Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Seën: Lyn van Hemelvaart na Pinkster

Die Here Jesus het nog gewoon saam met sy dissipels van Jerusalem na die Olyfberg geloop – en toe het Hy in die lug in opgestyg, selfs sonder enige besondere "voertuig" soos wat Elia gehad het. Hulle moes ook weer gewoon na die stad terugstap, nadat Hy agter wolke weggeraak en hulle die boodskap gekry het: Hy is weg, maar Hy kom net so terug.

Hierdie aspek van die hemelvaart van die Here Jesus is bekend al is daar, veral in ons "wetenskaplike" en tegniese eeu dalk steeds meer mense wat probleme het om dit in die geloof te aanvaar. Dit is stellig 'n probleem vir diegene wat dit op natuurlike wyse probeer verstaan, maar hoegenaamd nie vir gelowiges wat deur die Gees van God verlig word om die open­baring te glo nie.

Maar 'n ander aspek van die hemelvaart kan maklik verwaarloos word; die Here Jesus het sy hande in 'n seënende gestalte oor sy dissipels gehou en hulle al ­seënende verlaat. Daardie manne, die apostels, was sy kerk. Hulle het dus geweet dat hulle onder die seënende hande van die Here in die hemel leef. Hulle het ook hier­die boodskap aan die kerk van Christus deurgegee. En so weet die kerk van alle eeue dat hulle onder die seën van die Here tot met sy wederkoms leef! Daarom is dit geen leë, betekenislose gebaar nie wanneer in die erediens die seën van God oor die gemeente, met uitge­strekte hande van die geroepe bedienaar, uitgespreek word. Agter die dienskneg moet die gemeente dus ge­lowig sien die gestalte van die seënende Christus in die hemel. (Dis een goeie rede hoekom die gemeente met oop oë die seën moet ontvang.).

Die gegewens in die Skrif oor die seën van God is te ryk om volledig hier te bespreek. Daarom word net enkele punte daaruit belig, om geestelike profyt daaruit te kan trek.

  • God het die aarde goed geskep en Hy het besonderlik die mens geseën — en dit beteken: Hy het die goeie oor hulle gespreek en beskik, want wat God sê, gebeur tog werklik (kyk Genesis 1:3, 6, 28). Maar hierdie geseënde mense het in sonde geval en daardeur het die vloek van God oor die mense en die skepping gekom. Die vloek beteken van God vervreem en weggestoot, soos Jesus aan die kruis vervloek is en oor God-verlatenheid kla.

  • Die seën van God word herhaal aan Noag, maar die genade van die Here word aan Abraham besonderlik betoon. Dit is die Here wat Abraham gryp en roep; Hy verbind Hom besonderlik aan hierdie man en sy geslag, ook met die belofte van seën. Maar Paulus wys daarop dat dit eintlik in Christus konsentreer – Hy is die saad van Abraham (Galasiërs 3). Christus is tog Immanuel (God met ons), die versoeningsbewerker en middelpunt tussen God en mense.

  • Duidelik som Petrus (Handelinge 3) die werk van die Here Jesus op as hy sê dat "God sy Dienaar na die wêreld laat kom het om vir julle tot 'n seën te wees – deur elkeen van sy verkeerde paaie af terug te bring". Christene wat dus van die sondepad weggedraai het, deel in God se seën in Christus.

  • Die besondere taak van die Christelike kerk is om, nadat hulle die seën van God deelagtig geword het, daardie seëninge van God in die wêreld te laat uitgaan. Dink maar aan die volgende Skrifgegewens:

    Jesus sê (Johannes 4) Hy gee lewenswater maar dit word in gelowiges tot 'n fontein van water wat vir andere betekenis kry. Hoe het die sondige Samaritaanse vrou nie daardie ontvange water in haar omgewing uitgedra nie!

    Paulus sê aan die Korintiërs (2:8) dat Christus hulle as armes ryk gemaak het. Dan gee hulle in dank­betoon vir die kollekte om ander arm Christene te help (2:9) – en hierdie dankoffer is eintlik 'n seën (volgens die oorspronklike teks).

    En Petrus roep die gelowiges toe (1:3): "Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry."

    Selfs die menslik­onmoontlike word deur Christus van sy volgelinge gevra: "Seën die mense deur wie julle vervloek word: bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word" (Lukas 6).

Hierdie optrede wat van die kerk van die Here gevra word, is alleen moontlik deur die werk van die Gees van God. Dit gee meteen die verbindingslyn van Hemel­vaart na Pinkster. Christus het weggegaan, sodat Hy met die Vader die Gees kan uitstort. Die Heilige Gees het gekom en woon in die kerk, en deel ook gawes van die Gees in die kerk uit. Daarom en daardeur kan ge­lowiges vir mekaar en vir die wêreld tot 'n groot seën wees.

Wie net wil ontvang en nie deur God se genade wil uitdeel nie, het nog nie iets van die sin van die rykdom van God se koninkryk verstaan nie. Vir die koninkryk is waar: Hoe meer jy uitdeel, hoe meer ontvang jy!