Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Seks is 'n Kaal Woord

Ons leef in ʼn tyd en samelewing waar seksualiteit deur talle mense beskou word as ʼn gebruiksartikel. Dit is iets wat nie alleen geniet kán word nie, maar selfs deur almal wat wil, geniet móét word. Elkeen het blykbaar die reg daarop. Seksualiteit word bekyk vanuit die perspektief as ʼn basiese lewensdrang of -lus. Soos wat ʼn mens ʼn basiese drang na voedsel, beskerming en veiligheid het vir sy oorlewing, só is seksualiteit ʼn basiese lewensdrang waaraan met genot en vryheid uiting gegee móét word.

Kaal Woord🔗

Die manier waarop die liggaamlike omgang tussen man en vrou dan ook heel kort as “seks” beskryf word, is tiperend van hierdie verbruikersmentaliteit. Die woord wil heel kort verwoord dat ʼn natuurlike drang uitgeleef word. Van liggaamlike eenwording tussen ʼn man en vrou in ʼn huweliksverhouding waar uitdrukking gegee word aan hulle wedersydse liefde, kom min tereg in so ʼn besonder kaal woord. Seksualiteit word versmal tot ʼn drang en ʼn daad.

Wanneer die uitleef van ons seksualiteit losgemaak word van die huweliksverhouding tussen man en vrou, word dan ook al te dikwels daarvan uitgegaan dat die mens eers as méns tot sy reg kom, wanneer hierdie natuurlike drang uitgeleef word. Met groot klem word daar byvoorbeeld gepraat van die “homofiele mens”. Hier word ʼn mens gedefinieer in terme van sy seksualiteit. Juis omdat mense se seksualiteit gesien word as wesenlik tot hulle menswees, mag hierdie seksualiteit nie ingeperk word nie. Wanneer die mens in sy “natuurlike” seksuele oriëntasie beperk word, word die persoon in sy menswees aangetas. Die uitleef van die natuurlike seksuele drang wat tot die huwelik tussen man en vrou beperk word, word deur baie beleef as ʼn inperking en belemmering van die persoon se natuurlike menswees.

In die algemene verdediging van homoseksuele praktyke, word daar op hierdie manier gepraat oor die “menswees” van die homoseksuele persoon. Asof ʼn mens eers mens is en tot sy reg kom, wanneer ons seksualiteit uitgeleef kan word! Die uitgangspunt oor alle vorme van belewing en uitleef van seksualiteit is dat dit fundamenteel is vir ʼn persoon om tot sy reg as mens te kom – die mens ís ʼn seksuele wese! Seksualiteit word hier in sy breedste verstaan gebruik in onderskeid van erotiek wat ek sou wou gebruik om die liggaamlike uitdrukking van hierdie seksualiteit te beskryf.

1 Korintiërs 7🔗

Dit sou spreek van skynheiligheid indien ons heteroseksualiteit tot die wesenlike van die menswees van ʼn persoon wil laat behoort, terwyl ons dit met ʼn beroep op die Skrif veroordeel in ʼn persoon met ʼn homoseksuele oriëntasie. Ons moet wil luister na wat die Here in sy Woord oor alle vorme van seksualiteit sê. Ons leef in ʼn tyd waarin Eros haar reg en heerskappy oor ons lewens met ʼn byna gewelddadige volgehoudenheid oor ons lewens wil uitoefen. Intussen praat die Skrif heel anders oor die plek van seksualiteit in die lewe van die gemeente van Christus. Teenoor ʼn kultuur wat ʼn groot deel van ons menswees verstaan in terme van ons uitlewing van ons seksualiteit, kom die woorde van die apostel Paulus werklik oor as ʼn woord van buite ons wêreld: ‘Dit is goed vir ʼn man om ʼn vrou nie aan te raak nie.’

Hierdie woorde van die apostel is ʼn verdere uitwerking van die bevrydende boodskap waarmee 1 Korinthiërs 6 eindig, dat ons nie aan onsself behoort nie. Die gemeente is geroep om nie diensknegte van hul “natuur” te wees nie, maar veel eerder diensknegte van God. “Roeping” staan teenoor “natuur” byna as ʼn totaal vreemde word vir talle. Ongelukkig selfs vir baie wat hulself versier met die naam “Christen”. Roeping beteken dat ons met ons hele menswees (dus ook met ons seksualiteit!) ʼn taak en opdrag gekry het. Dat dit goed is vir ʼn man om ʼn vrou nie aan te raak nie, is waar omdat ons liggame in die eerste plek tempels van die Heilige Gees is. Ons het ons liggame “van God” en nie as geskenke van mekaar en vir mekaar nie. Ons behoort nie aan onsself nie, daarom is dit so gepas om heel goed te luister wat die Eienaar oor ons seksualiteit te sê het. Ons is duur gekoop met die bloed van Christus en geen bruidskat wat ʼn rol mag speel in ʼn huwelik oortref daardie skat in waarde en aanspraak nie!

God Vereer in Ons Liggame🔗

God moet in ons liggame verheerlik word. Ons menswees word nie verstaan en verklaar vanuit ons seksuele gemeenskap nie, maar vanuit die inwoning van die Gees in ons. Die inwoning van die Gees is allesbepalend vir ons menswees. Ons is nie eers waarlik mens wanneer ons liggame aan ʼn ander mens behoort nie. Dit is nie waar wat die poplied uit die 1970’s wou verkondig nie: “Heaven is my woman’s love”. Die hemelse vreugde is juis die ononderbroke gemeenskap met die Here God wanneer ons in liggaam en gees die heerlikheid van God afstraal.

Het ons hiermee nou weer ʼn nuwe pleitrede gekry vir die selibaat en ʼn minagting van die seksualiteit? Verseker nie. Ons probeer net duidelik maak dat belewing van ons seksualiteit geen onmisbare saak is om mens van God te kan wees nie. In 1 Korintiërs 7 word seksuele onthouding binne die huwelik ook nie as die ideaal voorgehou nie! Teenoor die verseksde kultuur van ons tyd wat die belewing van seksualiteit as goed en selfs as byna onmisbaar voorhou, wil ons vanuit die Woord van die Here laat hoor: “Dit is goed as ʼn man nie ʼn vrou aanraak nie”. Waar die getroude lewe, die uitleef van seksualiteit verabsoluteer word, is dit goed om te hoor dat die Skrif voorhou ons laat sien dat die ongetroude lewe geensins as minderwaardig beskou kan word nie. Die Here het selfs ʼn goeie word daaroor te sê! Dwars teen die boodskap dat belewing en uitleef van seksualiteit goed is, kom die boodskap dat onthouding goed is.

Hy wat trou doen geen sonde nie. Die een wat uitgee in die huwelik doen goed. Maar sonder om dit enigsins in spanning hiermee te bring, moet ons ook hoor dat hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter. Die hoogste ideaal wat ouers vir hul kinders kan voorhou, is nie die huwelik nie. Ons visier moet ingestel wees op die koninkryk van God en daarbinne mag en moet die huwelik en die gepaardgaande uitleef van die seksualiteit sy plek kry.

Liggame aan God Geoffer🔗

Wanneer Calvyn ʼn samevatting van die hele christelike lewe gee, dan doen hy dit met een woord: selfverloëning. Hy doen dit met spesifieke verwysing na Paulus se woorde in Romeine 12:1-2. Ons moet ons liggame te kan stel as lewende, heilige en Godwelgevallige offers.

Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan die Here. Dit is belangrik om goed te verstaan in watter betekenis Paulus die offer van ons liggame hier gebruik. Sommer maklik kan die offer van ons liggame verstaan word, is dat ʼn mens jouself iets ontsê vanuit ʼn hoër edele motief of doel. Die offer van ons liggame word dan ʼn asketiese motief waarmee die vroom mens met sy “edele” gees in die middelpunt te staan kom. Askese wat ʼn ontvlugting en myding is van die werklikheid wat God goed geskape het, laat egter geen reg geskied aan die roeping om ons liggame aan God te offer nie.

In Paulus se omgaan met die relativering van ons seksualiteit gaan dit nie om askese nie. Dit gaan oor ʼn beoordeling van ons seksualiteit in die lig van die nabyheid van die koninkryk van die hemele. Wat op die spel is, is die unieke plek wat Christus in ons lewens behoort in te neem. Ons word opgeroep om Christus se unieke plek te erken en ons lewens ʼn totale oriëntasie te gee op Hom en sy koninkryk. Dit is in die lig van hierdie radikaal nuwe heroriëntasie op die koninkryk van Christus wat ons die uitspraak van Paulus in 1 Korintiërs 7:1 verstaan moet word.

Vir Paulus gaan dit verseker nie net oor ʼn relativering van ons seksualiteit nie. Ons moet ons hele menswees leer sien in die lig van die koms van die koninkryk van God. Wat nodig is, is ʼn toewyding aan God wat selfs die uitlewing van bepaalde aspekte van ons menswees in ʼn totale nuwe lig plaas. Met ons hele lewe, ingesluit ons seksualiteit, sal ons ons verbondenheid aan Christus in die radikaliteit daarvan moet verstaan.

Van die begin was die huwelik tussen man en vrou gestel in diens van die koninkryk van God. Die beleef en uitleef van seksualiteit kon nog nooit los van hierdie groot doel verstaan word nie. Onder die druk van die tydsgees het ons dit sekerlik al begin doen. Ons sal moet leer om ons seksualiteit en die belewing en uitleef daarvan te plaas binne die lig van die komende ryk van Christus. Alleen van daaruit sal ons ʼn eie Christelike verstaan van seksualiteit weer kan laat gestalte kry in ons tyd. Daarvoor is radikale geloofsmoed nodig!