2 bladsye.

Self-liefde

Kan self-liefde die basis wees vir liefde tot God en jou naaste?🔗

Een van die oorsake van eensaamheid en depressie, vorms van psigiese nood, is volgens baie mense gebrek aan liefde vir en aanvaarding van jouself. Daarom word self-liefde in sommige (selfs Christelike) hulpverleningskringe beskou as ‘n manier om hierdie psigiese nood te verlig: self-liefde as die basis vir naasteliefde. Daar is selfs ‘n gebod tot eie-liefde. En met behulp van terapieë kan jy leer om jouself lief te hê.

Hierdie situasie roep die vraag op: is self-liefde regtig nodig vir naasteliefde? Oor hierdie vraag het die Christelik Gereformeerde prof. J.W. Maris ‘n bydrae geskryf. Maris beskou eie-liefde nie as ‘n opdrag nie. Dit is ‘n gegewe feit wat nie veroordeel word nie, maar wat ook nie los gesien kan word van dit wat deur die sonde in ons lewe aangerig is, nie. Die Bybel beskou die liefde vir jouself as ‘n sondige liefde (2 Timoteus 3: 2).

Jou naaste liefhê soos jouself🔗

Dit is opvallend dat Christelike hulpverleners eie-liefde sien as medikasie teen depressie deur ‘n beroep op die dubbelgebod te doen. Die eerste en groot gebod is: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart; en die tweede gebod wat hiermee gelyk staan is: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Sonder self-liefde sou jy jou naaste nie kan liefhê soos jouself nie, word daar gesê. Daarmee is self-liefde die onmisbare voorwaarde vir die naasteliefde. So word self-liefde die een saak wat al die ander gebooie van naasteliefde voorafgaan. Die vraag is dus: word eie-liefde in die dubbelgebod as ‘n gesonde en genesende krag geleer?

Dit is duidelik dat daar nie drie nie, maar twee gebooie in die samevatting van die wet is. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat. Die tweede gebod is nie om jou naaste lief te hê en jouself nie, maar jou naaste lief te hê soos jouself. Die gebooie is aan die mens gerig wat die beeld van God verloor het, wat van nature God en sy naaste haat, geneig is tot alle kwaad (Romeine 3:9-18); wat die splinter elders ontdek maar die balk in eie oë nie raaksien nie; wat die tiende gee van die kruisement, anys en koljander, maar die weduwee en die weeskind kaal uittrek. Om dit volgens Calvyn te sê: die liefde tot onsself maak dat ons ander mense verag en verwerp, maak dat ons wreed is en ‘n bron van gierigheid, roof en bedrog is. Die eie-liefde is nie nodig om aangeleer te word nie, maar is aangebore. Eie-liefde moet in opregte liefde verander word.

Hierdie self-liefde kan dus nie die basis vir naasteliefde wees nie, maar moet deur die bloed en die Gees van Christus oorwin word. As iemand nou depressief gemaak is deur hom of haar te laat streef na ‘n totaal onbereikbare ideaal; as iemand so met sweep en lat opgejaag is tot onmoontlike eise, dat hy of sy daardeur geleer het dat jy nie deur God of jou ouers of vriende aanvaar word as jy nie volmaak is nie, wat gebeur dan? Sal die eie-liefde dan die sleutel tot die oplossing of die medisyne tot herstel wees? Is dit nie die hele evangelie wat hier in gedrang is nie, nl. dat jy jou verlossing buite jouself in Christus Jesus soek? As ek glo dat ek deur ’n ware geloof in Jesus Christus geregverdig is, en dat al kla my gewete my aan dat ek swaar teen God gesondig het, God my nogtans die geregtigheid en heiligheid van Christus gee – hoe pas dit in by hierdie leer van die eie-liefde? En omgekeerd? Is die heerlike van die evangelie nie juis dat selfs die eie-liefde geen voorwaarde vir die verlossing is nie? Daar is troos vir depressiewe mense nog voordat hulle genees word!

Om iemand te leer streef na ‘n absoluut onbereikbare ideaal, iemand met sweep en lat op te jaag tot onmoontlike eise, is mos geheel en al wettisisties. Dit is ‘n harde, koue en wrede wet sonder liefde. Mens kan dit ook anders stel: dit is die naasteliefde wat hier ontbreek . So word die wet losgemaak van die liefde en die belofte van Christus en verander ook daardeur van karakter. In so ’n situasie is eie-liefde nie die regte medikasie nie, maar om te leer van die liefde van God vir sondaars, die liefde van Christus wat nie Homself gesoek het nie, maar homself vir sondaars aan die kruis oorgegee het. En ’n mens kan ook leer uit die liefde van opregte Christene wat in navolging van Christus nie hulleself eerste gestel het nie, maar van jou hou sonder enige voorwaardes.

Afkeer van jouself?🔗

Maar, sal hulpverleners miskien sê, ons word te veel gekonfronteer met mense wat ‘n afkeer van hulleself het, sodat hulle in die mees diepe depressies selfs tot selfvernieting sou kon oorgaan. Daar bestaan inderdaad sieklike selfhaat en die hulpverleners wil tereg ons oë daarvoor oopmaak. Daarom pleit baie vir selfaanvaarding, ‘n gesonde eie-liefde - laat mense toe om weer van hulself te hou.

In hierdie verband het ek meermale daarvoor gepleit om duidelik te onderskei tussen ‘selfaanvaarding’ en ‘self-liefde’. ‘n Meisie moet byvoorbeeld leer om haarself as meisie en vrou te aanvaar, hoe moeilik dit soms ook al mag wees. En dit geld natuurlik ook vir ‘n seun. Die daad van ‘selfaanvaarding’ moet jy onderskei van dit wat ons hierbo bespreek het van die ‘self-liefde’.

Tog moet ons ook meer oor hierdie selfaanvaarding sê. Dit bly maar ‘n bleek en skraal woord, ook nie so ‘n duidelike woord. ’n Mens aanvaar immers nie jouself nie, maar God se gawe aan jou, en God se weg met jou. Wie is dit wat ons geslag, ons ouderdom, afkoms en talente bepaal? Ons bely God se voorsienigheid. God wat in ewige liefde mense na sy beeld skep en herskep, onderhou en regeer. En dan mag ons probeer leer om God se wyse beskikkings en liefdevolle bestuur te aanvaar, ook soos dit tot uiting kom in iemand se geslag, afkoms en talente. Is dit nie wonderlik as selfveragting en selfafwysing dan plek maak vir selfaanvaarding en selfaanneming nie?

Maar dit is iets wat ons moet leer. God die Vader hou van jou en sorg vir jou in alle groot en klein dinge - selfs vir die hare van jou hoof. Hoekom sou jy dan nie jou hare was en borsel nie? Ons is in onsself nie die verlossing werd nie; ons verdien deur die sonde God se vloek en die ewige dood. Onverdiende saligheid het ek van my God gekry. Ons is deur Christus gekoop en betaal. Ons waarde gaan nie aan die lyding en dood van Christus vooraf nie, maar is die vrug daarvan. Ons waarde word nie bepaal deur onsself nie, maar deur die feit dat God ons geskep en Christus sy lewe vir ons gegee het. Daarom is ons dood kosbaar in die oë van die Here (Psalm 116). Wat ‘n groot liefde van ons Heiland en van sy Gees! Die Heilige Gees kom woon in ons liggaam en laat die vrug van sy Gees in ons ryp word. Ouers mag sekerlik hul kinders ook aanprys en goeie werke beloon! (vgl. Romeine 13: 13, 1 Petrus 2: 14; Spreuke). Die liefde gee blydskap aan die kinderlike geloofslewe en dra ons deur ons depressiwiteit.

Maar leer die formulier van die Heilige Nagmaal ons nie dat ons ‘n afkeer van onsself moet hê nie? Nee, dis nie hoe die formulier dit vir ons leer nie. Vanweë sy sonde sal iemand ‘n afkeer van homself kry en hom voor God verootmoedig (vgl. Ook art. 15 NGB). Hoe ernstig die sonde is blyk hieruit: nie alleen afkeer van die sonde nie, maar ook vanweë die sonde afkeer van onsself. Sodanig word die mens deur die sonde aangetas. As mens die element van die sonde nie in ag neem nie, hoe sal ons dan by die regte diagnose en medikasie uitkom?

Het God ons dan nie lief met ál ons sonde nie? Ja, seker, maar dit spreek nie vanself nie. Dit is sy genadige liefde. Christus het (let goed op!) vir ons gesterf toe ons nog sondaars was. Christus moes sterf. Niks minder as dit nie…. So groot was en is God se toorn oor ons sonde. Daarom moet ons die “afkeer van homself vanweë die sonde” soos in die formulier, handhaaf, maar dan met die betekenis wat die formulier self daaraan gee. Naamlik, in die lig van God se liefde vir sondaars. God se liefde in Christus genees. Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.