1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Roeping

Waar die wedergeboorte (geestelik weer gebore) vergelyk kan word met die plant van die saad van die nuwe opstandingslewe van Jesus Christus in ons harte, kan die roeping vergelyk word met die reën en sonskyn wat op die saad val en dit laat groei en vrug dra.

Daar word na roeping verwys as “kragdadige roeping.” Dit beteken dat die roeping ʼn kragdadige werk van God is, wat die deur God gewilde resultaat, die verlossing, bewerkstellig. Kragdadige roeping is ʼn wesenlike deel van “onweerstaanbare genade”.

Wanneer ons in die heilsorde van roeping praat, verwys ons nie na die verkondiging van die evangelie aan almal, waardeur daardie roeping uitgaan en deur baie gehoor word sonder saligmakende krag nie. Mattheus 22:14 praat van  geroep in daardie sin, wanneer Jesus sê, “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” Ons verwys hier na die werk van die Heilige Gees in die harte van hulle vir wie God uitverkies het, aan wie die prediking van die evangelie die heil bring en daarin hou.

Dit moet beklemtoon word. Kragdadige roeping is nie alleen in ons die begin van die heil nie; dit bewerk ons hele saligheid. Dit roep ons kragdadig en onweerstaanbaar tot bekering (Matt. 9:130, geloof (Rom. 10:17), heiligheid (1 Tess. 4:7), gemeenskap met Christus (1 Kor. 1:9), vryheid (Gal. 5:13), hoop en volharding (Ef. 4:4) en volmaakte heerlikheid in Christus (1 Pet. 5:10; Openb. 19:9). Die roeping kom tot ons in ons hele lewe. Dit kom nie alleen as ʼn roeping tot heiligheid en volharding nie, maar ook as roeping tot bekering en geloof. So lank as wat ons sondig, en swak is in die geloof, moet ons tot bekering en geloof geroep word.

Ons noem dit hier om ʼn algemene misverstand te weerlê. Daar bestaan by baie mense die gedagte dat die roeping net geld ten opsigte van dié wat nie gered is nie, sodat die predikant nie ʼn oproep het – niks te sê het – vir hulle wat reeds gered is nie, maar wat inderwaarheid net so ʼn behoefte aan die roeping het as die ander.

Ons wil graag beklemtoon dat dit Christus is wat roep (Joh. 10:3, 16, 17) met die stem van die Almagtige God (Rom. 4:17). Deur die werking van die Gees word die roeping vas in die harte van baie, sodat hulle Christus hoor roep, sy stem herken en na Hom toe kom soos skape na hulle Herder. Is dit nie wonderlik nie?

Johannes 10:3 sê “Hy roep sy eie skape by hulle naam”. Die roeping is nie algemeen nie, maar baie persoonlik. Christus ken sy skape — hulle is aan Hom gegee voor die grondlegging van die wêreld (Ef. 1:4-6).

Wanneer Christus sy skape by name roep, hoor hulle nie hulle aardse name, Jan of Sannie, nie. Hulle hoor hulle geestelike name, die name waarmee hulle deur die eerste daad van God se genade geroep is, soos:  julle wat dors en honger het  (Openb. 22:17; Jes. 55:1), julle wat vermoeid en belas is (Matt. 11:28).

Inderwaarheid is dit die roeping wat die sondaars hulle honger, dors, vermoeidheid en las laat besef, en daarom begerig is om na Christus te vlug. Daarom word daarna verwys as ʼn kragdadige roeping. Die woord van die roeping van Christus is ook die woord wat die roeping verwesenlik.

Wat ʼn vreugde en ʼn seën is dit om die stem van Christus te hoor en te weet dat Hy ons na Homself roep.