1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Regverdiging

Wat is regverdiging? Ten spyte daarvan dat die leer van regverdiging een van die hoekstene van die Christelike geloof is, is daar ongelukkig min mense wat selfs maar weet wat die woord beteken en nog minder wat die geluksaligheid van die regverdiges ken.

Om te kan verstaan wat regverdiging beteken, moet ons besef dat dit sinoniem is met geregtigheid. Om regverdig gemaak te wees en om geregtig te wees is dieselfde ding.

Tweedens moet ons besef dat regverdiging ʼn regsterm is. Met regverdiging het ons met God as Regter te doen (Heb. 4:13). Regverdiging is ʼn uitspraak van die hoogste Regter teen wie se uitspraak daar geen appèl is nie (Job 40;3).

Derdens het regverdiging betrekking op ons regsposisie (status): ons stand voor God en sy gereg (Ps. 130:3). Daardie stand of status bepaal of ons sekere regte en voorregte sal hê, al dan nie of ons gestraf sal word.

Wanneer ʼn regter uitspraak lewer, is daar net twee moontlikhede: ʼn “status” van skuldig of ʼn status van onskuldig; ongeregtigheid of geregtigheid. Wanneer God die sondaar regverdig maak, verklaar Hy hom onskuldig aan enige oortreding of misdaad (Num. 23:21; 2 Kor. 5:19).

Die wonder van die regverdiging is dat sondaars deur God onskuldig bevind word, want hulle wat regverdig gemaak word, het elke sonde begaan en doen dit steeds; en hulle sondig teen die Regter self (Ps. 51:6; Rom. 5:18, 21).

Die uitspraak van God waarmee Hy hulle regverdig verklaar, is soos ʼn wet van die Mede en Perse: dit kan nie verander word nie, want God verander nie. God lieg nie in sy uitsprake nie (Num. 23:19). Sy uitspraak is waar en regverdig.

Dit beteken dat dit onmoontlik is dat die grond vir die sondaar se regverdiging en sy onskuld voor God sy eie verdienstelikheid of sy eie werke kan wees (Rom. 3:28; Rom. 4:6). Die grond van die regverdiging — en daar moet so ʼn grond wees — is die volkome gehoorsaamheid van Christus en sy lyde en dood.

Jesus is die plaasvervanger vir diegene wat die Vader Hom gegee het. Sy lyding en sterwe is die straf vir hulle sonde (Jes. 53:5) en deur sy volkome gehoorsaamheid betaal Hy daarvoor: “wat ek nie geroof het nie, moet ek . . .  teruggee (Ps. 69:5). Dink aan ʼn dief wat vir sy  misdaad moet boet, nie net deur gestraf te word nie, maar ook deur wat gesteel is, terug te gee. Christus ly nie net die straf vir ons oortredings nie, maar betaal ook aan God die Godsverheerlikende gehoorsaamheid wat aan Hom verskuldig is, wat ons nie betaal het nie.

Christus doen dit alles vir hulle wat aan Hom behoort. Sy gehoorsaamheid, lyding en dood word aan hulle toegereken (2 Kor. 5:19), sodat dit voor God is asof hulle nooit sonde gehad het of werklike sonde gedoen het nie.

Hoe wonderlik is dit om geregverdig te wees. Niks kan vergelyk word met die wete dat daar by God “geen veroordeling” vir ons is nie. Alle ander seëninge en voorregte en ons genieting daarvan, hang hiervan af. Paulus sê: “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof (Filip. 3:8, 9).