Bron: Kerk en Woord. 6 bladsye.

Rigters 13:1-5 - Jy sal swanger word en 'n Seun baar en Hy sal Israel begin verlos

Rigters 13: 1-5🔗

Die boek Rigters beklee ’n belangrike plek in die geskiedenis van die verbondsvolk omdat daarin die beginsel van die wet van die HERE duidelik na vore kom dat Hy op gehoorsaamheid van sy uitverkorenes, lewe gee, vrede handhaaf, en ons seën met sy nabyheid. Ongehoorsaamheid gaan slegs uitloop op swaarkry, verdrukking en dood.

Hierdie kernverkondiging is ’n kragtige prikkel wat die kerk in haar hoop en verwagtings, en in haar lewenswyse moet stimuleer.

Met die begin van die geskiedenis van Simson as rigter, verkondig die teksverse van Rigters 13:   1 - 5:

  1. dat God sy ongehoorsame kerk tugtig (13: 1),
  2. dat die gevolge van God se tugtiging, versterwing is (13: 2),
  3. maar dat Hy self sy verlossingsplan verkondig (die evangelie) wat ’n lewende hoop laat opvlam (13: 3 - 5).

God tugtig sy ongehoorsame kerk🔗

Die openbaringsgeskiedenis is geskiedenis van die koms van die Koninkryk van God deur al die eeue heen. Dit is lewewekkende geskiedenis, dit is toetsende geskiedenis. Dit is ook tugtigingsgeskiedenis. Dit is heils- en verbondsgeskiedenis. Ook is hierdie geskiedenis voorafskaduwend, tipologies, voortgaande vervullend, ’n verkondiging van wat reeds werklikheid is, maar ook nog nie voltooi is nie.

So is dit ook met Rigters. Hierdie boek vul ’n besondere periode van Israel se geskiedenis. Dit is die periode nadat God sy volk onder leiding van Moses en Josua uit Egipte uit en in Kanaän ingelei het, dus ook nadat die volk vir veertig jaar in die woestyn getoets en gelouter is om die verbond van God en die bedoelinge van God met hulle ernstig te neem. Josua is oorlede en die volk prakties leierloos, nuwe wagperiode om te sien hoedat God sy koningskap oor sy volk in die beloofde land gaan bestendig.

Maar helaas; die volk is afvallig. Elkeen het gemaak soos wat dit goed was in sy eie oë. Die wet was wel daar, maar daar was nie gesagsdraers wat wetstoepassing behartig het in die naam van die HERE nie. So het die toestand van die volk algaande agteruit gegaan.

Dan het die HERE hulle getugtig deur hulle te laat verdruk deur die omringende nasies. Wanneer hulle egter onder die tugroede van die heidense nasies gesug het, het die HERE vir hulle ’n leier verwek wat hulle verlos het, hulle gerig het, reg gespreek het en hulle gelei het in die weë van die HERE.

Wanneer dit dan weer goed gegaan het, het die volk weer afvallig geraak. Dan het die HERE hulle weer in die hande van die heidene oorgegee. Dit is in hierdie tragiese toestand van die kerkvolk van God dat ons die openbaringsgeskiedenis van die lewe en werk van Simson as rigter aantref.

Toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank. Alle verbonde het twee kante. In vers 1 is die twee partye van die genadeverbond benoem: Die kinders van Israel aan die een kant, wat verkeerd gedoen het in die oë van die HERE, en die HERE aan die ander kant, wat sy verbondbrekende volk met verbondstug behandel.

Aan die een kant hoor ons die benoeming van die Ou Testamentiese kerk van die HERE, maar volgens hulle verbondsbenaming: die mense aan wie die HERE Homself met ’n eed verbind het.

Hierdie is ook dan die benoeming van die kerk van al die eeue wat hierdie selfde geskiedenisbeskrywing as kanon ontvang het. Ons moet ons vandag ook soos die kinders van Israel - die Israel uit alle volkere - identifiseer. En as ons dan lees dat hulle destyds weer gedoen het wat verkeerd is in die oë van die HERE, moet ons dit as ’n toetsprikkel vir onsself afvra waar die kerk van die HERE in 2001 staan?

Verkeerd in die oë van die HERE beteken dat hulle in stryd met sy verbondsafspraak gehandel het. Dit is in stryd met sy Woord. Hulle het gedoen wat sy oë laat blits, soos wat Hy dit aan Thiatire geskryf het, dat Hy die een is met oë wat soos ’n vuurvlam brand.

Aan die mondige mense van ons tyd moet gesê word dat daar wel nog so iets soos reg en verkeerd is, en dat dit wel moontlik is om teen God se wil in te gaan. Almal het nie maar sommer reg op hul mening en die res moet dit akkommodeer omdat niemand op die finale kennis van die waarheid kan aanspraak maak nie. Nee, so het ons dit nog nooit bely nie.

Ons bely dat die Woord van God en die Wet van God sy verbondswoord aan ons is, en dat ons ons geloof daarna rig en daarop grondves. Daarom is daar beslis so iets soos reg en verkeerd, en Israel het nie maar net in haar mondigheid ’n ander interpretasie van die verbond gehandhaaf nie, hulle het die verbond blatant geskend. Hulle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE.

Hier staan nie in hierdie paragraaf presies wat hulle verkeerd gedoen het nie, maar ons lees dit in die res van Rigters.

Algaande na die dood van Josua het wetteloosheid toegeneem en allerlei gruwels is gepleeg waaronder diefstal (Rigt 17:2), afgodery (Rigt 17:5), onsedelikheid (Rigt 19:2), homoseksualiteit (Rigt 19:22), en massamoord (Rigt 21:23). Niks anders as wat ons in 2001 op die suidpunt van Afrika ervaar nie.

Dit is dan ook die rede waarom die volk maatskaplik en polities en volkekundig onder allerlei sware vervolging en verdrukking gebuk gegaan het.

Vandag luister ons na die nuus en verneem van opstande en oorloë en gerugte van oorloë, van bendegroepe en faksiegevegte, van intriges en wat ookal, en dink dat die wêreld al hoe boser word, en dat daar geen kontrole meer is nie.

Maar hier lees ons in die Bybel dat oorwinnings en neerlae onder die voorsienige hand van die HERE staan. En Hy het sy kerk, die kinders van Israel, oorgegee in die hande van die Filistyne vir veertig jaar. Hy toets en louter ons wat nie sy verbond onderhou nie. Veertig jaar word hier as die toetstydperk aangedui.

Verklaarders bereken dat die veertig jaar wat die Filistyne oor Israel geheers het, waarskynlik geduur het vanaf die optrede van Elon tot met die dood van Simson. Die gemiddelde leefspan van een hele geslag.

Die gevolge van God se tugtiging🔗

Nou beweeg ons saam met die Bybelskrywer na vers 2 om na die hartseer toestand van ’n besondere egpaar van die kerk te kyk, om die kernlering te ontdek dat die mens uit homself tot niks lewewekkends in staat is nie. Ons leer die diepte van die menslike ellende ken wanneer ons een van die gevolge van die groot sondeval raaksien, so teenoorgesteld van die aanvanklike skeppingsop­drag wat sê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Want die sondeval het ook hierdie geseënde eienskap van die skepping in vervloeking gebring.

Ons sien hoe die toestand van die kerk van die HERE en die optrede wat die HERE na aanleiding daarvan onderneem, ook inspeel in die lewens van individue, van enkele egpare.

Die HERE handel verbondsmatig met sy kerk in die grootsheid van die kerkverband, maar Hy handel met sy kerk in en deur die geesvervulde optrede van enkelinge binne in sy kerk of ook deur die magsgedrewe optrede van die massas buite die kerk.

Hier staan in vers 2 dat daar ’n man was in Sorea, uit die geslag van die Daniete. Sorea het op die grens tussen die gebiede van Dan en Juda gelê, blykbaar die naaste aan die gebied van die Filistyne. Manoag en sy vrou het anders geleef as wat ons uit die res van die Rigters verneem, want poligamie was ’n algemene verskynsel.

In hoofstuk 12 lees ons nog dat Abdon veertig seuns gehad het, en Esban dertig seuns asook dertig dogters wat hy uitgehuwelik het om vir sy seuns vroue te verkry. In hoofstuk 13 is die opset geheel anders. ’n Enkel-egpaar, maar hulle kon geen kinders hê nie.

As ons die res van die geskiedenis van Simson deurlees, kom ons deurentyd onder die indruk dat hierdie egpaar waarlik gelowig was en dat hulle volgens die verbond van die Here gelewe het. Tog het hulle ’n diep verborge hartseer met groot worstelvrae. ’n Besondere probleem wat ook by ander egpare in die verbondsgeskiedenis voorgekom het. Soos Abraham en Sara, Isak en Rebekka, Hanna en Elkana, en ook met Sagaria en Elisabeth, die ouers van Johannes die Doper.

Kinderloosheid onder gelowige egpare is deur al die eeue as ’n soort huweliksramp beskou. In hierdie skrifgedeelte doen die Bybelskrywer moeite om 'n simboliese verbindingslyn tussen die toestand van die volk in die geheel (vs 1), en die belewenis daarvan deur Manoag en sy vrou (vs 2) te trek. Dis asof hy die resultate van die volk se geestelike afvalligheid en die uitwerking daarvan wanneer die HERE tugtig, ook op die gelowiges laat raaksien, want wanneer God tug, weerhou hy sy geseënde nabyheid aan sy kerk, en wanneer Hy sy geseënde nabyheid weerhou is die resultaat daarvan versterwing op allerlei gebiede.

In die geval van die Manoag egpaar wys die Bybelskrywer op hul kinderloosheid. Hierdie toestand ontlok noodwendig by die met wie dit gebeur ontelbaar baie vrae. Die eerste is dat mense hierdie toestand as buitengewoon en uitsonderlik beskou en dit interpreteer asof die HERE hulle om een of ander rede straf.

Waarom gebeur hierdie buitengewone ding met hulle wat lief is vir kinders en wat eintlik aangewese persone is om die verbondsgeslag vir God te kan bou. Nou moet ons uit die geskiedenis van wat met Manoag en sy vrou gebeur het, al die relevante feite verwerk voordat ons strafafleidings maak.

Een ding is uit die gebeure met hulle duidelik, en dit is dat God hulle self nie gestraf of vervloek het nie, en dat hulle kinderloosheid nie vir hulle as egpaar ’n boodskap was dat God hulle nie liefhet of hulle nie wil gebruik nie. Dit was in hulle geval wel ’n profetiese verkondiging van die sterwende toestand waarin die volk dieper ingesak het.

Hier is die menslike noodkreet dat God moet ingryp om sy kerk van ondergang te red. Hierdie toestand bewys ’n kernlering aangaande die mens, naamlik dat ons uit onsself tot niks goeds in staat is nie. Hierdie toestand van verlorenheid laat die pleitgebed opklink, dat God sal doen wat vir die mens onmoontlik is, en dit is dan ook wat ons in die volgende paar verse hoor.

Die verlossingsplan en lewende hoop🔗

Ons hoor hoedat God die uitkoms deur sy almagswoord laat aankondig. ’n Nuwe en lewende hoop vir die toekoms mag in gelowiges se binneste opvlam Dit is immers ’n situasie wat ooreenstemmend is met verskeie soortgelyke geleenthede waar God op ’n besondere wyse tot heil van sy uitver­korenes ingegryp het.

Toe Abraham en Sara se huwelik saam met hulle heilsverwagtings besig was om weg te sterwe, het die Here deur sy engel vir hulle gesê dat hulle die volgende jaar ’n seun sou hê. Die kind van die belofte sou die bouer van die heilige nageslag wees, die ontvanger van God se heilsbeloftes.

Byna identies hieraan was die situasie van Sagaria en Elisabet, die ouers van Johannes die Doper, wat ook kinderloos was, aan wie die Here ook deur ’n engel aangekondig het dat sy vrou Elisabet wat onvrugbaar en reeds op ’n ver gevorderde leeftyd was, ’n seun sou baar wat die wegbereider van die Messias sou wees.

Dieselfde gebeur hier by Manoag en sy vrou, maar ook ’n klein bietjie anders, want hierdie keer verskyn die engel van die HERE eerste aan die vrou. Nou dink mens by jouself dat hierdie dinge sekerlik net met buitengewoon besondere mense kan gebeur.

Dit is weereens ’n afleiding wat nie met die feite verband hou nie, want in hierdie geskiedenis is dit opvallend dat die naam van die vrou van Manoag nie eers genoem word nie. Indien sy werklik so belangrik was, iemand van aansien, sou sy immers bekend gewees het en haar naam ook, maar nou ontbreek hierdie gegewens. Sy was maar net die vrou van Manoag uit die Daniete. En tog word sy eerste omtrent God se verlossingsplan ingelig. So dikwels gebeur dit dat hulle wat onder die mense gering geag word, by God juis in aansien is.

Hierdie is duidelik ’n skadubeeld en heenwysing na die geboorte-aankondiging en verlossingsboodskap van ons HERE Jesus Christus. Ook sy geboorte is deur die engel Gabriël aan die maagd Maria eerste meegedeel. Dit was die boodskap van ’n nuwe verlossing van Israel.

Laat ons dan nader kyk na die inhoud van die verlossingsboodskap. Die oorsigtelike opsomming daarvan is dat die Here haar situasie as vrou gaan verander. Dit is op die persoonlike vlak. Maar ook sal Hy hul huweliksituasie verander, en so sal Hy die situasie van die hele volk Israel begin verander:

  • Wat haarself betref is dit die belofte-aankondiging dat die Here haar onvrugbaarheid gaan verander, en haar moederskoot gaan open sodat sy in staat kan wees om swanger te raak.
  • Wat haar huwelik betref sal dit die jarelange spanning en verwagting, gebed en worsteling tot ’n einde bring. Wat Manoag al bykans as finale werklikheid aanvaar het, het God kom omdraai. Ook in hulle huwelik gaan die HERE dit vir hulle moontlik maak om ’n verbondskin­djie in sy naam te ontvang en groot te maak.
  • Wat die Kerk in die geheel betref, is dit juis die beplanning van die HERE om hierdie seuntjie wat soos alle kinders alleen deur sy Goddelike alvermoë in aansyn geroep word, om hom met nadruk tot heil en welwese van sy kerk en sy koninkryk te gebruik. Hierdie seun sal afgesonder vir die HERE wees en toegerus word en met die Gees vervul en gedrywe word om die magte van die Satan te verbreek, en hulle wat teen God en sy koninkryk in opstand kom te verpletter en God se koningskap oor sy Kerk weer te bevestig en die verbondsvolk te lei in die weë van die HERE.

Nou moet ons goed begryp wat hier besig is om te gebeur: Verbondskind verkeer onder die terapeutiese huisbesoek van iemand wat sy later aan haar eggenoot beskrywe as ’n man van God, of ter wille van die klankhelderheid, in die Hebreeus: ’n Gab er El. Dit is nie onmoontlik om in hierdie betekenisvertaling by die naam Gabriël uit te kom nie, man van God, die Engel wat as God se boodskapper en ambassadeur optree vir die mense.

Ons kan ook stel dat hierdie suster die verlossingsboodskap van God ontvang onder die amptelike woordbediening van die boodskapper van God. Dit is ook hoe ons almal moet verwag om God se heilsboodskap te ontvang.

Die geleentheid waarby die gesant van die HERE ’n boodskap van die HERE aan die volk oordra, is immers ’n geleentheid van interaksie, van ontmoeting tussen die HERE en sy verbondsvolk.

Die res van die hoofstuk wat in ’n brandofferseremonie uitloop, is ’n bewys hiervan. En dan het hierdie spesifieke boodskap destyds aan mevrou Manoag vir die kerk van alle eeue blye boodskap van hoop: Dit is dat God uit liefde sy versterwende mensheid lewewekkend te hulp snel en ons verlos uit die heerskappy van die bose en die sonde. Hierdie verlossingsboodskap is die verlossingsrefrein wat dwarsdeur die Ou Testament die evangelie verkondig aan ’n versterwende mensdom, en wat finale vervulling gevind het in die geboorte-aankondiging van ons Here Jesus Christus.

Jesaja het dit reeds profeties aangekondig en gesê: ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee, en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors... Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.

So het die engel Gabriël baie jare later bykans woordeliks dieselfde boodskap aan mevrou Manoag, ook aan Maria meegedeel: Aan Manoag se vrou is gesê: Kyk, jy sal swanger word en ’n seun baar, en hy sal begin om die volk Israel te verlos: oftewel wat die Hebreeus betref, Hy sal begin om die volk te “hosia”. Hy gaan die werk van die groot komende Hosia - of te wel Jesua, voorafskaduwend begin doen.

Maar aan Maria is die boodskap: En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar en jy moet hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word, Koning oor die huis van Jakob, en aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

Dit is hoe die lewewekkende geboorteaankondiging van Simson, ’n profetiese uitgryp na die geboorteaankondiging van ons Here Jesus is. Dit is ook die altyd-geldende verlossingsboodskap van God aan ons in die 21e eeu. Hy het aan ons ’n Seun gegee wat ons van ons doodsvyande verlos het, en hierdie wete is ons enigste troos in lewe en in sterwe, ons enigste troos vir 2002, dat ons nie aan onsself nie, maar aan ons getroue saligmaker Jesus Christus toebehoort, die Seun wat vir ons gebore is om ons te verlos.

Een vraag bly oor: Hoe word van die verwagtende moeder vereis om haar verlosser-seun te verwag? Wat is die appèl wat hierdie verlossingsaankondiging op die verwagtende kerk van die HERE plaas?

Lees weer die woorde van die engel in vers 4: “Neem jou dan nou tog in ag en drink geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie.” Hierdie is nie vreemde woorde vir verwag­tende moeders nie. Maar as ons mooi daarna kyk is die appèl niks anders as ’n oproep om haarself te reinig en heilig vir die koms van haar en haar verbondsvolksgenote se verlosser nie.

Hoewel ons weet dat hierdie opdrag vir mevrou Manoag waarskynlik ’n sterk mediese agtergrond het, het dieselfde gebruike op daardie stadium volgens die voorskrifte van die Here in sy verbondsboek ook ’n seremoniële agtergrond gehad. Bykans die grootste deel van al die seremoniële voorskrifte was reinigingsvoorskrifte. Alhoewel die hele seremoniële wet in Christus vervul is, het daar steeds nog die geestelike betekenis daarvan oorgebly. Daarom word die Nuwe-Testamentiese kerk ook opgeroep om haarself te reinig vir die koms van die Messias. Johannes die Doper roep juis uit, Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom. En in sy eerste algemene sendbrief het die apostel Johannes die gemeente ook opgeroep en gesê: “en elkeen wat hierdie verwagting, hoop op die wederkoms van die Here het, reinig homself soos Hy rein is.”

Dit is nie alleen mevrou Manoag wat die gesagvolle woord van die Here vir haar moes toe-eien nie.

Ook ons is in reikhalsende verwagting, die kerk van die Here Jesus wat die verkondiging van sy geboorte en verlossing sien gebeur het.

Ons moet dan ook die belofte van sy wederkoms vir onsself toe-eien.

Ons moet Maranata roep. Die boodskap van volkome verlossing uit die hand en die aanslag van al ons doodsvyande. Neem jou dan terdeë in ag dat jy jou lewe nie verontreinig nie. Ons hoor die oproep van die heiligmaking. Ons hoor die dringende oproep om die Heilige Gees nie te bedroef wat ons hoe langer hoe meer aan Christus gelykvormig wil maak nie. Neem jou terdeë in ag.