2 bladsye.

Rond'shop'

Na afloop van die kerkdiens het die twee na my toe gekom. Twee volwasse jongmense … belydende lidmate. Hulle het kom praat. Gelukkig het hulle tuis gevoel in die diens. Maar, het hulle gesê, eintlik was hulle van plan om na 'n ander kerkgenootskap se diens toe te gaan, maar daar het hulle voor 'n toe deur te staan gekom. Die diens daar was glo gekanselleer. Daarom dat hulle toe tog maar kerk toe gekom het.

Dit gaan deesdae al hoe meer so. Rond’shop’ op 'n Sondag. Soos wat jy deur die week jou eie bakkery en groentewinkel kies en dit partykeer afwissel, so gaan jy op 'n Sondag na 'n godsdienstige samekoms van jou eie keuse. Verkieslik dan met 'n bietjie afwisseling.

Die verskynsel is nie heeltemal so nuut nie. Maar tog het dit vroeër jare meer in die geheim plaasgevind, enkele losstaande situasies en gevalle.

Nou is dit besig om op sekere plekke 'n aanvaarde verskynsel te word. Dit word nie meer in die geheim gedoen nie. Hoekom sou jy?

Verbruikersmentaliteit🔗

Waar die uitdrukking - rond’shop’- vandaan kom, weet ek nie. Maar dis wel baie toepaslik. Wie ‘shop’, maak van die kerk 'n winkel. Jy gaan net soontoe om iets daar te kry. Jy is net 'n rukkie daar en dan gaan jy weer weg. Soms gaan dit net oor 'n enkele artikel, 'n preek miskien. Die res is beter by die mededinger. En so kan mens maar net aangaan – van die een plek na die ander.

Wie so optree, het 'n tipiese verbruikersmentaliteit. Die klant kraai koning, hy sal kom solank as wat die bediening (van die Woord) hom geval. Maar vir dieselfde geld soek hy dit elders. Hy voel hom blykbaar nêrens aan verbonde nie.

Ondertussen word die kerklike samesyn so fundamenteel misken. Amper soos wat jy in 'n huwelik van 'n vrou gebruik maak solank jy aangetrokke tot haar voel. Daarna begin jy rond’shop’ van die een na die ander, solank jy maar net kry waarvoor jy lus is. Hierdie vergelyking is dalk 'n bietjie grof, maar dit is bedoel om die ‘shoppers’ wakker te skud en om saam 'n duidelike antwoord te kry op hierdie praktyk.

Want is die kerk nie inderdaad die bruid van Christus nie? En gaan dit in beide gevalle nie oor 'n totale lewensgemeenskap nie?

Wie homself in sy huwelik aan 'n verbruikersmentaliteit skuldig maak, verstaan niks van liefde en trou nie. Dit sal duidelik wees. So iemand verstaan glad nie waaroor die huwelik gaan nie.

Net so is dit ook vir hulle wat hulself as verbruiker opstel en rond’shop’. Hulle laat nie reg geskied aan die werklike erediens nie.

Wat is 'n Erediens?🔗

Dit is om saam te kom om God te eer, Hom openlik aan te roep en te dank. Allereers gaan jy soontoe om baie te bring, jou aanbidding en toewyding. In die dae van die Ou Testament was die paaie vol mense teen die tyd van die groot feeste. Elkeen het sy gawes gebring, die tiendes, die eerstelinge, die vrywillige offers, ensovoorts. Voordat die dier geslag is, het die offeraar sy hande op dié se kop geplaas, o.a om te wys dat hy in die offer homself gee.

Wat dit betref is dit oor die algemeen belangrik dat daar onder ons meer aandag gegee word aan die motivering vir die erediens. Ook vir die voorbereiding daarvan. Daar is lande waar ('n deel van) die gemeente deur die week die liedere oefen wat Sondag gesing gaan word. Dan sal dit nie net beter klink nie, maar hulle word dan ook baie meer bewustelik as lofoffer gebring.

Dit is net 'n voorbeeld, maar so word tog bewerk dat elkeen na die erediens toe kom met die bedoeling om iets te bring. Daardie besef is noodsaaklik. Sonder hierdie geloofshouding is daar nie sprake van diens in die ware sin van die woord nie.

Is daar in die tempel destyds en word daar in die kerk vandag nie ook baie ontvang nie? Ja seker, maar dit was nie op die volk se voorkeure gerig nie. Die vormgewing is ook nie oorgelaat aan die spontaniteit van die mense nie. Die manier waarop God onder sy volk aanwesig wil wees, vra eerbied en 'n aandagtige luisterhouding. Alles is so ingerig dat dit by Hom pas. Dit is verstaanbaar. Hy is die Almagtige, heilig en goed; wanneer Hy in ons lewe kom, verander ons hele bestaan. So is die bedoeling van die wet dat ons na sy beeld vernuwe moet word.

Dit is dus verseker nie 'n kwessie van persoonlike voorkeur nie. Ons gevoel mag daarby betrokke wees, en dit is ook nodig, maar nie so dat jy daarop sweef nie. Want dikwels gaan God se Woord regstreeks teen ons in of selfs dwarsdeur ons heen soos 'n swaard. Van nature pas dit nie by mense wat in hulle hart van God vervreem is nie.

Daarom kan jy nie by die kerk instap as ‘n koning wat nog gou klant wil wees nie. Die enigste regte houding is die van verootmoediging en oorgawe.