Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Rym Veelgodsdienstige Opvoeding met Ons Doopbelofte?

Bybelonderrig in skole is uit; multi-religieuse onderwys is in. Dit is die godsdiensplan vir openbare skole wat onlangs deur prof. Kader Asmal, minister van onderwys, aangekondig is.  Die aankondiging het wel 'n paar wenkbroue laat lig. Maar gaan ons meer doen as maar net die wenkbroue lig? Waarskynlik bring hierdie aankondiging gelowige ouers voor hulle eerste groot toets te staan.

Stadig in Trurat🔗

Hoewel dalk die grootste, is hierdie nie die eerste onderwystoets wat aan ons deur kom klop het nie. Oor die afgelope paar jaar moes ons aanskou hoe die Christelikheid van ons skole met die glybaan af beweeg. Eers moes Christelike onder­wys as uitgangspunt die aftog blaas. Daarna het Bybelkunde as skoolvak gesneuwel. Mettertyd is Bybelonderrig en die aanleer van Christelike waardestelsel al verder teruggedryf tot op die punt waar dit kwalik nog sigbaar is.

Vandag probeer Afrikaanse skole dikwels die probleem oorkom deur die hulp van plaaslike predikante in te roep. In die meeste gevalle gaan dit maar sukkel-sukkel. Skoolkinders beleef dit oor die algemeen as 'n stukkie kerk wat niks met hulle skoolwerk te doen het nie. Tereg ook, want is die "stukkie kerk" dan iets meer as 'n los aanhangsel? Is dit nie die pleister waarmee ons die leemte van geen-godsdiens-in-die-klaskamer probeer toeplak nie? Daarom kan skoolkinders dit kwalik verkwalik word as hulle hierdie los aanhang­sel nie ernstig opneem nie.

Oor verloop van 'n paar jaar het ons die agteruitgang van Christelike onderwys in ons skole aanskou. Ongelukkig het ons in die meeste gevalle maar net toeskouers gebly. Enkele onderwyskundiges het ons aandag gevestig op die gevare van wat aan die gebeur is; kerklike onderwysdeputate het baie moeite gedoen om Gereformeerde ouers in te lig en voortdurend aan ons doopbelofte te herinner. Hier en daar het Gerefor­meerde ouers uitgespring en privaatskole op die been gebring. Sommige ouers probeer hard om by die open­bare skole te red wat daar te redde is. Maar meestal is daar 'n hartverskeurende passiwiteit te bespeur, dikwels onder die vaandel van allerlei verskonings.

Geloofs-Neutraal?🔗

Die bekendste verskoning is dat ons in die skole darem nog Christen-onderwysers het wat vir ons die wa deur die drif gaan trek. Die vraag is egter: Vir hoe lank nog? Hoeveel Christenjongmense meld by universiteite aan om hulle as onderwysers te bekwaam? Gaan daar genoeg Christenonderwysers wees om oor te neem wanneer die huidige generasie uit diens getree het?

Buitendien: selfs al is daar Christenonderwysers wat nog probeer om die Christelike lewensbeskouing in die klaskamer aan ons kinders oor te dra - hoe lank sal dit nog deur die onderwysowerhede geduld word?  Daar is ook ouers wat as verskoning aanvoer dat dit nie nodig is dat hulle kinders op skool geloofsopvoeding ontvang nie, omdat hulle as ouers dit self tuis doen. Oor ouers wat hulle kinders getrou en met toewyding in die geloof grootmaak, kan daar net groot dankbaarheid wees. Máár: deel van die geloofsopvoeding (binne die gereformeerde leer, altans) is dat geloof en lewe nie van mekaar geskei kan word nie.

As ons dan ons kinders tuis in die geloof grootmaak maar hulle terselfdertyd aan 'n "gelooflose" skoolopset sou blootstel, dan versterk ons by hulle die idee dat ons geloof en ons daaglikse bedrywighede los van mekaar staan. Kan ons dan verbaas staan as ons kinders eendag, wanneer hulle groot is, deel van 'n skisofreniese Sondag-Christendom word?

Voorspraak vir 'n "gelooflose" onderwys word gedoen deur die Stellenboschse opvoedkundige, dr. Cornelia Roux (soos berig in Beeld, 15 Junie 2001). Dr. Roux ondersteun prof. Asmal se voorstel as "die enigste uitweg om godsdiens binne Kurrikulum 2005 te hanteer" en sê: "Die huidige toepassing van godsdiens-onderrig diskrimineer verkeerdelik teen kinders op grond van religie. Dit help nie kinders word grootgemaak in 'n vakuum sodat hulle net aan een godsdiens blootgestel word nie. Wat gebeur as hulle die multikulturele buitewêreld betree?"

Dr. Roux voer aan dat die vak Godsdiensstudie, waar verskillende godsdienste bestudeer word, die beste antwoord is. Selfs godsdiens tydens saalbyeenkomste is volgens haar verkeerd, aangesien skole opvoed­kundige instellings is.

'n Veel-Godsdienstige Godsdiens🔗

Onmiskenbaar staan dr. Roux onder die vaandel van godsdiens-neutraliteit. Die slagspreuk is dat in skole geen bepaalde godsdiens bo 'n ander bevoordeel mag word nie. Daarom die vak Godsdiensstudie, waarin verskillende godsdienste naas mekaar bestudeer word.

As 'n mens egter mooi daaroor dink, is dit nie 'n pleidooi vir godsdiensloosheid nie, maar vir 'n ander gods­diens in die plek van die Christelike. Hierdie standpunt eis in werklikheid dat kinders op skool gevoer word met die godsdiens wat multi-religieusiteit (oftewel veel-godsdienstigheid) genoem kan word. Deur die Chris­telike geloofsbenadering uit die onderwys te ban, word 'n vakuum geskep - 'n vakuum wat met die godsdiens van multi-religieusiteit gevul word.

In die afgelope paar jaar het dit duidelik geword dat multi-religieusiteit inderwaarheid nie 'n neutrale staanplek is nie, maar 'n godsdiens op sy eie geword het. Daarvan was die Wêreldparlement van Godsdienste wat voorverlede jaar in Kaapstad plaasgevind het, 'n duidelike bewys. 'n Basiese leerstelling van multi-religieusiteit is dat die waarheid nie by net een gods­diens te vinde is nie, omdat elke godsdiens maar net 'n ander pad na dieselfde bestemming is. Hierdie leer­stelling is niks nuuts nie. Dit is eintlik niks anders nie as Hindoeïsme met 'n nuwe baadjie aan.

Ons Kinders is die Here se Kinders🔗

Gaan ons weer blote toeskouers wees wat toesien hoe ons kinders met 'n vreemde godsdiens op skool gevoer word? Gaan ons eenvoudig die bal vir die paar Christenonderwysers op skool aangee sodat hulle maar vir ons die spit moet probeer afbyt?

Dit kan tog nie. As verbondsouers weet ons tog dat ons kinders nie aan die staat behoort nie. Hulle behoort in werklikheid nie eens aan onsself nie. Hulle behoort aan die Here. En wat hulle opvoeding betref, sal die Here nie van die landsowerhede of van die onderwysowerhede verantwoording vra nie, maar van ons as verbondsouers aan wie Hy sy kinders toevertrou het. Het Hy dan nie, toe Hy hulle met die doop as sy eiendom beseël en bekragtig het, ons openlik en plegtig voor die hele gemeente 'n onderneming laat gee nie? Hy het gevra: "Belowe u om hierdie kinders, van wie u die vader en/of moeder is, wanneer hulle dit kan verstaan, in die leer van die saligheid (wat in die Ou en die Nuwe Testament vervat word) te onderrig en te laat onderrig?" Hierop was ons antwoord: "Ja."

Nou staan ons voor 'n toets: Was ons eerlik toe ons "ja" gesê het? Of gaan ons ons kinders sienderoë in die maalkolk van veel-godsdienstige opvoeding laat insuig? In plaas daarvan om dit maar aan 'n paar gewillige Christenonderwysers en -ouers oor te laat om die wa deur die drif te probeer trek, kan en moet elke gelowige ouer ten nouste betrokke raak by die onderwys van hulle kinders. Ook by openbare skole.

Kom na vore en laat u stem hoor vir Christelike onder­wys.