3 bladsye.

Ruimte vir Ons Eie Wil

Het die Christen nog ’n eie wil? Of is alles vir die gelowige reeds vooraf bepaal?

Soms het mense die indruk dat daar in die kerk maar min ruimte is vir die mens om uitdrukking te kan gee aan sy eie wil. Ons is immers gebonde aan die Bybel, die gebooie en die Belydenisskrifte, terwyl die tradisie ook nie uit die oog verloor moet word nie. Dit lyk so asof die eie wil in die verdrukking beland het.

Dit is egter opvallend dat dié indruk ook in die samelewing posgevat het. Ook daar vind die mens maar min ruimte vir sy eie wil.

Modern en Post-Modern🔗

Daar was ’n tyd toe die mens gedink het dat hy alles met sy verstand (rede, ‘ratio’) kon bereik.

’n Bekende gedagte tydens die Verligting (einde van die 17de eeu), was: “Ek dink, daarom is ek”. Dit word ‘moderne’ denke genoem.

Vandag sien mense die mislukking daarvan in. Die ‘ratio’ (rede) het geen beter samelewing opgelewer nie. Die strukture is knellend. Die mens het ’n slaaf geword van die rasionaliteit. Sy eie wil is verdring. Dit is tipies die gevoel van die ‘post-moderne’ denke.

Daarom word die menslike wil nou in die postmoderne tyd as uitgangspunt geneem. Wat voorheen algemeen aanvaar is, is nou nie langer meer belangrik nie. Eenheid is ook nie belangrik nie. Lewe die verskeidenheid! Laat elkeen doen wat hy wil.

Invloed🔗

As kerk het ons nooit gekies vir die modernisme nie. Daarom is die mislukking daarvan vir ons ook geen hartseer saak nie. Ook het ons vandag die ‘postmodernisme’ as vlugroete nie nodig nie. En tog moet ons nie onderskat dat die denke in die wêreld ook ons beïnvloed, nie.

Eers het die verstand probeer om in die kerk eerste viool te speel. Alles wat jy nie verstandelik kan beredeneer nie hoef jy nie te glo nie, soos byvoorbeeld die skepping, sondeval, opstanding, en nog veel meer. Die gevolge was groot. Baie het die kerk verlaat, omdat hulle die ruimte wil hê om vanuit die wetenskap te kies vir ander standpunte.

Vandag probeer die wil dieselfde doen: glo soos jy wil, volg jou gevoel, en alles wat jy nie wil nie hoef jy nie te glo of te doen nie. Opnuut ondervind ons dat dit aansteeklik werk. Op die gevoel af word dinge gedoen of nagelaat. Hierdie praktyk is vanuit die Skrif nie verdedigbaar nie. Daar ontstaan ’n neiging na religieuse bewegings met ’n beter aanvoeling vir ‘gevoel’; en dat hulle geloofsbelydenisse dikwels vaag en beperk is, word op die koop toe bygeneem. Die kennis neem skrikwekkend af, sowel as die belangstelling daarvoor.

Valse Teenstelling🔗

Maar, waarom sou jy ’n keuse maak tussen volledige trou aan God én jou eie wil? Waarom sal jy jou laat voorsê dat trou en gehoorsaamheid ten koste is van jou eie wil en gevoel?

Van die begin af was die wil van die mens vir God belangrik gewees. Minstens so belangrik as die verstand! In die Paradys het ’n boom gestaan, nie om die kennis te toets nie maar om die wil te toets.

Die mens het ruimte ontvang. Ruimte, selfs om teen God in te gaan. Dit was juis onmisbaar. Want alleen in dié ruimte sou die lewe met God en die onderhouding van sy gebooie uit liefde kon gebeur, vanuit ’n eie keuse!

Tot vandag toe is dit die kern van al tien gebooie. Jesus sê: ‘Doen dit uit liefde tot God. Dit is waaroor dit gaan’. Met ander woorde: jy moet dit wil doen!’ Anders word jy moeg daarvoor, voel jy soos ’n slaaf, en slaan jy op die vlug om iewers anders ʼn “goeie gevoel” te gaan soek.

As jy self geleer het om te wil wat God wil, onverkort, ontdek jy die ware vryheid. Jy word soos ’n vis in die water. Om suiwer oor God te praat word dan ’n uiting van ons liefde vir Hom, van ons keuse, iets waarvoor ons staan. Jy wil nie God se eer aantas in leer of lewe nie, omdat jou hart na Hom toe uitgaan.

As jy só jou lewe aan Hom gee, laat Hy dit opbloei, ingesluit jou wil en jou gevoel, en alles wat daarmee saamhang. God doen dit, volledig, deur sy Gees en deur sy hele Woord. En so gaan dan ons trou, ons keuse, ons wil en ons gevoel ook hand aan hand – deur Sy werk. Dit is nie ‘of – of’ nie (trou aan God of jou eie wil nie), maar ‘en – en’ (jou wil van binne verander om God se weg te volg).

Einde van Verhaal?🔗

Het ek nou ’n afdoende antwoord gegee aan almal wat graag meer ruimte wil hê vir ’n eie en eietydse geloofsuitdrukking?

Enersyds hoop ek dat dit wel so is, want jy bereik nie die egte geloofuitdrukking as jy op ’n afstand bly van die Woord en die kerk nie, maar juis as jou hart daarin lê. Daar begin dit. En as jy nie daar begin nie, het jy miskien wel ’n klomp ‘uitdrukkings’ van jou geloof, maar met weinig geloofsinhoud. As ons dit saam insien, het ons al baie ver gevorder.

Andersyds dink ek weer dat dit nie so is nie. Want juis as dit oor die kerk gaan kry sommige die gevoel dat hulle met hul eie wil geen uitweg sien nie. Alles is tog immers al so vasgelê. Nie alleen in ’n kerkboek nie, maar ook in soveel ongeskrewe persoonlike standpunte en tradisies. Onder ons is daar soms meer angs en krampagtigheid, as ruimte om self te kies en te wil. Alle nuwighede roep argwaan op. Uiterlike dinge word oorbeklemtoon. Is daar werklik ruimte om hierdie kerkboek aan te vul?

Begrensde Ruimte🔗

Miskien kan ons mekaar vind in ’n begrensde ruimte. Dan is daar wel ruimte, en ook heeltemal genoeg, maar duidelik nie onbeperk nie.

Die geskiedenis kan jy by voorbeeld nie oor doen nie, al wil jy ook. Dit is ’n beperking waaraan niemand kan ontkom nie. Die weg waarlangs God aan ons die evangelie laat bring het, is vasgelê in belydenisse en formuliere. Vandag sou ons miskien ander aksente in hierdie belydenisse plaas. Maar toe was dit die antwoorde op die aanslae in daardie tyd. En dit is blywend waardevol, ook vir die geloofsverbondenheid deur die eeue heen. Wie insien dat die evangelie op hierdie wyse vir ons bewaar is, aanvaar hierdie dokumente met dankbaarheid, en voel hulle verbonde aan almal wat hulle lewens aan die evangelie gewy het.

Wanneer ons dit in alle duidelikheid saam deel, ontstaan die geleentheid om in eensgesindheid vandag ons eie kerk-wees vorm te gee. Die geskiedenis gaan immers verder.

Maar die geleentheid gaan juis verlore wanneer allerlei eiesinnighede, in leer of lewe, gelowige mense tot die verdediging dwing. Tereg is daar dan besorgdheid of selfs wantroue. Teen ’n nuwe uitdrukking is daar in beginsel geen beswaar (dit kan ook nie), maar wel teen ’n nuwe geloof.

Laat ons dit dan tesame hardop sê, dat ons behoudend wil wees. Dit is nie ’n kenmerk van ’n groep of so nie, maar van elkeen wat in alles aan God en sy Woord wil vashou. Dit was die werkswyse deur al die eeue heen, en sal dit wees tot op die laaste dag. Wie ‘behoudend’ is, in skriftuurlike sin, hou nie krampagtig vas aan die vorme nie (want dit kan wissel), maar aan die volle inhoud van God se genade in Jesus Christus. Daardeur is die grens bepaal.

Binne dié begrensing ontstaan dan die ruimte en die onderlinge vertroue om saam ook eietyds te wees. Nie as ’n toegewende gebaar nie, maar net so goed as ’n ‘moet’. Want as God ons sy Gees gee om gelowig te lewe, dan stimuleer Hy ons om vandag daaraan woorde en vorme te gee, wat pas by mense van hierdie tyd. Al die mense vóór ons, wat (inmiddels) ou liedere, liturgieë en belydenisse nagelaat het, spreek in hulle dae die taal van hulle eie tyd. As ons hulle daarvoor dankbaar is, kan ons nie tegelykertyd met kritiese oë na hulle kyk nie, wat nou dieselfde wil doen nie.

Saam op Weg🔗

Saamgevat, kom dit alles op die volgende neer:

  1. omdat ons eie wil en ons eie keuse vir God belangrik is, sal ons as gelowiges vir mekaar daarvoor ruimte moet laat en mekaar daarin stimuleer;

  2. omdat ons hierin wil vashou aan God se Woord (en aan God se Woord alleen), sal ons ons gesamentlik moet toelê op die kennis daarvan, om ons in alles te laat lei deur God se liefdevolle wil, en om daarin te groei;

  3. vryblywendheid, krampagtigheid en wantroue sal daardeur plek maak vir geloof, toewyding, vrymoedigheid, begrip en liefde;

  4. deur die eeue heen was die kerk op haar sterkste wanneer sy woorde en vorme vind vir ’n eietydse geloofsuitdrukking, sowel na binne as na buite toe, tydens en buite die erediens; daarna sal ons ook nou strewe, om kerk te wees in hierdie tyd.