Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Reguit Lyntjies

Sekere leraars uit die skool van die nuwe navorsing beweer dat die Skrif glad nie so eenvoudig is en deur gewone gelowiges verstaan kan word nie. Daar word gesê dat ons eers moet vasstel hoe die eerste hoorders of die eerste lesers die Bybel gehoor of gelees het1.  Die Bybel en die Bybelse kultuur is millennia ver van ons s’n verwyder. Ons kan nie die dinge wat ons in die Bybel lees sommer net so met reguit lyntjies op ons van toepassing maak nie. Tot so ver is hulle heeltemal reg. Deur eerlik met die teks om te gaan, kom ‘n mens tot die gevolgtrekking dat lewens-omstandighede van die mense destyds in ‘n sekere sin anders was as ons s’n. Dit is egter ook waar dat verskillende Skrifgedeeltes, met ‘n verskeidenheid van lewensomstandighede, mekaar nader verklarend beaam. Daar kom by dat menswees as sulks deur al die eeue heen hoegenaamd niks verander het nie.

Nou word daar egter veel verder gegaan. Veels te ver! ‘n Ander belangrike werklikheid word geïgnoreer: Die teks soos dit nou daar uitsien, is van Genesis tot Openbaring deur die Heilige Gees geïnspireer. Dit lewer ‘n eenheid in die Godsopenbaring en ‘n eenheid in die boodskap van God.

Doelbewus word buite rekening gelaat dat die Woord van God in so ‘n mate ‘n eenheid is dat dit homself nader verklaar. Regdeur al die eeue waarin dit tot stand gekom het, lewer dit vir alle tye geldende Godsopenbaring. Doelbewus word die één Goddelike oorsprong van die Bybel verwerp. Die Bybelteks alleen is nie meer genoeg nie. Ons moet eers uitvind hoe die antieke wêreld geleef en gedink het. Daarvoor moet inligtingsbronne langs en agter die Bybelboeke gesoek word om ‘n legkaart uit al die ontdekte brokkies inligting te kan bou. Sonder dié agtergrondskennis kan ons die Skrif nie verstaan nie.

Die resultaat is dat geen gewone Bybelleser die Skrif meer kan verstaan nie. Gewone Bybellesers kan nie vasstel hoe die eerste lesers dit verstaan het nie, want hulle het nie toegang tot daardie bronne nie. Ons is dus weer terug by Rome waar alleen die ‘geestelikes’ in staat is om die Bybel te verstaan en dit vir die ‘leke’ te verduidelik.

Die Dilemma🔗

Ons moet vertrou dat die ‘gestudeerdes’ ál die nodige bronne langs en agter die Bybel betroubaar verreken het en nie hulle eie agenda selektief voor die bronne inspan nie. Ons moet vertrou dat die ‘gestudeerdes’ werklik wetenskaplik kontroleerbaar kan vasstel hoe die eerste lesers die Bybelboeke verstaan het. Ons moet eintlik vertrou dat die ‘gestudeerdes’ net so onfeilbaar is as die Bybel self. Waar die Roomse geestelikes hulle destyds op die ingewing van die Gees beroep het sonder die kontrole van die Skrifkennis, só beroep vandag se wetenskaplikes hulle op inligtingsbronne langs en agter die Bybel, los van die kontrole van die Skrif.

Die werklikheid is dan dat daar met nagevorste hipotetiese buite Bybelse inligting oor die betekenis van die geïnspireerde Bybelteks geheers word, veral wanneer die mens dink dat hy sake ontdek waarvan daar geen lyne tussen vandag en die Skrif sou bestaan nie. Hierdie metodiek, afgelei uit die Roomse teologie, maak aanspraak op die vrysinnige verstaansreël: Wat in die Skrif nie verbied is nie, is toelaatbaar2.

Die Pendulum Swaai Terug🔗

Die een uiterste gee in sy teenreaksie dikwels aanleiding tot die ander uiterste. Wat sal die antwoord wees teen hulle wat met die invoer van vrysinnighede daarop aandring: Wat die Skrif nie verbied nie, is toelaatbaar? Die denkgroep wat die stelling na sy teenkant toe omgooi, sê: Wat die Skrif nie beveel nie, is verbode. Op grond van hierdie radikale teenreaksie het ons al in die kerkgeskiedenis moes hoor: geen orrel in die erediens nie, geen kerklike feesdae nie, geen kinderdoop nie, geen Sondagviering nie, geen Kategismusprediking nie, geen kerkgebou nie, geen ander Skrifliedere naas die Psalms nie, nie knielend bid nie. Hoekom? Want wat die Skrif nie eksplisiet beveel vir die erediens nie, is vir die erediens verbode. Reformasie is volgens hierdie groep die skoonmaakproses van al daardie dinge wat nie eksplisiet beveel is nie.

Waarop beroep hierdie denkgroep hulle? Hulle locus classicus (bewysplek in die Skrif) is Deuteronomium 12:32: “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.” Verder beroep hulle hul op uitsprake van die Reformatore wat selektief aangehaal word om hulle standpunt te regverdig.

Met al die goeie bedoelings is daar tog ‘n basiese gebrek in laasgenoemde benadering. Die formule van God word omgekeer. God praat oor al die dinge wat Hy inderdaad beveel. Alles staan in die Bybel. Wat Hy beveel het, mag ons nie verander nie; ons mag daaraan nie na willekeur weglaat of toevoeg nie. Die dinge wat Hy ons beveel het (in Deuteronomium 12 staan die bevel in die konteks van die inrigting van die sentrale heiligdom), mag ons nie anders uitvoer as wat Hy beveel het nie. Die radikale denkgroep keer dit om. Hulle sê wat God nié beveel het nie, is verbode. Hulle veronderstel dat daar dinge of sake is waaroor daar géén opdrag van God sou bestaan nie. Die afwesigheid van reguit lyntjies? Dit is in stryd met ons belydenis dat die Skrif genoegsaam is.

Genoegsaamheid van die Skrif🔗

Ons bely dat daar geen aspek van ons lewe is wat nie genoegsaam deur God se Woord bedek is nie. Die vrysinnige denkgroep veronderstel, net soos Rome, dat daar sekere dinge sou kon wees waaroor God Hom nie uitgelaat het nie. Die Roomse denke veronderstel dat daar sekere dinge is wat nie verbied sou wees nie. Die radikale teenpool (fundamentalisties vrysinnig) veronderstel dat daar sekere dinge is wat nie beveel sou wees nie. Dit sou kan beteken dat ‘n sekere deel van ons lewe dan nie genoegsaam deur God se Woord met beginsels, met opdragte, met voorbeelde en dies meer beskrywe sou wees nie. By hierdie sogenaamde ‘afwesigheid van Godsopenbaring’ sê die een kant: As dit nie verbied is nie (byvoorbeeld die bieg), is dit toegelaat. Die ander kant sê: As dit nie beveel is nie (byvoorbeeld die kinderdoop), is dit verbode. Dit is reguit lyntjie hermeneutiek in twee totaal verskillende gedaantes. Tog is dit een hermeneutiek. Oorvereenvoudigde reguit lyne word getrek.

Teenoor beide maniere van lyntjies trek bely ons dat daar nie iets is waaroor die Skrif nie direk of indirek genoegsame toerusting gee nie. ‘Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus’ (2 Timoteus 3:16-17). Die Skrif leer dat ons God se Woord nie kan verras nie; nie met iets wat nie beveel is nie en ook nie met iets wat nie verbied is nie.

Dit beteken nie dat die Bybel nou ‘n resepteboek vir elke gebeurtenis is, ‘n reguit lyntjie vir elke daadjie nie.

Altyd weer moet na die hele Skrif geluister word. Tog gaan opponente dikwels met mekaar aan die stry oor watter lyntjies rêrig reguit is. By die afwesigheid van reguit lyntjies sê die een klomp: dan doen ons wat ons goeddink – ons dink self iets vindingryks uit. Die ander klomp sê by die afwesigheid van reguit lyntjies: dan doen ons wat ons goeddink – ons ag sulke sake as outomaties verbode. Die een groep is dan sogenaamd liberaal-evangelies en die ander groep verkramp-konserwatief.

Wat Dan?🔗

Sal ons ons begewe in die hande van die ‘gestudeerdes’ wat alléén in nederige hoogmoed weet om die wil van die Here vanuit die buite-Bybelse bronne uit te lê? Of sal ons maar die reguit lyntjies opsoek en by afwesigheid daarvan besluit of ons iets as toegelaat of as verbode beskou?

Nee. Die mondige gelowige wat bely dat die hele Skrif deur God aan ons gegee is om ons héle diens aan God te beskryf (NGB artikels 5 en 7), aanvaar dat ons moet dóén wat God beveel het, en moet nálaat wat Hy verbied het (Psalm 40). Om dit te bepaal, lees ons die hele Skrif, en dit alléén soos wat die Skrif homself in sy eie konteks verklaar. Die Gees van Christus ontvou in die Skrif sy openbaring genoegsaam vanuit die Skeppingsgebeure in ‘n heilsweg met sy kerk in Christus, tot en met die voleinding van die wêreld. Ons verreken die taalkunde waarin die Skrif tot ons spreek. Bo en behalwe wat Hy ons direk beveel (opdrag en verbod), is daar beginsels saamgegee wat sy bevele begrond, en ‘n verskeidenheid van voorbeelde wat sy bevele illustreer. Alles is genoegsaam om te verstaan en in ons hele lewe, hoe modern ook al, toe te pas. Van ons bestaan is geen ‘goeie werk’ deur die Skrif oorgeslaan nie (2 Timoteus 3:17). Eenvoudig, gebalanseerd, nugter, sola Scriptura, tota Scriptura – nie met reguit lyntjies nie, maar in konteks soos wat God dit self aanbied. Die gebruik van bronne naas en agter die Bybel is verrykend om dit wat die Skrif leer te bekragtig, maar geensins noodsaaklik om die betekenis van die Skrif te bepaal of beheers nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Acta GKSA 2003, p. 657, Die Deputate reageer op die beswaar dat Messiaanse verwysings in die Psalmteks uitgelaat is deur te sê: “Die kommissies het besluit om die grondteks te volg deur die Psalms te verstaan soos die eerste hoorders dit sou verstaan het.”
  2. ^ Acta GKSA 2003, p. 548 beswaardes argumenteer met hierdie argument teen die sinodebesluite in punte 3.3.6-7.