Bron: Die Kerkblad. 6 bladsye.

Sagaria 8:20-23 - God maak Sy Kerk Nuut ... om 'n Trekkrag na Hom toe te wees

Oordenking gelewer met die opening van die Nasionale Sinode tydens Januarie vanjaar🔗

Lees:      Sagaria 8:1-23
Teks:      Sagaria 8:20-23

Die inwoners van een stad sal na dié van die volgende toe gaan en elkeen sal sê: “Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here die Almagtige. Ek gaan ook!” Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg. So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”

Sing:      Ps 99:1, 4, 5; Ps 42:1, 6, 7; Ps 72:10, 11

Daar is by miljoene mense in hierdie land en op die kontinent van Afrika ontsaglike ontnugtering, moedeloosheid en teleurstelling. Ons beleef geweldige kriminaliteit, roof en moord, politieke spanninge, wantroue en oorblywende rassehaat by wit en swart mense. Die grootste ramp in menseheugenis is besig om plaas te vind: die tsoenami van MIV/vigs maai letterlik miljoene mense af. Daar is skrikwekkende armoede en miljoene weeskinders.

In die kerke ook binne die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika - is daar baie skerp verdeeldheid en by baie lidmate groot frustrasie en ongeduldigheid. Soms lyk dit of ons kerke al meer agteruit boer. Ons verloor elke jaar ’n duisend lidmate en ’n groot aantal gemeentes is die afgelope jare ontbind. Op baie plekke is tweede eredienste afgeskaf.

Tog is daar baie tekens dat mense in hierdie land en kontinent na God soek soos nooit tevore nie. As buitestaanders na ons sou kyk om God te kan vind, wat sal hulle sien? Hoe moet ons kerk in hierdie tyd wees? Waar moet ons weer moed kry?

In Sagaria 8 gee God hoop en uitsig op ’n nuwe toekoms ten spyte van skrikwekkende sonde, geweldige ellende en verval. Hy bring herstel en ware vernuwing deur sy kinders eerstens na Homself toe terug te bring. Hy gee ’n nuwe besef van sy absolute almag en heerskappy, sy heiligheid en sy verstommende genade en vergifnis. Dan gee Hy verbysterende werfkrag en groei in sy kerk.

Daarom is die tema van hierdie boodskap: God maak sy kerk nuut om ’n trekkrag na Hom toe te wees. Ons kyk na drie aspekte:

  • God self gryp in ’n sondevervalle kerk in.
  • God snoer sy kinders saam tot ’n biddende liggaam.
  • God gee aan sy herstelde kerk ’n verbysterende werfkrag met impak op die wêreld.

God self gryp in ’n sondevervalle kerk in🔗

As mens die agtergrond bestudeer van die tyd waarin Sagaria hierdie boodskap ontvang en verkondig het, kom jy gou agter dit was ’n tyd van baie groot moedeloosheid.

In hoofstuk 7 is beskryf waarom hulle moes vas en rou: Hulle het die Here vergeet en selfs in hulle godsdienstige gebruike het dit meer om hulleself as om God gegaan. Daarom het die Here ander volke gestuur om alles te vernietig wat vir Israel belangrik was. Die tempel is vernietig en die mense verneder en verstrooi.

Hulle het wel onlangs begin terugkeer uit ballingskap. Maar Jerusalem was yl bevolk, daar was baie onsekerheid, swaarkry en misoeste. Die finansiële hulp wat aan hulle beloof is, het nooit ’n werklikheid geword nie. Skynbaar was daar pynlike binnegevegte, selfgesentreerdheid, verval en afval en kriminaliteit. Vers 10 sê daar was nie geld om mense of diere te huur nie, en die toestand was so gevaarlik dat niemand veilig kon beweeg nie. God self het al die mense mekaar se vyande gemaak.

Ken ons dit nie! Die swak landboutoestande, die onveiligheid en spanning tussen mense maak ons moedeloos, depressief en selfs beangs.

Dan moet ons opnuut leer God alleen kan regtig moedeloosheid - selfs depressie - verander in optimisme. Kyk na vers 13: “Moenie bang wees nie, skep moed!” Die manier waarop God weer moed gee, is deur eerstens opnuut Homself in al sy mag en heerlikheid en ryk genade aan sy mense bekend te maak. Dit gebeur in Sagaria 8. So is hierdie hoofstuk die ver­stommende, onverwagte, onverdiende, keersy van hoofstuk 7.

In die hele boek Sagaria word die uitdrukking die Here die Almagtige 45 keer gevind - 15 keer daarvan kom net in hoofstuk 8 voor. Te midde van moedeloosheid, verdeeldheid en sonde maak God hom hier bekend in sy almag, sy majesteit en heerlikheid, en sy verstommende vergifnis en genade vir sy kinders. Midde-in die sonde en verval en moedeloosheid kom sê die Here deur die profeet: “Stop alles! Kyk nou na My! Ek is God almagtig. Ek is hartstogtelik begaan oor wat met my kinders gebeur het en wat hulle aangedoen is. Ek is diep verontrus - selfs siedend van woede - oor wat hulle aangedoen is.”

’n Mens word stil van verbasing as jy besef dat die almagtige God so ontsteld is oor wat met sy volk gebeur het. Hulle kry tog immers net hulle verdiende loon? Die bittere lyding van die ballingskap en die ellende van die droogtes en rampe wat hulle deurgegaan het, was tog immers God se straf oor hulle sonde?

Maar God leer ons hier opnuut: Hy het brandende liefde in sy hart vir sy kinders ten spyte van al hulle goddeloosheid en sonde. Hy gryp dikwels in die geskiedenis in, in tye van baie diep verval, en maak sy kerk nuut en heel. Dan gee Hy aan hulle ’n ontsaglike impak op die wêreld rondom hulle. In sy almag gaan Hy hulle nie vernietig nie, maar nuut maak.

Dit is asof Hy in hierdie hoofstuk sê: “Ek, die almagtige God, het nou genoeg gehad. Ek tel nou my kinders op uit die puinhope van hulle goddeloosheid en sonde. Ek vergewe hulle, maak hulle skoon en heel en nuut, en gee aan hulle ongekende heerlikheid wat selfs die verslaenheid en verwondering van die ander nasies sal opwek.”

God neem die punt ná die oordeelsaankondiging en maak dit die komma van sy voortgesette verlossingsplan! Mense soek dan na God self. Kyk weer na vers 21: Hulle gaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek.

Wanneer die Gees van God kragdadig werk, laat Hy in mense se harte ’n ontsaglike dors na Homself ontwaak. Hy laat by hulle ’n diep pynlike sondebesef ontwaak en bring hulle tot opregte belydenis. Dan maak Hy intiem persoonlike bemoeienis met elkeen van sy kinders. Hulle  ervaar: Die almagtige, lewende God het ten spyte van my verskriklike sonde my nie verwerp nie, maar baie naby aan my gekom, my skoongemaak en aan Hom vasgebind.

Wanneer mense God self soek en vind, gaan die wêreld oop onder sy genade. Wat mense met hulle sonde kankersiek gemaak het, gaan God nou gesond maak wanneer Hy sy kinders na Hom toe trek.

Dan word beskryf hoe daar lewensheiliging, eerlikheid, regverdigheid en vrede kom. Op die pleine in die stad sal bejaarde mans en vrouens veilig met hulle kieries in die hand kan sit en gesels terwyl jong seuns en dogters daar speel. Daar sal voorspoed wees: die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel sal sy vog lewer, en in die gemeenskap sal orde, waarheid en geregtigheid heers.

Voorheen het dit só sleg gegaan dat die ander volke, wanneer hulle mekaar iets slegs wou toewens, gesê het: “Mag dieselfde ellende jou tref wat vir Israel en Juda getref het.” Maar nou wanneer die almagtige lewende God hulle nuut maak, sonder dat hulle iets daarvan verdien het, sal die ander volke die voorspoed wat God se kinders gekry het, vir mekaar toewens. So laat God by die nasies van die hele wêreld ’n dors na Homself ontwaak en hulle word ootmoedige, biddende mense.

God snoer sy kinders saam tot ’n biddende liggaam🔗

Wanneer God sy kerk nuut maak en sy heerskappy met nuwe golfslae uitbrei, gaan dit altyd gepaard met gebedsverdieping, met ware berou, en met opregte verootmoediging. Kyk hoe staan dit in vers 21 en 22: “Laat ons gaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek.” Dit is woorde wat getuig van diep, nederige ootmoed, en opregte, in­dringende en volhardende gebed.

Die gesindheid ten grondslag van so ’n gebedsverdieping is belangrik. In Sagaria 12:10 staan dat God oor sy volk die Gees van genade en smekinge uitgiet; sodat hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en hulle oor Hom sal rouklaag soos n mens rouklaag oor n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos n mens bitterlik ween oor n eersgebore kind.

Wanneer God sy kerk nuut maak, vloei daar trane van baie diep berou oor sonde. Mense besef: Met my sonde het ek God se hart deurboor. Soos daar in Jeremia 31:9 staan: “Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei.” God maak mense nuut deur hulle met huilende lende harte na Hom en sy wil te laat vra. In Jeremia 50:4 staan: “Hulle sal huil-huil loop en na die wil van die Here hulle God vra.”

Met watter gesindheid kom ons na sinodes toe? Ons moet eerlik, tot ons skande, bely dat ons soms ten alle koste eie standpunte deurdryf en selfs geneig is om op ’n wêreldse manier op te tree om ten alle koste ’n eie saak te kan wen. In hierdie Skrifgedeelte roep die Here ons op om met die diepste ootmoed huilend na die wil van God te vra. Dan al leen kan daar ware reformasie in die kerk kom.

In sy boek oor die Reformasie van die kerk het Abraham Kuyper - die leiersfiguur van die Doleansie in 1884 - geskryf dat ware kerkherstel en reformasie nooit kan plaasvind as dit nie voorafgegaan is en gepaardgaan met baie diep verootmoediging en gebed nie. Hy sê kerkher­stel begin daarmee dat ons in ’n wye kring veel dieper as gewoonlik -

  • die verdoemlikheid van ons sondige natuur peil;
  • ons absolute onmag sonder reserwes bely;
  • intenser aan die kruis van Christus vasgryp;
  • Christus en die rykdom van versoening en vergifnis deur Hom alleen met dieper vreugde geniet;
  • die vrug van die Gees van God met veel meer ootmoed en lankmoedigheid in ons lewens groei.

Daarsonder, sê Kuyper, is dit ’n onsinnige bedryf as mense sou dink: “Ons wil met ons planne die vervalle kerk reformeer.” Dit is ongereformeerde hoogmoed en kan nooit anders as om op nog erger verval uit te loop nie. Dit is aweregse gevoelens as ons dink dat ons ’n suiwer kerk vir God moet aanbied instede daarvan dat Hy ons in sy ontferming met ’n gesuiwerde kerk be­genadig.

Kuyper sê dan dat daar voorbeelde is van hoe afgevaardigdes na meerdere (klassis)vergaderinge by sulke geleenthede gesamentlik hulle eie skuld en ontrou voor God bely het en saam voor sy aangesig beloftes van verbetering in hulle eie lewens en dienswerk gedoen het.

ls dit nie wat ons bo alles nodig het nie: ’n Sinode wat ootmoedig, huilend na die wil van God vra, gepaardgaande met vas en gebed en verootmoediging voor die Here? Dan mag en sal ons ook veel méér maak van gebed en voorbidding in ons eie lewens en elke gemeente.

In sy kommentaar by hierdie verse sê Calvyn dat die profeet Sagaria hier gebed op die eerste rang plaas, want om tot God te bid is die vernaamste deel, ja, die hoofsaak van ons godsdiens. Wyle prof. Christi Coetzee het meermale tereg gewaarsku dat ons gereformeerde kerke soms uit oorreaksie teen verkeerde gebedskringe die gevaar loop om te sterf van biddeloosheid.

Michael Green, wat ’n omvattende studie gemaak het van die faktore wat meegewerk het aan die snelle groei van die Christelike kerk in die eerste eeue na Christus, het gewys op die hoë prioriteit wat hulle op gebed geplaas het. Hy vergelyk dit met die oppervlakkige gebedslewe van baie kerke in ons tyd en sê dan: “Weet u van ’n kerk waar gebed een van die hoogste prioriteite is? Gebed in mense se individuele lewens, in gebedsgroepe, in halwe nagte van gebed? Ek sal u een ding vertel van so ’n kerk: So ’n gemeente sal aktief besig wees om die evangelie uit te dra! Op een of ander manier sal die goeie nuus oor verlossing deur Jesus Christus deur so ’n kerk na buite toe versprei word. Gebed is ’n prioriteit in evangelisering. Daarsonder sal lewens nie verander word nie, ongeag van hoe groot ons projekte, hoe omvangryk ons aktiwiteite en hoe entoesiasties ons prokla­masie is. Baie kerke sien en ervaar geen groei in getalle nie, want hulle ag dit nie belangrik genoeg om indringend daarvoor te bid nie.”

En nou is dit merkwaardig dat juis die gebed en die gesindheid van diep ootmoed volgens hierdie verse ’n samesnoerende effek het.

Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here die Almagtige. Ek gaan ook. Mense wat in diep ootmoed, eendragtig saam, huilend tot die Here gebid het, skeur nie die kerk nie. Hulle vat hande en soek saam na die Here se wil vorentoe, want die almagtige God het baie naby aan hulle gekom.

God gee aan sy herstelde kerk ’n verbysterende werfkrag met impak op die wêreld🔗

’n Mens word stil oor God se genade as jy in hierdie teks lees dat dieselfde mense wat voorheen gekom het om Israel te vernietig en te bespot en te verneder, nou na God se volk toe kom omdat hulle die geheim van die waarheid ontdek het: God self het met die tye van swaarkry sy volk getug oor hulle sonde, maar hulle tog nie verwerp nie. Hy tel hulle weer op uit die puinhoop van hulle sonde. Wat ’n verstommende genade! Na regte moes hulle verwerp en vernietig gewees het, maar nou word hulle vertoonstukke van God se guns. Hulle word nou ’n venster waardeur die wêreld kan inkyk om God in die werking van sy genade te kan sien.

Let op: daar kom tien man uit al die tale van die nasies om die stip van een Joodse man te gryp en dit vas te hou en te sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is. Één Joodse man, dit wil sê Israel, die dienskneg. Dit is ’n dienskneg wat geen waardigheid in homself het nie, wie se geskiedenis teen hom tel, ’n wurm, ’n muggie in die golfstroom van die volke van alle eeue - en tog het God hierdie dienskneg lief, hom uitverkies en gebruik hom nou om die nasies van die wêreld met God te versoen.

Agter hierdie kneg, agter Abraham, Israel en Dawid is die ware Kneg, die een man, Jesus Christus wat uit Israel gebore is. Hierdie beeld van die tien man wat die een Judeër aan die soom van sy kleed gryp om saam by die almagtige God te kan kom, is ten diepste ’n bekendstelling van God se magtige, onverwagte en onverdiende genade in Christus Jesus aan sondaarmense. Hy is die enigste Redder van sondaars van alle volke tale en nasies.

Toe Hy op aarde was, het mense letterlik na Hom toe gekom, om as dit maar kon, net die soom van sy kleed aan te raak, soos die vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeïng gely het, van agter gekom het en die soom van sy kleed aangeraak het om sy genade te kan ontvang. Of soos dit staan in Markus 6:56 dat waar Jesus ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit het en Hom gevra het dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak, en almal wat aan Hom geraak het, gesond geword het.

Dit open perspektief, dit gee troos en hoop en moed vir ’n kerk wat vervalle en moedeloos en verskeur geraak het. Die Here laat nie die werk van sy hande vaar nie, ten spyte van hulle vreeslike sonde en swakheid. Wie aan Jesus vasgryp, se sonde is vergewe en witter gewas as sneeu, en word nooit beskaam nie.

So ’n kerk verstaan dan ook sy roeping: Om regtig ’n instrument te wees wat ander mense na God toe trek. So ’n kerk word ’n venster na God toe, soos daar in Handelinge 2:47 staan dat die gelowiges God prys en in guns is by die buitestaanders sodat die Here daagliks by die gemeente voeg dié wat gered is.

So ’n kerk se erediens straal só ’n witwarm gees van aanbidding uit dat ongelowiges of buitestaanders wat binnekom, in hulle gewetens aange­spreek word, tot selfondersoek kom, op hulle knieë val, God aanbid en openlik getuig: “Waarlik, God is hier by julle!” (1 Kor 14:24). Vir so ’n kerk is die uitdra van die evangelie deur sending en evangelisasie nie ’n ekstra aktiwiteit nie, maar dit word die sentrale fokus van die gemeente: Om aan God eer te gee deur uit te reik na die wêreld.

Word daar dalk tog reeds iets hiervan sigbaar in die werk van Gerefor­meerde Kerke in Suid-Afrika? Daar is soveel nuwe inisiatiewe wat die Gereformeerde Kerke begin het en ook beplan om die evangelie met krag ver en naby uit te dra. Hier in Potchefstroom-Noord, in Pretoria en aan die Wes-Rand is prosesse aan die gang om nuwe multikulturele gemeentes te laat ontstaan. Wie sou ooit kon dink dat mense uit kommunistiese China hier voor hierdie kansel in Potchefstroom-Noord belydenis van hulle geloof in Jesus Christus sal aflê? Al is daar tans net ’n vyftigtal studente uit Gereformeerde Kerke wat vir predikante studeer is daar by die 500 ingeskrewe studente uit ander kerke en lande wat graag gereformeerde teologie wil studeer. In die Gereformeerde Kerk Middelburg-Noord is onlangs ’n medeleraar met sendingopdrag bevestig wat oorspronklik uit een van die Afrika Onafhanklike Kerke kom. Kerke uit Korea en Noord-Amerika stuur sendelinge om saam met ons sending- en ontwikkelingshulpwerk te kom doen. As vrug daarvan is reeds ’n aantal nuwe gereformeerde kerke aan die ontwikkel. Daar is nou reeds oor die 50 gemeentes saam betrokke met die ondersteuning van nuwe kerke in die Kongo. In Zambië werk ’n sendeling, ds. Charles Zulu, wat deur die Gereformeerde Kerk Pretoria met steun van ander kerke beroep en uitgestuur is.

Daar is pragtige getuienisse van Gereformeerde Kerke wat in hulle eie omgewing armoedeverligting- en werkskeppingsprojekte begin het en met liefde uitreik na hawelose en werklose mense, weeskinders en MIV/ vigspasiënte.

Al is dit dikwels nog maar ’n druppel in die emmer, is daar tog hoopvolle tekens van gereformeerde ker­ke wat hulle roeping begin verstaan om God se instrument te wees om aan die stukkende, sondige wêreld hoop te gee.

Slot🔗

Mag ons optrede en besluite by hierdie Sinode wys dat God se prioriteite regtig ons prioriteite geword het:

Christus aan die hele wye wêreld
Sy boodskappers moet die redding
In Jesus se Naam alleen,
Aan alle lande verkondig.
En ons wat nie kan gaan,
Om sy boodskap ver en wyd te verkondig
Sal bid vir hulle wat die Woord neem
En volhou om in ons eie omgewing te getuig.
Ons sal gee en ons sal bid
Ons sal elke dag getuig
Ons sal blymoedig gee, en ootmoedig bid, elke dag,
dat die miljoene van die hele wye wêreld,
ons Verlosser se liefde mag leer ken.

Kom ons vra onsself vandag eerlik af voor die aangesig van die almagtige God: Gaan die besluite wat hierdie Sinode neem ons in diep ootmoed opnuut aan die Here self vasbind? Gaan dit ons met ware liefde aan mekaar verbind? Gaan dit ons met heilige entoesiasme as getuies van Christus laat uitreik na al die volkere van Suid-Afrika, die kontinent van Afrika en tot by die uit­hoeke van die wêreld? ls my eie lewe werklik deel van God se groot offensief om - soos dit vanoggend by die opening van hierdie Sinode uit Psalm 67 voorgelees is - die nasies van die wêreld bly te maak?

Sal mense in die wêreld daarbuite, as hulle hoor wat in hierdie Sinode gebeur het en besluit is, ook uitroep: Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God in julle midde is?