feesdae waaronder die Sabbat.

In sy briewe aan die Galásiërs en die Kolossense tree Paulus teen hierdie mense op (lees Kolossense 2:16, 17 en Galasiërs 2:14 en 4:10). Dit was selfs 'n strydpunt tussen Petrus en Paulus (Galasiërs 2). Op die byeenkoms in Jerusalem (Handelinge 15) is daar uitsluitsel gegee oor hierdie saak, naamlik dat Christene uit die Jode netsoos Christene uit die Grieke nie die Joodse of Griekse gebruike kan bly aanhang nie.

In die tweede eeu kry ons die standpunt van Clemens van Alexandrië, die kerkvader. Hy wou graag dat die teologie aansluiting vind by die Griekse Wysbegeerte en het daarvoor sy allegoriese verklaring van Hagar en Sara, die twee vroue van Abraham, te hulp geroep. Hagar sou dan die Griekse wysbegeerte verteenwoordig en doen dan diens aan Sara, die teologie. (Lê hier al miskien die oorsprong van die idee wat dwarsdeur die teologie geloop het, naamlik dat die mens 'n onsterflike siel het en dat die werklikheid gedeel moet word in 'n gewyde en sekulêre deel – tipiese idees vanuit die Griekse wysbegeerte?)

In die 3e eeu het biskop Thaumaturgus aan die gemeentes toestemming gegee om in hul eredienste gebruik te maak van beelde en simbole, seremonies en plegtighede wat aan die heidense tempeldienste ontleen is. Die volk moes in hul erediens aanpas by die gewoontes, want in die oë van die volk was Woordverkondiging alleen te eenvoudig (lees Mosheim se boek oor Kerkgeskiedenis I, 276).

Die gebruik van simbole in die eredienste was by die heidense godsdienste algemeen. Die simbole was beskou as openbaringskanale van die gode enersyds, maar aan die ander kant is ook gestel dat die volk nie direk met hulle gode mag praat nie. Daarvoor is simbole juis nodig.

(Miskien is die skeptiese houding van Protestante teen oor allerlei simbole soos die kruisteken, ook hieruit te verklaar, aangesien ons God in gees en waarheid (Johannes 4:23), direk moet aanbid sonder bemiddeling van simbole).

In die Middeleeue🔗

Onder invloed van die Rooms Katolieke teoloog-filosoof Thomas van Aquino het hierdie idee van aanpassing van Christene by gewoontes in hul samelewing verder ontwikkel. Dit is bekend dat hy onderskeid gemaak het tussen 'n gewyde en sekulêre terrein. Op die gewyde terrein werk jy met die geloof en daar hoort die kerk tuis. Maar op die terrein van die natuur werk jy met die natuurwette en die verstand. Op hierdie terrein val byvoorbeeld die universiteit, die beroepslewe, die huwelik. So kry jy dan 'n tweedeling van die werklikheid in 'n bonatuurlike en natuurlike deel. En op die natuurlike terrein geld dan nie die norme van die Skrif nie.

Op hierdie wyse is die koninkryk met die kerk vereenselwig en sou jy God alleen en uitsluitlik in die kerk en die klooster dien. Maar so is ook die hele samelewing onder die heerskappy, nie van God nie, maar van die kerk geplaas.

Hierdie model van aanpassing vind jy ook op die sendingveld waar die Roomse direk aanpas by die seremonies en gewoontes van die volkere onder wie hulle gewerk het. Veelwywery is byvoorbeeld nie maklik veroordeel nie, dit lê immers op die terrein van die natuur en die natuur moet jy nie in sy voortgang steur nie.

Dit is so anders as die sendingstrategie van Paulus teenoor die Grieke op die Areopagus (Handelinge 17).

Selfs die Roomse standpunt oor die arbeid en die gebruik van voorbehoedmiddels word nie in die pouslike ensiklieke vanuit die Skrif begrond nie, maar vanuit die menslike verstand. Die implikasie is dan dat die Skrif nie in die samelewing enige invloed moet laat uitgaan nie.

Ons het nou aangetoon dat die benadering van aanpassing of akkommodasie heeltemal rus op 'n dualistiese siening van die werklikheid wat die werklikheid verdeel in twee pole naamlik 'n gewyde en 'n sekulêre soos dit veral in die Rooms Katolieke teologie gefundeer is.

Renaissance-denke🔗

Hierdie dualisme is verder versterk deur die Renaissance-denke (reeds ongeveer in die 12e eeu) wat weer die Griekse denke laat herleef het met hul onderskeiding van die fisiese en die metafisiese. Natuurlik het Thomas van Aquino ook juis sy dualisme ontwerp deur 'n Christelike sousie te gooi oor die Griekse denkpatroon. Die Renaissance-denkers het verder die natuur se betekenis herontdek en daarom herlei baie skrywers die ontwikkeling van wetenskap en tegniek na die Renaissance (en die Hervorming).

Die Humanisme🔗

Met die opkoms van die Humanisme in sy verskillende vorme word die Godsbeskouing wat bekend staan as Deïsme vooropgestel. Die bestaan van God word nie ontken nie. Hy word dan wel as Skepper erken, maar nie as Onderhouer nie. Soos 'n horlosiemaker wat wel die horlosie eenmaal gemaak het maar nou loop die horlosie deur sy eie inherente veer – die natuurwette.

Een van die beste voorbeelde van hierdie benadering vind ons vandag nog in die versekeringswese. Sommige versekeraars verseker jou teen alle skade behalwe 'an act of God' want dit is 'n katastrofe. Só word aan God die slegte toegeskryf maar aan die natuur die goeie.

Die neutraliteitsmite🔗

Die Humanisme is dan trots op die stelling dat die wetenskap, die kuns ensovoorts neutraal sou wees. Die geloof in God word verklaar tot 'n privaat aangeleentheid.

Hiermee hang saam die oorskatting van die menslike verstand. John Locke, die voorstander van die regte van die mens, se verklaring spreek vir homself: 'Verstand is die natuurlike openbaring waardeur God met die mensheid kommunikeer'. Maar dan voeg hy niks daaraan toe oor die Skrifopenbaring nie.

Optimisme🔗

Maar hierin sit ook die optimistiese siening van die natuur, naamlik dat dit altyd goed en gaaf is, en ons kry dit ten grondslag van die liberale denkwyse. Shaftesbury kon byvoorbeeld verklaar:

O Glorious nature! supremely fair and sovereignly good! ... wise substitute of Providence.

In die Kapitalisme het dan stemme opgegaan: besigheid is besigheid. Die geloof het niks hier te sê nie.

Waardevrye wetenskap?🔗

In die wetenskap het die sogenaamde Gewetensklousule wat nou nog in ons wetgewing (Klousule 25 van wet nr. 12 van 1916) staan, daarvoor gesorg dat geloofsoortuigings nie by die aanstelling van dosente ter sprake mag kom nie (Die PU vir CHO het juis in verset daarteen tot stand gekom). Die Positivisme en sy opvolgers lê hulle daarop toe om in die naam van objektiwiteit en waardevryheid lewensbeskoulike oortuigings buite die terrein van die wetenskapsvorming te hou.

So 'n wetenskap hou hom dan besig met feite, nie met waardes nie. En hoe het die mag van die wetenskap nie elke terrein van ons lewe binnegedring en verander nie?

Status-quo-drywers🔗

Op die terrein van die politiek openbaar hierdie styl hom in die handhawing van die status quo en die onkritiese handhawing van tradisie. Dan word die beginsels van geregtigheid en liefde buite spel geplaas. So kan byvoorbeeld in die regspositivisme slegs as regverdig beskou word dit wat in die positiewe wet (landswet) staan, en dan word nie dieper gevra na die eintlike reg (regverdigheid) nie.

Selfs met 'n konsep soos die regte van die mens word dan dikwels alleen die humanistiese lyn gevolg en dan is die owerheid en die onderdaan nie meer bekommerd oor die reg van God nie (Calvyn).

Dieper agtergronde🔗

Agter hierdie styl van aanpassing sit daar, net soos agter elke ander benadering wat ons nog sal bespreek, veral drie belangrike perspektiewe of beskouings.

  • Die Godsbeskouing van die Deïsme bring mee dat God alleen in 'n klein kompartement van die lewe gedien mag word. Sy seggenskap word beperk tot die kerk as instituut en die binnekamer. Dit is die gewyde terrein.
  • Die werklikheidsbeskouing rus op hierdie visie ten opsigte van God se werk. Daarom is dit dualisties: die kerk en godsdiens is die enigste terreine waar God seggenskap sou hê. Maar die fliek, die wetenskap, die joernalistiek is sogenaamde sekulêre terreine. So asof God daaroor geen seggenskap het nie. Al die menslike verbande van die huwelik tot die staat (behalwe die kerk) val dan op die sekulêre terrein. En sommige Christene werk soms onbewustelik mee dat op hierdie gebiede nie die norme van die Skrif in berekening gebring word nie.
  • Die derde belangrike beskouing gaan oor die mens Die menslike lewe word dan ook in kompartemente verdeel en vir die geloof of die godsdiens is daar ook natuurlik so 'n klein kompartementjie. Want kyk, die geloof moet beperk word tot hierdie klein sfeer van godsdiens en kerkdiens. Daarby is die standpunt uiters optimisties, so asof die mens van nature goed is en daarom is alles wat hy doen ook goed.

Saamgevat🔗

Die styl van aanpassing werk met 'n bepaalde siening oor die invloed van die evangelie op die samelewing.

Ons kan hierdie benadering so voorstel: Jy is 'n Christen en 'n Suid-Afrikaner ('n burger van die staat), 'n Christen en 'n Afrikaner ('n lid van die volk), 'n Christen en 'n sakeman, 'n Christen en 'n wetenskaplike of onderwyser ensovoorts.

Op hierdie manier word die geloof in Christus nie oorboord gegooi nie, maar netjies verpak in die kerkklere, of die Sondag. Ingeblik of gekonserveer (gebottel) maar in elk geval totaal buite aksie gestel.

Met so 'n standpunt mag die reformatoriese Christen egter nie vrede hê nie.

2. Die benaderings van vermyding en afsondering🔗

'n Tweede wyse waarop Christene in die samelewing kan optree, is om op 'n radikale wyse stelling in te neem teenoor die samelewing waarin hulle leef. So word daar uitgegaan van die gedagte dat die Christen téénoor sy wêreld moet staan, negatief sover as moontlik strukture moet afbreek ten einde verandering te weeg te bring of selfs alternatiewe strukture moet oprig ten einde sy ideale te verwesenlik.

Hierin word uitgegaan van 'n radikale antitese of teenstelling tussen geloof en ongeloof, kerk en wêreld, die evangelie van Christus en die wysheid van mense.

By hierdie benadering staan eerder onttrekking of vermyding van die wêreld voorop, vermyding ter wille van die vrede. Hieruit is die askese gebore naamlik dat die Christen hom liewer moet terugtrek uit sy betrokkenheid by die samelewing, selfs tot in 'n klooster om van die slegte invloed van die wêreld te ontkom.

Dwaalleer🔗

In hierdie verband kan ons verwys na die apostel Paulus se standpunt oor die dwaalleraars wat sodanige houding aan die Christene wou voorskryf van 'raak nie, smaak nie, roer nie aan nie' (Kolossense 2:21) en dan waarsku hy daarteen.

In die tweede eeu het die kerkvader Tertullianus die volgende woorde gebesig, wat hierdie standpunt weergee:

Wat het Athene met Jerusalem te make? Of die akademie met die kerk? Of die ketter met die Christen?

In die sestiende eeu kry ons die Anabaptiste of Wederdopers wat nie slegs die doop van kinders verwerp het nie, maar ook sterk standpunt ingeneem het teen militêre diens, teen enige deelname aan die politiek en selfs gemeen het dat 'n Christen hom nie vir 'n owerheidsamp beskikbaar moet stel nie. In sekere van hierdie kringe het die asketiese houding oorgeslaan in 'n styl van konfrontasie en geweld soos die geskiedenis van Jan van Leiden in Münster getuienis gee.

Dit is belangrik om in te sien dat hierdie benadering nie probeer om die lewe van die mens en sy samelewing onder die heerskappy van Christus te bring nie, maar dat dit veral die vroomheid van die individu voorop stel.

In ons tyd kry ons tendense van hierdie benadering in die houding dat die Christen nie televisie moet kyk nie, nie teaters mag besoek nie of selfs koerante mag lees nie. Dit is alles dinge van die 'wêreld'.

Die voor die handliggende vraag is egter of so 'n askese nie die lig van die Evangelie onder die maatemmer wegsteek nie.

Afsondering🔗

'n Volgende soort optrede bied ons 'n meer gematigde houding wat die betrokkenheid van die Christen by die samelewing erken maar waarin hy hom beywer vir eie skole, inrigtings, verenigings en organisasies.

In hierdie verband word dikwels verwys na die teologie van Abraham Kuyper met sy onderskeiding van algemene en besondere genade wat daartoe gelei het dat die slagspreuk van Groen van Prinsterer wyd in Nederland ingang gevind het: 'In ons isolement lê ons krag'.

Op hierdie lees is vir baie jare die Nederlandse samelewing geskoei en is die eie konfessioneel gebonde organisasies gebruik as kragsentrales om die samelewing te beïnvloed.

Die vraag is al gevra of hierin nie ook 'n soort askese of afskeiding lê nie? In Nederland is daar soms spottend gepraat van 'versuiling' en daarmee word dan bedoel dat die afsondering van die Gereformeerdes in eie organisasies, die samelewing in afsonderlike konfessionele suile of kompartemente verdeel het.

Ons meen dat hierdie benadering sekerlik in baie gevalle verdedigbaar is, naamlik as die stem van protes so gedemp word dat die maghebbers nie wil luister nie. Dit was veral in Nederland die geval met die totstandkoming van die 'Skool met die Bybel' aangesien die staatskool heeltemal los wou kom van die reformatoriese invloed. Of by die stigting van die Vrije Universiteit.

Dit is ook die geval in die VSA waar die Christian Reformed Church sy eie skole stig en finansier juis omdat die staatskool so liberaal geword het en nie tot hervorming wil instem nie.

Ook die PU vir CHO het vanuit hierdie benadering ontstaan, in opposisie tot die sogenaamde neutrale onderwys soos dit in Wet 12 van 1916 ingebou is.

Maar ons moet 'n oop oog hê daarvoor dat hierdie standpunt seker ook dan alleen regverdigbaar is wanneer sodanige organisasies, skole en universiteite as kragsentrales gebruik word om die hele samelewing te deursuur en nie as doel op homself nie. Afsondering of isolement moet dan gesien word as 'n strategie en nie as doel nie. Die gevaar bestaan dat die invloed van die dualistiese beskouing met sy handhawing van twee terreine, naamlik 'n gewyde en 'n sekulêre, só kan deurwerk en beslag kry in hierdie benadering dat isolasie 'n doel op homself word. Dan word God se seggenskap oor alle lewensterreine en alle organisasies beperk tot die eie organisasie.

Daar is tekens vandag in die VSA dat die Christian Reformed Church vanweë die beleid van isolement byna geen invloed in die Amerikaanse samelewing het nie.

Sekularisme🔗

Daar is skrywers wat beweer dat die sekularisme in Nederland en in die VSA nie so vinnig sou gevorder het as sommige kerke en Christene hulle nie so haastig terug getrek het uit die samelewing nie, en ander in 'n piëtistiese sielevroomheid verval het nie.

Dit is egter 'n stelling wat nie so maklik met oortuiging verdedig kan word nie. In elk geval is dit duidelik dat so 'n afsondering maklik slegs reaktief en negatief kan wees as dit doel op homself word.

In Suid-Afrika staan ons inderdaad ook op die kruispad as ons hervormend wil werk. Aan die een kant vreet die sekularisme diep in, en word al meer organisasies losgeslaan van alle geloofsankers. Aan die ander kant is daar in sekere van ons wette nog sprake van die Christelike lewensbeskouing en sy beginsels (byvoorbeeld die Onderwyswet van 1967 en die Wet op Publikasies en Vermaaklikheid van 1974).

Laat ons as Gereformeerdes in elk geval nooit huiwer om die standpunt in te neem wat ook deur Kuyper gestel is: Daar is geen enkele duim grond waarvan Christus nie sê: Dit is myne, nie.

3. Die benadering van konfrontasie of rewolusie🔗

Ons moet weer goed bewus wees van die sentrale probleem waarom dit hier gaan:

Hoe moet die Evangelie van Christus die samelewing beïnvloed. En wat is die roeping van Christene in hierdie verband?

Verskillende standpunte is reeds gestel en afgewys: akkommodasie of aanpassing sonder kritiek op die samelewing; en vermyding of askese, omdat albei uitgaan van 'n dualistiese siening van die werklikheid en die mens, wat rus op 'n onbybelse Godsbeskouing. Afsondering of isolement is as noodmaatreël ook wel bevraagteken maar tog positief waardeer.

Die benadering van konfrontasie of rewolusie handhaaf nog steeds die dualisme tussen geloof en lewensterreine, hoewel dit op die oog af nie so lyk nie, want dit loop langs 'n ander paadjie.

Volgens hierdie standpunt is jy is éérs Christen en dan sakeman, wetenskaplike, boer ensovoorts Of omgekeerd: Jy is éérs sakeman, wetenskaplike, Afrikaner ensovoorts en dan Christen. Op hierdie manier word daar 'n prioriteit gestel. En dit maak hierdie standpunt so verleidelik.

Wat die eerste formulering betref, lok dit dikwels instemming uit: Eers Christen en dan … Is dit dan nie soos dit hoort nie?

Waarom noem ons dit hier dan 'n benadering van konfrontasie?

Baie Christene sê wel dat die ander formulering darem nie juis kan wees nie: Eers sakeman, en Afrikaner en dan Christen. En tog word dit maklik praktyk. Wat is die fout met hierdie redenasie?

Valse keuse🔗

Let daarop dat hier 'n keuse afgedwing word tussen twee ongelyksoortige sake.

Hoe kan mens jou Christenskap vergelyk met jou sakelewe, jou wetenskaplike werk ensovoorts? Moet mens dan kies tussen Christenwees en sakeman- of boerwees? En kan jy dan jou Christenskap in 'n vakuum beoefen, so asof Christenskap iets is wat op homself staan?

Sommige Christene probeer selfs die apostel Paulus agter hulle standpunt kry met 'n aanhaling van Galasiërs 3:28: "Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie … want julle is almal een in Christus Jesus". En dan word dikwels die woorde wat ook daar staan verbygekyk: "daar is nie meer man en vrou nie". Bedoel Paulus dat alle verskille, selfs geslagtelike verskille by Christene verdwyn? Sekerlik nie.

Daarom moet ons die apostel seker anders verstaan as die konfrontasie-drywers wat meen dat Christenskap teenoor jou natuurlike verhoudinge staan of dit selfs ophef of onderwaardeer.

Bedoel die apostel nie eerder dat hierdie sake nie 'n belemmering vorm om Christen te wees nie? En dat jy Christen in al jou lewensuitinge moet wees?

Die wet van God en ons alledaagse lewe🔗

Die standpunt van hierdie mense word duideliker as ons die volgende in berekening bring.

As mens dink aan die twee tafels van die Wet van God, naamlik liefde tot God en die naaste en dit konkreet ten opsigte van ons sakelewe, of boerderybedrywigheid toepas, hoe moet ons dit verstaan?

Kan ek my dagprogram só inrig? Nou dien ek die Here om 07h30 in die oggend, maar dan eet ek om 07h35, dan dien ek my naaste weer om 08h00, en dan sit ek op my kantoor en werk en dien die Here weer eers vanaand met slapenstyd.

Op hierdie manier vereng ons die diens van die Here tot godsdiensoefening aan die een kant, maar ons deel ons lewe in kompartemente of vakkies of hokkies in en by baie van hierdie hokkies het ons Christelike geloof dan niks te sê nie, byvoorbeeld as ek met die wetenskap besig is, of die politiek, of die onderwys.

Dit word dus duidelik dat hier 'n spanning geskep word en gedwing word na 'n keuse tussen Christenwees en menswees. Daarom sit hier nog 'n duidelike dualisme in hierdie standpunt. Die geloofsoortuiging beheers dan nie alle fasette van jou lewe nie.

Die Teologie van die Rewolusie🔗

Ons kan die benadering van konfrontasie ook verbind met die Teologie van die Rewolusie, maar dan is dit nodig om die agtergronde van hierdie teologie hier aan te dui.

Daar sit 'n baie sterk reaksionêre tendens in die Teologie van die Rewolusie (TvR) teenoor die sg. ortodokse teologie (OT).

Daarby vind ook 'n vertekening van die sogenaamde ortodokse teologie plaas waarteen die geveg gevoer word.

Dit raak veral die volgende punte:

Die Godsbeskouing🔗

Volgens die voorstelling van die TVR is daar deur die sogenaamde OT te veel nadruk gelê op die andersheid en transendensie van God (dat God ver en bo die mens bestaan). By die TVR word die tema van Eksodus sterk voorop gestel (ook in die Kairos-dokument). God is die handelende Eksodus-God, die omverwerper van bestaande ordes, die verstoorder van die samelewing.

So is Jesus ook die rewolusionêre figuur en daar is by sommige skrywers selfs sprake daarvan dat Christus opnuut vlees word wanneer daar rewolusie en rebellie plaasvind.

Die mensbeskouing🔗

In die mensbeskouing word die klem gelê op die mens in nood. God is aan die kant van die verdruktes (ook in die Kairos-dokument). Daarby sou die sogenaamde Ouere Teologie die geloof te veel verinnerlik en dit was dan bevorderlik vir die handhawing van die status quo in die samelewing. Daarteenoor wil die TVR die samelewingstrukture omver gooi langs die weg van rewolusie en selfs geweld, maar dan in die naam van Jesus, die rebel wat God gestuur het.

In hierdie stryd moet die kerk die leiding neem. Daarom moet die kerk by die politiek betrokke raak en ook politieke programme ontwikkel en veral stry teen sake soos rassisme, apartheid en besoedeling. By die Wêreldraad van Kerke het dit hoë prioriteit verkry. So selfs dat sendingfondse (ook by die Gereformeerde Kerken in Nederland) vir terroriste-organisasies (vryheidsbewegings) geskenk word.

Daarom is die taak van die kerk nie meer konfrontasie teenoor die heidendom met die Evangelie nie, maar in die plek van sending het nou dialoog gekom en deur dialoog met die heidense godsdienste aan te knoop, kan hulle samewerking gekry word teen die politieke en sosiale en ekonomiese onreg aan die verdruktes.

So gebeur dit dan dat Christene en nie-Christene saamstaan in hul stryd teen ander, al noem laasgenoemde hulleself ook Christene.

En die etiese regverdiging vir die gebruik van geweld, is dan volgens hierdie mense dat die samelewing met sy onreg deur geweld in stand gehou word, en daarom is teengeweld die enigste antwoord. Tot hierdie teengeweld hoort ook dan sanksies en boikotte. En die offers wat dit meebring soos werkloosheid, word weer eens geregverdig as offers ter wille van die Evangelie.

Hierdie benadering van rewolusie in die naam van die Evangelie het verreikende konsekwensies. In die politieke lewe is dit radikaal, met die skyn van reg. In die kerklike lewe is dit verleidelik, want dit aktiveer die kerkmense, maar met verkeerde ideale.

Teenoor hierdie styl staan ons as gereformeerde Christene sterk afwysend en voer ons die pleit vir die styl van hervorming soos hierna duideliker sal word.

B. Basiese uitgangspunte🔗

Nadat ons na verskillende standpunte gekyk het oor hoe Christene in die samelewing moet optree, en verskillende benaderinge afgewys het, is dit nou nodig om kortliks 'n eie standpunt te ontwikkel.

Die redes waarom verskillende benaderings afgewys is, het hoofsaaklik gesentreer rondom die vraag na die verhouding van God met die wêreld en die siening van die mens en die samelewing volgens die Skrif.

Dit is nodig om die ou bekende gereformeerde waarhede weer op te diep en dit op hierdie probleem toe te pas.

  • God het seggenskap oor al die terreine van ons lewe;
  • Daarom staan alle terreine onder die sentrale liefdeswet van geregtigheid en liefde;
  • Die Christen is as 'nuwe mens' reeds 'n burger van die Koninkryk, 'n kind in die huis van sy Vader en het dus die roeping om die wil van sy Vader gestalte te gee in elke lewensverband;
  • God gee nie alleen sy voorskrifte in die Skrif nie, maar gee ook sekere verordeninge in die skepping.

Hierdie lyne word op verskillende plekke in die Skrif duidelik aangetoon.

Calvyn maak die mooi onderskeid tussen die groot Roeping tot die Koninkryk van God waarop die gelowige antwoord deur al sy lewensterreine as roepingsterreine te sien. Die groot Roeping moet dan in hierdie kleiner roepinge gestalte kry byvoorbeeld in die beroep, in die huisgesin, die skool ensovoorts.

Gesagsdraers🔗

Dit is veral die gesagsdraers van elke verband wat noukeurig daarop moet let.

Treffend is byvoorbeeld Calvyn se uiteensetting oor die roeping van die owerheid.

Die owerheid moet altwee die tafels van die wet eerbiedig (Inst. IV, XX, 5). So word die gelowige mens as mondige mens gesien en daarom is dit nie die roeping van die kerk om aan die owerheid politieke voorskrifte te gee nie, maar die Christen staatsman moet die heerskappy van God eerbiedig en daaraan gestalte gee in wetgewing en wetstoepassing.

Hierdie lyn van denke kry mens ook by Kuyper en nog sterker by Bavinck en ander uit die gereformeerde tradisie.

Kuyper🔗

Een van die mooiste gedeeltes uit Kuyper se werke is sy standpunt in 'Ons Program' (1907:47) waar hy juis die skeppingsordinansie in gebondenheid aan die Skrif vir die politiek hanteer.

In aansluiting hierby kan ons stel dat God sy wet-woorde nie alleen vir die verskillende soorte saad gegee het nie (Jesaja 28) maar ook vir singende voëls, en vir opvoeding, wetenskap, kuns ensovoorts.

Hierdie struktuurnorme is vir alle mense dieselfde. Daarom is daar by alle kunste, wetenskappe, taal, reg, ensovoorts, 'n gemeenskaplike element waarby alle mense belang het.

Maar daar is ook verskil. Christelike wetenskap of kuns is nie minder wetenskap of kuns nie, maar wetenskap en kuns genormeer vanuit die gehoorsaamheid aan die Skrif. 'n Christelike huisgesin vertoon al die trekke van alle gesinne maar sy gees en rigting verskil. Die Christelike godsdiens vertoon gemeenskaplike trekke met alle ander godsdienste maar is as ware godsdiens gerig op die diens van die ware God.

So is dit vir die onderwys, vir die politiek, vir die kultuurlewe of volkslewe. Telkens lê die verskil in die 'gees en rigting'.

Die ingeweefde geloof🔗

Jy is nie maar Christen EN sakeman, Afrikaner, vader of moeder nie, ook nie éérs sakeman, Afrikaner en dan Christen nie,ook nie éérs Christen en dan sakeman, Afrikaner nie, maar jy is CHRISTEN-SAKEMAN, CHRISTEN-AFRIKANER, CHRISTENVADER en -MOEDER.

Die styl van reformasie wil dus breek met alle vorme van dualisme asof God slegs in die kerk en die binnekamer gedien moet word en asof slegs enkele kompartemente van die mens deur sy geloof beïnvloed word.

Daarby is die styl van reformasie nie rewolusionêr nie, wil nie strukture met geweld afbreek nie, maar wil deur oorreding en oortuiging langs konstitusionele weg verandering in elke sektor van die samelewing teweegbring.

Daarom is die volgende drie sake kenmerkend:

  • openheid teenoor die standpunte van ander,
  • reserwe ten opsigte van elke standpunt vanuit Skrifgebonde norme,
  • getuienis met die oog op reformasie.

En dit kan nou op elke terrein toegepas word. Op die ekonomie, die onderwys, die wetenskap, die kuns, die politiek, ensovoorts.

Op elke bestuur wat 'n Christen dien, het hy hierdie reformerende roeping.

Gaan Suid-Afrika, gaan elke samelewing in elke dorp nie anders begin lyk as ons elkeen hierdie roeping ernstig gaan neem nie?