Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Seksualiteit in die Huidige Afrika-Konteks

Van ouds is Afrika in die oë van Europa gesien as die kontinent van ongetemde luste en drifte. Dat hierdie ’n ongenuanseerde beeld van die kontinent was, is duidelik as ʼn mens sien hoe seksualiteit in die tradisionele Afrika-kulture beslis gereguleer is met wette en bepalings. Dit wil egter nie sê dat hierdie bepalings dieselfde was as dié wat ons in die Bybel vind insake die seksuele nie. En hoewel die Bybelse visie op seksualiteit vir eeue ’n dominante invloed op Europa gehad het, sal dit ook nie korrek wees om die tradisionele Europese visie op seksualiteit outomaties te vereenselwig met Christelik nie.

In hierdie artikel beperk ek my tot Suid-Afrika, hoewel daar beslis makro-ooreenkomste onder volke in Afrika suid van die ewenaar, ook ten aansien van die onderwerp seksualiteit, bestaan.

Die prentjie wat betref die tradisionele benadering tot seksualiteit in Afrika laat vir ons inderdaad ’n hele aantal reëls en bepalings sien. Die verskil tussen die Bybelse benadering tot seksualiteit en dié in tradisionele Afrika-kulture is dus nie dat daar totale wetteloosheid in Afrika geheers het ten aansien van die seksuele nie. Die wette en bepalings was egter anders as in die Bybel. So was (en is) poligamie ʼn normale en aanvaarde verskynsel in die Afrika-konteks. Poligamie beteken egter nie outomaties losbandigheid nie. In die Bybel kom ons ook poligamie teë. Tog is dit duidelik dat die Here, al het Hy geduld met skeefgegroeide gewoontes op seksuele gebied gehad, dit nie as ’n normale verskynsel aanvaar het nie. Deur die eeue heen sien ons dan ook dat poligamie stadig maar seker uitgeroei is onder God se volk. Waar Dawid en Salomo nog rustig daaraan deelgeneem het (ondanks God se waarskuwings), sien ons dat in die dae van Jesus poligamie so goed as nie meer voorgekom het onder die volk Israel nie.

Kyk ons egter na die huidige situasie in Suid-Afrika, dan lyk die prentjie totaal anders. Waar die tradisionele kulture in Suid-Afrika duidelikheid geskep het met wette en bepalings (al was dit nie altyd goeie bepalings nie), word die land op die oomblik geteister deur die afwesigheid van duidelike kaders wat betref die seksuele.

Die ou tradisionele lewenswyse het sy invloed, met name in die stedelike gebiede, totaal verloor. Ons sit dus nou in ’n oorgangsfase. En vir almal is dit ’n spannende vraag waarheen die oorgang sal lei. Sal dit lei na die aanvaarding van ʼn grotendeels Christelike visie op seksualiteit, of tot ’n sekulêr Westerse? Want, om ’n voorbeeld te noem, die algemeen Westerse benadering van seksualiteit (soos dit byvoorbeeld deur die media uitgedra word) is lankal nie meer monogaam nie. Monogaam in die sin dat seksualiteit slegs beoefen word in die konteks van ’n lewenslange huwelik tussen ’n man en ’n vrou. En so raak Suid-Afrikaners ‘danksy’ die media al hoe meer gewoond aan los seks, getroud of ongetroud. En die sepies oor egskeidings, owerspel en driehoeksverhoudings blêr amper heeldag op die televisiestelle, of dit nou in huise in Pretoria, Mamelodi of Soshanguve, Kaapstad of Khayelitsha, Belhar of Bellville is. In dié verband kan daar oor ’n kultuur-sekwensiële poligamie in die Weste gepraat word. Gedurende ’n man se lewe sal hy waarskynlik met verskillende vroue getroud wees of ’n seksuele verhouding hê, en omgekeerd. ’n Huwelik of verhouding duur slegs ’n aantal jare, waarna dit beëindig word en ’n nuwe een aangegaan word. So wys statistieke uit dat in ’n Westerse land soos Nederland die gemiddelde persoon gedurende sy/haar lewe seksuele kontak het met sewe ander persone. Kyk ons egter na Suid-Afrika, lyk die prentjie veel meer kommerwekkend. Hoewel representatiewe statistieke moeiliker beskikbaar is, wys die prognoses na ’n aantal van meer as twintig verskillende persone waarmee die gemiddelde Suid-Afrikaner seksuele kontak gedurende sy/haar lewe het. Hierdie – kom ons noem dit maar by die naam – losbandigheid kan vir ’n groot deel toegeskryf word aan die oorgangsfase waarin die land verkeer. Ou tradisies het hul seggingskrag verloor, terwyl nuwe waardes en norme nog omarm moet word. Die werklikheid wys uit dat Suid-Afrikaners nie die vloedgolf van sekularisasie, wat op die oomblik met name deur middel van die media oor ons spoel, die hoof kan bied nie. In hierdie verband is dit glad nie toevallig dat ons die hoogste MIV/vigs-insidensie ter wêreld het nie. Net in 2005 het meer as driehonderdduisend mense in Suid-Afrika aan vigs gesterf!

Wat is ons taak as Christene in hierdie opsig? Dit voel dikwels of ons hande afgekap is om enigiets aan die situasie te verander. Mense (lank nie almal nie) kom een of twee keer per week vir ongeveer ’n uur kerk toe, maar tuis is die televisie vir twaalf ure of meer per dag aan. Het Christene nog enige kans om invloed uit te oefen in Sodom en Gomorra, of moet ons maar soos Lot vlug, om te ontsnap aan God se oordeel? Ons mag besef dat deur die eeue dit nie die getalle was wat die deurslag gegee het nie, maar die wil van die Here. God kan ook ’n minderheid gebruik om die gety te keer. Laat ons oopstaan vir wat God van ons verwag. En so lank God nie ’n duidelike teken gee nie, soos by Lot die geval was, laat ons trou ons taak verrig, en self ’n soutende sout probeer wees, ook wat betref die seksuele kant van die lewe. In hierdie verband sal ek graag nog enkele dinge na vore wil bring – uit die rykdom van God se Woord – om vir ons die koers aan te dui wat betref hierdie onderwerp.

2 Korintiërs 6:16: Want julle is die Tempel van die Lewende God.🔗

Die tempel was in die Ou Testament die pragtige gebou waarin God onder sy volk gewoon het. Hierdie gebou moes deur die priesters silwerskoon gehou word. Dan dink ons nie net aan stof nie, maar veral aan dit wat God die meeste haat: sonde. Daarom dat geen mens die tempel mog binnegaan nie. Slegs die priesters mog daar diens doen, eers nadat hulle hulself ritueel gereinig het. As Paulus in sy brief die Korintiërs ’n tempel van die lewende God noem, is dit slegs moontlik danksy Christus se offer, wat die sonde uit ons lewens wegneem. Dit is ’n byna ongelooflike voorreg dat ons tempels van die lewende God genoem word. In die verse daarna trek Paulus vervolgens die konsekwensie. As ons ’n tempel van die Heilige Gees is, kan ons nie terselfdertyd voortgaan met ’n sondige lewensstyl nie. Christus en Belial kan nie in dieselfde tempel woon nie. “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie”. Wat betref die onderwerp van hierdie artikel is dit duidelik dat dit nie anders kan nie as dat ’n Christelike lewenstyl op seksuele gebied onderskeidend sal wees in die huidige Suid-Afrika.

2 Korintiërs 6:14: Moenie in dieselfde Juk trek Saam met Ongelowiges nie.🔗

Paulus skryf dit aan die Korintiërs in verband met gemengde huwelike. Wanneer ’n boer ’n os en ’n kalf inspan onder dieselfde juk, kan hy maar vergeet om reguit vore te trek. So ook ’n kerklidmaat wat die kans vat om met iemand uit te gaan en te trou van buite die kerk. Hierdie onderwerp is in die verlede miskien oorbeklemtoon onder Vrye Gereformeerdes, maar in die huidige Suid-Afrikaanse konteks met al die kulturele verskuiwings wat gaande is, kan dit moeilik oorbeklemtoon word. Dit geld vir sowel die sendingsgemeentes as die gevestigde gemeentes.

Genesis 1:27: Man en Vrou het Hy Hulle Geskape.🔗

Onmiddellik ná die weergawe van die skepping van hemel en aarde, onderrig die Skrif ons oor die skepping van die huwelik. Hoe God man en vrou geskape het, asook die wedersydse aantrekkingskrag tot mekaar. Hoe God man en vrou aan mekaar verbind het tot ’n lewenslange eenheid. Hierdie skeppingsgegewe lê aan die basis van alles wat die Skrif ons verder openbaar oor die seksuele kant van ons bestaan. Huwelik en seksualiteit is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Een van die hoofredes waarom God die huwelik ontwerp het as ’n lewenslange eenheid, is omdat Hy dit as die enigste wettige plek gereserveer het vir seksuele omgang. En omdat Hy seksuele omgang geskep het as die metode tot voortplanting (dit geld ook vir die 21ste eeu met al sy voorbehoedmiddels), waarborg Hy so dat kinders slegs gebore word in die veilige omgewing van die huwelik, waar hulle deur ’n pa en ’n ma in liefde ontvang en opgevoed word. Hierdie Bybelse bepaling is van onskatbare waarde, veral in die Suid-Afrikaanse konteks waar so baie kinders moet opgroei sonder om te weet wie hulle pa is.

Eksodus 22:16-17: God Beskerm die Seksuele Kant van die Bestaan.🔗

In hierdie teks lees ons oor die bruidskat (in sommige Suid-Afrikaanse kulture die lobola genoem). Die oorspronklike bedoeling van die bruidskat was om die vader te kompenseer vir die verlies van sy dogter. In die sin naamlik, dat waar sy dogter tot voor haar troue op sy landerye gewerk het, sy na die troue vir haar man begin werk het. Die vader het dus ’n arbeidskrag verloor, waarvoor die bruidskat in ’n mate gekompenseer het. ’n Newe-effek van die bruidskat is dat ’n jong paartjie besef het dat trou nie perdekoop is nie. Die tradisie van die lobola sal ons as Christene in die toekoms krities onder die loep moet neem. Dit is nie by voorbaat verkeerd nie, maar watter nut dien dit vandag, in ’n konteks waar die dogters nie meer op hulle pa’s se landerye werk nie? Inteendeel, as die dogter deesdae die huis verlaat, beteken dit eerder dat daar ’n persoon minder is om te voed. Ongelukkig wys die werklikheid uit dat die lobola deesdae nie werklik die heiligheid en gewigtigheid van die huwelik bevorder nie. Dit kan ook ’n teenoorgestelde uitwerking hê, wanneer vaders die bruidsprys so hoog maak dat die skoonseun jare daarvoor moet werk. In plaas daarvan dat hulle vroeër in die huwelik kan tree, kom hulle in hierdie periode van geld spaar in die versoeking om vooruit te gryp op die huwelik in seksuele opsig. Eksodus 22:16-17 skenk veral hieraan aandag. As ’n paartjie met mekaar “bed toe gegaan het” voor hul troudag, bepaal hierdie Bybelteks dat hulle verplig is om te trou (ongeag of ’n baba op pad is of nie).

Maar in die geval dat die pa van die meisie beslis weier om sy dogter aan daardie man/seun te gee, moet laasgenoemde in elk geval die bruidsprys betaal. In hierdie geval geld dit as ’n boete. In Deuteronomium 22 word die bedrag van die boete ook genoem. In vandag se terme kom dit neer op die totaal van vyf jaar se salaris van ’n arbeider. Beslis nie ’n geringe bedrag nie!

Let wel, slegs die ouers het hier ’n vetoreg, om te bepaal dat die huwelik nie deurgaan nie. Die paartjie self het nie. Hulle moet die gevolge van hul optrede dra. Uit hierdie teks kan ons aflei dat dit vir God erns is dat die seksuele kant van ons bestaan beskerm en gereserveer word vir slegs binne die kaders van die huwelik.